Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ek vra om verskoning

Ek vra om verskoning. Ek vra om verskoning dat ek gebore is. Ek vra om verskoning dat ek ’n Afrikaner is. Ek vra om verskoning dat ek ’n blanke Afrikanerman is.

Dit spyt my. Dit spyt my diep en inniglik. Dit spyt my dat ek voordeel getrek het uit apartheid. Dit spyt my dat ek kan lees en skryf. Dit spyt my dat ek nie ’n ongeletterde is nie. Dit spyt my dat ek ’n pleger van die geskrewe woord is, en nie van die mondelinge tradisie nie.

Ek vra om verskoning. Ek vra om verskoning dat ek nie enige apartheid-militêre installasies gebom het soos mnr. Hein Grosskopf nie, daardie groot held van die bevrydingstryd. Ek vra om verskoning dat ek nie die land verlaat het om militêre opleiding te ondergaan, asook opleiding in revolusionêre oorlogvoering en ondermyningstegnieke wat teen die vyand gebruik kon word nie. Ek vra om verskoning vir my gebrek aan optrede. My gebrek aan optrede het my ’n lid van die vyand gemaak, waarvoor ek om vergiffenis smeek.

Ek vra om verskoning dat ek ’n blanke is. Ek vra om verskoning vir my vader en my moeder, vir my oupa en ouma en almal wat voor my hier was, want hulle is blanke setlaars wat geweld na die land gebring het.

Ek vra om verskoning dat ek nie glo nie. Ek vra om verskoning vir my dekadente rasionalisme wat my verhoed om te glo in die waarheid en in vergiffenis en in verlossing.

Ek vra verder om verskoning dat ek die verkeerde geskiedenis op skool geleer het. Ek vra om verskoning dat ek die name van Piet Retief en Andries Pretorius en Christiaan de Wet en Paul Kruger en Smuts en Hertzog en al die ander geken het. Ek is jammer dat ek nie die rede bevraagteken het waarom ek hierdie name geleer is nie. Ek sou graag vir behandeling wou gaan ten einde te vergeet dat hulle ooit bestaan het. Ek sou graag met ’n skoon geheue wou begin sodat ek die regte dinge en die regte name kan leer. Ek is bereid om my twee-bandige stel van Paul Kruger se biografie wat in linne gebind is, te verbrand, asook ander boeke wat ons ongewenste geskiedenis laat voortduur.

Ek vra om verskoning dat ek nie ’n kommunis was nie en dat ek nie geglo het in die skoonheid van die revolusie en van bevryding nie. Toe ek ’n student was, het ek oorkant me. Barbara Hogan aan ’n tafel gesit en ek het nie haar leiding gevolg deur ’n kommunis te word en deel te word van die werkersmassa se bevrydingstryd nie. Ek wil graag my innige spyt hier en nou laat opteken.

Ek is jammer dat ek poësie gelees het. Ek is jammer dat ek poësie in Afrikaans gelees het. Ek is jammer dat ek my verstand laat besoedel het met die woorde van wit Afrikaners wat dalk apartheid mag ondersteun het. Ek is jammer dat ek geswig het voor die skoonheid van die taal van die verdrukkers. Ek is jammer dat ek ander in my taal verdruk het. Ek is jammer dat ek ander met my taal verdruk het. Ek is jammer dat ek steeds my neerdrukkende taal praat. Ek sal probeer vergeet. Ek wil graag gehelp word om hierdie weersinwekkende woorde van my voorvaders te vergeet wat een en almal ondersteuners van apartheid was.

Ek vra om verskoning dat ek in ’n blanke woongebied gewoon het. Ek vra om verskoning dat ek nie vrywillig na ’n swart woongebied getrek het waar ek aan die dissipline van die werkersmassa onderwerp kon word nie.

Ek vra om verskoning dat ek in ’n swembad geswem het toe ander nie die voorreg gehad het nie. Ek vra om verskoning dat ek leer swem het. Ek vra om verskoning dat ek hoogspring en verspring en tennis en roei geleer het. Ek vra om verskoning dat ek gekyk het na eksklusief blanke sportspanne wat speel.

