Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jaap Steyn oor MER: “’n kombinasie van die deursneehuisvrou en die intellektueel.”

Deborah Steinmair

Dr JC Steyn is onder andere akademikus, taalwetenskaplike, navorser, digter, skrywer, oudjoernalis, geskiedskrywer. Die volgende boeke het al van hom verskyn, almal uitgegee deur Tafelberg:

  • Die grammatika van liefhÍ (1975), ’n digbundel wat met die EugŤne Marais- en Ingrid Jonker-pryse bekroon is
  • ’n kortverhaalbundel, Op pad na die grens (1976)
  • ’n novelle, Dagboek van ’n verraaier (1978)
  • ’n taalpolitieke werk, Tuiste in eie taal (1980), wat bekroon is met die Recht Malan- en Louis Luyt-pryse; op grond van diť en latere werke het die SA Akademie in 1988 die Langenhoven-prys vir taalwetenskap aan Steyn toegeken
  • ’n prosabundel Die verlore vader (1985)
  • Trouwe Afrikaners, wat handel oor aspekte van Afrikanernasionalisme en die Suid-Afrikaanse taalpolitiek (1987)
  • drie hoofstukke oor die geskiedenis van Die Volksblad nŠ 1948 en medeskrywer van ’n hoofstuk oor die Naspers-koerante en Afrikaans in Oor grense heen (1992)
  • 17 van die 21 hoofstukke as skrywer, en 3 as medeskrywer, van BoekewÍreld (1992), wat handel oor Naspers se uitgewerye tot 1990; hierdie werk is met die Recht Malan- en Rapport-pryse bekroon
  • ’n prosabundel Hoeke Boerseuns ons was (1991)
  • (as samesteller) Vrolike en verskriklike ondervindings van gewone mense (1996)
  • Van Wyk Louw - ’n lewensverhaal (2 dele) (1998)
  • Die honderd jaar van MER (2004)

    Benewens die bogenoemde, ook die volgende artikels:

  • tientalle artikels vir vaktydskrifte, hoofsaaklik oor kultuurgeskiedenis, die eksterne geskiedenis van Afrikaans en Suid-Afrikaanse taalpolitiek; daaronder is drie supplemente van boeklengte, naamlik Die betekenis van Die Burger vir die Afrikaanse letterkunde (Acta Academica), Taalideologie en takalbeleid in die Suid-Afrikaanse geskiedenis - oorwegings in die ampstaaldebat? (Acta Academica) en Die taalstryd in die oorgangstyd - Gesindhede teenoor Afrikaans 1990-1994 (Stilet)
  • tussen een en twee honderd populÍre artikels vir dagblaaie en tydskrifte.
  • Oor Jaap Steyn se jongste boek, Die honderd jaar van MER, sÍ kalahari.net die volgende:

    Deur die oplettende oŽ en sensitiewe aanvoeling van MER, wat honderd jaar oud geword en belangrike figure van die negentiende en die twintigste eeu van naby geken het, belewe die leser dramatiese tye in Suid-Afrika se geskiedenis.

    Die honderd jaar van MER
    Klik op boek om te bestel

  • Wat het u spesifiek op Maria Elizabeth Rothmann laat fokus? Wanneer het u in haar geÔnteresseerd geraak?
    Ek het gehou van haar outobiografiese vertelling My beskeie deel, en haar briewebundels Familiegesprek en ’n Kosbare erfenis - nie net van die inhoud nie, maar ook die lekker geselsstyl van die briewe. Later moes ek Die Burger van die jare dertig deurlees vir ’n ondersoek na diť koerant se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, en toe het ek ook al die koerantartikels te lese gekry wat sy in daardie jare geskryf het. Daarvan het ek net so gehou. Party het ek wel geken omdat hulle in boekvorm was, maar ander was heeltemal nuut. Wat vir my aantreklik was, was haar humorsin, lewenswysheid, haar praktiese en breeddenkende nasionalisme, haar noukeurige beskrywings van die Suid-Afrikaanse landskap, haar onderhoudende vertellings oor die ou dae - die 19de-eeuse treinreise, die plaasskole, outydse modes en nog veel meer. Daarby kon sy met ’n paar woorde sulke mooi karakteriserings van mense gee.

