Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Meer oor Dries Brunt, wat Dagboek van 'n eensame geskryf het.

Klik hier om jou eksemplaar te bestel!    
Outeur: Dries Brunt Titel: Dagboek van 'n eensame. ISBN 062404114X Uitgewer: Tafelberg

Biografie: Dries Brunt

Hier volg ’n kort opsomming van die lewe van Dries Brunt, wat hy saam met sy vrou, Maryna, drie dogters, Marinda, Anita, Olga, en seun, Andre, in vrede en geestelike voorspoed lei. Omdat die lewe veel ryker, veel meer genuanseerd is as wat in ’n kort biografiese beskrywing van ’n paar honderd woorde vasgelê kan word, sal ek u, die leser, nie verkwalik as u onderstaande opsomming vervelig vind nie. Tog is dit die boustene van my lewe en derhalwe noodsaaklike inligting, sou u iets oor my te wete wou kom.

Ek is in 1933 in Nederland gebore en emigreer in 1949 saam met my ouers na Suid-Afrika. Hier gaan bly ons in Pretoria waar ek, met uitsondering van ’n kort verblyf in Vanderbijlpark, my lewe lank woon. Hier in die Jakarandastad ontmoet ek Maryna Cilliers van Eilandia, ’n plaasgemeenskap naby Robertson, en ons trou in 1959. By haar ouers, wat wingerdboere was, leer ek die lewe op ’n wingerdplaas ken en het dit my en die kinders verryk, ’n nuwe wêreld van plaas, oop vlaktes en swem in die Breërivier oopgemaak en by my sommer ook ’n liefde vir wyn en moskonfyt vasgelê.

Voordat ek by die wyn uitkom het, was daar darem eers skool en universiteit en moet ek u gou vertel hoe dit verloop het. Ek maak klaar met skool toe ek in 1953 vir die laaste keer deur die hekke van die Afrikaanse Hoër Seunskool uitstap, trotse besitter van ’n matrieksertifikaat. Maar nie sommer so nie! Tussen standerd agt en nege maak ek kennis met die lewe soos hy is; een jaar oorgeslaan om in ’n goudmyn (SALLIES in Brakpan) te gaan werk om die familie-inkomste aan te vul. Ons was arm, want Vader het met slegs £12 in sy sak en ’n vrou en vyf kinders hier in die Kaap aangekom, om die verwoesting van oorlog te ontsnap.

Ek was gelukkig om na my laaste skooljaar ’n Yskor-beurs te bekom en behaal ’n BSc-graad in Metallurgie (UP) in 1957. My akademiese prestasie was nie uitsonderlik nie, maar ek het studie tog geniet en later ’n BA in Sielkunde (UP, 1960) ’n BA Hons in Wysbegeerte (UP, 1967) en ’n MA Informatika (RAU, 1984) behaal.

Hierdie verskeidenheid van belangstellings reflekteer ook in my werkgeskiedenis. Na die goudmyn kry ek tegniese opleiding in staalproduksie by Yskor, was ek van 1961 tot 1965 tegniese beampte in metallurgiese navorsing by die WNNR (tydens dié periode is ek vir die 1963 Antarktiese ekspedisie gesekondeer), ontwerp en bedryf ek ’n gemeganiseerde inligtingstelsel vir die yster-en-staalbedryf (net-net voor die rekenaar begin oorvat), was ek projekingenieur by Yskor-Vanderbijlpark-fabriek, en het ek ’n nasionale gerekenariseerde inligtingstelsel vir die WNNR ontwerp en bestuur, waarmee ek my loopbaan as werknemer in 1990 afsluit. My werk by die WNNR neem my na vreemde plekke in die wêreld en bring my as nasionale verteenwoordiger by vergaderings van die International Council for Scientific Unions en die Federation Internationale de Documentation met interessante mense in aanraking.

Na die WNNR stig ek en ’n vennoot ’n maatskappy wat CD ROM-databasisse versprei en tree ek in 1995 uit om voltyds te skryf. In die lange jare by die WNNR het ek wel talle wetenskaplike artikels gepubliseer (een daarvan in 1987 bekroon as die beste artikel van die jaar in die Tydskrif vir Biblioteek- en Inligtingkunde), waarmee my belangstelling vir skryf waarskynlik ’n hupstootjie kry, beleef ek daarna die oorgang van vakkundige skryfwerk na fiksie, en moet ek leer om van verslagstyl na skryfstyl om te skakel. Tans bestee ek my werktyd aan skryf en as medebestuurder van ’n maatskappy, New Media Productions, wat omsien na gesondheidsorg vir ongeletterde mense in ons land.