Ek vra om verskoning vir my bestaan, tans en in die verlede. Ek vra om verskoning dat ek nie my kinderfoto’s vernietig het nie, omdat my bestaan so vir die toekoms behoue gebly het. Ek is bereid om my voetspore as kind op die strand uit te wis, indien hulle oorgebly het. Ek versoek bloot ’n bietjie tyd, ’n bietjie uitstel, om al dié tekens van my vorige bestaan op te spoor en uit te wis. Ek vra nederig dat hierdie uitstel aan my verleen sal word. Ek sal alle foto’s vernietig en alle aantekeninge wat ek gemaak het en selfs potloodkanttekeninge in boeke wat ek gelees het. Ek sal alle tekens van literêre of artistieke bedrywigheid ashoop toe stuur.

Ek vra om verskoning dat ek ’n kind was. Ek vra om verskoning dat ek ’n kind met blou oë was. Ek vra om verskoning dat ek kinders gehad het. Ek kan slegs ter versagting pleit dat hulle nie blou oë het nie, maar ek besef dat dit nóg hulle, nóg my, gaan red. Ek vra om verskoning dat ek hulle in die wêreld gebring het en my bloedlyn laat voortduur het, ’n bloedlyn waarvoor slegs om verskoning gevra kan word.

Ek vra om verskoning vir my stand. Ek vra om verskoning dat ek ’n motor besit. Ek vra om verskoning dat ek ’n huiseienaar is. Ek vra om verskoning dat ek op die aandelemark gespekuleer het. Ek vra om verskoning dat ek eenkeer ’n polowedstryd in geselskap van merendeels mense van my eie ras bygewoon het. Ek bely hierdie gruwelike daad.

Ek vra vergiffenis. Ek vra vergiffenis omdat ek ontvang het. Ek vra om vergiffenis dat ek liefde ontvang het. Ek sal al diegene haat wat my liefgehad het omdat hulle een en almal apartheidsondersteuners was. Ek sal my moeder se stem uit my geheue uitwis, haar woorde toe sy my as kind getroos het tydens siekte of as ek seergekry het. Ek sal vergeet dat sy vir my veselperskes in die bad gebring het of dat sy vir my gesê het om nie onder die komberse met ’n penflits te lees as ek veronderstel was om te slaap nie. Ek vra om verskoning dat ek onder die komberse gelees het. Ek vra om verskoning dat my moeder dit vir my gesê het. Ek vra om verskoning vir my moeder. Ek vra om verskoning vir haar bestaan en dié van my vader en dié van my naaste familie. Ek wens dat hulle nooit bestaan het nie. Ek wens dat ek nooit bestaan het nie.

Ek vra om verskoning dat ek Westerse lande besoek het waar daar vele blankes soos ekself is. Ek vra om verskoning dat ek na skilderye in museums gekyk het en die argitektuur van geboue bewonder het. Ek sal poog om die skilderye van Boucher en Rubens en Watteau en Rembrandt en Vermeer uit my geheue te verban. Ek sal nooit weer na ’n skildery kyk nie.

Ek vra om verskoning omdat ek die maaksel van Westerse kapitalisme, kolonialisme en apartheid is. Ek vra om verskoning vir Westerse kapitalisme, kolonialisme en apartheid. Ek vra om verskoning vir wat Jan van Riebeeck die land aangedoen het. Ek vra om verskoning vir die Trekboere en die Boere en die Afrikaners en wat hulle die land aangedoen het. Ek vra om verskoning vir Gerard Moerdyk en die Voortrekkermonument. Ek vra om verskoning dat ek as kind saam met die res van my klas die Voortrekkermonument besoek het en dat ek die reliëfwerk van Voortrekkers wat op Zoeloes skiet, gesien het. Ek vra om verskoning vir elke Zoeloe wat deur ’n Voortrekker gedood is. Ek vra om verskoning vir elke Voortrekker wat nie deur ’n Zoeloe gedood is nie. Mag die Voortrekkermonument met die aarde gelykgemaak word, en my geheue daarmee saam. Ek vra om verskoning vir my geheue en sy vermoë om ongewenste stof te bewaar.

