Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Commendatio vir die MER-prys 2003

Chris van Wyk en Marina le Roux

Wenner: Daar’s vis in die punch deur Jackie Nagtegaal

Vanaf die intrigerende titel Daar’s vis in die punch, en die motto van Sartre voorin — “Life is nothing until it is lived ...” — tot by die laaste paragraaf, hou hierdie jeugboek die leser se aandag gevange. Die ervarings van die sestienjarige hoofkarakter Charlie Koekemoer gedurende een week van haar stormagtige tienerlewe word intens meegemaak.

Charlie is een van die interessantste karakters in die Afrikaanse jeuglektuur: intelligent, maar nie ’n snobistiese feitevraat nie; selfstandig maar nie opstandig nie. Sy bestuur haar Triumph Spitfire met styl, dans met passie soos Isadora Duncan, kuier in klubs tot ligdag en trip haar hartseer en frustrasies weg met seks en dwelms. Haar ouers is ryk beroepsmense en probeer om vir hul afwesigheid te vergoed met duur geskenke. Dit strek die skrywer tot eer dat sy nie alle volwassenes as oorheersende, manipulerende monsters voorstel nie — wel soms verbeeldingloos. Charlie twyfel byvoorbeeld nooit aan haar ouers se liefde vir haar nie, selfs al weerhou hulle ’n skokkende geheim van haar.

Ten slotte is dit ’n besonder positiewe ouer-kind-verhouding wat uitkristalliseer en wat Charlie motiveer om haar probleme te konfronteer en verantwoordelikheid vir haar lewenstyl te aanvaar. Soos die Sartre-motto aanraai, hang elke individu se lewenskwaliteit af van die keuses wat gemaak word. Katarsis en transformasie behels veel meer as net ’n letterlike naamsverandering. Charlie beleef eers nou die ware betekenis van haar geliefkoosde Freda Kahlo-skildery: Danza al sol/Dans na die son.

Die boek se direkte verteltrant en slengtaal is oorspronklik en hiperrealisties, met kruwoorde onversag ingesluit, wat wel regverdigbaar is binne konteks en die sosiale register. As daar ooit ’n Afrikaanse jeugboek was wat die Eminem-generasie sal lees, en hopelik aan die lees sal hou, is dit Daar’s vis in die punch.

’n Punt van kritiek moet my egter van die hart — noem dit puntenerigheid as u wil, maar selfs ’n wenner is nie sonder insinkings nie. Nagtegaal, soos alle en veral jong skrywers, behoort te waak teen kreatiewe luiheid: slordige formulering, fasiele frases en handige stoplapsinne. Sy het nie ’n slim nie, maar ’n streng mentor nodig.

Maar dit is ’n hoopvolle boek wat sonder moralisering en skoolvosserigheid ’n positiewe boodskap met humor oordra. Die lewe is nie maklik nie; daar is dikwels onwelriekende en onsmaaklike vis in die punch, maar as jy die punch deur jou tande sif en versigtig sluk, kan dit jou net geluk om die vis te dodge.

Ek vra u om die MER-prys vir 2003 toe te ken aan die jongste skrywer wat dit nog ooit vir ’n debuutwerk verower het: Jackie Nagtegaal.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.