Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Gaan die Jurie vir Koos vonnis?

Erns Grundling

Doos vs Roos

Kom ons wees nou maar eerlik: daar het 'n paar wenkbroue gelig, 'n koor stemme het gebrom en selfs 'n gewaande SMS of drie het rondgevlieg toe dit bekend raak dat Koos Kombuis 'n duet gaan sing saam met Jurie Els.

Hierdie duet vind plaas by die Afrikaanse Musiekfees 3 op 25 September in Carnival City. Klik hier vir meer besonderhede.

LitNet het besluit om vir Koos en Jurie albei met 20 vrae te peper om agter die kap van hierdie byl te kom.

Hier is wat Koos te sê gehad het; lees en besluit self of dit julle oortuig ... en laat ons weet by webvoet@litnet.co.za.

(Klik hier om die onderhoud met Jurie Els te lees!)

  1. Het jy in die dae toe jy die "Ek verpes Bles"-T-hemp gedra het, ooit gedink dat jy saam met 'n sanger soos Jurie Els sou optree, by 'n Afrikaanse musiekfees van alle plekke? Herinner dit nie dalk aan wat jy destyds die "Musiek en Rumatiek"-beweging genoem het nie?

    Bles het destyds in ons pad gestaan, want hy het vir ons 'n musiekmafia gesimboliseer wat ons van die airwaves af gehou het. Vandag is daar plek vir almal. As Bles vandag nog gesing het, sou ek nie 'n T-shirt van hom gemaak het nie. Ek sou hom skaars opgelet het.

  2. Dink jy Fokofpolisiekar en Robbie Klay sal oor vyftien jaar saam 'n duet doen? Of Karen Zoid en Nadine? Of Kobus! saam met Francois Hayes?

    Abel Kraamsaal doen eersdaags 'n duet met Patricia Lewis, hoor ek deur die grapevine. So enigiets is seker moontlik ...

  3. Rock 'n roll gaan immers oor 'n bepaalde bevraagtekening, opstand en dikwels protes. Is dit nie juis nodig om sogenaamde "teenpole" in musiek en musiekgenres in stand hou te hou nie? Is kruisbestuiwing ons voorland?

    Ek doen nie meer rock 'n roll nie! Ek is net te dankbaar dat ek daardie stadium van my lewe oorleef het. Dit was great, maar die rock 'n roll-leefstyl kan gevaarlik wees vir jou gesondheid, veral as jy dit doen soos ek dit gedoen het! Dit lei ook soms tot 'n sekere soort tonnelvisie wat veel meer skade doen as Noot vir Noot.

    Op my ouderdom maak die mindless protes van rock nie meer so baie sense nie. Ek hou meer van intelligente protes. Die groot tragedie van die Voëlvry-groupies is nie dat so baie van hulle deesdae in suburbia woon nie, maar dat hulle nie meer aktief is op politieke, kulturele en sosiale gebied nie.

  4. Watter boodskap stuur hierdie optrede met Jurie uit aan 'n jong, kriewelrige generasie (veral die bands)? Dat mens op 'n later ouderdom maar 'n gevoel van "Vrede vir almal" ontwikkel en saam met die stroom gaan?

    Ek dink nie dit stuur enige deliberate boodskap nie, dis net een "gig"; maar jy kan seker 'n boodskap daarin sien as jy wil. Vrede op aarde? Fok Amerika? Eet noedels? Liposuction suig? It's entirely up to you!

  5. In 'n onlangse brief op SêNet het jy gesê Jurie moet dalk "Oorlog van die Lem" opneem. Sal jy vies wees as hy dalk besluit om die vloekwoorde te verwyder, deur byvoorbeeld te sing "Die nadors was niks teen die bomskok, die anargie was niks teen die opkrop"?

    Ek dink nie die song "Oorlog van die Lem" pas by Jurie se stem nie. Dit was net 'n ekstreme voorbeeld wat ek gebruik het om 'n sekere punt te illustreer in 'n antwoord aan iemand.

