Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Is dit ’n geraas? Is dit ’n gevloek? Nee, dis ’n magtige dreuning!

Koos A Kombuis

’n Verhandeling oor die Derde Taalbeweging

Die aanval, onder die skuilnaam Liter A Tor, op die skrywers en musikante van die nuwe Afrikaanse popkultuur kon nie op ’n beter tyd gekom het nie. Hoewel my standpunte wêrelde weg is van Liter A Tor s’n, het ons een ding gemeen: ons besef albei dat dit nou die oomblik in die geskiedenis van Afrikanerdom is, meer as ooit tevore, om te besin oor waarheen ons op pad is met Afrikaans as skryf- en leesmedium. Liter A Tor, wie hy ook al is, het die tekens van die tye reg gelees.

Ons bevind onsself te midde van aangrypende veranderinge in die aanbieding en persepsie van ons taal. Ons sal blind en doof wees as ons nie juis nou vir ’n wyle stilstaan en probeer sin maak van ons situasie nie.

Wat die saak ongelukkig onsmaaklik maak — en wat sy argumente eintlik die geur van ’n persoonlike aanval gee — is die feit dat mnr Tor vir my en my vriende blameer vir alle sg negatiewe elemente in die nuwe tendense. Hy maak homself skuldig, nie net aan ’n ongevraagde aggressiewe trant nie, maar ook aan die mees ongelooflike veralgemenings.

Ons, “die fabriseerders van dwelmillusies,verbeeldingpret, verbeeldinglose zombiewysies en geklike geraas”, word in Liter A Tor se artikel gestel teenoor die suiwerder wêreld van die tradisionele letterkunde en akademie, die dampkring van suiwer kuns, die “hogere” kreatiwiteit wat voorheen net aan ’n uitgelese groepie behoort het. Liter A Tor het dit dus teen die besoedeling van sy klein poeletjie deur Jan Alleman. Hy het dit teen vervlakking: “Die breinlose massas in shopping centres bepaal wat hoort en nie hoort nie, wat goeie ‘smaak’ en akademies belangrik is.”

Dis bykans ondenkbaar dat ek en Liter A Tor ooit sal saamstem of mekaar eers volledig sal begryp. Wat versoening nog moeiliker maak, is die feit dat ek onkundig is van die kritici wat hy aanhang — ek ken nie die werke van Culler, Hall en Derrida nie. Aan die ander kant is mnr Tor waarskynlik net so onkundig oor Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance, en vir my is laasgenoemde verpligte leesstof vir enigiemand wat wil saamgesels oor estetiese standaarde.

Aangesien ’n betekenisvolle dialoog tussen Liter A Tor en Koos A Kombuis dus vanuit die staanspoor gedoem is tot mislukking, het ek dit goed gedink om in ’n eenmalige skrywe hierdie bydrae tot die Boekindaba te maak en my kant van die saak te stel. Hier is dit dus.

Afrikaans, ons taal, is ’n baie nuwe taal, een van die nuutstes ter wêreld. Dit is eers gedurende die afgelope twee eeue gebore. Hierdie geboorte sou onmoontlik gewees het sonder die geweldige en entoesiastiese populêre ondersteuning van die volk as geheel. Afrikaans het, soos almal onthou, ontstaan as ’n taal van die werkersklas en laer stande — vandaar die benaming “kombuistaal”. Die geboorte van Afrikaans as amptelike taal is gedra en aangemoedig, nie deur akademiese publikasies van die dag nie, maar deur middelmoot-tydskrifte soos Die Huisgenoot en Ons Klyntji. Onder die skrywers wat Afrikaans help veld wen het in sy beginjare, tel mense soos Pikkedel (’n selferkende “gatecrasher” by Boere-partytjies), Eugène Marais (’n dwelmverslaafde), en Boerneef (as ’n mens hom moet glo, ’n kenner van motorfietse).

Dit is opgeteken in die annale van die Kolonie, so hoor ek, dat die eerste persoon in die geskiedenis wat die woorde “Ek is ’n Afrikaner” geuiter het, dit gedoen het voor ’n landdros wat hom moes vonnis op ’n aanklag van dronk op straat!

Vir ’n paar dekades in die begin van die twintigste eeu het feitlik elke nuwe Afrikaanse boek wat die lig gesien het, of dit nou goed of sleg was, deur ’n hele klomp herdrukke gegaan. Die jong kombuistaal was ’n wonderwerk, en sy skrywers was almal popsterre. Dis moeilik om vandag jou die heldeverering voor te stel wat iemand soos Langenhoven, met sy “homespun” spreuke en plaas- en spookstories onder die algemene publiek geniet het. Net so moeilik is dit om te glo dat eenvoudige, simpelrige rympies soos die van Toon van den Heever soveel byval gevind het.

