Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kategoriewenners vir die SAVI Toekenning vir Voortreflike Vertaling word bekend gemaak


Die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut het die vyf kategoriewenners in sy SAVI Toekenning vir Voortreflike Vertaling vir 2003 bekend gemaak. Die algehele wenner sal uit die kategoriewenners aangewys word by ’n funksie op 4 Oktober in Kaapstad.

Dit is die tweede keer dat hierdie toekenning, wat in 2000 deur die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut geloods is, gemaak word. Die toekenning word elke drie jaar gemaak op of rondom Internasionale Vertaaldag, ’n geleentheid wat wêreldwyd op 30 September gevier word. Die Instituut se doel met die toekenning is om die vertaling en publikasie van werke in en/of uit die amptelike tale van Suid-Afrika aan te moedig, met die oog daarop om -

  1. die kwaliteit van sodanige vertalings te verbeter;
  2. meertaligheid te bevorder, in die besonder die gebruik en ontwikkeling van die inheemse tale;
  3. kruiskulturele begrip aan te moedig; en
  4. bewustheid te kweek van die bydrae wat vertalers kan maak om die mense van Suid-Afrika te verenig.

’n Goeie versameling vertalings is vir vanjaar se toekenning ontvang. Altesaam is 25 inskrywings in vyf kategorieë genomineer - fiksie, niefiksie, poësie en drama, diensvertaling en woordeboeke. Die vertalings is in ses van die land se elf amptelike tale - Afrikaans (11), Engels (8), Sepedi (1), Setswana (1), isiXhosa (3) en isiZulu (1). Die woordeboek wat ingeskryf is, is in Engels en Afrikaans. Die brontekste is meestal Afrikaans of Engels, en die inskrywings het ’n Nederlands-Afrikaans, ’n Latyn-Afrikaans en ’n Italiaans-Afrikaanse vertaling ingesluit. Laasgenoemde twee is klassieke werke wat die akademiese korpus in Suid-Afrika uitbrei: ’n vertaling van Erasmus se Tot lof van dwaasheid en ’n vertaling van Dante se Goddelike komedie.

’n Hele aantal opwindende werke is benoem, onder andere drie vertalings van Nelson Mandela se Long Walk to Freedom, drie vertalings van The Plays of Zakes Mda en Antjie Krog se Met woorde soos met kerse, wat onlangs gepubliseer is.

Die volledige lys nominasies is soos volg:

Fiksie

  • Janie Oosthuysen vir haar vertaling van JK Rowling se Harry Potter and the Goblet of Fire uit Engels in Afrikaans (Harry Potter en die beker vol vuur)
  • Catherine Knox vir haar vertaling van Elsa Joubert se roman Die reise van Isobelle uit Afrikaans in Engels (Isobelle’s Journey)
  • Catherine Knox vir haar vertaling van Etienne van Heerden se Die swye van Mario Salviati uit Afrikaans in Engels (The Long Silence of Mario Salviati)
  • Linda Rode vir die vertaling van drie kinderboeke: Yebo, Jamela! deur Nicky Daly en Christopher Gregorowski se Fly, Eagle, Fly! (Vlieg arend, vlieg hoog! ) uit Engels in Afrikaans en Vom kleinen Maulwurf, der wissen wollte, wer ihm auf den Kopf gemacht hat deur Werner Holzwarth en Wolf Erlburch uit die oorspronklike Duits in Afrikaans (Die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het).

    Niefiksie
  • Drie vertalers vir hul vertalings van Nelson Mandela se Long Walk to Freedom:
    — Antjie Krog vir die Afrikaanse weergawe, Lang pad na vryheid
    — Prof Bheki Ntuli vir die weergawe in isiZulu, Uhambo Olude Oluya Enkululekweni
    — Prof Peter Mtuse vir die weergawe in isiXhosa, Indlela Ende Eya Enkululekweni.
  • Dr Marietjie Nelson vir haar vertaling uit Afrikaans in Engels van Sielie Laubscher se Donker verdwaalbos: Belydenis van ’n depressielyer (Dark Forest of the Soul: A Personal Journey through Depression)
  • Prof Jan de Villiers vir sy vertaling uit Latyn in Afrikaans van Desiderius Erasmus se Encomium Moriae (Tot lof van dwaasheid)
  • Vier van die tydskrif You se span vertalers - Victor Lampert, Genevieve Callaghan, Nicola Whitfield en John Phillips - vir vertalings van artikels vir You uit Afrikaans in Engels

