Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Aan al die digters daarbuite: “Different strokes for different folks”


Henning Pieterse

Daar is en word met goeie reg gewroeg en gevloek oor die feit dat die getal digbundels wat deur “gevestigde” uitgewers gepubliseer word, jaarliks minder word (2002 was ’n welkome uitsondering). Ongepubliseerde en gepubliseerde digters het hulle stemme al gereeld laat hoor in hierdie verband en die uitgewers het hulle kant van die saak gestel. Lg se standpunt kom daarop neer dat dit te duur is om poësie uit te gee — digbundels verkoop nie, dus is die kool die sous nie werd nie. (Hierdie is nie net ’n “plaaslike” siening nie — ’n paar jaar gelede het Faber & Faber, wat Eliot, Gunn, Pound, Walcott, Heaney, ens uitgegee het, dit ernstig oorweeg om nie meer poësie te publiseer nie.) Mense lees minder, en ook minder poësie; dis ’n feit en so ook dat selfs “gevestigde” digters moet staatmaak op ’n “kerngroep” lesers vir wie poësie nog altyd iets besonders is.

Verskeie digters het hulle vasgeloop teen Tafelberg en Human & Rousseau se besluit om slegs ’n sekere aantal bundels per jaar uit te gee. Verskeie van ons ken verhale soos: “Jou bundel is aanvaar, maar sal eers in 200_ (vul maar in) kan verskyn.”

Into the fray steps Nicol Stassen van Protea Boekhuis. Verlede jaar verskyn 16 bundels uit sy stal en daar is nog ’n hele paar op pad. (Êrens in die agterkop skuil die vrees wel: gaan Protea dieselfde paadjie loop as wat Perskor in die sewentiger- en tagtigerjare geloop het deur bykans alles te publiseer wat op hulle lessenaar beland? Wat my laat dink aan ’n stelling in Stet, lank gelede: “Die digters wat nog nie ’n manuskrip by Perskor het nie, skaam julle!”) Vrese daargelaat, Stassen kan net gelukgewens word met sy ondernemingsgees.

Dit gaan nie help om Nasboek ad infinitum te kritiseer oor hulle besluit nie (soos wat die uwe by herhaling al gedoen het). As jou bundel werklike “meriete” het, sal Nasboek dit heel waarskynlik steeds publiseer, of jy nou ’n “gevestigde” digter is of nie.

Maar wat het op “voetsoolvlak” gebeur die afgelope paar jaar? Hiermee ’n kort en persoonlike relaas van hoe poësie kan “werk” sonder dat dit noodwendig in boekvorm die lig sien.

In 1997 het ek en Louis Esterhuizen begin met maandelikse poësie-aande by Up the Creek in Sunnyside. Die eerste paar voorlesings was redelik stil, toe gebeur daar iets wat ons nie voorsien het nie: digters en aspirantdigters stroom na die aande toe en die behoefte om gehoor te word (nie noodwendig gelees nie), word al hoe duideliker. Ons besluit om maandeliks minstens drie “gevestigde” digters te nooi en dan ’n gleuf te skep waartydens enigiemand kan voorlees. En daar peul alle soorte digters uit die woodwork: punks, Goths, eksperimenteles, tradisioneles, klassiekes, anargiste, pops, noem maar op. Skielik hoor en sien ons meer digters as waarvan ons kon droom.

Dit word gou duidelik dat mens net só lank na voorlesings kan luister. Louis kom met die Bekgeveg-idee vorendag — poësie moet terug na die “markplein”, na sy “oorspronklike, orale vorm” — en in Junie 1998 vind die eerste “slams” plaas in die Maskerteater by UP. Ons maak ons buiging op die KKNK in 1999 en sien hoe mense toustaan om hierdie weergawe van poësie te hoor en sien, of dit nou is om theatre sports te ervaar, te sien hoe digters hulself vergat (wat gereeld gebeur), of om dikwels goeie poësie te hoor. Ons sien ook hoe die gehore jonger en jonger raak, hoe skoolkinders kom navraag doen oor bundels, oor wie hulle eie pogings sal lees, oor watter publikasiemoontlikhede daar is. En ons sien hoe terapeuties “lewende” poësie is vir al die deelnemers — die digters, die gehoor en die skeidsregter. Die slam-konsep brei uit en deesdae is daar in Pretoria, Johannesburg en Stellenbosch gereelde Bekgevegte.