Wat die Afrikaanse leserspubliek tekortgeskiet het betreffende ’n kritiese vermoë, het hulle voor opgemaak deur hulle lojale en fanatiese aanmoediging van absoluut alles wat in Afrikaans gepubliseer is.

Sodanig was die koopkrag van daardie generasie — ten spyte van die feit dat baie van hulle armblankes was, pas klaar met ’n moordende oorlog teen Engelse oorheersing en voorts gekniehalter deur werkloosheid en sosiale vooroordeel — dat Afrikaanse uitgewers kon oorleef sonder om staat te maak op politieke of ideologiese bystand, die voorskryfmark, of die foefies van groot geldpryse.

Die luukse van akademiese afstand het eers later gekom, en toe dit gekom het, was dit nie noodwendig ’n slegte ding nie. Een van die eerste denkers wat die volk probeer opvoed het ten opsigte van estetiese maatstawwe en letterkundige kwaliteit, was dr PC Schoonees. Syne was aanvanklik ’n ongewilde standpunt, maar dit het die fondament gelê vir wat veronderstel was om jare se vrugbare studie en rustige groei te wees.

In die dertigerjare het die Afrikaanse taal tuisgekom. Die eerste ernstige digters en skrywers het in noemenswaardige getalle begin kop uitsteek, en ’n kritiese tradisie is aan die gang gesit.

Maar die taal het sy vyande ook gehad.

Die een vyand was die Engelse met hulle imperialistiese snobisme. ’n Veel groter vyand, ’n vyand wat die taal se ontwikkeling onberekenbare skade sou aandoen, was die Nasionale Party.

As dit nie was dat die Afrikaner in 1948 die politieke oorhand gekry en geleidelik hierdie magsposisie begin misbruik het nie, sou die kulturele ontwikkeling van die taal waarskynlik nooit ge-”hijack” gewees het deur hierdie klein fanatiese groepie mense met hul vergesogte en onrealistiese politieke agendas nie.

Helaas, sedert 1948 het die vrot begin groei. Jaar na jaar is die erfgoed van Afrikaans, dit wat vroeër volksbesit was, of, andersins, veronderstel was om die objektiewe domein van kundiges te wees, deur die Nasionale regering en die Broederbond gekoöpteer. Die groot passie van die nuwe heersers was “verdeel en heers”. En dit het hulle op alle vlakke van die samelewing gedoen. Nie alleen is swart en wit mense sosiaal en geografies geskei nie, hulle moes hulle ook inmeng in ons godsdiens, ons skole en natuurlik die kunste. Dit is as gevolg van inmenging deur die Broederbond dat ons letterkunde netjies in twee kampe gesegregeer is. Hierdie vereenvoudigde indeling ontken natuurlik die subtiliteit, die paradokse en die ironiese — in kort, die rykdom van egte literêre kritiek.

Die praktiese gevolg was eerstens dat die ontwikkeling van Afrikaans, veral sg “hogere” Afrikaans, wel kunsmatig gestimuleer is, maar die vrye kreatiwiteit van sy kunstenaars is in die kiem gesmoor. Ekonomies het die uitgewers en kultuurorganisasies skynbaar van krag tot krag gegaan terwyl die populêre entoesiasme gekwyn het. Teen die sestigerjare was dit eerder plig as plesier om volkspele te doen, en die jeug het, uit verveling, na Engelse en Amerikaanse popmusiek begin luister. Die enigste populêre romans wat deur die volk gelees is — vir ontspanning altans — was Engelse paperbacks, resepmatige snert-liefdesverhale, en vertalings van Konsalik.

Tweedens het hierdie beleid die goeie skrywers van hul verwysingsveld as Afrikaners vervreem. Afrikanerskap was skielik nie meer ’n vloeibare, veranderlike, opwindende konsep nie; dit was star en rigied, gekoppel aan die wel en wee van ’n enkele politieke party.

