Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Orale kuns in transformasie

Floris Brown


Waarheen kan en behoort die Afrikaanse digkuns in die toekoms heen te beweeg as daar al minder formele publikasiemoontlikhede is?

Die idee is juis dat daar ’n tweestromige rigting moet wees. Die een is uitgewers en die ander selfpublikasie. Uitgewers kan nog steeds soos blokhuise hul voorkeurskrywers publiseer en selfpubliseerders kan publiseer met die gedagte dat van hul gedigte opgetel word en een of meer gedigte in bloemlesings opgeneem word. Hulle het ook verder ’n langtermyn-ideaal om na 10-14 eie publikasies ’n kanon te vra om ’n keurbundel saam te stel met die oog op publikasie deur gevestigde uitgewers.

Afrikaans is so ’n lieflingstaal dat magtige organisasies soos die ATKV en godsdienstige organisasies hul eie uitgewerye kan bedryf. Almal publiseer uit hul liefde vir AFRIKAANS. Selfpubliseerders is onderstromige wingerdboerproduseerders wie se vrugte een of ander tyd soet op die tong val soos Afrikaanse tongvalle regoor Suid-Afrika.


Hoe behoort verpakking en bemarking te lyk?

By uitgewers is voorkoms en die bind van die boek uiters belangrik; so ook vir die selfpubliseerder. Slordige bindwerk of onnet finale afwerking van die digbundel stoot menige koper weg. Uitgewers sit menigmaal met die kopseer dat alhoewel hulle groot kanonne publiseer, gaar tog baie van die bundels rente op die rakke op. Die selfpubliseerder het die voordeel dat hy self bemark en klein, bekostigbare hoeveelhede druk en herdruk op aanvraag.

Uitgewers het verder ook die voordeel dat hulle by Onderwysowerhede kan beding vir die aanskaf van voorgeskrewe bundels vir ’n spesifieke graad en sodoende groot oplae van 5 000+ van die hand kan sit.

Ons leef nou maar eenmaal in ’n land waar die lees van poësie nie almal se koppie tee is nie. Ons sal hierdie kultuur kan regstel alleenlik as ons ons kinders van kleins af leer om in hulself te glo en trots te wees op hul eie poësieskeppinge. Ons kan by die Nederlanders gaan leer om ook ons kinders te leer om hul eie versies by te voeg op enige verjaardagkaartjie wat vir ’n maatjie of familielid gestuur word. Wanneer hulle as kind die TROTS aangeleer het, sal die renons in poësie verdwyn en groter verpakking- en bemarkingsmoontlikhede daarstel vir alle digters en uitgewers vir die toekoms.


Is “pop” deel van die antwoord?

Dit moet nie geringskat word nie. Komponiste sit ure en baie sweet in om poësie op note te laat ry. Dit is ’n vinniger en makliker manier om poësie op die dansvloer of vir ’n kabaretopvoering te laat werk. Dit wil nie sê dat alle lirieke poësie is nie. Die skryf van ’n liriek verskil hemelsbreed van die van ’n gedig. Baiekeer moet die gedig aangepas word om koorherhaling te vervolmaak in ’n liriek.

Ons kry egter ook die perfeksionis-komponis wat ’n gedig kan toonset sonder enige veranderinge aan die gedig self. Die eenvoudigste manier om poësie op musiek te laat werk is om dit eenvoudig net voor te lees met agtergrondbegeleiding.

“Pop” is dus deel van die antwoord, want ons kry ook snelkletspraatdigters (“rap”-digters) wat van oorryming gebruik maak soos te veel versiering aan ’n kersboom; en vir baie Afrikaanse snelkletspraat-poporkeste werk dit soos ’n bom en verkoop hulle laserskywe soos soetkoek.


Bekgevegte?

Is en sal altyd ’n wenresep bly. Hierdie is regtig die poësiegimnasium van die brein. Om op jou voete te dig onder luide aanmoediging van ’n gehoor wil gedoen wees. Bravo aan die bekvreters!


Moet digters eenvoudig maar self of met behulp van klein uitgewerye hulle bundels publiseer?