  • Sou u haar as die eerste Afrikaanse feminis beskryf en waarom?
    Of sy die eerste feminis was, weet ek nie - maar sy was onder die eerstes seker die bekendste en invloedrykste omdat sy haar oor baie jare heen vir die bemagtiging van die vrou beywer het, en dikwels in die koerant kon reageer op uitlatings of optredes wat teen vroue gemik was. Wat dit vir haar moontlik gemaak het om so baie daaroor te skryf, was die feit dat sy van 1922 tot 1928 redakteur van die vroueblad van Die Burger was, en daarna gereeld elke week ’n artikel in diť koerant geskryf het tot aan die einde van die jare dertig. Sy was een van die vegters vir vrouestemreg, eers versigtig, maar later baie openlik. Voor die vroue stemreg gekry het, was daar naas die gewone politieke partye, wat “mannepartye” was, ook vrouepartye, en sy was in die bestuur van die Nasionale Vroueparty van Kaapland. Die Kaapse vroueparty was van so 1927 af een van die sterkste drukgroepe vir vrouestemreg.

    ’n Paar keer het MER met Langenhoven oor vroueregte gebots in die koerant. Dit was so bietjie ’n waagstuk, want Langenhoven was ’n gedugte debatteerder, en bowendien ’n geliefde volkskrywer, iemand met baie invloed. Maar dit het goed afgeloop, en een keer het Langenhoven selfs ’n onvriendelike opmerking oor die vroue teruggetrek. Sy en hy was eintlik goeie vriende en sy het baie respek vir hom gehad.

    MER gebruik die woord vrouepartydigheid pleks van feminisme, wat in die twintiger- en dertigerjare ’n redelik negatiewe gevoelswaarde gehad het. In haar romans en verhale is dit opvallend dat die sterkste en mooiste karakters vroue is. Sy het in haar koerantstukke nogal maklik ’n stekie na die mans se kant gegee! Sy was nie daarteen gekant dat vroue rook nie (dit was toe nog nie bekend dat rook nadelig is vir die gesondheid nie). Maar sy sou graag wou sien dat vroue nie rook nie, skryf sy in 1935. Vroue was die mans nog altyd voor wat betref sindelikheid, keurigheid en fynheid.

    En die rookgewoonte is darem maar nie sindelik nie. En bo alles kan ’n mens nog ’n bietjie kinderagtigheid aan ’n man toestaan, omdat hy eenvoudiger van aard is as ’n vrou; maar die vrou wat ’n kind moet lei en grootmaak - sy behoort nie aan ‘infantilisme’ te ly nie.

    Nou ja, dis darem so amper-amper vrouechauvinisme!

  • Vertel ons asseblief een en ander oor haar ambivalente verhouding met die kerk.
    Dis ’n lang storie, maar terwyl u dit nou tog vra Ö Sy is in die NG Kerk op haar tuisdorp Swellendam gedoop, maar toe sy so sewe jaar oud was, het haar weduweemoeder uit die kerk padgegee weens ’n geskil met ’n predikant en Anglikaan geword. MER is toe in diť kerk aangeneem, en het daarin bekeer geraak onder invloed van een van die baie bekeringspredikers van die tyd. Haar broer Frits het egter afvallig geraak van die godsdiens weens die Engelsgesinde rigting van die NG Kerk, en toe hy later in Transvaal was, het hy ’n “vrydenker” geword. Haar ouer suster Annie het hom daarin gevolg, en MER het onder hulle invloed gekom terwyl sy skoolgehou het in Transvaal. Terwyl die Anglo-Boereoorlog aan die gang was, moes MER en haar suster noodgedwonge na Swellendam toe terugkom. Dat sy vrysinnig was, het teen MER getel. Buitendien was sy ’n sterk republikeinsgesinde Afrikaner, dit wil sÍ ’n disloyal - dislojaal teenoor die Britse Ryk. Die loyals kon toe haar vrysinnigheid maklik teen haar gebruik. Dit het ’n keer gebeur dat die Engelsgesinde loyals haar aanstelling as onderwyseres by ’n skool wou verhinder, en met sukses haar “ongeloof” as argument gebruik het.

    Om sake te vererger, is sy nŠ ’n kortstondige huwelik geskei. Toe was dit nog moeiliker om ’n goeie werk te kry, wat daar is baie teen geskeide vroue gediskrimineer. Op ’n keer het sy met die NG predikant op Swellendam oor haar “ongeloof” gaan praat. Hy was iemand vir wie sy groot bewondering gehad het weens sy pro-Afrikaner-houding in die oorlog en daarna. Hy het haar met groot begrip behandel, maar het, soos dit blykbaar die gewoonte was, aantekeninge oor die gesprek gemaak. Hy is kort daarna skielik dood aan maagkoors, en sy opvolger, toevallig weer Engelsgesind, het dit te lese gekry. Dit het baie teen haar getel toe sy en haar suster in 1907 met ’n private Afrikaanse skool op Swellendam begin het. Die vooraanstaandes het hulle kinders na die Engelse staatskool gestuur.

