Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vrae aan rolspelers in die Taalberaad

Deborah Steinmair


Gerrit Brand, Herman Wasserman, Flip Buys, AH van Wyk

Gerrit Brand:

  • Is daar rede tot hoop dat daar in die Afrikaanssprekende geledere, bymekaargebring sal word wat bymekaarhoort?

GB: Ek sou daarop antwoord deur te vra: Wéét ons wat bymekaar hoort? Mense hoort in sekere opsigte bymekaar en in ander weer nie. Ek hoort by mense wat dieselfde taal as ek praat – ten minste sover dit ons gedeelde belang by die taal betref – maar ek hoort ook by mense wat dieselfde politieke of godsdienstige oortuigings as ek het of mense wat 'n nasionaliteit of 'n woongebied met my deel. Hierdie verskillende "hoorterye" val nie almal mooi netjies saam nie. Wat my van die Afrikaanse Taalberaad beïndruk het, is dat mense dít skynbaar toenemend begin besef – dat ons maar op bepaalde terreine rondom Afrikaans kan saamwerk ook al verskil ons oor 'n klomp ander goed. Meer nog: dat Afrikaansheid as sodanig nie gedeelde belange konstitueer nie, maar dat daardie gedeelde belange in gesprek- en debatvoering eers ontdek moet word. Daar is rede tot hoop wat dit betref, omdat die baie diverse versameling beraadgangers tog daarin kon slaag om op sekere punte konsensus te vind. Dit was net moontlik omdat almal besef het dat jy nie al die ander by al jou eie agendas kan betrek nie. Dit is die soort realisme wat ons moet bly koester.

  • Bestaan daar al duidelikheid oor wie Afrikaners is?

GB: Vir my is dit altyd interessant dat, hoewel baie Afrikaners wroeg oor of hulle Afrikaners is, daar blykbaar min twyfel onder nie-Afrikaners bestaan oor wie tot hierdie kategorie behoort. Dit is 'n feit van identiteit dat dit nie net iets is wat ek vir myself toe-eien nie, maar ook iets is wat aan my gegee of opgelê word. Ek het 'n mate van inspraak in die saak, maar geen volle beheer daaroor nie. Wanneer ek met Engelssprekendes, swartes of "ander" Afrikaanssprekendes te doen het, val dit telkens op dat hulle minder van 'n probleem met my Afrikanerskap het as wat ek self of my mede-Afrikaners daarmee het. Hulle val nie vir daardie toertjie om deur herdoping aan 'n geskiedenis en verantwoordelikhede te probeer ontkom nie. Ons sit nou maar eenmaal met die etiket Afrikaner. Ons kan egter wel besluit om dit te help invul of om dit aan ander oor te laat. Ek dink ons moet die oop karakter van die woord sover moontlik beklemtoon. 'n Afrikaner hoef nie wit, Calvinisties, konserwatief, ens te wees nie. Enige iemand wat hulself as Afrikaners beskou, is Afrikaners. 'n Opname onder bruin skoliere het, interessant genoeg, aan die lig gebring dat heelparty onder hulle hulself as Afrikaners beskou. Wie is ek om met hulle te stry? Aan die ander kant kan ek nou ook nie daarop aandring dat hierdie of daardie persoon hulself as Afrikaner moet beskryf nie. Ek persoonlik het geen probleem daarmee om 'n Afrikaner, 'n Afrikaanssprekende, Suid-Afrikaner of wat ook al te wees nie – dit alles voeg dimensies aan my identiteit toe en dit bly steeds my taak om kreatief daarmee om te gaan. Bestaan daar duidelikheid? Gelukkig nie, nee.

  • Die verwagting was dat die Afrikaanse Taalberaad 'n strategie vir Afrikaans vorentoe sou bepraat, beding en besluit. Het dit gebeur?