Hiervan is ek beslis ’n voorstander. Die tyd stap aan en poësie kom in tydvakke voor met betrekking tot die era waarin dinge plaasvind asook moderne tegnologiese vooruitgang en ontwikkeling rondom uitvindsels en masjinerie. Digters het nog steeds die reg om hul werk na uitgewers te stuur, maar as dit afgekeur word, moet hulle nie gaan lê nie. Dit is die tyd wanneer hulle die tweede opsie moet uitoefen deur self te publiseer.

Omdat ek myself ag as uiters bekwaam, en kundig is met die skryf van goeie gedigte, dien die volgende as voorbeeld en ter aanmoediging vir selfpubliseerders. My eie publikasies oor 30 jaar met kort resensies tot hede:


1. Gloei (1994)

… waaroor professor Flip Strydom, hoof van Geletterdheid - Stigting vir Afrikaans, die volgende te sê het: “U digbundel het werklik ’n koue wintersdag hier by die Stigting vir Afrikaans laat gloei! Op hierdie stadium wil ek net vir u sê dat dit vir my louter plesier was om u verse te lees. Dis heeltemal uniek in Afrikaans …”


2. Waar Aasvoëls Draai (1996)

“… Dr Zach de Beer is tans Suid-Afrika se ambassadeur hier in Nederland. Verlede week het ons die nuusbrief van mnr Jan Biezen van Biezen, Internationaal Forum, ontvang en daar sien dr De Beer u naam in ’n aankondiging van digbundels! Dr De Beer het my toe kom vertel van sy aangename ontmoeting met u ’n paar jaar gelede. Soos u natuurlik weet, stel die Nederlanders baie belang in Afrikaans en veral hoe die toekoms daarvan sal loop. Daarbenewens is dit natuurlik ’n pragtige, ryke literatuurtaal waarin die geskiedenis van ons land vertel word - ’n waardevolle bron van inligting vir ons kinders  … U bydrae vir ons nuwe Suid-Afrika word hoog op prys gestel.” (Laura M Joyce - Eerste Sekretaris: Kultuur - Zuid-Afrikaanse Ambassade - Den Haag-04:11:96)


3. Phoenix (1996)

“… hierdie bundel van Afrikaanse gedigte word versprei ten bate van die Gemeenskapsontwikkeling wat in 1982 gestig is vir die bruin en swart gemeenskappe in Worcester. Die organisatie het gou die aandag van die Veiligheidspolisie geniet met sy anti-apartheid welsyn programma binne die gemeenskappe van Worcester en Zweletemba …” (Jean du Biez - Internationaal Forum voor Afrikaans en Nederlandse Taal en Letteren)


4. Die Woudmaker (1998)

“… ek het dit met groot genoeë gelees. Njabulo Ndebele, die kortverhaalskrywer (en nou rektor by UCT) het in ’n baanbrekende artikel geskryf oor die “sense of the ordinary” wat ons nou moet leer om te ontwikkel as Suid-Afrikaners. Dit is daardie sin wat ek in u gedigte waardeer en geniet het. Dit het my laat dink aan die gevoel in van Sheila Cussons se gedigte. Daar is gelukkig nou in die Afrikaanse letterkunde so stadigaan die erkenning dat die letterkunde eiewaardig meer is as wat voorheen voorgegee is.” (Professor Jakes Gerwel, 13 Junie 2001)


5. Skadukinders (1999)

“Van Floris A Brown van Worcester kom twee keurige digbundels wat die digter self uitgegee het. Elk van die bundels, Die Woudmaker en Skadukinders bevat meer as veertig gedigte wat ’n wye spektrum temas dek: die liefde, aktuele kwessies en geestelike lewensvrae.” (Die Taalgenoot - ATKV)


6. Die Koei Stort ’n Traan (2000)

… waaroor die veel bekroonde digter Antjie Krog (Afrikaans se Pablo Neruda, soos Joan Hambidge haar beskryf) die volgende te sê het: “Floris Brown is geen onbekende in Afrikaans nie. In sy jongste digbundel vind die landskap van Worcester met sy vloede, droogtes, stof, windpompe en sneeu in die Koue Bokkeveld neerslag. Brown maak dikwels van die sonnet-vorm, asook die rymende kwatryn gebruik om sy verlange, alleenheid en sy ontsteltenis met die vergrype in armoede uit te druk. In voorbeelde soos ‘notebalkdraad’, ‘vlokwolk’, en ‘ek wou jou in my gevange hou’, toon hy ’n vermoë om dit wat die oog sien, in taal bymekaar te maak.”