    Die stuk sal natuurlik te lank raak as ek alles in verband met haar godsdiens moet vertel, maar een ding wil ek darem sÍ, omdat ek gelees het iemand sÍ sy was nooit lidmaat van die NG Kerk nie. Nee, sy wŠs. Sy het in 1910 lidmaat van die NG Kerk geword - “overgekomen uit de Engelse Kerk”, staan in die lidmaatregister - en sy het baie agting vir die NG Kerk gehad, miskien omdat die kerk in die eerste dekades van die 20ste eeu soveel gedoen het om die armes te help. In 1925 het ’n dominee in haar teenwoordigheid erken dat die jong mense kerklos raak, en sy skryf daaroor in haar dagboek:

    Op sulke oomblikke voel ek met hoe sterk bande ek aan die kerk gebonde is, nieteenstaande dat ek so min van hulle stellings aanhang. Ek voel dit altyd - in my innige wese is ek verbonde aan my volk - en die kerk se verlede is van hulle verlede onafskeibaar.

    Maar diť verbondenheid het haar weer nie verhinder om saam met ander lede van die ACVV in ’n langdurige en soms bittere stryd met die Kaapse kerk gewikkel te raak nie - dis nou die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging, die ekwivalent van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie in Transvaal en die Oranje-vrouevereniging van die Vrystaat. Sy was van 1928 tot 1938 reisende en organiserende sekretaresse van die ACVV. Die kerk wou beheer kry oor die ACVV, maar die vroue het jare, eintlik dekades lank, vasgeskop en op die ou end selfstandig gebly.

    Soos mens uit die dagboekstukkie kon aflei, was sy nie ortodoks nie. Sy het eenkeer gesÍ: “Ag, daar is geskiedenisse en daar is bybels, maar vir my is die Tien Gebooie en die Bergpredikasie genoeg.” Met laasgenoemde, wat sy ook die “Bergpreek” genoem het, bedoel sy natuurlik Matteus 5-7, wat sulke uitsprake bevat soos (in die 1933-vertaling): “let op die lelies van die veld”; “julle is die sout van die aarde”; “moenie oordeel nie”; “kwel julle nie oor mŰre nie”, ens. Nadat sy dit vir prof Canis Scholtz, bekende taalkundige en kunskenner, vertel het, het hy dadelik ’n Bybel gesoek en die stuk gaan lees.

  • Vertel ons van haar siening van Hitler, Nazi-Duitsland en Afrikaner-nasionalisme.
    Sy het met die opkoms van Hitler baie wantroue in hom gehad, ook in Mussolini, omdat hulle so min agting vir die vrou gehad het, en vroue gesien het as wesens wat daar moet wees om kinders in die wÍreld te bring. Sy het in 1933 in Die Burger geskryf: “Sulke manne beskou, wanneer hulle so beskik, nie die vrou as ’n mens nie; nie as ’n burgeres nie. Hulle beskou haar as iets wat tot diens is van die burgery; iets wat die instandhouding van die burgery sterk affekteer; die toekoms van die burgery - ek het byna gesÍ die boerdery - hang van haar as vername faktor af. Daarom moet oor haar lot beskik word deur regeerders wat ’n gesonde burgery wil produseer. Dat die vrouens nie alleen burger-produserende wesens is nie, maar ook MENSE en selfs burgers, dit kan sulke regeerders nie besef nie.”

    Maar in 1934 was haar gesondheid swak - sy was oorwerk van al haar ACVV-aktiwiteite, en het ’n lang gesondheidsbesoek aan ’n paar Europese lande gebring: ItaliŽ, NoorweŽ en Duitsland. Terloops, sy was arm, maar kon die reis bekostig deur die baie artikels wat sy vir Die Burger geskryf het. Daar het sy toe die Duitsers van naby leer ken, opgemerk hoe hulle Hitler bewonder en meer nog, sy was net so vies as die Duitsers oor wat die Britse koerante oor Duitsland en die Duitsers geskryf het - net so onbillik as wat die Britse pers voor die Engelse Oorlog in Suid-Afrika oor Transvaal geskryf het, het sy gevoel. En dit was ongelukkig maar ’n swakheid van die Afrikanernasionaliste van daardie tyd - hulle simpatie met die destydse Duitsland. Dit was die gevolg van die verstaanbare opvatting van: my vyand se vyand is my vriend. Diť gesamentlike vyand was natuurlik Engeland, teen wie die Afrikaners en die Duitsers albei ’n oorlog verloor het. Afrikaners soos MER was beslis nie pro-Nazi nie, hulle was pro-Duits. En bygesÍ, daar was baie mense in Europa, selfs in Nederland en Engeland, wat ook baie begrip vir Hitler gehad het voor die Tweede WÍreldoorlog.