Dit is hoe die lewe tot dusver met my gewerk het en ek met hom.

Belangstellings? Behalwe vir die gewone dinge waarmee elkeen van ons geseën is, soos krieket kyk, lekker eet (saam met wyn uit die Robertson-streek), kuier, en musiek op Classic FM, is skryf van fiksie, gedigte en essays vir my ’n groot plesier. Lees natuurlik ook en hier kom ek dikwels by my ou vriend, die filosofie, uit. Laastens die skilderkuns, van Impressionisme tot net voor die aanslag van Abstrakisme. (As die woord Abstrakisme vir u vreemd is, gun tog maar die skrywer sy vryheid van spraak!)

Werke sover
In 1995 het ek skryf as my nuwe beroep aanvaar en die resultaat lê as manuskripte in my kas. Die Verteller (tien vertellings verweef in die bestaan van ’n dorp se mense), Die Terugkeer van Thlalok (herlewing van ’n godsdiens in Meksiko, besig met skaaf), Indringer (’n nuwe Afrikaner-kultuuraksie op die platteland), Die Rietkuil Komplot (sielkundige spanningsdrama wat nou vir beoordeling by Tafelberg lê - op sigself ook ’n spanningsverhaal!), Die Poort (reisvertelling oor Meiringspoort, by LAPA vir beoordeling - nóg spanning!), The Quiet War (konflik tussen ’n nyweraar en ’n politikus), Ek en die Koerant (fiktiewe sketse van ’n joernalis wat onderhoude voer met bekende mense) (afgekeur vir publikasie, besig met skaaf), Verhaal van ’n Sterwende (die storie van dokter Buchner, beroemde/berugte vrugafdrywer uit die veertiger-/vyftigerjare), Eilandia (kortverhaal wat eerste prys verower in skrywerskompetisie van die Robertson Literary Society), en Speelboek (’n versameling sketse, essays en gedigte). Terugslae soos nie-aanvaarding en swak (na eie oordeel, natuurlik) resensies spoor my aan om beter te probeer skryf, om nie suur te raak nie en om menings positief te verwerk en weer te probeer! Dagboek van ’n Eensame is ’n fiksieverwerking van ’n deelname aan ’n Antarktiese ekspedisie wat ek in 1963/4/5 meemaak. Deur hierdie ondervinding kon ek fiktiewe realisme inbou en saam met my filosofiese belangstelling die liggaam/siel-eenheid/-skeiding inwerk in ’n verhaal oor fisieke blootstelling en geestelike oorwinning wat uiteindelik ’n eiesoortige oplossing bied. (Moet asseblief nie die boek lees as u versot is op avontuur nie. Die titel van die boek is nie Avontuur op die Ys nie.)

Natuurlik werk ek ook aan ’n nuwe boek. Meer persoonlik. Ek ly aan retinitis pigmentosa, wat gesigstremming veroorsaak en gevolglik die vooruitsig (!) bied dat ek mettertyd blind mag word. Sover pla dit Maryna meer as wat dit my pla. Sy ry my na waar ek moet wees, sien. Ek hanteer hierdie stremming as ’n ongemak wat geensins my lewenskwaliteit verlaag nie. As daar sprake is van ’n lewensbeginsel, is dit by my die weiering om enigiets negatiefs in my lewe toe te laat en om altyd kreatief besig te bly. Boekskryf is ’n wonderlike hulpmiddel. Sou ek dit mettertyd nie meer kan doen nie, het ek begin met kitaarlesse om skryf met musiek te kan vervang. Ek glo nie dit kan my vyfde beroep word nie, maar tog bied dit reeds groot bevrediging sonder om vir ander steurend te wees, behalwe as ek ’n folksong saam sing …

Groete
Dries

'n Paar foto's van Dries Brunt se Antarktika-avontuur. Klik op die prentjie om die groter weergawe te sien.

Ingang tot basis

Die skip breek deur die pakys

Middernag son by die basis

Proffie en Klippe op pad na die Nunataks

Die 'Eiffeltoring' op die basis

Westekant van Bouvet Eiland

 

LitNet: 17 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.