GB: Strategie is bepraat, maar dit sou onrealisties wees om te verwag dat die beraad binne drie dae met 'n volledige strategie na vore sou kom. Talle praktiese voorstelle is tydens die beraad genoem en aangeteken. 'n Komitee is ook aangesê om dié voorstelle in 'n strategie te verwerk en aan die gemeenskap van Afrikaansgebruikers voor te lê. Uiteindelik gaan dit maar oor groter koördinasie en monstering van kragte, maar met behoud van elkeen se eie doelwitte en outonomie. Ons moet probeer om die groter prentjie te sien en ons elkeen se plek daarbinne te verstaan. Waar pas LitNet byvoorbeeld in die "strategie" in? Wat het LitNet te doen met, sê maar, die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans of die Workers’ Organisation for Socialist Action? Wat het die Woordeboek van die Afrikaanse Taal met die ATKV of die Meertaligheidsaksiegroep te doen? Waar pas die Hollanders in? En die privaatsektor? So sou 'n mens kon aangaan. Ons moet, in die lig van die taaloudit – wat voortdurend bygewerk word – en die voortgaande gesprek, probeer om die hele netwerk van kragte rondom Afrikaans te verstaan en dan strategies daarbinne te handel en, waar moontlik, saam te werk. Ek dink die proses wat nou aan die gang gesit is, is juis so 'n proses.

  • Hoe voel u oor die toekoms van Afrikaans in die elektroniese media?

GB: Baie positief. Webruimtes soos LitNet, Die Knoop, Roekeloos en baie ander ontgin die potensiaal inherent aan dié medium baie goed. Natuurlik kan dit nog baie uitgebrei word, maar ek is optimisties oor die mate waartoe Afrikaansgebruikers hulle stempel hier sal afdruk. 'n Terrein wat dalk meer aandag kan kry, is die saam- en deurmekaar-gebruik van Suid-Afrikaanse tale in dieselfde ruimtes. Juis die internet, met sy onbeperkte ruimte, maak so iets moontlik. Ek is 'n Babeliet wat glo dat dit goed is as ek net 'n deel van 'n gesprek kan volg. Dit beteken dat ander werklik aan die gesprek deelneem. Die Meertaligheidsaksiegroep / Multilingualism Action Group / UMbutho weeLwimi eziNinzi (i-MAG) is tans besig om 'n veeltalige webwerf op die been te bring en LitNet het 'n paar treë in dié rigting gegee.

Elektroniese media sluit seker ook TV en radio in. Hier is groot probleme. Die uitsaaimedia bied al die tegnologiese middele om tale gelyk te beregtig, maar dit gebeur nie. Die kommersiële uitsaaiers dien slegs gehore met baie geld en die sg openbare diensuitsaaier – die SAUK – is vir 80 persent op advertensie-inkomste aangewese en kan dus ook nie die meerderheid se belange dien nie. Die koms van digitale televisie kan hier 'n verskil maak – sowel met die beter inning van lisensiegelde as met die tegnologiese vergemakliking van veeltaligheid. Tabema en die Meertaligheidsaksiegroep poog al lank om hierdie sake onder die aandag van die Departement van Kommunikasie, die SAUK, OKASA en die kommersiële uitsaaiers te bring. Daar is ook vordering. Wat veral belangrik is – en Koos du Toit van Tabema het dit ook by die Afrikaanse Taalberaad gesê – is dat Suid-Afrikaners van alle tale basies met ons voorstelle saamstem. Ons bly in gesprek met alle rolspelers. Die Meertaligheidsaksiegroep beplan ook 'n konferensie oor veeltaligheid en die media vir einde November. Binne die strategie vir Afrikaans sal ook hieraan aandag gegee moet word. Die keuse tussen 'n Engels-dominante en 'n veeltalige media is uiteindelik 'n keuse tussen 'n elite-media en 'n media wat almal dien.

  • Hoe kan die kommersiële waarde van die taal ontgin word?

