Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Boekebelange-beraad dui rigtings vir die toekoms aan


Charles Malan


Diegene wat die heil van die Afrikaanse boek op die hart dra, behoort kragte rondom gedeelde belange saam te snoer en ’n forum vir verskillende soorte meningswisseling op dreef te kry.

Dit was die gedeelde gevoel tydens die Boekebelange- (BB-) beraad by die ATKV-skryfskool wat op 28 September met die Aardklopfees saamgeval het.

Die BB-forum behoort ’n spreekbuis te bied vir alle belangegroepe soos dié wat op die beraad verteenwoordig was: skrywers (as ’n heeltemal inklusiewe term), uitgewers, boekhandelaars, akademici, kritici, die media, feesorganiseerders en leserskringe. Terwyl talle van hierdie groepe hulle eie verenigings het, is daar nie ’n oorkoepelende spreekbuis of forum vir skrywers en andere wat help om boeke te produseer en versprei nie.

Die dilemma is enersyds dat ’n vereniging met sentrale gesag die demokratiese beginsel van ’n diversiteit van stemme en menings kan ondermyn. Andersyds is dit soms wel nodig om stemme te verenig, soos destyds met die protes teen sensuur en apartheid geblyk het. LitNet speel reeds ’n belangrike rol as ’n forum en dit moet uitgebou word.

Daar is klaarblyklik belange wat gesamentlike aandag nodig het: die miskenning van Afrikaans, in die besonder ook in sy gedrukte vorm; die gebrek aan ’n nasionale boekebeleid; die verslegtende posisie van die Afrikaanse boek in ’n beperkte mark; die knelpunte tussen skrywers en uitgewers: en so meer.

Hoewel die beraad slegs ’n verkennende gesprek was en deur ’n verteenwoordigende BB-beraad opgevolg moet word, was daar oor kernsake genoeg konsensus dat dit as ’n vertrekpunt vir die toekoms beskou kan word.


Die taaldebat
Skrywers wat ook op akademiese stoele sit, was verdeeld oor deelname aan die taaldebat. Prof Hans du Plessis (PU vir CHO) het gevoel dat “hoewel mens nie moet ophou veg nie”, die klem op die voortdurende produksie van skeppende werk van gehalte moet val. Dit is die beste manier om kritici se monde te snoer en die posisie van Afrikaans te versterk.

Prof Heilna du Plooy (PU vir CHO) was soos talle ander veral bekommerd oor die konfronterende aard van die debat. Die beklemtoning van positiewe elemente kan veel meer vermag. Prof Charles Malan (UP en Hermes) het saamgestem, maar nogtans van prof Du Plessis verskil deur te beklemtoon dat die nadruk op goeie teksproduksie nie skrywers se verantwoordelikheid om aan die diskoers rondom probleme met Afrikaanse tekste deel te neem, mag vervang nie. Die Dan Roodts van die Afrikaanse wêreld mag nie namens skrywers praat, die diskoers kaap en dit van ’n nugtere, beredeneerde gesprek laat wegswaai nie.

Ou debatte oor taal, resensies, ens word telkens herhaal, volgens mnr Hannes van Zyl van NB wat daaroor met prof Du Plessis saamgestem het. Daar moet weggestuur word van vinnige en emosionele reaksies, want sodra daar met politieke standpunte begin word, is daar moeilikheid met samewerking. Bowendien het krisisse soos sensuur uiteindelik help sorg vir ’n meer volwasse letterkunde. Dit is volgens hom belangriker om die klem te plaas op volhoubare strukture vir die taal en sy letterkunde. Daar is baie min boekwinkels waar Afrikaanse boeke beskikbaar is. Markte moet ook doelbewus gebou word, soos NB met hulle trustfonds vir gemeenskapsletterkunde doen, en die British Council met hulle opvoedkundige boeke.

Mnr Kirby van der Merwe van Insig het nie veel erg aan die hele taaldebat gehad nie, solank hy sy boeke kan publiseer en verkoop kry. Hy het nogtans verwys na eerstehandse ervaring toe hy betrokke was by bemarking vir Exclusive Books, maar toe hulle slegs in die Engelse ekwivalente belanggestel het en geensins in Afrikaans nie.


