Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Versindaba wil “enorme spronge” van Afrikaanse digkuns vier

Splinternuut: Klik hier vir al die inligting oor Versindaba 2005 en foto's van deelnemers!

Die eerste Versindaba vind later vanjaar plaas op Stellenbosch. Erns Grundling het gesels met die organiseerder, Louis Esterhuizen.

1. Hoe het die gedagte van ‘n Versindaba ontstaan?

’n Mens hoor dikwels die opmerking dat die digkuns hom in ’n benarde posisie bevind: al hoe minder digbundels word uitgegee, die publikasieruimte in nuusblaaie en tydskrifte vir resensies en besprekings van digbundels word voortdurend ingekort, ens. ens. En dit ten spyte daarvan dat daar tans waarskynlik die beste poësie van die afgelope paar dekades gelewer word. Hiervan getuig die hoë aansien wat van ons meer prominente digters oorsee geniet.

Die vraag moet egter gevra word: Wat kan ’n mens doen om dié toedrag van sake te verbeter? Ek en my vrou (Marlise Joubert) het toe besef dat ons vanweë ons direkte verbintenis met die boekbedryf en uitgebreide kontak met digters agv ons Saterdag-boekpraatjies in die winkel, eintlik oor die nodige infrastruktuur beskik om ’n poësiefees te reël. Ons het met Nicol Stassen (eienaar en hoofbestuurder van Protea Boekhuis) en Jannie Mouton van PSG oor moontlike finansiering gesels en hul reaksie was sodanig dat ons summier aan die werk kon spring om ’n idee realiteit te maak. Die Versindaba word geborg deur die Jannie Mouton Stigting en Protea Boekhuis in samewerking met die Woordfees.

2. Wanneer en waar vind die Versindaba plaas?

Dit is ’n naweekfees, en wel vanaf Vrydag 9 September tot Saterdag 10 September. Die hele fees vind plaas in die HB Thom-teater in Victoriastraat, Stellenbosch.

3. Waar kan mens kaartjies koop en hoeveel kos dit?

Kaartjies is te koop by Protea Boekwinkel (Stellenbosch) en kos R90 vir die hele fees of R35 per sessie. Daar is drie sessies, te wete Vrydagaand (17:45–23:00), Saterdag 10:00–17:00 en Saterdagaand (19:00–23:00). Persone wat kaartjies wil koop, kan die winkel telefonies skakel by (021) 882 9100/1 of per e-pos by proteaboek@mweb.co.za.

4. Wat maak hierdie beoogde Versindaba uniek of besonders?

Ek dink die feit dat dit die eerste poësiefees op hierdie skaal is. Daar is altesaam 28 digters wat gaan optree, asook twee professionele woordkunstenaars; daar is vier musiekitems, ’n vasvra-kompetisie en ja, selfs ’n Bekgeveg! Daar is voorlesings, voordragte, lesings, onderhoude, paneelbesprekings, die dramatisering van verse en ander aanverwante aktiwiteite ... Wat die Versindaba uniek maak? Ek skat die omvang daarvan.

5. Hoe gaan mens te werk om die digters te kies wat hieraan deelneem?

Ja, dit was nogal ’n moeilike een. Omrede dit die eerste fees van hierdie aard is, was daar ontsettend baie digters wat ’n mens eenvoudig by die fees móés betrek. En ja, 28 digters is waarskynlik tien te veel, maar hopelik sal dié situasie in komende jare normaliseer. Nietemin, ’n advieskomitee van tien lede moes my help om die lys van digters te finaliseer. Uiteindelik het ons hulle in drie groepe verdeel: senior, gevestigde digters wat reeds etlike jare al werksaam is in die digkuns, ’n tweede groep wat bestaan uit digters van wie daar onlangs digbundels verskyn het, insluitend debutante, en dan laastens, ’n groep ontluikende digters wat reeds begin publiseer het, maar nog nie ’n eie bundel saamgestel het nie. Op dié manier het ons probeer om die totale reikwydte van die Afrikaanse digkuns weer te gee.

