Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Problematiese strukture: nuwe verenigings en uitgewerye


Charles Malan

Herman Wasserman se deeglike oorsig oor die moontlikheid van ’n nuwe skrywersvereniging is ’n goeie samevatting wat ook rigting aan die gesprek kan gee. Veral twee sake verdien verdere kommentaar: moontlike botsings oor ’n vereniging, en die betrokkenheid van skrywers by uitgewerye.

’n Verteenwoordigende vereniging

Daar is klaarblyklik ’n behoefte aan ’n vereniging wat skrywers op ’n nasionale en streeksvlak kan verteenwoordig. Wat my bekommer in Herman se oorsig, is die herhaalde gebruik van woorde soos botsing en konflik oor ’n moontlike nuwe vereniging. Is ’n goeie joernalis hier besig om botsings (en dus nuus) te skep waar daar (nog) niks is nie? Ek en George Weideman het verskeie kere beklemtoon dat konflik iets is wat onnodig is en in almal se belang vermy moet word. Ons het ook geskryf dat onnodige oorvleueling van verenigings onwenslik is.

Samewerking tussen skrywers, uitgewers, boekhandelaars en ander belanghebbendes is dringend nodig. Dit sal moeilik vir ander partye wees om te “bots” as daar geen weerstand is nie! Na my wete is daar ten minste geen werklike “weerstand” teen die moontlikhede van enige soort skrywersvereniging nie, met die uitsondering van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV), wat begryplikerwys teen ’n nuwe vereniging gekant is omdat hulle voel hulle is reeds nasionaal verteenwoordigend.

Ek het dit uitdruklik gestel dat ek geen benul het hoe hulle oor hulle rol voel nie, maar dat die indruk bestaan dat hulle nie werklik nasionaal werksaam is nie. Intussen het ek telefonies met Elias Nel, hulle voorsitter, geskakel en hy bevestig dat die indruk bestaan, maar neem mense kwalik dat hulle nie probeer uitvind het wat wel op ’n nasionale vlak gedoen word nie. Ek het hom gevra vir inligting oor die ASV wat ook in die noorde deurgegee kan word.

Hy verduidelik heeltemal tereg dat daar met die stigting van die ASV pertinent gesê is dat dit nie die Gilde se rol wou oorneem nie. Op die oomblik is die groot vraag egter: wat kan of wil hulle wel doen ten opsigte van die Gilde se eertydse nasionale rol om met uitgewers en owerhede (tans veral oor die posisie van Afrikaans) te onderhandel? Indien ons nie met verenigings wil oorvleuel nie, is dit logies dat die ASV daadwerklik na streke uitbrei en homself op nasionale vlak as ’n spreekbuis laat geld. Dit is dus noodsaaklik dat ons ’n openhartige en eerlike gesprek hieroor voer, ook van mekaar verskil, en woorde soos verdagmakery liefs laat vaar.

Op grond van ASV-nuusbriewe stem ek met George saam dat hulle belangrike en nodige werk doen, veral in die Wes-Kaapse gemeenskappe. Elias gee egter ook toe dat die debakel rondom dr Boesak sommige skrywers afgeskrik het. Die volgende vraag is of gevestigde (en noem dit maar by die naam, wit) skrywers wat nie verder met die ASV wou meedoen nie, almal bedenklike motiewe daarvoor gehad het.

Wat die noordelike mense betref, is die gesprek wawyd oop en niemand van wie ek weet, druk iets in enige rigting nie. Drie moontikhede is genoem en bloot vir bespreking gelys: (a) die daadwerklike uitbreiding van die ASV na streke, (b) die herlewing van die dormante Gilde en (c) ’n nuwe vereniging. Talle boekemense is siek en sat vir kleinlike bekgeveggies terwyl daar baie belangrike sake ter sprake is, in die besonder die toekoms van die Afrikaanse boek. Ek het reeds gesê dat ek bloot fasiliteer en geen “leiding” wil neem nie, maar as Herman reg is oor hierdie dreigende “botsings”, wil ek nie eens verder oor enige soort vereniging help praat nie.

