Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

André P Brink vang die koeëls met sy tande

Zani Botes

Heupvuur vs André P Brink

Jy het onlangs ’n Afrika-besoek afgelê. Waar was jy oral en wat was jou ervarings?
Ek was in Bamako, Mali, vir ’n week lange kongres van skrywers uit Franssprekende Afrika (plus Franse gebiede soos Martinique, Guadeloupe, Haiti en dies meer). Oorweldig deur hitte, vlieë, muskiete, stof - en ongelooflike hartlikheid en menslikheid. ’n Herontdekking van die onuitroeibaarheid van die MENS in Afrika. (En pragtige mense boonop, mans en vroue, met gesigte soos maskers uit ebbehout gesny.) Dit was ontroerend om te sien hoe, te midde van al die geweld en misère en ellende van Afrika, mense in hul derhonderde aanstroom - baie van hulle kinders - om te hoor hoe daar oor LETTERKUNDE gepraat word. ’n Absolute honger na boeke en lees. (Ek moes vragte boeke agterna stuur om in ’n paar van die hongerkrampe te help voorsien.)

In watter tale het Anderkant die Stilte al verskyn? Wat lê nog voor vir die boek?
Tot dusver, behalwe natuurlik Afrikaans en Engels, in Nederlands, Frans, Italiaans, Noors, Deens, Sweeds, Fins, Grieks, met nog sowat tien ander tale in die pyplyn. (Net nie Duits nie! Merkwaardig genoeg vind die Duitsers dit te “wreed”. Haha.) Sprake van verfilming, maar dis ’n ding waaraan ek nie glo voordat ek dit op doek sien nie. En in ’n paar lande (dié keer sluit dit wel Duitsland in) word konferensies rondom die boek gereël om Duitse koloniale geskiedenis te bespreek.

Gerugte wil dit hê dat ’n nuwe roman eersdaags verskyn. Is die titel al bekend en wat is die tema?
Ja, ek probeer my ritme volhou van ’n boek al om die twee jaar. Dié een heet Voor ek vergeet - oor ’n ou skrywer van tagtig wat sy lang lewe (oor die grootste gedeelte van die 20ste eeu) oorvertel in terme van al die vroue (reëel en fiktief) wat hom gehelp het om mens te word. So die moderne geskiedenis van Suid-Afrika, vanaf die Groot Droogte tot by Thabo Mbeki, word opnuut beleef via verhoudinge met vroue.

Is jy nog betrokke by die Universiteit van Kaapstad?
Ja, ek is al ’n paar jaar amptelik afgetree, maar gee nog klas onder kontrak, en werk met tesisse, en veral met Skeppende Skryfwerk.

Wanneer gaan jy jou finaal toewy aan slegs jou skryfwerk?
Weet nie. Ek is te lief vir albei tande in my vurk.

Hoe sien die Sestiger die literêre ontwikkelinge in Suid-Afrika in die 21ste eeu?
Vir my lyk dit of ons in ’n bloeityd is. ’n Soort innerlike bevryding het plaasgevind, in Afrikaanse én Engelse skrywers - daar is niks onder die son wat nie ondersoek word nie. Ek sou net graag meer swart skrywers ook in die woelende kolk wil sien - maar daar is wel opwindende nuwe stemme aan die opklink.

Watter resente internasionale romans sou jy vir lesers aanbeveel, en hoekom?
Bernard Schlink se The Reader, oor die ingehoue en ekonomiese wyse waarop dit ’n private verhaal met magtige historiese en sosiale implikasies vertel. Umberto Eco se Baudolino, wat weer dié skrywer se vermoë bevestig om groot historiese en filosofiese vraagstukke in ’n storie vas te vat wat jou met sy vaart en vindingrykgheid boei. Cervantes se tydlose Don Quixote, wat pas in ’n opwindende nuwe vertaling in Engels verskyn het - nog steeds die grootste roman van alle tye.

Benader jy nou jou skryfwerk anders as 30 jaar gelede?
Dis nog altyd net so moeilik en veeleisend (indien nie méér nie); maar die plesier daaraan verbonde is nog net so groot. Elke keer as ek voor ’n nuwe boek inskuif, is dit asof ek vir die eerste keer skryf.

Wat is vir jou die hoogtepunte in jou loopbaan?
Verskillendes, om verskillende redes. Lobola vir die lewe, omdat dit my eerste deurbraak was. Kennis van die aand - nie oor die bohaai daaroor nie, maar omdat ek daarin vir die eerste keer probeer slaags raak het met MY tyd en MY land. Houd-den-bek, omdat die vertelproses deur dertig verskillende stemme my tot die uiterste getakseer het. Die kreef raak gewoond daaraan, omdat soveel wat in die boek vertel word, waar geword het terwyl ek aan die skryf was. Sandkastele, omdat die oorvertel van die geskiedenis deur die lewens van nege vroue my op ’n nuwe manier na die wêreld leer kyk het. En rondom die skryfwerk self: my eerste ontmoeting en gesprek met Jacques Derrida in Parys, baie jare gelede. ’n Oggend by Mandela vier jaar gelede. Die geboorte van my dogter. ’n Besoek aan Camus se graf in Lourmarins in Provence. Te veel om op te noem ...

Waarheen was jou interessantste reis nog ooit?
Bokant die Noordpoolsirkel in Lapland. Of dalk die trek na Dakar in 1987 om die ANC-in-ballingskap te ontmoet ...? Of Chili, saam met Ariel Dorfman ...? Moeilik om te kies.

En miskien is die heel interessantste reis van almal nog steeds dié van mens tot mens.

LitNet: 23 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.