GB: Dit gaan vir my nie net om “die taal” nie, maar om ál die tale. Dit is baie belangrik dat ekonomiese waarde aan die inheemse tale toegevoeg word. Dit kan gebeur deur beurse vir mense wat in tale – of deur medium van Afrikaans of 'n ander taal – wil studeer. Dit kan ook gebeur deur voorkeur te verleen aan aansoekers vir poste of bevorderings wat meertalig is – veral as hulle inheemse tale kan gebruik. Ook boekpryse, joernalistiekpryse, reklamepryse en so meer kan 'n belangrike rol speel. Dit alles is tydens die beraad genoem.

Verder wil ek graag sien dat uitgewers van media én boeke meer geloof het in die moontlikhede van 'n ontluikende lesersmark in die inheemse tale. Soos met Afrikaans gebeur het, moet 'n lesersmark vir die ander tale geskep word. By die beraad is genoem dat 'n populêre koerant soos die Son nuwe koerantlesers ingebring het. Nou moet ons dié mense ook ander goed laat lees, byvoorbeeld deur skrywers daarin ruimte te gee. Mense soos Biblionef moet ingetrek word om biblioteke met boeke in al die tale op te rig en in stand te hou. Bemarking en verspreiding moet gerat word om boeke in die inheemse tale by die mense uit te kry.

'n Voorstel wat by die beraad heelwat byval gevind het, is om inligting oor maatskappye se taalbeleide en -praktyke in te samel en aan die publiek deur te gee, byvoorbeeld in die vorm van 'n taalgradering. Wie adverteer in watter tale? Hoe lyk maatskappye se werktaalbeleide? Wat doen hulle vir veeltaligheid? So kan verbruikers gemobiliseer en maatskappye gesensitiseer word. Inligting oor bekostigbare veeltalige praktyke en oor die versteekte kostes van eentaligheid en die voordele van veeltaligheid moet ook aan mense in die privaatsektor deurgegee word.

Die staat het ook 'n rol om te speel. Die Grondwet laat die staat toe om regstellende aksie te implementeer, maar dit verplig die staat om die status en gebruik van gemarginaliseerde tale te verhef. Selfs wetgewing behoort hier oorweeg te word. Die privaatsektor is immers ook onderhewig aan die Grondwet en moet dus al elf amptelike tale met gelyke respek en met billikheid behandel. Maar die staat kan ook voorkeur by die toekenning van staatskontrakte verleen aan maatskappye wat 'n veeltalige beleid volg.

In een van my bydraes tot die beraad het ek genoem dat die opkomende taalindustrie baie belofte inhou wat betref die kommersiële waarde van ons tale. Daar is baie kundigheid en ervaring in Suid-Afrika wat betref taaltegnologieë. Die taalprofessies is ook aan die opkom. In die proses ontstaan 'n magdom uitvoerbare produkte, dienste en kundigheid. Dit is 'n industrie wat potensieel baie mense in diens kan neem en wat geen negatiewe gevolge vir die omgewing of vir menseverhoudinge het nie. Inteendeel. Die staat en die privaatsektor moet oorreed word om op groot skaal in dié industrie te belê. Ons moet nie meer dink aan veeltaligheid as iets wat geld kos nie, maar eerder as 'n belegging wat groot opbrengste kan oplewer.

  • Het die soeklig tydens die beraad enigsins op die jeug geval en/of is die jeug na u mening voldoende verteenwoordig?