6. Vertel van ‘n paar hoogtepunte op die program.

Wat ek nog nie genoem het nie, is dat daar ook ’n nuwe prys vir die digkuns tydens die Versindaba ingestel gaan word. Dit sal toegeken word aan die beste bundel van die afgelope jaar. Terselfdertyd sal daar bepaalde senior digters wees wat reeds oor ’n lang tydperk ’n beduidende bydrae tot ons digkuns maak, maar nog nooit erkenning ontvang het nie, en wat by die geleentheid vereer sal word. Aangesien dit ook ’n eerste gebaar van hierdie aard is, sal daar waarskynlik meer as een vereer word. Die Ingrid Jonker-prys sal ook by dié geleentheid aan Ilse van Staden oorhandig word. ’n Verdere hoogtepunt gaan beslis die musiekitems wees: Philip de Vos en Peter Snyders, Toast Coetzer met sy groep Buckfever Underground en Laurinda Hofmeyr met haar besonderse toonsettings van gedigte. Om nie eens van die Vasvra-kompetisie à la Flinkdinkvaria en die Bekgeveg te praat nie!

7. Maak julle voorsiening vir ‘n jong gehoor?

Ek sal graag so wil dink, ja. Enersyds is daar die relatief groot getal “jonger digters” wat gaan optree, maar daar is natuurlik ook van die ander items (soos die dramatisering van poëtiese tekste deur die plaaslike dramastudente) en die reeds genoemde musiekitems wat byval behoort te vind.

8. Is dit waar dat bitter min mense (veral jongmense) poësie lees en waardeer?

Sjoe, dis ’n moeilike een om te beantwoord. Ek weet wel dat daar geweldig baie jong digters is wat skryf – so vertel Antjie Krog dat hulle bykans 4 000 gedigte vir Nuwe Stemme 3 ontvang het, en by ’n vorige geleentheid moes ek en Peter Snyders self 500 gedigte plus deurwerk vir ’n publikasie deur US-studente. Daarom wil ek graag glo dat daar wel heelwat poësie geskryf word, maar of hulle dit koop? Dit betwyfel ek nogal. Dalk moet die bundels dikker word sodat die koper kan voel dat hy/sy meer waarde vir sy/haar geld kry? Ek weet nie.

9. Hoe voel jy oor die kwaliteit van die poësie wat die afgelope paar jaar verskyn?

Ek glo dat ons digkuns besig is om enorme spronge te maak, ten spyte van die beperkende faktore, soos die minder bundels wat verskyn. Poësie vind gewoon soveel ánder kanale waardeur dit na vore kom: in musieklirieke, voorlesings, informele publikasies, inisiatiewe soos Bekgevegte, en in die laaste tyd selfs in die skilderkuns! Jammer, ek dwaal af. Die feit dat daar soveel Afrikaanse digters is wat jaarliks na Poetry International in Rotterdam genooi word, is vir my tekenend van hoe hoog ons digters oorsee aangeslaan word. Dan is daar natuurlik ook die groot getal wie se verse in ander tale vertaal word ... En ja, grensverskuiwende bundels begin in die laaste tyd óók weer na vore kom; hier is Charl-Pierre Naudé se nuutste en HJ Pieterse se Hertzog-pryswenner van enkele jare gelede goeie voorbeelde. En natuurlik: die werk wat Antjie Krog doen om Afrika deur middel van haar vertalings/verwerkings van Afrika- en San-poësie vir ons oop te skryf, is iets enorm. Dan weet ek ook van ’n paar verlooptes wat vir vele jare nie gedig het nie, wat nou weer aan die gang is, en glo my, dít gaan opwindende werke tot gevolg hê. Ook het die verse van jonger digters in Nuwe Stemme 3 en ander publikasies bepaalde persone na vore begin stoot. Ek glo ons digkuns is tans meer gesond as enkele jare gelede. Die mense weet dit nog net nie. Daarom die fees.

10. Wat wil jy graag bereik met hierdie eerste Versindaba?

Die idee is dat die fees as ’n vertoonkas vir die geskakeerdheid en gehalte van ons digkuns moet dien. Indien die fees daarin kan slaag om die potensiële leser hiervan te oortuig en die media te kry om die poësie weer ernstig op te neem, het ons bereik wat ons wou. Waarskynlik sal dit nie reeds binne die eerste jaar gebeur nie, maar indien ons daarin kan slaag om genoegsame finansiële steun te kry ten einde die Versindaba ’n jaarlikse instelling te maak, mag dit dalk op die lang duur opwindende dinge tot gevolg hê.

Klik hier en wen!
Klik hier en wen 12 maande af op jou huislening!




LitNet: 1 Junie 2005

Would you like to comment on this book information? Tell us about it. Write to webvoet@litnet.co.za and join our interactive opinion page!
Do you have a short story you'd like to submit for consideration? Send it to sharon@litnet.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.