    Maar MER het van die begin af die Nazi’s se Jodehaat afgekeur. Sy skryf in 1934 in ’n Burger-artikel:

    Alle haatuitings lyk maar baie skadelik, meer vir die hater as die gehaatte, en hoewel ons dit baie met onse Duitse kennisse hier bespreek het en heeltemal openlik ook, kan ek nog nie oordeel nie. Daar lÍ ou en diep wortels aan die ding. Stoflike skade aan Jode gedaan lyk my vind net by wyse van uitsondering plaas; as dit plaasvind. Maar die haat is vir my baie naar.

    Ja, die “stoflike skade” het gou later eers gekom, en toe die konsentrasiekampe.

    Wat Afrikaner-nasionalisme betref, moet mens onthou dat dit deur die jare gedurig verander het; die 19de-eeuse Kaapse en Transvaalse nasionalisme het byvoorbeeld van mekaar verskil, so ook die nasionalisme van nŠ 1902, nŠ 1914 en nŠ 1933, om ’n paar belangrike datums te noem. MER was ’n egte Kaapse nasionalis met haar sterk gevoelens oor die taal en minder sterk gevoelens oor ras; maar aan die ander kant was sy ook weer baie republikeinsgesind deur haar kennismaking met die lewe in die Transvaalse republiek - sy was ’n bewonderaar van pres Kruger en pres Steyn. Die meeste Kapenaars het in 1914 min begrip vir die rebellie in die Vrystaat en Transvaal gehad, maar sy was ’n simpatisant.

    In 1925 was sy een van die leiersfigure in ’n taalhandhawingsbeweging in die Kaap. ’n Klompie geŽmansipeerde vroue het daarmee begin, en MER het haar vroueblad gebruik om taalhandhawing in die Kaapse winkels en ander openbare plekke te propageer. Hulle het heelwat sukses gehad, en die beweging het uitgebrei na onder meer Stellenbosch en Bloemfontein.

    Sy het baie keer oor die volksgevoel en dergelike geskryf, maar ek dink twee aanhalings is genoeg. Een daarvan kom uit My beskeie deel:

    Wat met ons volk gebeur het, het vir my, soos vir elke normale Afrikaner, altyd diep aangegaan. As ek nou terugkyk op my eie lewe en op wat ek van die voorgeslag weet, dan sien ek dit kon en kan nie anders nie: dit is ’n kwessie van selfbehoud, van dood of lewe. En lewensbehoud is ’n gesonde en basiese strewe by alles wat bestaan.

    Ook leef ’n mens nie alleen in die eie persoon nie, maar deur en met jou groep en volk. Word die volk se lewensfunksies gekeer, kwyn die individu ook.

    En iets anders, wat sy geskryf het in 1934 toe sy ’n hele paar artikels daaroor gehad het. Nasionalisme, soos die vroue dit begryp, sÍ sy, streef nooit na die onderdrukking en nadeel van ander volkere nie; inteendeel:

    Die nasionalis is bly oor die vordering van ander nasies, omdat hy des te meer van hulle dan kan leer - tensy daardie vordering ook ’n uitbuiting is. En waar ons Afrikaanse Nasionalisme die onderdrukking van ander groepe of individue soek, daar soek hy sy eie nadeel wat ook tot sy verderf sal lei. Die gesonde Nasionalisme soek dit nie.

    Dit herinner nogal aan iets wat NP van Wyk Louw byna twintig jaar later skryf:

    Wanneer ’n mens die waarde van nasionale regte insien, nie alleen as regte wat jou eie groep toekom nie, maar as universele menslike regte, dan is jy reeds uit die beperktheid van die groep uit; en jy sal hulle nie alleen vir jou eie groep opeis nie.

    MER was ook baie begaan daaroor dat reg geskied aan ander groepe ook, nie net aan die Afrikaners of net die wit mense nie.