    Poësie en drama

  • Antjie Krog vir haar vertaling uit Nederlands in Afrikaans van Tom Lanoye se Mamma Medea
  • Antjie Krog vir haar bloemlesing Met woorde soos met kerse, wat vertalings en herbewerkings van poësie uit al die ander inheemse tale en een van die San-tale in Afrikaans bevat
  • Drie vertalers vir hul vertalings van The Plays of Zakes Mda:
    — Deborah Mampuru vir die Sepedi-vertaling, Ditiragatšo tša Zakes Mda
    — Koliswa Moropa vir die isiXhosa-vertaling, Imidlalo kaZakes Mda
    — Dr Phaladi Sebate vir die Setswana-vertaling, Diterama tsa Zakes Mda
  • Dr Delamaine du Toit vir sy vertaling uit Italiaans in Afrikaans van die derde gedeelte van Dante se La Divina Commedia, Die Paradys.

    Diensvertaling

  • Die ontwikkelingspan van die Potyi-boekereeks vir ’n meertalige gegradeerde leesreeks vir die Funderingsfase in Engels, isiXhosa en Afrikaans
  • Marlie van Rooyen vir die Afrikaanse vertaling van die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat se jaarboek vir 2003.

    Woordeboeke

  • Die Sentrum vir Politieke en Verwante Terminologie in Suider-Afrikaanse Tale (SEPTSA) vir hul Nuwerwetse politieke woordeboek/Modern political dictionary.

    Die kategoriewenners is soos volg:

  • Fiksie: Janie Oosthuysen vir Harry Potter en die beker vol vuur
  • Prof Bheki Ntuli vir die isiZulu-weergawe van Long Walk to Freedom, Uhambo Olude Oluya Enkululekweni
  • Antjie Krog vir Met woorde soos met kerse
  • Die ontwikkelingspan van die Potyi-boekereeks vir hulle meertalige leesreeks
  • SEPTSA vir hul Nuwerwetse politieke woordeboek

    Die beoordelaars het soos volg kommentaar gelewer oor die kategoriewenners:

  • Harry Potter en die beker vol vuur
    In ’n land waar ’n lees- en boekkoopkultuur steeds grootliks ontbreek, is ’n voortreflike vertaling van ’n Harry Potter-boek ’n belangwekkende gebeurtenis, ongetwyfeld ook in die Afrikaanse spraakgemeenskap met sy meer gevestigde tradisie in dié verband. Janie Oosthuysen se Harry Potter en die beker vol vuur gee aan Harry ’n egte Afrikaanse stem en laat hom volwaardig saampraat met ’n hele rits andertalige Harry Potters die wêreld oor. Haar vertaling is tegnies knap en sy vind vernuftige oplossings vir die eiesoortige uitdagings wat die herskepping van die verwikkelde wêreld van ’n Britse towenaarseun vir ’n Afrikaanse leser aan ’n vertaler stel.

    Harry Potter en die beker vol vuur is ’n waardige wenner in die fiksiekategorie van die SA Vertalersinstituut se Toekenning vir Voortreflike Vertaling. Janie Oosthuysen se vertalerstaf tower ’n unieke nuwe plek op vir Harry Potter in Afrika, ’n prestasie wat hopelik die weg sal voorberei vir soortgelyke vertalings in die ander inheemse tale van Suid-Afrika en die kontinent.

  • Uhambo Olude Oluya Enkululekweni
    Die kwaliteit van hierdie vertaling weerspieël die grootsheid van die bronteks en bring Nelson Mandela se woorde nader aan die mense op voetsoolvlak. Die vertaler se taalvaardigheid stel hom in staat om ’n vertaling te skep wat met sy vlot, vloeiende en idiomatiese taalgebruik leesgenot verskaf. Die vertaling is kreatief en skep ’n voertuig waarmee die skrywer se boodskap helder oorgedra kan word. Dit is waarin die bekoring van vertaling lê, naamlik dat dit taalgrense oorbrug en inligting toeganklik maak. Op hierdie wyse vul dit ’n leemte wat skryfwerk in die Afrika-tale betref en bevorder dit die gebruik van dié tale.

