Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor groepe en groepvorming

Waar loop die grense van die Afrikaanse groep? Dit is die fundamentele vraag wat tans aan die orde is in die debat rondom Afrikaans. Dit het ook wyer implikasies vir die Suid-Afrikaanse politiek.

My beswaar teen die Groep van 63 is dat daar oorhaastig ’n verdelingslyn getrek word tussen Afrikaners - of dan Afrikaanssprekendes met ’n sterk groepsgevoel - en die res. Die gekibbel oor die terme “minderheidsregte” en “minderheidsbelange” (wat toe uiteindelik aanvaar is) verdoesel geensins die neiging om almal wat tans stry vir groter erkenning vir Afrikaans in een kraal saam te jaag as ’n minderheidsgroep binne die groter Suid-Afrika nie. Miskien gaan dit noodwendig iewers in die toekoms gebeur, maar wat my benoud maak is dat dit veral tans voortydig kan plaasvind en so lei tot ’n verskraling van Afrikaans en die ruimte en funksies wat die taal steeds beklee.

Indien die Groep van 63 bloot ’n breë belangegroep wil bly wat hom nie noodwendig tot bepaalde standpunte wil verbind nie, sou ek met graagte as lid wou aanbly. Die vinnige verkiesing van ’n bestuur en voorsitter stel egter die res van ons in die netelige situasie dat ’n hele aantal posisies nou deur die woordvoerders ingeneem kan word wat die res van ons sal moet verdedig. Myns insiens het die hele debat oor Afrikaans en die toekomstige rol van die taal in Suid-Afrika nou maar eers begin.

Ek het groot simpatie met ZB Du Toit se analise aangaande die gebrekkige legitimiteit van die huidige staat wat neerkom op ’n vorm van rasseoorheersing. Die manier waarop Afrikaans inderdaad deur die staat tot ’n minderheidstaaltjie gereduseer word met Engels as “lingua franca” in ’n spesiale en onaanvegbare posisie, is egter deel van die strategie van ons regering om sy potensiële politieke opponente beide kultureel en polities te oorheers. Dit is Machiavelliaanse magspolitiek soos iemand al aangedui het. Solank as wat ons Afrikaans sien as bloot een van tien “minderheidstale” teenoor een “meerderheidstaal”, speel ons op baie maniere in die hande van hierdie oorheersing. Myns insiens kom minderheidspolitiek daarop neer dat ’n mens erken dat jy in ’n minderwaardige posisie verkeer teenoor ’n meerderheid en dan noodgedwonge op sekere etniese regte aanspraak maak vanuit ’n morele oogpunt.

Daar is vele ander strategieë oop vir ons, waarvan sommige radikaler is as ander. Dit is belangrik dat ons sover moontlik die debat, asook ons opsies, moet oophou. Die vorige Franse kulturele attaché in Suid-Afrika, M Laurent Devèze, het byvoorbeeld op ’n keer gesê dat alles, selfs die noodsaak vir demokrasie in Suid-Afrika, bevraagtekenbaar is. Waarom kan ons nie alles aan ’n kritiese analise onderwerp nie?

Die ideologie het nog altyd ’n groot rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel, en ons het nog lank nie ’n noemenswaardige aftakeling daarvan opgemerk nie. Om nou al bepaalde posisies in te neem, terwyl die regering nog nie eens gereageer het op die taalaansprake nie, is hoogs voortydig. Totdat ons een of ander vorm van reaksie kry op die toenemende kritiek op die taalbeleid, is enige verdere standpunte oorbodig.

In my stuk oor “Die krisis van Suid-Afrikanerskap” (te sien op www.praag.org) het ek aangetoon dat die marginalisering van Afrikaans nie net ’n krisis vir ’n Afrikaanse identiteit skep nie, maar ook vir ’n Suid-Afrikaanse identiteit. Daar is empiriese getuienis vir hierdie siening van my in ’n onlangse stuk navorsing wat vir die SAUK gedoen is oor Afrikaans op TV. Soos een (toevallig “swart”) respondent dit in die verslag gestel het: “As jy Afrikaans breek, breek jy Suid-Afrika.” ’n Ander voorbeeld van die verwerping van die kunsmatige Engelse smeltkroesidentiteit wat op SABC 3 uitgestal word, is dat 30% van Afrikaanse TV-nuuskykers op SABC 2 Engelssprekend is. Meer Engelssprekendes kyk blykbaar na die Afrikaanse nuus op televisie as na die Engelse nuus! Waarskynlik omdat dit meer “Suid-Afrikaans” aandoen.

Die hele Suid-Afrika sit met ’n identiteitskrisis. Dit is een van die redes waarom soveel mense emigreer. Ek het selfs al ’n teorie gehoor dat bendes, bendegeweld en misdaad gedeeltelik die gevolg is van mense wat vanweë hul kulturele identiteitskrisis angsvallig probeer aansluiting vind by groepe soos bendes wat hulle ’n gedragskode en ’n kultuur bied. Miskien kan die bendeleiers in die townships ons meer van kultuur vertel as Minister Ben Ngubane. In ’n sekere sin is die agbare Minister besig om kultuur te vernietig, terwyl bendeleiers waarskynlik op hulle manier kultuur skep. Dit is oor en oor bewys dat Afrikaans oral in die informele kultuur ’n rol speel, in flaaitaal, ensovoorts. Die veelheid stemme wat tans in Afrikaans opklink, staan ook in skrille kontras teenoor die eenselwige ideologiese bargoens wat in kleurlose cliché-Engels dag na dag uit die monde van regeringswoordvoerders stroom.