  • Iets oor haar simpatie met bruin mense?
    In die tyd toe sy die stukkie oor nasionalisme geskryf het, het sy meermale gesÍ: “As ek weer ’n leeftyd kon kry, gaan ek vir die bruin mense werk.” Op haar ACVV-besoeke aan Kaapse dorpe het sy ook die wit mense op hul verantwoordelikheid ten opsigte van mense van ’n ander kleur gewys. In Die Burger het sy gepleit dat die Afrikaners ook die nood van ander groepe moet raaksien en met hul opheffing moet help:

    Dwaal ons nie as ons dink dat die welsyn van die Afrikaner, of van die wit mens, ons gehele taak kan wees nie? Kan dit met enige moontlikheid net ons eie in orde bring wees waarmee ons rekening moet hou? [Hoe] heilig ook die plig wat ons eers teenoor ons eie mense moet vervul [dit is noodsaaklik om te begryp dat] ons mense nie alleen hier woon nie en dat dit ook noodsaaklik is om reg te sien in hoe ver die ander beskawings waarnaas ons leef, ons beÔnvloed.

    Dit sÍ sy in 1936.

    In die apartheidstyd was sy sterk gekant teen baie van die wette. Sy was al 87 jaar toe die regering besluit het om die bruin mense uit ’n deel van Swellendam te verskuif. Toe ’n regeringskommissie die dorp besoek, was sy die enigste wit mens wat gaan pleit het dat hulle daar moet kan bly woon. Die voorsitter van die kommissie was baie vriendelik met haar, maar het gesÍ dat die regering die beslissingsreg het. Maar in elk geval het haar optrede tog baie eerbied afgedwing. Sy het veral twee leiers se beleid teenoor die bruin mense afgekeur, diť van dr DF Malan en van dr HF Verwoerd. Van Malan het sy in elk geval nie baie gehou nie, maar met Verwoerd het sy ’n goeie verhouding gehad.

  • Ja, vertel bietjie van haar indrukke van dr Verwoerd.
    Sy het met Verwoerd kennis gemaak terwyl hy in Stellenbosch professor was en as sosioloog baie betrokke by welsynswerk. In 1934 was daar in Kimberley ’n groot kongres oor die armblankes, en ’n paar “voortsettingskomitees” is gekies wat sake verder moes voer. MER was in die komitee waarvan Verwoerd voorsitter was, en sy het groot bewondering gekry vir sy organisasievermoŽ en skerp verstand. Verwoerd was een van die vroue se bondgenote in die stryd tussen die ACVV en die kerk, veral die kerk se Federale Armesorgkommissie; dit blyk onder meer uit ’n opmerking van haar in 1935 dat sy sit en wag vir ’n datum vir haar en Verwoerd “om die Fed. Armesorg weer te gaan probeer oortuig van hulle kwaaie weŽ”.

    Sy was baie ongelukkig toe hy in 1936 Johannesburg toe is om van Oktober 1937 af redakteur van Die Transvaler te word en het ’n lang brief aan hom daaroor geskryf. Een van haar besware was dat ’n partykoerant alle deugde en prestasies van sy opposisie verswyg.

    Dis mos naar! Wat kan meer skadelik op ’n mens se siel werk as die gedurige ontkenning van wat ’n ander goed gedoen het? En ’n partykoerant mag ook nooit erken dat hy enige fout in sy party sien nie.

    Hulle het egter bevriend gebly, en nadat hy eerste minister geword het, was sy ’n keer by hom en sy vrou Betsie op besoek. Sy en mev Verwoerd het tot haar dood goeie vriende gebly.

    In 1960 was MER egter geskok oor Verwoerd se beleid teenoor die bruin mense. In daardie stadium het die bruin mense van Kaapland ’n paar wit verteenwoordigers in die parlement gehad. In 1960 het heelparty van die Kaapse Nasionaliste hulle daarvoor beywer dat bruin mense ook hul eie mense tot parlementslede moes kon kies as hulle wou. Daarteen was Verwoerd sterk gekant en MER was een van die talle Nasionaliste wat ontsteld was daaroor.