GB: Daar was darem 'n paar jongmense teenwoordig, veral tydens die Donderdagaand-konsert met mense soos Laurinda Hofmeyr, Gian Groen en Brasse van die Kaap, maar ook tydens die besprekingsessies. Die bydrae van jongeres lê sover, lyk my, veral in die kunste, op tegnologiegebied en in die sakewêreld. Niemand kan na die afgelope beraad steeds beweer dat die taalsaak 'n saak van "ou omies met grys skoene en dikraambrille is nie". 'n Jong spreker van kykNET het onder andere uittreksels uit twee programme oor "swart en Afrikaans" en "jonk en Afrikaans" gewys. Van die vloer af is opgemerk dat die "bruin" en "wit" jeug nogal verskillend oorkom in die program. Interessant genoeg is dit juis die bruin jonges wat sonder skroom Afrikaans praat – en dit netjies doen – terwyl die wit jonges blykbaar nog baie hangups oor hul Afrikaansheid het en half skaam is om vir hul taal op te kom. Myns insiens is iemand soos Jason Lloyd – een van die belangrikste jong stemme in die Afrikaans-debat – reg as hy dit as 'n klasding sien. Engels-über-alles pas goed by die aspirasies en belange van die meer bevoorregte deel van ons bevolking, maar benadeel die arm meerderheid. Dit is dan ook te verwagte dat die wit, middelklas jeug heel tevrede met die oorheersing van Engels sal wees, terwyl die arm en veral landelike bruin jeug ongemak daarmee sal ervaar. Hierdie is 'n debat wat by die afgelope KKNK in Die Burger se lesingreeks begin debatteer is, maar waaroor nog lank gepraat moet word.

By 'n volgende beraad sal spesiaal moeite gedoen moet word om jong Afrikaansgebruikers – wit en swart, eerste- en tweedetaalsprekers – op 'n nog groter skaal te betrek. Andersyds moet ons waak teen 'n Amerikaanse verbruikerisme wat "jeug" as die allerdeug voorhou. As die jeug se menings altyd die swaarste moet weeg, gaan ons 'n ernstige vervlakking kry. Taal moet altyd 'n intergenerasie-aangeleentheid bly.

  • Wat is na u mening Afrikaans se verhouding tot die ander landstale? Wat behoort die verhouding te wees?

GB: Afrikaans is een van elf amptelike tale en een van talle tale wat in Suid-Afrika gebruik word. Saam met Engels en isiZulu kan dit ook as lingua franca beskryf word. Anders as ander klein tale (Afrikaans het maar ongeveer ses miljoen moedertaalsprekers), het Afrikaans – soos die groot wêreldtale – meer niemoedertaal- as moedertaalsprekers. Afrikaans is nie net 'n omgangstaal nie, maar ook 'n taal wat vir "hoër" funksies gebruik word. Juis hierdie feit het Afrikaners oor die afgelope 100 jaar help bemagtig. In dié verband kan Afrikaans as model en inspirasie vir die ander tale dien. Mense sê vandag dikwels dis onmoontlik om die inheemse Afrikatale tot volwaardige tale van die openbare lewe te ontwikkel. Hulle het destyds dieselfde van Afrikaas gesê, maar hulle was verkeerd. Ons gaan hulle weer verkeerd bewys.

Afrikaans beskik ook oor kundigheid en hulpbronne wat deur ander tale gebruik kan word – en dit gebeur reeds, byvoorbeeld met die kantoor van die WAT wat leksikograwe in ander Afrikatale oplei. PanSAT het die Afrikaanse Taalberaad en die oudit waardeur dit voorafgegaan is, ten volle ondersteun en dit onder hul vaandel laat doen juis omdat hulle hoop dat die ander tale daaruit kan leer. Verteenwoordigers van die ander tale was dan ook by die beraad teenwoordig en het as sprekers opgetree.

As Afrikaans sy prekêre plek as volwaardige openbare taal in Suid-Afrika verloor, gaan die ander tale baie sukkel om ooit daar uit te kom. Maar as die ander tale te lank agterweë bly, gaan Afrikaans ook nie aan sy posisie kan vashou nie. In dié sin is Afrikaans en die ander inheemse tale lotsverbonde. Dit betref nie net Suid-Afrika nie, maar die hele Afrika. Dit is van wesenlike belang dat Afrikaansgebruikers met anderstaliges saamwerk om ál ons tale te bevorder en teen eentaligheid weerstand te bied. Dit is ook wat ek in my bydrae tot die beraad gesê het. Afrikaanssprekendes het belang by veeltaligheid – by méér as net Afrikaans – omdat hulle 'n belang by Afrikaans het (veeltaligheid ter wille van Afrikaans) én omdat hulle méér as net Afrikaans is (veeltaligheid ter wille van Suid-Afrika en Afrika).