  • Met woorde soos met kerse
    Hierdie werk kom inderdaad voort uit die Reënboognasie en kon amper pertinent geskep gewees het om die doel met die SAVI Toekenning vir Voortreflike Vertaling te bevredig! Alhoewel net een van die amptelike tale daarin as vertaaltaal figureer, betrek dit werk uit al nege die ander amptelike inheemse tale en ook ’n nie-amptelike inheemse taal. Die talent en kundigheid wat in al hierdie kulture opgesluit lê, word op hierdie wyse na vore gebring. Die aantekeninge aan die begin van elke hoofstuk en die kommentaar op vele van die gedigte verskaf verdere insig in die betrokke kulture en mense, en gee sodoende aan mede-Suid-Afrikaners ’n unieke geleentheid om met dié werke kennis te maak. Voeg hierby die feit dat die vertalings en herbewerkings deur een van Suid-Afrika se voorste digters en skrywers gedoen is en dan het mens ’n wenresep - die doeltaal is vernuftig geslyp tot ’n voortreflike voertuig om kruiskulturele begrip te bevorder. Met woorde soos met kerse is by uitstek ’n goeie voorbeeld van hoe vertalers daartoe kan bydra om mense bymekaar te bring en te verenig.

  • Potyi-boeke - ’n meertalige gegradeerde leesreeks vir die funderingsfase
    Hierdie reeks skoolleesboeke is ook ’n voortreflike projek wat die doelwitte van die Toekenning vir Voortreflike Vertaling nastreef. Met Engels as grondslag is elke boek terselfdertyd ook in isiXhosa en Afrikaans vertaal. Die aanpassings was ’n integrale deel van die ontwikkelingsproses eerder as iets wat na die tyd gedoen is - dit is ware meertaligheid in die praktyk en ’n goeie uitlewing van die doel met die Toekenning, naamlik om “die gebruik en ontwikkeling van die inheemse tale te bevorder”. Die taal wat in die boeke gebruik word, is moontlik simplisties, maar die vertalers moes die uitdagings die hoof bied wat struktureel uiteenlopende tale verg. Verdere bevestiging van die sukses van hierdie vertaalpoging in ooreenstemming met die doel van die Toekenning is die feit dat Maskew Miller Longman die reeks gekoop het en dit verder ontwikkel om ook die ander Suid-Afrikaanse tale te dek. Die oorspronklike Afrikaans/Engels/isiXhosa-boeke het reeds hulle waarde in die praktyk in meertalige klaskamers bewys, waar dit kinders aangemoedig en in staat gestel het om ander tale in dié ontvanklike stadium van hulle lewens aan te leer.

  • Nuwerwetse politieke woordeboek
    Indien vertalers nie korrekte terminologie tot hulle beskikking het nie, kan hulle nie werk van ’n hoë gehalte lewer nie. Net soos ’n vakman die regte gereedskap nodig het om sy werk behoorlik te kan doen, het vertalers ook hulle gereedskap nodig. ’n Vakwoordeboek soos die NWP is by uitstek so ’n hulpmiddel.

    Die koms van volle demokrasie in Suid-Afrika en die gepaardgaande verbreding van horisonne het ’n stortvloed van nuwe politieke teme en gebruike meegebring. Die samestellers van die woordeboek het hierdie terme opgeteken, en verbandsaanduidings by sommige terme gevoeg om die terme te verklaar en leiding oor korrekte gebruik te gee. Verouderde terme of terme wat af te keur is, word dikwels uit woordeboeke uitgelaat, maar die wyse waarop die samestellers hierdie netelige kwessie hanteer het, voeg ekstra waarde by tot die woordeboek. Ons kry as ‘t ware ’n beeld van die politieke ontwikkelings van die afgelope dekade in hierdie besondere woordeboek.

    Die woordeboek is uiters gebruiksvriendelik deurdat alle inskrywings en aanvullende lyste tweetalig en streng alfabeties gegee word. Die agt bylaes in die agterstukke strek van oa akronieme en afkortings, parlemente van die wêreld tot byname van bekende politieke persoonlikhede. Hierdie bykomende inligting, benewens die terme, gee aan die woordeboek ’n unieke plek in sy genre, aangesien dit nie die tipe inligting is wat maklik in een publikasie gevind word nie. Die verduidelikende aantekeninge in die voorstukke gee duidelike riglyne oor hoe die inligting in die woordeboek aangebied is en vertolk moet word.

    As gevolg van die voortreflike standaard van die terminologie en uitstekende redaksionele metodiek is die woordeboek ideaal om as grondslag te dien vir die byvoeging van ekwivalente en verduidelikings in die ander amptelike tale, wat uiteindelik kan lei tot ’n meertalige verklarende uitgawe. Hierdeur word ’n voortreflike bydrae gemaak vir die bevordering van veeltaligheid en die ontwikkeling van die inheemse tale van Suid-Afrika.


    Uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut. Kontak: Marion Boers. Tel/faks: (011) 803-2681. E-pos: publications@translators.org.za.


    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.