    Oor een laaste saak het MER ook met Verwoerd verskil enkele maande voordat hy vermoor is - NP van Wyk Louw se drama Die pluimsaad waai ver. Die stuk is in 1966 ten tyde van die herdenkingsfees van republiekwording vyf jaar tevore opgevoer. Rykie van Reenen, skrywer van die rubriek “Op die randakker” in die Sondagblad Die Beeld, het aan MER die manuskrip van die stuk gestuur. Sy het dit die oggend van 7 Junie 1966 gekry en dit teen die aand deurgelees. By ’n paar plekke moes sy ophou met ’n vol gemoed, skryf sy aan Rykie. Dit is “’n volksbesit. Vir lengte van dae. Met nÍrens ’n valse lyn of ’n oordrewe aanduiding nie.” Rykie van Reenen het haar per telegram gevra of sy haar woorde in haar rubriek in Die Beeld mag aanhaal. “Mense hierbo is besig om Van Wyk Louw te verskeur.” MER het die versoek toegestaan. In die Transvaalse koerante is ’n hewige polemiek gevoer oor die drama en dr Verwoerd se kritiek daarop. Hy het gemeen dat die stuk nie histories getrou is nie, aangesien Van Wyk Louw volgens hom van pres Steyn nie ’n held nie, maar ’n patetiese figuur gemaak het. MER en haar dogter Anna Rothmann was baie ongelukkig oor Verwoerd se uitlatings, al was hulle so goed met hom en sy gesin bevriend.

    Verwoerd was sonder twyfel bewus van haar kritiek op sy beleid oor die bruin mense, want hy sou die groot berig raakgesien het oor haar optrede in verband met die verskuiwing van mense uit Swellendam. Tog het hulle bevriend gebly, en toe hy in 1964 ’n besoek aan Swellendam bring en ’n groot vergadering kom toespreek het, het hy en sy vrou eers gou ’n besoek aan MER en haar dogter gebring, en tee en beskuit geniet. Die party-amptenare het dit ook sů gereŽl: die Verwoerds mog nie langer as ’n halfuur kuier nie, anders loop die reŽlings skeef, en kon hoogstens beskuit by die tee kry, want die Verwoerds sou later onthaal word.

  • Ander belangrike mense in MER se lewe?
    O ja, baie. Maar vir my was miskien die interessantste haar patriotiese broer Frits, wat in Transvaal by ’n goudmyn werksaam was. In die Anglo-Boereoorlog was hy ’n bittereinder. Teen die einde van die oorlog was hy behulpsaam met die smelt van goud om ’n bietjie goue ponde vir die republiek te slaan en het as beloning ’n klont goud gekry. NŠ die oorlog is hy daarmee na Nederland, het dit daar van die hand gesit, en daarna ’n lang reis in Europa onderneem: visgevang in NoorweŽ, operas gaan kyk in Duitsland, kunsmuseums besigtig in ItaliŽ en piramides besoek in Egipte. Maar die eintlike doel van sy reis was om vir hom “’n nasie te soek”, soos hy gesÍ het. Met die oorgawe het hy dit reggekry om nie ’n eed van getrouheid aan die Britse koning af te lÍ nie. Hy het toe besluit om Turkse burgerskap te aanvaar. En toe die Eerste WÍreldoorlog begin, was hy ’n “vyandsonderdaan”, want Turkye was ’n bondgenoot van Duitsland en dus in oorlog met Engeland en Suid-Afrika. Hy is toe ’n paar dae lank geÔnterneer, tot die owerheid ingesien het hy maak homself heeltemal belaglik en Rothmann weer vrygelaat het. Hy het met sy sterk Afrikaner-nasionalisme ’n groot invloed op MER gehad en was ook tot sy dood haar vernaamste literÍre adviseur.

  • Wat het MER vir ons in 2004 te sÍ?
    Dis die soort vraag wat altyd moeilik is om te beantwoord. Maar daar is tog een ding wat ek wil noem, en dis haar verdraagsaamheid teenoor mense van ander ander rasse, godsdienste en tale, werklik ’n verligte moderne mens. Sy het byvoorbeeld baie Rooms-Katolieke vriende gehad - geen vrees vir die “Roomse gevaar” wat die ouer generasie tog so gekwel het nie. Saam daarmee was sy, soos die ou volksliedjie sÍ, “getrou aan volk en taal”. Met ander woorde, jy kan so modern of postmodern wees as wat jy wil, jy kan nog altyd daarby ’n goeie Afrikaner wees, opkom vir die taal, ens. Ek dink darem dis wat party SÍNetters ook sÍ.

    Van Wyk Louw het in ’n onderhoud oor Pluimsaad opgemerk dat pres Steyn vir hom ’n volmaakte kombinasie was van “die destydse deursneeboer en die ontwikkelde man”. So was was MER ’n kombinasie van die deursneehuisvrou en die intellektueel.



    LitNet: 1 Junie 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.