As daar “verskuilde agendas” vermoed word, soos Elias aandui, is dit hoog tyd dat hulle naam kry en bespreek word. In die lys wat George-hulle oor skrywer/uitgewer saamgestel het en op LitNet beskikbaar is, is daar konkrete probleme waaroor enigiemand kan debatteer. As dit kom by die moontlikheid van enige “vereniging”, moet dieselfde maar gebeur. Hier is ’n lysie moontlikhede vir uitpraat:

  • Die belange van gevestigde teenoor beginner-/aspirantskrywers.
  • Die belange van histories bevoorregte teenoor histories benadeelde skrywers.
  • Die magsposisies van “hekwagters” (uitgewers, keurders, resensente, boekhandelaars ...).
  • Die rol van geslag in hierdie magsposisies.
  • Die rol van enige soort politiek en ideologie in ’n skrywersvereniging.
  • Die rol van ras, om nie eens te praat van rassisme nie. Laat dit maar pertinent genoem word, want dit was helaas nog altyd ter sprake.
  • Die rol van gevestigde/groot teenoor klein/nuwe uitgewerye en skrywers se betrokkenheid by hulle.

    Dit is ingewikkelde sake wat ernstige bespreking nodig het. Is dit byvoorbeeld politiek as daar teen die miskenning van Afrikaans geveg word, soos nou dringend nodig is? Wie anders as Praag en die Groep van 63 laat werklik hulle stemme hoor? Bestaan die eens magtige Afrikaanse kultuurorganisasies nog? En waar op God se groot aarde is die skrywers se stemme? Dit sou ondenkbaar gewees het dat die eertydse Gilde nie lankal ’n helse kabaal hieroor sou opgeskop het nie. Ons almal sal graag wil hoor wat die ASV se posisie oor hierdie kernsaak is en wat hulle beoog.

    Verhouding tussen skrywers en uitgewers

    Ook die betrokkenheid van skrywers by die uitgee van boeke is reeds geproblematiseer. Is dit ’n probleem as ek, Ronnie Belcher en ander skrywers boeke begin uitgee en dienste soos manuskripafronding vir skrywers bied, en dan boonop by ’n vereniging betrokke is? Behoort ons en ’n bestuurder-uitgewer/skrywer soos Kerneels Breytenbach (wat ook in die bestuur van die Gilde gedien het) aktief by ’n vereniging betrokke te wees?

    Ons by Hermes vind die standpunt van mnr Hannes van Zyl, grootbaas van NB-Uitgewers, oor klein uitgewerye besonder bemoedigend. Hy skryf aan ons: “Ek is oortuig, en het dit oor die afgelope twee jaar al telkens in die openbaar en ook in artikels gesê, dat dit belangrik en selfs noodsaaklik vir die Afrikaanse boek is dat meer uitgewerye, veral kleiner uitgewerye, tot stand kom. Ons help dus waar ons kan om ook ander uitgewerye te help, met ’n trustfonds vir gemeenskapsgebaseerde uitgewers; met verspreiding vir Protea Boekhuis; en so meer. Terwyl dit algaande goedkoper word om boeke te maak, maar duurder om daardie boeke te bemark, glo ons dat daar groei moet wees in uitgewers wat hul produkte in nismarkte verkoop. Dit geld vir universiteitsuitgewerye by histories Afrikaanse universiteite, vir ander kommersiële uitgewers, kleiner spesialisuitgewers en ook vir skrywers wat self hul werk uitgee.”

    Party van ons glo die skrif is aan die muur vir skrywers wat nie blitsverkopers produseer nie, veral digters. Dit is tyd om jou eie ding te begin doen en ná die skeppingsproses voltooi is, soos ’n besigheidsmens te begin dink oor jou “produk”. Die nismarkte is daar, en dit is nie nodig om derduisende boeke te verkoop om koste te dek nie. Die moontlikhede van die Internet vir bemarking en verspreiding is boonop nog nie naastenby verken nie. LitNet het bewys hoe waardevol so ’n “Internetkoffiekroeg” vir boekemense kan wees, al was dit in die verlede tot intekenaars beperk.

    Daar word ook hoegenaamd nie genoeg aandag aan opleiding en begeleiding van skrywers gegee nie. Hermes bied dus as ’n uitgewery vir en deur skrywers, in samewerking met gevestigde uitgewerye, dienste soos boekeproduksie, keuring, ’n skryfskool en ander vorme van skrywersbegeleiding. Die rasionaal is eenvoudig: skrywers moet help sorg vir die afronding en bestemming van hulle eie skryfsels.

    Ons ontvang graag menings vir Boekebelange, ’n gespreksforum vir almal wat in skryf en boeke belangstel. Enigiemand kan by die volgende e-adres versoek om sy/haar naam by die adreslys gevoeg te kry: charlesmalan@freemail.absa.co.za
    Tel en faks: 012-9964269 Sel: 0827138167

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.