Herman Wasserman:

HW: Ek moet uit die staanspoor daarop wys dat ek slegs ’n baie klein tydjie by die taalberaad deurgebring het, en dat my antwoorde dus slegs my indrukke verwoord, en nie ’n poging tot ’n oorkoepelende oordeel is nie.

• Is daar rede tot hoop dat daar in Afrikaanssprekende geledere bymekaargebring sal word wat bymekaar hoort?

HW: My probleem met hierdie soort bymekaarbring is dat dit, lyk dit vir my, gegrond is op ’n siening dat slegs dit wat eenders is, bymekaar hoort. Ek weet nie of dit ’n goeie idee is om net Afrikaanstaliges bymekaar te bring om oor taal in ’n veeltalige en demokratiese samelewing te praat nie. Dalk was dit nie die idee nie, maar dit is hoe dit in die praktyk vir my gelyk het. Die feit dat daar tolkdienste was, was ’n goeie gebaar. Maar die geleentheid kon – juis deur tolkdienste te gebruik – beter benut word as ’n veeltalige forum. Deur net op Afrikaans te fokus veroorsaak dit dat ’n mens gly tussen tweetaligheid en veeltaligheid – wat op sy beste die opvatting weerspieël dat solank daar Afrikaans is, daar veeltaligheid is. Op sy slegste beteken dit dat Afrikaanssprekendes die begrip veeltaligheid koloniseer.

Die toon van die dele van die debat wat ek gehoor het, het my ook onrustig gestem. Ons het genoeg oorlog en aggressie gehad in hierdie land – om krygsoffensiewe (Afrikaans op die aanval!) of reunhonde (’n teefhond gaan lê glo maklik op haar rug, het ’n spreker beweer) as metafore in te span in ’n gesprek oor taal maak my moedeloos.

• Bestaan daar al duidelikheid oor wie Afrikaners is?

HW: Ek dink nie duidelikheid van enige aard is noodwendig ’n goeie ding nie. Onsekerheid oor wie “Afrikaners” is, wat die plek van Afrikaans in die land is, hoe veeltaligheid uitdrukking moet kry en dies meer kan juis vrugbaar wees – dit kan ons noop om op kreatiewe maniere nuwe oplossings te kry, nuwe name vir onsself uit te dink, nuwe paadjies uit te trap. Dit gebeur dikwels dat as iemand te veel duidelikheid het, hy dit so luid uitbasuin dat hy doof raak vir ander stemme. Ek het begrip vir die argument dat ’n mens eerder nuwe inhoud aan Afrikaner-identiteit moet gee as om met die naam weg te doen, maar ek het ook begrip vir die feit dat baie mense ongemaklik voel onder daardie noemer, en dat die historiese bagasie waaraan die term so swaar dra, nie maklik neergesit gaan word nie.

• Die verwagting was dat die Afrikaanse Taalberaad ‘n strategie vir Afrikaans vorentoe sou bepraat, beding en besluit. Het dit gebeur?

HW: Daar is gepoog om ’n strategie op te stel, maar dit het ook nie sonder toutrekkery gepaard gegaan nie. Wat ’n mens net weer laat besef het: “Afrikaners” of “Afrikaanssprekendes” is geensins ’n homogene spulletjie nie. Wat goed is, solank ’n mens net gemaklik kan voel oor die aannames waarop die opstel van so ’n strategie berus het, en oor die deelnemers aan die opstel daarvan. Wat – na my baie beperkte oordeel – nie vanselfsprekend is nie.

• Hoe voel u oor die toekoms van Afrikaans in die elektroniese media?

