Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jackie Nagtegaal maak skoonskip by die toekenning van Nasboek se literêre pryse

Erns Grundling

Jackie NagtegaalMet swart aandpak, pienk das en gepunte Liewe Heksie-skoene het die 18-jarige skrywer Jackie Nagtegaal gisteraand met twee pryse die kollig gesteel tydens die toekenning van Nasboek se literêre pryse. Sy het daarmee R 30 000 ryker geword.

Hierdie glansgeleentheid het plaasgevind by die Mount Nelson in Kaapstad, waartydens Nasboek se WA Hofmeyr-prys, die Recht Malan-prys, die MER-prys en die Herman Charles Bosman-prys toegeken is. Nasboek en M-Net het kragte saamgesnoer en vir die eerste keer in die 49-jarige geskiedenis van die boekpryse die geleentheid saam aangebied. Die bekende omroeper en sakeman Tim Modise was die seremoniemeester.

Nagtegaal, wat haar debuutroman — Daar’s vis in die punch — op sestienjarige ouderdom geskryf het, het met kykNET se prys vir Jong Afrikaanse Skrywers, sowel as die gesogte MER-prys vir Jeugliteratuur weggestap. Interessant genoeg, was daar behalwe Nagtegaal se boek nie ander voldoende inskrywings vir die kykNET-prys — wat gemik is op skrywers onder 35 — nie.

Die ander genomineerdes in die kategorie vir die MER-prys was Barry Hough en Liz Meiring (Breek) en Marita van der Vyver (Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom).

Nagtegaal se opspraakwekkende boek bied ’n openhartige blik op die realiteite wat die jeug in die gesig staar, soos gesien en beleef deur die hoofkarakter, Charlie Koekemoer. Dié boek het verlede jaar oud en jonk aan die praat gehad en gou blitsverkoperstatus bereik.

Daar was ook twee pryse vir inheemse tale. Jemina L Phaswana het die Thsivenda-prys ontvang vir sy roman Isha la mitodsi (Lake of Tears), wat handel oor die manier waarop liefdesverhoudings tussen ’n getroude man en ongetroude vrou die lewens van talle mense raak — ook dié van hul nageslag. Die ander genomineerde was KL Masevhe met O Hatulwa (He has been judged).

Nankanjani G Sibiya het die Nguni-prys ontvang. Sy boek, Kuxolelwa Abanjani (What Kind of People Can Be Forgiven), is ’n aangrypende verhaal van ’n man wie se lewe dramaties verander wanneer hy die lotto wen. Die rykdom bring ou vriendinne na vore en dit lei daartoe dat sy lewe feitlik vernietig word wanneer hy met HIV gediagnoseer word. Die ander genomineerdes in Sibiya se kategorie was EDM Sibiya met Kungasa Ngifile (Over My Dead Body) en Ncedile Saule met Umthetho Ka Mthetho (Mthetho’s Law).

Die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse literatuur is toegeken aan Ingrid de Kok. Haar roman, Terrestrial Things handel oor VIGS en die tragiese verhale wat na vore gekom het tydens die Waarheid- en Versoeningskommissie se sittings.

Dan Sleigh het met sy roman Eilande die WA Hofmeyr-prys ontvang vir fiksie. Eilande strek ver en wyd, oor drie oseane, drie vastelande, ’n handvol eilande en ’n honderd skepe. Dit herroep die eerste jare van die Kaapse nedersetting deur die lewens van sewe mans wie se lewens op byna onnaspeurbare maniere in mekaar vervloei. Die ander genomineerdes vir die WA Hofmeyr-prys was Antjie Krog (Met Woorde Soos Met Kerse) en Ingrid Winterbach (Niggie).

Die Recht Malan-prys vir niefiksie is in absentia toegeken aan Karel Schoeman, vir Die Laaste Afrikaanse Boek, wat bestaan uit outobiografiese aantekeninge wat gestalte gee aan sy lewe. Die ander genomineerdes vir hierdie prys was JC Kannemeyer (Die goue seun) en Jonny Steinberg (Midlands).

Hein Brand, Besturende Direkteur van Nasboek, het tydens sy toespraak hulde gebring aan “die boek”, en die hoop uitgespreek dat dit lesers nog vir eeue sal bekoor. Hy het aangekondig dat Nasboek, as deel van volgende jaar se Cape Town International Book Fair, 250 000 boeke wat nog in ’n goeie toestand en van ’n hoë gehalte is, onder lesers in minderbevoorregte gebiede gaan versprei.

Volgende jaar gaan die Jan Rabie/Rapport-prys vir debuutprosa, sowel as twee pryse vir die beste boekjoernalis en boekeredakteur, deel uitmaak van Nasboek se literêre pryse.

Die beoordelaars se keurdersverslae sal binnekort op LitNet verskyn.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.