Die BB-forum
Daar was konsensus dat die beste manier om deelname aan die diskoers en bepaalde aksies te struktureer, ’n sentrale forum met verspreide forumgeleenthede sal wees. Die Boekebelange-forum sal op grond van ’n aanbod deur dr Frits Kok onder die vaandel van die ATKV-skryfskool van prof Du Plessis geloods word. As moontlike plekke vir ’n verteenwoordigende forumberaad om dit te struktureer is die KKNK (April 2003) en die Woordfees in Stellenbosch (7-9 Maart) genoem. Die ATKV is ook bereid om te help met die daarstel van ’n BB-webwerf. Intussen sal daar met die bestaande BB-gespreksgroep voortgegaan word en hulle reëlingskomitee sal met die ATKV-skryfskool saamwerk vir verdere beplanning.

Deelname deur alle groepe, van “elitistiese” tot “histories benadeelde” groeperings, is besonder belangrik. Die Forum moet oop wees vir alle skrywers wat tekste produseer, uitgewers en ander belanghebbendes. Bestaande verenigings vir hierdie groepe, soos die ASV, kan dan volgens hulle behoefte aan die Forum deelneem. Mnr Kerneels Breytenbach van NB het nietemin gevoel dat dit beter sal wees as skrywers hulle eie vereniging het, veral met die oog op onderhandelings met uitgewers.

Mediaverteenwoordigers het daarop gewys dat LitNet intussen in elk geval ’n belangrike en ope platform vir meningswisseling bied en dat dit as ’n sentrale forum kan dien. Daar was wye instemming dat dit ten minste as ’n vertrekpunt vir ’n webgebaseerde gesprek kan funksioneer, maar daar is ook daarop gewys dat sommige skrywers by die beraad nie toegang tot ’n persoonlike rekenaar het nie, en dat die indruk steeds bestaan dat slegs MWeb-intekenaars by LitNet kan uitkom.

Die talle kunstefeeste behoort ook as geleenthede vir ’n verskeidenheid forums gebruik te word. ’n Forum-koördineerder kan deur middel van borgskappe aangestel word om die sentrale en verskillende streeksforums te reël. Dr Dorothea van Zyl, organiseerder van die Woordfees, het aangebied om ’n spesiale forumprogram deel van die fees te maak.

Bestaande en “nuwe” skrywersorganisasies is nie bespreek nie — die nuwe nasionale skrywersvereniging van die Nasionale Kunsteraad moet in elk geval nog beslag kry.

In die lig van die klaarblyklike behoefte aan skrywersopleiding en
-begeleiding, veral vir beginners, moet die Forum ook aan die bevordering van slyp- en skryfskole aandag gee. Die bestaande inisiatiewe van die ATKV-skryfskool en die ATKV, Hermes, LitNet en andere kan meer gekoördineer word, veral tydens die Forumberaad. ’n Slypskool tydens die beraad kan trouens koste help dek.


Elitisme en massaliteratuur
Elitisme in die literêre toneel se dae is getel, volgens prof Du Plessis. Neerbuigende resensies help byvoorbeeld om die letterkunde dood te maak. Nadat skoolboeke nie meer ’n groot mark geskep het nie, moet ander markte verken word, en daar moet op ander maniere uitgegee word.

Mnr Nicol Stassen van Protea Boekhuis het egter daarop gewys dat daar altyd ’n groot behoefte aan eliteletterkunde sal wees, anders sal die literatuur doodgaan. Verskeie sprekers het op die valse en onnodige teenstellings tussen “elitistiese” en “populêre” literatuur ingegaan. Dr Jeanette Ferreira van Protea vind in haar eie skryfwerk geen probleem om tussen die twee pole te beweeg nie en hulle uitgewery gebruik juis populêre vorme om lesers vir Afrikaans te wen.

Verskeie sprekers het die groot reikwydte en diversiteit van die totale literêre sisteem beklemtoon. ’n Verskeidenheid rolspelers, van skeppers tot produsente, verspreiders en lesers, is betrokke en almal moet in ’n forum kan meepraat.

Daar is heelwat aandag aan die rol van resensies en die media gewy. Die gevoel was dat die media nie kan “waghond” speel nie en dat dit die publiek se volste reg is om teen swak resensies beswaar te maak. Prof Du Plooy het beklemtoon dat die invloed van resensies nie oorskat moet word nie: haar navorsing het getoon dat verreweg die meeste resensies positief en ondersteunend is.