HW: As jy bedoel nuwe tegnologieë soos die internet – ek is positief daaroor en dink dis ’n groei-area, danksy ’n verskeidenheid faktore, soos die soort ruimte wat die internet bied vir interaksie. Die kwessie van wie toegang het tot hierdie medium, moet dan net altyd ook op die agenda geplaas word, en daar moet daadwerklik gepoog word om hierdie toegang uit te brei. Ek dink die internet leen hom ook baie goed daartoe om ’n veeltalige ruimte te wees, waar verskillende tale naas mekaar kan bestaan en mekaar kan aanvul. Vic Webb het my by die beraad gewys op die webtuiste www.sacultures.org.za – ’n oulike, hetsy beperkte, webruimte waar inleidings tot die verskillende landstale gegee word, met ’n Engelse vertaling. Hierdie soort inisiatiewe kan nog baie meer ontgin word.

• Hoe kan die kommersiële waarde van die taal ontgin word?

HW: Ek dink die kommersiële waarde van die taal word reeds “ontgin” (’n mens sou dalk ook kon sê “uitgehol”) by byvoorbeeld Afrikaanse kunstefeeste. Dis goed en wel, ’n mens moet nie naïef wees oor die finansiële eise wat ’n geprivatiseerde kulturele bestel soos die Suid-Afrikaanse een stel nie (waarmee ek nie die privatisering daarvan goedkeur nie). Maar die vraag moet steeds voortdurend gevra word: Hoe kan kommersiële waarde geput word uit die taal sonder om die taal te reduseer tot bloot ’n instrument, ’n markkrag? Hoe kan wins gemaak word uit taal sonder om die taal weer te beperk tot diegene met die vet beursies? Hoe word daardie wins weer aangewend om die Afrikaanse kultuuraanbod te verbreed en te vernuwe, eerder as om kultuurkloontjies op die rollende band verby te stuur?

• Het die soeklig tydens die beraad enigsins op die jeug geval en/of is die jeug na u mening voldoende verteenwoordig?

HW: Nee. Dalk dink hulle ’n beraad soos dié is vir mense wat pas in Gerrit Komrij se omskrywing van so ’n paar jaar gelede: “blank, bejaard en bang”. Waarby ’n mens sou kon voeg: bedonnerd. Of hulle reg of verkeerd is, of so ’n opvatting onbillik is of nie, dit is ’n persepsie wat bestaan. En om die persepsie op meerderwaardige wyse af te maak, gaan meebring dat belangrike stemme nie gehoor word nie.

• Wat is na u mening Afrikaans se verhouding tot die ander landstale? Wat behoort die verhouding te wees?

HW: Enige poging om Afrikaans te bevorder moet gekoppel wees aan ’n breër poging om veeltaligheid te bevorder. Dit beteken dat Afrikaans sy kragte sal inwerp by die bevordering van ander landstale, en dat daar eerlike (nie net polities pragmatiese) pogings aangewend sal word om ander tale aan boord te kry, om die aanleer van ander tale te bevorder, en dies meer. Afrikaanssprekendes moet nie net aandring daarop om hul taal te praat nie, hulle moet ook leer om te luister.

 

Flip Buys

• Is daar rede tot hoop dat daar in die Afrikaanssprekende geledere, bymekaargebring sal word wat bymekaar hoort?

FB: "Ons" taal het baie stemme, en daar was 'n wye verskeidenheid verteenwoordig. Die Taalberaad was tereg nie 'n bedekte poging tot etniese mobilisasie nie. Ons moenie probeer om uit een mond Afrikaans te praat nie, maar ons moet wat ons ook al oor praat ook in Afrikaans te doen. Ek glo meer aan "veelheid in Afrikaans" as aan Afrikaanse eenheid. Daardeur bedoel ek dat daar ruimte vir almal se standpunte moet wees, en dat ons nie mekaar hoef oor te haal na 'n bepaalde standpunt omdat dit dan kwansuis meer "suiwer" sou wees nie.