Vir veertig jaar lank het die Nasionale Party en sy woordkunstenaars in ’n ongemaklike verhouding saam gewerk. Daar was protes, openlik of bedek. Daar was pogings tot toenadering met ander Suid-Afrikaners (ID du Plessis en die Kaapse Moslems), daar was skrywers wat die fanatiese skeiding tussen hoge en lagere literatuur wou afbreek (Brink het dit vir lank probeer doen; ek bedoel dit geensins as ’n belediging as ek hom vandag bestempel as die “Sidney Sheldon van die Struggle” nie). Sommiges het oorsee gegaan en selfs daar gebly (as dit nie vir die NP was nie, het Peter Blum dalk vandag in Onrust gewoon!). Die skeiding tussen “hoog” en “laag” het een van ons interessantste digters, Breyten Breytenbach, heeltemal van sy lesers vervreem, nie net toe hy aanvanklik in die tronk gegooi is nie, maar ook toe die Establishment later al sy tronkwerk voor die voet gepubliseer het, goed en sleg deurmekaar, sonder om te edit, tot die esoteriese verwarring van hierdie swetterjoel boeke van ongelyke kwaliteit ’n permanente wig gedryf het tussen hom en die volk.

Die tentakels van die Broederbond het orals gestrek, die vloek het alles aangetas, almal gebruik tot hul eie voordeel. Die Skrywersgilde, in naam ’n orgaan vir vryheid van spraak, het ’n soort showcase vir die kontrareformasie geword. Op berge en in dale was die smet; tot in elke rokpant en gulp het die beiteltjie sy vernietigingswerk aangerig, totdat die Afrikanervolk as sulks in ’n massa-skisofreen verander het, vervreem van homself, uit voeling met sy lesers en libido, gekniehalter en alleen in Afrika.

Die NP wou Suid-Afrikaners verdeel en oor hulle heers; eindelik het hy sy eie mense verdeel en moes hy noodgedwonge die leisels prysgee en ophou heers.

Aan die einde van die veertig jaar duisternis het die letterkunde aansienlik anders daar uitgesien as in die begin. As gevolg van die kunsmatige stimulasie van hogere Afrikaans het heelwat ontalentvolle kunstenaars prominensie bereik. Een-dag-wonders was daar swerms van, eerstelingbundels was a dime a dozen. Die Establishment was ’n ivoortoring waar akademici mekaar besig gehou het en digters futlose vrye versies geskryf het oor onderwerpe soos James Dean, Marilyn Munroe of die digkuns self (sorry, Johann de Lange, jy was ’n uitsondering, hoor).

Daardie ivoortoring staan vandag nog, maar sy fondamente is aan die wankel. Om die waarheid te sê, hy hel gevaarlik oor na die kant toe, nes die toring van Pisa. En bo-in sit ’n klompie benoude mense met hoogtevrees wat moet toesien hoe hulle poste aan Afrikaanse departemente die een na die ander geskrap word, hulle digbundels nie meer aanvaar word nie, hulle subsidies en literêre pryse weggekalwe word deur die eise van ’n veranderende samelewing.

Een van hierdie benoude mense is, vermoed ek, Liter A Tor.

En, soos so baie van die ander om hom, het hy geen ander kundigheid om op terug te val nie, omdat hy nooit verwag het hierdie dag van afrekening sou kom nie. Tien teen een het hy nog nooit ’n enkele dag se eerlike werk in sy lewe gedoen nie.

Is ek bly dat amptelike Afrikaans eenkant toe gestoot word? Nee, natuurlik nie. Ek is ook nie bly dat boere in Zimbabwe hulle plase verloor het nie. Maar ek voel ietwat minder gestres oor die wegkalwing van amptelike Afrikaans as oor baie ander dinge.

En ek is ook bly oor heelwat dinge. Dit kon erger gewees het. Die Ou Suid-Afrika kon in ’n burgeroorlog geëindig het eerder as in ’n algemene verkiesing Ek is ook bly, vreeslik bly, dat ’n klein groepie desperate vriende van my in die tagtigerjare besluit het om die taal terug te neem na die kombuis toe en die Derde Taalbeweging te begin. Hierdie Derde Taalbeweging is groter en duur langer as die voriges; hy het nou nog nie sy volle momentum bereik nie.

O, hier kom ’n ding.

Dis ’n magtige dreuning, en dis die opmars van die jeug, so pas terug van Londen en propvol nuwe idees!