Ek is jammer oor my grootouers aan albei kante. Ek is jammer dat hulle in hierdie grond begrawe is. Ek is veral jammer oor my grootouers aan moederskant wat op hul plaas in die veld begrawe is. Hulle was setlaars en kan aanspreeklik gehou word daarvoor dat hulle die setlaarstamboom laat voortduur het waarvan ek die uitvloeisel is. Ek is jammer oor die geluid wat die wind maak as dit die grashalms roer wat oor hul grafte gegroei het. Ek wil my opregte spyt uitspreek dat die wind so die indruk wek dat elke teken van hul voormalige teenwoordigheid nie vergaan het nie. Ek sal alle herinnering aan my grootouers vernietig, sowel as herinnerings aan die grashalms en aan die wind wat waai. Ek sal insgelyks ’n verskoning van die grashalms en van die wind afdwing, indien ek daardie plek ooit weer te siene kry.

Ek vra om verskoning vir my bourgeois-dekadensie. Ek vra om verskoning dat ek Franse sjampanje op my verjaardag gedrink het en dat ek talmend die borrels in my mond geproe het. Ek vra om verskoning dat ek luukse artikels en boeke en opnames van Westerse klassieke musiek wat deur witmense gespeel word en deur witmense waardeer word, aangekoop het. Ek vra om verskoning dat ek kamermusiekkonserte bygewoon het waar slegs mense van my eie ras teenwoordig was. Ek vra om verskoning dat ek na die gesigte van die konsertgangers gestaar het en deur hulle geraak is, want hulle was wit gesigte. Ek vra om verskoning vir die soberheid en strakheid van daardie gesigte. Ek vra om verskoning vir elke noot wat gespeel is deur die violis en deur die pianis. Ek vra om verskoning dat ek na rassistiese musiek geluister het. Ek vra om verskoning vir al my gewoontes wat verwydering bring tussen my en die werkersmassa van hierdie land.

Ek vra om verskoning dat ek nie eerder om verskoning gevra het nie. Ek vra om verskoning dat ek nie met groter oordaad om verskoning vra nie. Ek vra om verskoning dat ek nie my verskoning aanbied met trane in my oë en op my knieë nie. Ek vra om verskoning dat ek nie die vermoë aangeleer het om in die openbaar voor groot skares aan’t huil te gaan nie.

Ek is jammer. Ek is jammer dat ek die name van dorpe en stede wat deur die Voortrekkers gestig is, soos Pretoria of Krugersdorp of Bloemfontein geleer het. Ek is jammer dat ek nie in staat is om die nuwe name uit te spreek nie en dat ek steeds die ou name onthou. Ek sal probeer om die ou name uit my geheue uit te wis, tesame met alle wete van my vorige bestaan.

Ek vra om verskoning dat ek boeke besit waarin die woorde “kaffer”, “bantoe” en “naturel” voorkom. Ek sal die boeke laat veras en vergeet dat ek hulle ooit besit het. Ek sal voortaan alle boeke keur en afwys wat nie ooreenstem met die beginsels van nie-rassisme en nie-seksisme nie.

Ek vra om verskoning omdat ek nie die nodige respek betoon nie. Ek vra om verskoning omdat ek nie die regte stemtoon eerbiedig as ek my verskoning aanbied nie. Ek vra om verskoning omdat ek nie die regte liggaamshouding inneem en my blik afwend in die teenwoordigheid van hooggeplaastes nie.

Ek vra om verskoning dat ek praat. Ek vra om verskoning dat ek moet praat as ek hierdie verskoning aanbied. Ek vra om verskoning dat ek die lug besoedel met die klanke van my stem en dat ek nie vroeër al stilgebly het nie. Ek sal stilbly. Ek sal my mond hou.

Dan Roodt

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.