Myns insiens was daar wel 'n breë konsensus dat daar 'n probleem is, en dat daar iets aan gedoen moet word. In daardie sin begin mense wat bymekaar hoort bymekaarkom. Dit help nie ons bly klou aan uitgediende polities korrekte snert dat alles wel is met Afrikaans nie. Maar ons moet iets begin doen.

• Bestaan daar al duidelikheid oor wie Afrikaners is?

FB: Die internasionale reg is baie duidelik oor die definisie van 'n volk of kultuurgemeenskap. Dit gaan oor selfdefiniëring, oor selfpersepsie. Almal weet of hulle Afrikaners is of nie. Normaalweg het dit twee elemente, nl assosiasie en aanvaarding. Jy assosieer jou met 'n sekere groep en hulle aanvaar jou as deel. My vraag is hoekom ons onsself moet definieer, ek het nog nooit gehoor iemand vra wie bv Nederlanders is nie? Mense wat heeltyd wil weet wie nou eintlik Afrikaners is, het óf 'n identiteitskrisis óf een of ander politieke agenda waarin ek nie belang stel nie.

• Die verwagting was dat die Afrikaanse Taalberaad ‘n strategie vir Afrikaans vorentoe sou bepraat, beding en besluit. Het dit gebeur?

FB: Ek meen daar is goed gevorder met 'n strategie, maar natuurlik sal daar nog baie "gestrategeer" moet word. By Solidariteit het ons gesien dat die strategie een ding is, maar die uitvoering iets anders. Daarom volg ons ons dínkskrums op met doénskrums. Ons sal dus nie net op strategie moet fokus nie, maar veral om die nodige uitvoerende vermoë te skep om dit uit te voer. My siening is dat enige strategie op twee bene moet staan, naamlik die taal en die sprekers. Die eerste been gaan oor die bevordering van die taal, en die ander been oor die belange van die sprekers. Taal is tog nie net 'n kommunikasiemedium nie.

• Hoe voel u oor die toekoms van Afrikaans in die elektroniese media?

FB: Ek is baie opgewonde oor die moontlikhede wat nuwe tegnologie vir kleiner tale soos Afrikaans bied. Dit maak dit makliker en goedkoper om te kommunikeer en te publiseer. Dit maak ook niskommunikasie baie makliker. 'n E-tydskrif kan bv goedkoop en maklik in Afrikaans publiseer en versprei word. Ons moet net sterk op gehalte en inhoud fokus, omdat ons nie kan meeding met die groot hoeveelheid Engelse materiaal nie. Bismarck se stelling dat die grootste keerpunt in die geskiedenis gekom het toe die Amerikaners op Engels as landstaal besluit het sal my altyd bybly.

• Hoe kan die kommersiële waarde van die taal ontgin word?

FB: Deur 'n e-sakekultuur te skep en te bevorder en te bedryf op elke moontlike gebied. Hier is nog baie moontlikhede vir Afrikaanse ondernemers om hulle merk te maak. Dit gaan van Afrikaanssprekendes self afhang of hulle 'n sukses hiervan gaan kan maak.

• Het die soeklig tydens die beraad enigsins op die jeug geval en/of is die jeug na u mening voldoende verteenwoordig?

FB: Daar kon seker meer gedoen gewees het, maar daar was verskeie jong sprekers. Ons sal moet sorg dat ons dit wat vir jongmense belangrik is aanspreek, anders gaan ons hulle nie betrokke kry nie.

• Wat is na u mening Afrikaans se verhouding tot die ander landstale? Wat behoort die verhouding te wees?

FB: Gesonde verhoudinge met veral die ander inheemse tale is vir my baie belangrik. Afrikaanse instellings behoort hulle bes te doen om hierdie tale te help waar moontlik. Ons het tog almal dieselfde doel, naamlik die bevordering van ons eie tale. Die bevordering van Afrikaans binne die konteks van veeltaligheid kan almal baie help om hulle doelwitte te bereik.