Mnr Van Zyl het beaam dat internasionale navorsing ook getoon het dat resensies ’n ondergeskikte faktor by boekeverkope is. Veel belangriker is die beskikbaarheid van boeke in boekwinkels.

Resensies oor jeugboeke suig ook voortdurend aan die agterste speen, volgens Franci Greyling, selfs meer as die skaars besprekings van populêre literatuur.


Die verhouding tussen skrywers en uitgewers
Dr Ferreira het inleidend oor die verhouding tussen skrywers en uitgewers daarop gewys dat uitgewers met manuskripte oorval word en dat dit onmoontlik is om almal breedvoerig te antwoord. Sy is dus sterk ten gunste van die tussengangerrol wat byvoorbeeld die nuwe klein uitgewery Hermes speel om te help keur, skrywers te begelei en as ’n agentskap op te tree. Mnr Stassen het daarop gewys dat hierdie soort aktiwiteite in lande soos die VSA glad nie die rol van die uitgewer is nie.

Prof Malan het hom sterk uitgespreek oor die stief behandeling wat veral aspirantskrywers soms van uitgewers kry, en bespiegel dat dit moontlik was dat Etienne Leroux op grond van sy swak manuskripversorging en eksperimentele aanslag vandag moontlik nooit ’n uitgewer vir sy eerste romans sou kon vind nie. Dr Zander Strachan stem saam dat skrywersbegeleiding nodig is, maar dan moet dit ook praktyk word dat skrywers daarvoor moet betaal. Verskeie sprekers het gevoel dat skrywers bereid sal wees om dit te doen.

Die NB-groep sien beperkte begeleiding volgens mnr Kerneels Breytenbach as deel van hulle taak, hoewel daar ook plek vir agentskappe is. Mense moet egter realisties oor die moontlikhede in die klein Afrikaanse mark wees. Hierop wou prof Du Plooy weet of die klein mark nie juis tot ’n voordeel omgeskep kan word nie. Afrikaans kan ’n klein, gesonde literatuur hê wat in ’n positiewe klimaat kan gedy. Dr Van Zyl stem saam dat die hele proses van bewuswording die belangrikste beginpunt is — dit kan deur voorlesings en optredes by feeste bevorder word.

Met verwysing na die reeks klagtes wat skrywers onder leiding van George Weideman oor uitgewers saamgestel het, het mnr Van Zyl daarop gewys dat NB reeds gereageer het. Sommige punte was geldig, maar eise dat beginnerskrywers byvoorbeeld op ’n breedvoerige gesprek met skrywers aandring, is onrealisties. Daar was nie tyd om enige besonderhede tydens die beraad te bespreek nie.

Hy het verder verduidelik dat daar onnodig negatief veralgemeen word — daar verskyn steeds vier Afrikaanse boeke per week by NB en hulle publiseer vyf persent van die manuskripte wat aan hulle voorgelê word. Anders as wat die persepsie mag wees, het NB nog nooit ’n monopolistiese instelling gehad nie. Hulle het bloot uitgewerye oorgeneem wanneer hulle nie meer die mas kon opkom nie. Hoe meer uitgewerye en selfs individuele skrywers egter boeke uitgee, hoe beter vir Afrikaans. Oorleefbare strukture is nogtans uiters nodig.

Die vinnige veranderings in die uitgewerstoneel dui volgens prof Malan op vinnig veranderende behoeftes en markte, veral nismarkte. ’n Aantal uitgewerye betree die terrein: Lapa, Protea (albei reeds goed gevestig), Bent, Fenomeen, Litera, Suider Kollege en nou ook Hermes, wat spesifiek vir en deur skrywers bedryf word. Skrywers gee ook steeds meer hulle eie boeke uit. Agentskaps- en begeleidingsrolle word verken, en ook die potensiaal van die Internet vir reklame en bemarking. Die hele toneel is onstabiel en opwindend.

Ten slotte was die algemene gevoel dat hierdie hoëgraadse, verkennende gesprek baie vrugbaar, dog steeds net ’n beginpunt was. Die Forum en sy subforums in streke sal moet sorg dat bepaalde uitdagings en knelpunte deeglik aandag kry.

(Verslag saamgestel deur Charles Malan, fasiliteerder van die beraad. Belangstellendes kan met hom skakel by charlesmalan@freemail.absa.co.za of selnr 0827138157.)

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.