Saam met die voorlesing-aande en Bekgevegte hoor ek van digters wat hul eie bundels publiseer, van klein uitgewerye, van pamflet-tipe bundels wat die ronde doen. Elkeen het sy eie motivering: wegwysing deur ’n groot uitgewery, ’n persoonlike statement, ’n skop teen die “tradisie” en die “establishment”, ens.

Weens kondisionering begin ek wonder: moet hierdie selfgepubliseerde bundels en “alternatiewe” uitgewers ernstig opgevat word? Ongelukkig is die meerderheid van daardie bundels wat ek onder oë gehad het, met goeie reg self uitgegee — min uitgewers sal daaraan raak. Maar tussen die kaf is daar ook heelwat juwele wat mens laat wonder of die uitgewer nie maar weer moes gelees het nie ...

Tydens Poetry International twee jaar gelede word ek ’n paar bundels en pamflette in die hand gestop deur digters wat “hulle eie ding doen” deur hul verse self te publiseer. Die “gehalte” is oor die algemeen twyfelagtig, maar dieselfde dryfkrag is daar aan die gang as hier te lande: poësie is ’n passie, daarom word daar in daardie genre geskryf; en as die groot uitgewers nie daarin belangstel nie, bemark jy jouself.

Dis taamlik algemene kennis dat ’n goeie gedig soms horribaal klink wanneer dit voorgelees word, en ook dat ’n swakkerige vers weer die oor kan con. Om beide “weergawes” te kan hoor én lees bly vir my die eerste prys. Die verwerkings van Breyten se verse op spesifiek Mondmusiek en Lady One bly vir my uitstekend en maak fassinerende moontlikhede oop. (Jammer dat Breyten (weer) die pad gevat het. Ons moet dalk maar leer om sonder hom klaar te kom. Maak slegs “groot name” ’n digterlike tradisie? Nie noodwendig nie.) En om ’n skaam óf windgat-digter sy of haar gedig te hoor voorlees en die gehoor se reaksie daarop te sien, is ook nie sleg nie. Zolani Mkiva se prysliedere en Prinses Magogo se liedere laat mens telkens hoendervleis kry.

Uit ervaring by Tydskrif vir Letterkunde het dit vir my duidelik geword dat die meeste aspirantdigters bloot nie lees nie, of bittermin lees. Dit verklaar dalk die stortvloed Visser- en Totius-nabootsings wat deur die jare op my lessenaar beland het. My reaksie daarop was telkens: lees bietjie wyer, bloot om ’n idee te kry van wat reeds gedoen is (dis natuurlik ook nuttig mbt diefstalmoontlikhede); kyk dan waarteen jy skop of spoeg, kyk of iemand anders dit nie al beter gedoen het nie, en doen jou eie ding in jou eie stem. Maklik, nè?

Vanjaar se kortlys vir die Ingrid Jonker-prys het nie een digbundel uit die “gevestigde” stal bevat nie. (Kan mens Protea nou alreeds “gevestig” noem?) Moet mens maar aanvaar dat Nasboek eenvoudig nie meer stewige debuutmanuskripte ontvang nie? (Die laaste werklik substansiële debuut wat by hulle verskyn het, is myns insiens Charl-Pierre Naudé se Die nomadiese oomblik — in 1995.)

Uiteindelik kom dit vir my neer op “different strokes for different folks” en “you can’t keep a good person down”. Daar is werklik vir almal plek (en my naam is nie Tutu nie). Skryf jou skryf (dis reeds ’n groot stap) en vat dit daarvandaan verder. Toets die water by ’n paar uitgewerye. As dit nie werk nie en/of jy het ’n statement van watter aard ook al in gedagte, gee jou verse self uit. En weet: daar is steeds mense wat na jou sal luister en jou dalk ook sal lees. Watter reaksies daar op jou voorlesing of publikasie gaan wees, moet jy maar self ervaar.


Floris Brown: Orale kuns in transformasie
Etienne van Zyl: Die aspirant-skrywer en dig-otomie

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.