Ek sien Chris Louw se aanklag teen Willem de Klerk as gerig teen iemand wat voorgee dat hy al die antwoorde het, terwyl dit duidelik is dat hy ewe seer rondtas as die res van ons. Die Groep van 63, ten minste in sy aanvanklike verklarings, skep insgelyks die indruk dat hy reeds oor ’n aantal sekerhede, of antwoorde, beskik. Die soort arrogansie wat uit die stelling spreek dat intellektuele, of filosowe, nou die volk moet lei (Johann Rossouw op KykNet), is ook negatief as ’n mens dink aan die beskamende verhaal van twintigste-eeuse intellektuele wat hulself dikwels agter die mees totalitêre denkrigtings soos Stalinisme, Maoisme, ensovoorts geskaar het. Michel Foucault, die vermaarde Franse filosoof, het in die beginstadium van die Iranse revolusie rondom 1979 selfs die Ajatolla Khomeini verdedig. (Lees in dié verband Paul Johnson se boek, Intellectuals). Myns insiens moet ons nog baie meer vrae stel, eer ons die lyne tussen groepe begin trek, of onsself tot ’n spesifieke beleid of strategie verbind.

Die huidige verengelsingsbeleid van die regering is, soos ek elders reeds aangedui het, ’n reaksie op Verwoerdianisme. Die vergange spreuk uit Tanzanië, meen ek, van “to found the nation, we must kill the tribe” word klakkeloos hier toegepas al was dit so ’n klaaglike mislukking in die res van Afrika. Die ANC / SAKP is ’n reaktiewe beweging wat geensins oor sy eie denke beskik nie, maar bloot reageer op die voorafgaande (Verwoerd). Ons moet nuwe kragte skep waarteen dit kan reageer. Pleks daarvan om ’n nuwe eenheid rondom Afrikaans te skep, behoort ons rasse-identiteit aan te val. Die Afrikanistiese kultus van swart, ’n reaktiewe en koloniale ideologie, behoort afgekraak en belaglik gemaak te word. In reaksie daarop sal die regering en sy ideoloë hulself meer en meer beroep op essensialistiese argumente rondom ras en Afrikaanskap wat al hoe belagliker gaan raak. Uiteindelik gaan die hele amptelike kultuur- en taalbeleid gedelegitimeer word en ’n niet skep wat deur Afrikaans en ’n kulturele en literêre oplewing in dié taal gevul sou kon word. Voordat jy kan skep, moet jy egter eers vernietig. Die manier waarop die mites van ’n vorige geslag tans in Afrikaans vernietig word, gee my hoop. Ons moet nog meer destruktief raak, en ons aksie insgelyks op die polities korrekte mites van ons tyd vestig.

Tydens elkeen van die vorige taalbewegings het Afrikaanssprekendes gepraat as ’n verowerde of verarmde groep wat maatskaplik en ekonomies totaal deur Engelssprekendes oorheers is. Hulle het ’n paar gedigte en ’n naïewe idealisme aan hulle kant gehad, en teen alle verwagtinge in die taal laat oorleef en gedy. Vir die eerste keer in die geskiedenis is dit nie meer die geval dat ons, wat sosiale status of geleerdheid betref, hoegenaamd hoef terug te staan vir ons Engelssprekende landgenote nie. Indien die oplaaiende energie in Afrikaans tot uitbarsting kom in ’n breë kulturele beweging, twyfel ek nie in die minste dat Suid-Afrika oor twintig jaar meer Afrikaans as Engels gaan wees nie. Dit is miskien selfs ’n voorwaarde vir die sukses van demokrasie in Suid-Afrika, want dit is duidelik dat die globale identiteitloosheid wat tans veld wen, gaan eindig in ’n patetiese groepvorming rondom ras of velkleur, met ’n uiteindelike maatskaplike inploffing waarvan Zimbabwe tans ’n voorbeeld is. Ons moet die fatalistiese aanvaarding van hierdie uitgestippelde weg ten alle koste vermy.

Soos my vriend en medetaalstryder Carel van der Merwe altyd sê: stel die visier hoër. Afrikaans moet sy posisie as kultuurtaal herwin, en nie tot dialek van ’n onbenullige minderheid gereduseer word nie. Gebruik Afrikaans asof dit ’n universele taal is. Verdedig die reg van almal om Afrikaans te praat, nie net van ’n minderheid nie. Ondermyn al die veronderstellings van die nuwe nasionalisme wat geboorte moet gee aan ’n Engelse nasie aan die suidpunt van Afrika. Gebruik die krag van Afrikaans soos Chris Louw dit onlangs aangewend het.

Wees liewer ’n anti-groep as ’n groep.

Kortom, vernietig die “African Renaissance” as nuwe swart bewussyn en alles sal vanself regkom.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.