7. Grysvos (2000)

“… ons wil graag langs hierdie weg ons opregte dank en waardering aan u oordra vir die besondere manier waarop u, u Goddelike gawe tot ons beskikking gestel het. Die beskikbaarstelling van u digterlike gawes is beslis ’n dienslewering aan ons gemeenskap sowel as aan ons land …” (KE October - Sekretaris, Christelike Alkoholiste Bond)


8. Klank van die Byl (2000)

“… ek is vasgevang in die romantiek van woorde en jou werk is pragtig. Was geroer deur KOKAÏEN, TULP het my moed gegee, gewonder wat is die storie van KLOMPEDRAER - was jy daar en was jy verlief op iemand? … en PREKANTJIE is kostelik. Nogmaals baie dankie en ek sal jou mooie woorde koester.” (Arina Barnard - KKNK 25 April 2001)


Nuwe selfpublikasies in die pyplyn

Roep van die maanwolf; Rot-t…; blokhuis; venyn van ’n kwatryn (reeds voltooi voor einde 2000). Afgelope drie jaar werk ek aan ’n Afrikaans-Nederlandse bundel vir vroeg Maart 2004.

Ek het riglyne vir selfpublikasie en enige persoon wat hierdie rigting wil inslaan, kan dit per e-pos of selfgeadresseerde koevert van my kry.

Klein uitgewerye het ook ’n bestaansreg, maar baie van hulle verkies dat jy eers jou werk deur ’n streng redakteur of kundige laat redigeer (natuurlik teen ’n fooi) en dan aan hulle voorlê vir moontlike publikasie.


Moet daar meer gemaak word van “geblikte liriek”, waar poësie, voordrag en musiek gekombineer word, soos met Breyten Breytenbach? Moet daar voordragsessies wees waar die gedigte in ’n aantreklike formaat goedkoop verkoop word, bloot om koste te dek?

Hier hang dit van die uitgewer af van hoeveel hy bereid is om te belê in sy ikon en die platemaatskappy met die versekering dat meer as die uitgawes geïn gaan word. Nie almal hou van “geblikte lirieke” nie. Hoe geslaagd die nuutjie is, moet die uitgewers ons meedeel. Hierdie bemarkingstegniek kan ook op ’n totale misoes uitloop.


Is die toekoms van groot gekanoniseerde Afrikaanse digters daarmee heen nadat Breyten aangekondig het dat hy nie meer in Afrikaans wil publiseer nie?

Groot kanonne sal daar altyd wees met ’n toekoms. Soos die groottes sterf, kom daar altyd nuwes wat hul plek inneem. Ek glo nie wat Breyten sê nie - daarvoor is hy té lief vir AFRIKAANS. As uitgewers net wil luister wat hy vra en daaraan voldoen, sien ons binnekort iets nuuts van Breyten op ons rakke.

Ek sluit af:

Ons het ook stekelgrasmense wat daarop uit is om digters se seepskuimblasies te pop!

(Tjy sjê nie vi myni. Uit Afrikaans/Nederlandse bundel vir 2004)


Ja, ek is die slimste, Francis Marius
wanneer gedop,
sit ek met ’n IK van 120° Celsius
vasgebrand in my koperkorrel-klapperdopkop

(Naamlose koei. Uit Afrikaans/Nederlandse bundel vir 2004)


Hiper moderne
sê-dit-soos-dit-is
gedigte
is nie vanwaar gehasie
se vrugte is

iewers in die kinkel
weet hy nie
ons dig lank nie meer
soos in die tyd van
Rip-van-Winkel

(Blokhuis. Uit Blokhuis)


Waarvoor hek of poortwagters
as die dorp Poësie honderde
onbewaakte ingange het.

Watter deel van die dorp
en waar staan julle?

Wat is jul kleur. Wit swart of bruin?

Waar lê jul opregtheid van wagstaan
as die dorp strategies uitgelê is in
wit bokant die spoorlyn
bruin duskant die spoorlyn
swart in ’n lokasie waar
geen treine loop of glad nie
blaas nie?

vir hoe lank gaan ons nog blokhuise hê
as ons nes julle, in AFRIKAANS, ons sê wil sê?



Henning Pieterse: Different strokes for different folks
Etienne van Zyl: Die aspirant-skrywer en dig-otomie

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.