  6. Waarom is daar soveel nydigheid onder veral Afrikaanse sangers? Is dit 'n noodwendige gevolg van 'n relatief klein bedryf? Kan almal nie maar soos Paul McCartney se paddas saamkwaak "We all stand together" nie? Of is dit juis gevaarlik?

    Ek ken nie die song van Paul McCartney nie, maar ek het wel paddas in my tuin, en hulle sing vir my pragtig.

  7. Word Afrikaanse musiekluisteraars genoeg uitgedaag om te dink, veral oor dit waarna hulle luister? Of is vermaak en ontsnapping helaas die belangrikste kriteria?

    Dit hang af wie dit is wat die kriteria daarstel. Dis ongelukkig so dat die meeste outjies op die platteland net 'n tune soek waarop hulle kan sokkie. Dis nie my kriterium nie, maar ek kan niks aan hulle doen nie, en ek skat van al die sokkie is hulle seker nou al baie fikser en maerder as ek. Good for them.

  8. Sê nou jy is 'n mediese praktisyn. Watter doepa sou jy vir 'n rock-snob aanbeveel?

    Ek weet net wat sou Kurt Darren gesing het as hy 'n tandarts was. "Sê net A ..."

  9. Wat irriteer jou die meeste: snobisme of ondergemiddelde produkte (wat soos soetkoek verkoop)?

    Ek is baie jaloers op die ouens op die DKNT hit parade, en as ek 'n swakker mens was, sou ek ook my snobisme geparadeer het as morele verontwaardiging!

  10. Wat gaan deur jou gedagtes as jy vandag die woord "Voëlvry" lees?

    "Why me, Lord?"

  11. Sê nou jy en Jurie neem saam 'n album op. Het jy enige voorstelle vir 'n albumtitel?

    Wat van "Babalaas op Moedersdag"?

  12. Sal jy verbaas wees as Jurie jou onder die tafel in drink?

    Nee, maar ek hoop hy gedra hom as ons eers onder die tafel is.

  13. Sê nou jy het 'n keuse om seks, drugs of boeremusiek vir Jurie Els aan te beveel. Watter twee sou jy nie aanbeveel nie, en waarom nie?

    Ek het nog nooit enige van bogenoemde vir enigiemand aanbeveel nie, slegs met vrywilligers daaraan meegedoen.

  14. Jy was nou al by alles, van Skouspel tot Oppikoppi. Watter tipe fees se backstage-area staan jou deesdae die meeste aan?

    Oppikoppi se crowd control was fantasties en baie professioneel, en die paarties by Skouspel is ongelooflik. Ek hoop Huisgenoot nooi my gou weer; ek belowe om met niemand lelik te wees nie, nie eers die Campbells nie.

  15. Sou jy op Noot vir Noot as gaskunstenaar gaan sing? (Indien dit reeds gebeur het, hoe was dit?)

    Dom ouens soos ek verkies "Liriekeraai".

  16. Waaroor sal jy nooit 'n liedjie skryf nie?

    Ek sal nooit 'n liedjie skryf waarin ek die woord bokkie laat rym met die woord sokkie nie.

  17. Watter boeke lê tans op jou bedkassie?

    A Short History of Nearly Everything deur Bill Bryson. Dis 'n fantastiese boek wat Hettie Scholtz vir my aanbeveel het toe ek depressief was omdat ek nie Eilande klaar gelees kon kry nie.

  18. Wat is jou drie gunsteling-websites (LitNet uitgesluit ;) )

    Zim Dollar (Rikku Latti se site), die site in Amerika waarop mens foto's van Mars kan sien, en my eie site, veral die gasteboek waar Anton Goosen vir my so 'n pragtige briefie gelos het die ander dag.

  19. Hoe sê mens dankie?

    Ngombulelo.

  20. Is daar iets (behalwe jou kinders) wat jou snags wakker hou?

    Nie sedert ek my selfoon afgeskakel hou nie.





LitNet: 22 September 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.