Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Joan Hambidge se digbundel Ruggespraak is pas by Protea Boekwinkel op Stellenbosch bekendgestel. Hieronder is my aangepaste bekendstellingstoespraak.

Lisbé Smuts

Departement Suider-Afrikaanse Tale
Universiteit van Kaapstad

In die gedig “E-pos aan D J Opperman” in Joan Hambidge se bundel Lykdigte (2000) staan hierdie slotreëls: “Ns. Liewe DJO, ons kort ’n helse donderslag / om almal weer te laat glo in die poësie se krag”. Die afgelope twee jaar het Joan Hambidge, of soos sy spottend na haarself verwys in een van my gunsteling-gedigte, “ ... Die bitsbek, kliefklaf / klitiklaks; die duisend-en-een-nag / parodis; die strydvaardige, opgeblase ek-is”, meer as net ’n helse donderslag laat hoor as akademikus, polemikus en skrywer.

En nou volg Ruggespraak — Joan Hambidge se sestiende digbundel. Die digbundeltitel funksioneer as ’n betekenisvolle draer van die korpus gedigte in die vier afdelings in die bundel. Afgesien van die leksikologiese inhoud van dié titel (die idiomatiese, suggestiewe, en vanselfsprekend woordeboekdefinisies wat “ruggespraak” omskryf as “konsultasie”, “raadpleging” en “oorleg” en, in Nederlands, om agter iemand se rug te praat) teleskopeer die digbundeltitel velerlei verwysings en betekenisse.

Mitologies is die rug die liggaamsdeel wat met die seisoen winter skakel. En die digbundel sluit ’n aantal winterse gedigte in. Veral ’n Sondag verander in ’n kil seisoen soos blyk uit gedigte soos “Sondag van ’n digter” en “Elke huis het sy kruis” en reëls soos “op hierdie wintersmart Sondagoggend” en “(e)k stik in hierdie kitchen-sink-realisme, / verwonderd oor hoeveel misverstande, / verwyte daar tussen ons lê” (“Elke huis het sy kruis”).

Die rug simboliseer kastyding en las, máár ook verlossing, en ondersteun die betekenisse wat die digbundeltitel oproep. Want die gedigte skep ook ruimtes van verlossing vir die skrywer vir wie alles oplos in taal, of soos J Lacan dit stel vir die skrywende subjek “ ... that signs itself over to the signifier with a slip of the pen ...”.

Die digbundeltitel dui voorts ook op ’n gesprek wat geïllustreer word deur dié gedigte wat tot ’n boeiende intertekstuele lesing lei. Maar hierdie gesprek word anders gevoer as in vroeëre digbundels, soos die versreël “te veel verse op ander rugge berym” in die gedig “Die anatomie van melancholie” suggereer.

“Vuurwiel”, die titel van die tweede afdeling, gee ’n geskakeerde uitbreiding van die perspektiewe wat die digbundel open, onder andere deur die ryk leksikale simboliek van “vuur” en “wiel” — herskepping word deur beide simbole beteken. In baie kulture word die oorsprong van vuur teruggevoer na ’n geslagsdaad van mitiese figure of diere; die maak van vuur deur die vryf-wrywing, met stokke en klippe, verbind vuur van die vroegste tye met die seksuele.

In Ruggespraak wórd liefdesverhoudings in terme van vuur beskryf soos in die gedig “Jakkals trou met wolf se vrou”: “Ons mis beide die ou vuur. / Toe ons liggame vuurwiel ...”. Die gedig “E-pos-verhouding” lewer kommentaar op die liefdesgloed luglangs: “Maar as dit werk, as dit werk, is daar niks ja niks /
soos ware vonkpos!” Dit is egter ’n andersoortige vuur (?) wat ter sprake gebring word in die gedig “Under my skin”: “Twee minnaars dans met mekaar / hulle liefde kan nooit geblus word nie: dis vuur wat brand, / ’n elektroniese glimming” ...

Die liefde en die digkuns gaan ook ’n verhouding aan wat in “Elke huis het sy kruis” verbeeld word: “Vanoggend kyk ek terug — / die digter het ’n Januskop: / enersyds betrokke geliefde; / andersyds verwyderde skriba”. Maar die “verwyderde skriba” tree in ’n voorkeur-verhouding met die tekstuele lyf van die gedig. “To write is a mode of Eros”, ’n stelling van Roland Barthes (Critical Essays:1972:xvi), word bevestig. Dit is hierdie proses wat ’n dialektiek van begeerte skep en “an unpredictability of bliss”, in Roland Barthes se terme.

Van hierdie proses kan die skrywer sê: “Toe kon ek doof word van die gedig se woordelose asemhaal” (“Skryfode”) en “ná woorde waar rus was, / het my verse my laat brand” (“Ek wou nog sê”).

Die ars poëtiese gedigte en die refleksie op die skryfproses vorm vir my ’n fassinerende fokus in Ruggespraak. Die gedigte lewer kommentaar op selfskepping, of “Technologies of the Self”, en ’n leser sou kon aflei: ’n mens moet jouself skep, pleks van ontdek. En Hambidge beklemtoon dat die skeppende mens moet “inkyk / tot by die spikkel van die self” in die gedig “Rembrandt” in Bitterlemoene (1986).

Die aard van die inkyk word vir my die uitstaande aspek in Ruggespraak. Die gedigte in hierdie digbundel illustreer Roland Barthes se stellings oor die skryfproses in Critical Essays: “the writer [herself ] himself cannot experience the work as a base, but as necessary abandonment ...”; “(t)he work is written by seeking the work”, “ ... the time operative, not historical”.

Henning Snyman beskou Hambidge se gedigte sedert Ewebeeld en deur Lykdigte as rituele verse. Op Snyman se stelling kan uitgebrei word. Die digter is inderdaad “Isis op soek Osiris” soos gesê word in die gedig “Dit was Auden”:
Dit was Auden, /
kenner van die liefde, wat waarsku: /
die digter het die gedig /
liewer as die geliefde se gesig. /
Tog met jou word elke woord /
en wederwoord uitgewis. Ongedaan.
Voor jou het ek geen woorde. /
Ek is Isis, soekend na jou, Osiris./

Isis moes volgens Egiptiese mitologie soek na die stukke vermoorde liggaam van Osiris wat versprei was oor Egipte. Sy kon al die stukke opgekapte liggaam terugvind, maar nie Osiris se penis nie. Die digter, of “(D)ie lykbesorger se vrou en handlanger” soos die ek-skrywer genoem word in “Bonfire of vanities”, wéét die skeppingsproses is ’n vertragingsproses, soos die retoriese vraag in die gedig “Eat your heart out” bevestig: “Omdat ons nie by die vuur / van oorsprong kan kom nie?”.

’n Invloedryke leser is van mening dat Ruggespraak veral illustreer dat ’n mens nie agter Joan Hambidge se rug moet lê nie. Dít is miskien waar, maar dít is ’n gesprek oor Slumberland, Edblo of Sealy Posturepedic. Die verwikkelde gesprek in die gedigte, of soos ’n gedig dit stel, die “A4-ruimte van my bed” (“Blommetjie gedenk aan jou”), verander die leser in ’n Isis. En ’n leser behoort te weet die brokke van die korpus skep nie ’n geunifiseerde teenwoordigheid nie — ook nie ’n oorsprong nie. Die leser weet nie waar Dawid die wortels gegrawe het nie.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.