Ja, want dit is wat ons vandag belewe, mnr Tor. Nie ’n vernietiging van ons erfenis nie, maar ’n viering daarvan. Dit wat jy sien as die vlamme van die hel, is eintlik die lig aan die einde van die tonnel. Ons het nog ’n kans gekry, ons kan oor begin. Ons is presies waar ons was meer as sewentig jaar gelede. Vandag, vir die eerste keer, is jong Afrikaanse mense opgewonde oor Afrikaans as skeppingsmedium. Elke tweede skoolkind wil vir homself ’n tweedehandse kitaar loop koop en liedjies skryf. Goed, dis nie volkspele nie, dis rock ’n roll, maar wat het Larry Norman in die seventies al gesing? “Why should the Devil have all the good music!” Ja, en jongmense skryf weer boeke. Dit gaan nou wel oor longdrops eerder as die mitologie, but what the hell, die volk lees ten minste weer. Driekwart van die nuwe kunswerke wat geskep word, is ’n klomp snert, dis waar, maar was dit anders in 1910? Tussen al die kaf is genoeg koringkorrels om kritici nog lank besig te hou. Luister maar gerus na Groenkitaar, die nuwe CD van Spinnekop. Luister mooi na Karen Zoid (en hou op om gesidetrack te word deur jou preokkupasies oor haar poeshare).

Het dit al tot jou deurgedring, mnr Tor, dat Valiant Swart net so ’n groot digter is soos Ingrid Jonker? Of staar jy jou blind teen jou eie sielkundige verliese en vooroordele?

Maar ... “Standaarde,”, hoor ek jou nog steeds prewel. Waar is dit? Ek hoor jou vra: “In terme van jou smaak, Koos, is hierdie geraas dalk wel kuns, op die oomblik, maar sal dit hou? Is dit lewensvatbaar?” Dit bring my met ’n ompad terug na Zen and the Art of Motorcycle Maintenance, ’n boek waaruit ek nie gaan aanhaal nie (want jy wou nie aanhaal uit Derrida nie), maar wat ek tog as punchline wil gebruik.

As daar ’n vraag is wat die nuwe geslag kritici hulleself afvra (en ek vertrou dat daar ’n nuwe geslag kritici sal kom wat vry sal dink en objektief kan leer oordeel in soverre so iets ooit moontlik sal wees), is dit juis dit: Wat is die maatstawwe van groot kuns?

Dit is tog seker kwaliteit, en kwaliteit alleen. Dit het tog seker (soos jy self erken) niks te doen met die verkoopsyfers van ’n produk, of met die genre waarin dit geskryf is nie (selfs ’n kinderverhaal kan groot letterkunde word — Roald Dahl, Lewis Carroll en selfs Elsabé Steenberg het dit tog al bewys).

Laat ek dit herhaal: Kwaliteit is nie ’n genre nie. Dit kan ’n kenmerk van ’n werk in enige genre wees. Hoewel hierdie kenmerk moeilik is om te definieer of vas te vang, is tyd dikwels die groot beoordelaar; vandag word Shakespeare en Dickens onthou, nie omdat hulle ingewikkelde of epiese werke gedoen het nie — hulle stories was immers die sepies van hul tyd en moes die massas vermaak in ’n tyd toe TV en movies nog nie bestaan het nie — maar omdat geslagte mense onafhanklik van mekaar konsensus bereik het oor die kwaliteit van hulle beeldspraak, hulle taalgebruik, hulle oortuigende karakterontwikkeling en hulle boeiende spanningslyne.

Wat gaan langer onthou word: Breyten se nuwe CD, Mondmusiek, of die digbundel Blou as beginsel van duisternis wat in die sewentigerjare verskyn het? Hier is ’n clue: ek het reeds die naam van die digteres van daai bundel vergeet. En glo my, mnr Tor, dekades van nou af, wanneer jou artikel al vergete is of slegs nou en dan genoem word as ’n grap (tensy die son ons insluk of Bush en Hussein die hele wêreld intussen in sy peetjie skiet), sal mense nog steeds luister na Anton Goosen en Gert Vlok Nel, en sal daar nog steeds herdrukke verskyn van My Kontrei deur Kleinboer (Hond, 2003), Seks & Drugs & Boeremusiek (deur myself) en die lirieke en gedigte van Gian Groen (wat ons sekerlik binnekort in boekvorm sal sien). Welkom in die kombuis, mnr Liter A Tor. Die atmosfeer hier is miskien nie so verfynd soos wat jy gewoond is nie, die skottelgoed raas vreeslik en mense sweet en swets gedurig, maar te midde van hierdie oënskynlike chaos is Afrikaans besig om weer gebore te word, om eindelik tot sy reg te kom, en om vir die eerste keer vir homself vriende te wen.

Ons mag vuil wees, maar ons is nie meer alleen in Afrika nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.