AH van Wyk

• Is daar rede tot hoop dat daar in die Afrikaanssprekende geledere, bymekaargebring sal word wat bymekaarhoort?

AHvW: Hierdie slagspreuk van bymekaar bring wat by mekaar hoort, is vir my ten dele gevaarlik en ten dele irrelevant. Afrikaanssprekendes deel hulle taal en dit behoort genoeg te wees. Hoekom moet ons dan aanhou wroeg oor ander dinge wat ons saambind of dalk verdeel? Om ‘n stelling van George Bush te gebruik (wat ongelukkig nou in Irak ‘n byklank gekry het): kom ons vorm rondom ons taal ‘n koalisie van die gewilliges, sonder dat ons daarmee met betrekking tot ons politiek, godsdiens, seksuele voorkeure of wat ook al, onder dieselfde kombers hoef te wees.

• Bestaan daar al duidelikheid oor wie Afrikaners is?

AHvW: Dit is vir my werklik ’n irrelevante en sinlose vraag. Hoekom moet ons besluit wie Afrikaners is? Pla dit die Franse, Argentyne of Xhosas om te besluit wie een van hulle is?

• Die verwagting was dat die Afrikaanse Taalberaad ‘n strategie vir Afrikaans vorentoe sou bepraat, beding en besluit. Het dit gebeur?

AHvW: As dit die verwagting was, was dit met alle respek ’n naïewe een. ’n Strategie is nie iets wat in drie dae ontwikkel word nie en waarvan die ontwikkeling buitendien nooit as afgehandel beskou kan word nie. Myns insiens was daar wel betekenisvolle vordering op pad na die formulering van ’n strategie.

• Hoe voel u oor die toekoms van Afrikaans in die elektroniese media?

AHvW: Nogal meer positief as oor die toekoms van die Afrikaanstalige gedrukte dagblad-media wat besig is om hulle, soos prof Lawrie Schlemmer by die Beraad aangetoon het, totaal van hulle leserskorps se aspirasies te vervreem. Daarenteen is daar in die elektroniese media ’n vryheid van spraak en denke wat verstommend is en waar mense hulle strewes artikuleer. Lees maar net vir SêNet. Dit kán ook met TV gebeur soos die tegnologie ontwikkel en ’n werklike vrye TV-mark begin ontwikkel.

• Hoe kan die kommersiële waarde van die taal ontgin word?

AHvW: Deur dinge van gehalte daarin te doen. Dink maar aan die Pendoring-toekennings.

• Het die soeklig tydens die beraad enigsins op die jeug geval en/of is die jeug na u mening voldoende verteenwoordig?

AHvW: Die jeug is ook weer so ’n saamgroepering wat meer teorie as werklikheid is. Deel ’n 17-jarige uit Mitchellsplein veel meer as sy taal met ’n jappie uit Waterkloofrif? Moet ons ook nie maar aanvaar dat die verskillende fases van die lewe verskillende uitdagings stel en daarom verskillende belangstellings ontlok nie? By sportbyeenkomste domineer jonger mense, by konserte van klassieke musiek lyk gehore anders, ens, ens. Maar mens moet wel sorg dat jou gesprek met alle generasies oopbly.

• Wat is na u mening Afrikaans se verhouding tot die ander landstale? Wat behoort die verhouding te wees?

AHvW: Afrikaans se verhouding met Engels gaan altyd anders wees as met die ander landstale. En die verhouding met hierdie ander tale gaan ook van streek tot streek (bv die Wes-Kaap teenoor KwaZulu-Natal) wissel. Ons moet ophou om so sentralisties te dink. Afrikaans kan egter deur sy sprekers se kundighede stadig maar seker tot taalontwikkeling in ons land bydra. Dink bv aan die rol wat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal speel in die ontwikkeling van leksikografiese kundigheid vir woordeboeke in Xhosa, Zulu en Sotho, om nie te praat vir die tale van Sentraal-Afrika nie.







LitNet: 01 September 2004

  • Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.