Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywer van Roepman aan die woord ...

Jan van Tonder

Klik op die boekomslag en koop dit nou by kalahari.net. Klik hier om uit te vind hoe jy 'n eksemplaar van Roepman kan wen!
Roepman Roepman
Jan van Tonder
ISBN: 0798144580
Prys: R110
Formaat: Sagteband
200 bladsye

Jan van Tonder “Berta, die Ierse terrier wat ek as kleinhondjie op my eie werf uit die kake van bure se slagtershond gered het. Laasgenoemde is ‘n maand later aan kanker dood. Ek was nie een van die rouklaers nie.” (Foto: Anita Holtzhausen.)

Toe ek jare gelede op Ladismith gewoon het, vra 'n vriendin my waaroor my roman Is Sagie gaan. "Dis die storie van 'n vertraagde man in die Klein Karoo," antwoord ek. "O, 'n outobiografie," kom die reaksie ewe onskuldig.

Nou ja, daar het u dit.
Of ek ooit 'n (tweede) outobiografie sal skryf, betwyfel ek, maar met Roepman het ek my ganse grootwordtyd moes evokeer. Ek het kort-kort my susters gebel om inligting te bekom, en my broer stilletjies verwyt oor sy voortydige dood, want hy sou beter as ons almal onthou het.

Aan die ander kant: wat wie ook al in die herinnering geroep het, hoeveel feite ek ook al kon versamel, uiteindelik sou dit tweede viool moes speel - die romanskrywer laat weg, lieg by, verdraai. (Geskiedskrywers doen dit, verdomp, hoekom sal óns nie?)


In my studie: “Dit help my om deur die vrug van ander skrywers se arbeid omring te wees wanneer ek werk. Dit laat my beter voel om te weet hulle het ook gesweet, gebid, gewanhoop, gelag, gehuil terwyl hulle daarmee besig was.” (Foto: Tineke Ellis.)

Iemand wat gedurende die middel sestigerjare in dieselfde spoorwegwoonbuurt as ons gewoon het, het nou die dag opgemerk dat daar g'n rangeerwerf in die omgewing was nie. Is so. Maar ek had een nodig, daar, vir Roepman, en Roepman moes roman word, nie stadsplan nie. Nie belydenis nie. Nóg outobiografie.

Ja, daar het wel 'n straatgeveg tussen 'n jong man en sy meisie voor my oë afgespeel, maar dit was in 'n ander buurt, toe ek ses of sewe jaar oud was, nie dertien soos Timus nie.

Daar hét 'n waterpyp voor ons huis gebars, maar dit het niemand se lewe, selfs vir 'n oomblik, verander nie.

Ons is óók nie toegelaat om Sondae te swem nie, al het ons stapafstand van die see af gebly. (Stapafstand was destyds natuurlik 'n heel ander begrip as vandag.)

Ek het net soos Timus loop kyk hoe walvisse geslag is (dankbaar dat ek met heel ander oë as hy na 'n bunny chow kan kyk).


“Ek vrek oor vroue van alle ouderdomme, maar dis net die heel kleintjies wat van my hou. Hierdie skoonheid het my geselskap so geniet dat sy haar oë nie kon oophou nie. Sy behoort aan vriende.” (Foto: Nanette van Rooyen.)
My ousus mog nie op haar 21ste verjaardag dans nie, nes die oudste Rademan-tweeling; my broer het vir my ook stories vertel terwyl ons gebad het; een van my sussies moes ook om 'n sinlose rede van haar geliefde afskeid neem; ons bediende se seuntjie het ook te groot geword vir die agterplaas …

Wie kan 'n boek skryf sonder om uit eie ondervinding te put?

Dit maak nie saak hoeveel ooreenkomste daar tussen die werklike Van Tonders en die fiktiewe Rademans is nie, Roepman is stórie. Dis die storie van elke seun wat sy onskuld verloor in hierdie wêreld waarin onskuld deur dese en gene besing, maar ironies genoeg nie lank geduld word nie.

Dis verstommend hoeveel mense outeur en verteller met mekaar verwar. Jan van Tonder is nie Timus Rademan nie, al het Jan nes die verteller van die boek lank ná sy tydgenote baard gekry en skuim begin piepie. Ek maak daarvoor op deur vinniger as hulle te verouder. Ek kry dit reg deur 'n lewe uit skryfwerk te probeer maak. My vriendin het reg gehad, dus, om my destyds met Sagie te verwar. Ek sou op die naam aangedring het as ek Sagie se soort onskuld myne kon noem. Maar ek is bevrees dáárvoor is dit selfs vir Timus Rademan te laat.

Roepman
Klik hier om Louise Viljoen se Roepman-resensie te lees

Roepman-kompetisie

Staan die kans om 'n eksemplaar van Jan van Tonder se Roepman te wen!
(Boeke geskenk deur Human & Rousseau)
Om te wen stuur die e-pos addresse van almal wat u dink ons nuusbrief wil ontvang aan
Sharon@litnet.co.za



LitNet: 20 Januarie 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.