Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die sloping van ’n hegemonie: ’n kritiek op literêre anglosentrisme

Die Afrikaanse letterkunde, en by uitbreiding letterkunde in Suid-Afrika, het voor ’n nuwe monster te staan gekom.

Eens op ’n tyd was daar Lammie Snyman, Kobus van Rooyen, en sensuur wat op ons toegepas is in die naam van ’n preutse filistinisme. Vandag het die wiel gedraai en Ou Sensuur het plek gemaak vir Nuwe Uitsluiting. Trouens, ek wil selfs nie eens die onderskeid Oud/Nuut tref nie, want in vele opsigte steek ons vas by dieselfde probleem, naamlik ’n filistynse benoudheid wat letterkunde en die kuns moralisties wil benader.

Op ’n manier was die sensuur van voorheen nie so ernstig nie, want dit is burokraties en daarom absurd toegepas, en dit was ’n groter bron van vermaak as enigiets anders. Tans egter, is daar ’n veel meer sinistere poging om die kunstenaar of skrywer lam te lê deur van hom ’n partypolitieke marionet te maak na die voormalige Oos-Europese model.

Hierdie aanslag — daar is altyd, lyk dit my, ’n “aanslag” in Suid-Afrika — word gelei deur ’n groep Engelse literatore en skrywers wat hulself ná aan die huidige regering voel. Hulle denke sluit egter ook nou aan by die tweehonderdjarige Engelse koloniale tradisie in Suid-Afrika wat in sy antipatie teenoor Afrikaans en ander inheemse kultuuruitinge sy raison d’être gevind het. Dit is die kulturele ekwivalent van Amerikaanse carpet bombing tydens die Viëtnam-oorlog of om ’n hele woud — ’n inheemse woud — met agent orange uit te wis.

Dat hierdie vorm van denke institusioneel gesteun en as ’t ware gesubsideer word deur veral Amerikaanse universiteite, is geensins ’n verrassing nie. As loki van ’n soort geleerde filistinisme, is vele Amerikaanse kampusse al gesatiriseer om hul leë en begriplose omgang met letterkunde en filosofie. Die klakkelose oorname en appropriasie van denkvorme en kulturele artefakte uit ander wêrelddele vorm deel van hul bedryf, asook die mees benepe moralisme rondom taal, die erotiek, ensomeer.

Literêre anglosentrisme — die jongste vorm van sensuur in Suid-Afrika — is onlangs geboekstaaf deur ’n groep Engelse literatore en skrywers waarvan die meeste uiteraard aan buitelandse universiteite verbonde is.

Die titel van die bundel opstelle is Writing South Africa1, waarin ek ’n ironiese verskuilde totalitarisme lees, want dit impliseer dat die skrywers die gehele Suid-Afrika vir ons gaan skryf, gaan tóéskryf as ’t ware. Vanuit hierdie sentriese en gesentreerde perspektief wat ek hieronder by wyse van ’n aanhaling illustreer, bevind ons ons op die rand van dinge, aan “die einde van die wêreld”, in Afrikaans of Zoeloe of Xhosa of Sotho. Ons is die PB’s, en hulle die gemotoriseerde besoekers wat in- en uitvlieg om tot ’n kitsbegrip van ons te kom.

Die studie van Suid-Afrikaanse letterkunde is, lyk dit my, nie meer vir ons plaaslikes of PB’s beskore nie, want sekerlik kwalifiseer ons nie vir die stipendia, “scholarships”, beurse en skenkings waarsonder die eksklusiewe “South African literature” nie kan voortbestaan nie. Sonder om nou te moraliseer, want dit gaan nie vir my hier om geld nie, maar om iets so eenvoudig en banaal soos “liefde vir letterkunde”, kan ’n mens sê dat hulle skryf omdat hulle betaal word daarvoor, terwyl ons dit doen omdat ons genot daaruit put, omdat ons dit nie kan verhelp nie.

Writing South Africa is seker tot dusver die sterkste poging om ’n Engelse hegemonie in die letterkunde te loods.

Op ’n manier bestaan so ’n hegemonie reeds vir die skrywers, te oordeel na die selfversekerde toon waarop die term “South African literature” byna deurgaans gebruik word. Daar word nêrens gepoog om ’n spesifieke definisie aan die term te verleen nie, behalwe in die inleiding waar daar op onthullende wyse gepraat word van ’n fokus:

“We focus on writing in English, both for the sake of the coherence of the volume and because it is with this body of literature that South African culture engages most fully with an international audience.”2
In hierdie sin word die sentriese aard van hierdie literêre begrip baie duidelik gestel. Die Engelse literêre korpus is dié wat “op die mees volkome manier” met ’n internasionale gehoor “skakel”. Onder ’n internasionale gehoor word daar ’n Engelssprekende gehoor in die metropool (Engeland/Amerika) bedoel, nie lesers in Brasilië of Suid-Korea nie. Daar word ook ’n implisiete waarde-oordeel hier uitgespreek: skryfwerk in Engels is die enigste wat ’n internasionale gehoor waardig is; by implikasie is die res oninteressant en waarskynlik van nul en gener waarde. Byna as ’n soort skuldbelydenis word daar dan bygevoeg:
“However, any attempt to exclude writing in the many other languages spoken in South Africa — the country now boasts eleven official languages — would be highly artificial, and a number of the contributors (who themselves belong to a variety of language groups) extend their discussion beyond works in English. All the major genres are treated, and a number of the contributors respond to the work, creative or critical, of other contributors, reflecting the vigorous debates about South African culture now in progress.”3
Dog kyk ’n mens na die bibliografie agter in die boek, word bloot Engelse werke genoem, iets wat in die taal van die redakteurs inderdaad neerkom op ’n “kunsmatige uitsluiting”. Die ander tale word ook nie eens opgenoem nie, want dit is ’n soort gebabbel van die inboorlinge wat wel bestaan en nie geïgnoreer kan word nie, maar waarby jy nie meer as ’n sekonde hoef stil te staan nie. As ’n mens wel na uitings in die “randtale” vanuit die Engelse sentrum kyk, doen jy dit in ’n gebaar van koloniale welwillendheid.

En dan volg daar ook die pretensie tot volledigheid (“all the major genres are treated”) waaronder die leser moet verstaan dat hierdie die volledige beeld van skeppende aktiwiteit in Suid-Afrika verteenwoordig.

Die skryendste uitsluiting wat die boek pleeg, is in die weglating van figure soos Karel Schoeman, Elisabeth Eybers, Wilma Stockenström, Etienne Leroux, Breyten Breytenbach, om nou maar net enkeles te noem, en ’n hele aantal ander skrywers wat tot die heel belangrikstes behoort wat Suid-Afrika oor die afgelope twee, drie dekades geproduseer het. Maar hulle is natuurlik nie Engelse skrywers nie, vandaar die feit dat hulle nie kwalifiseer nie.

In hierdie opsig moet ’n mens Breyten Breytenbach gelukwens dat hy, volgens Attridge/Jolly, geweier het om tot die bundel opstelle by te dra, want ek dink geen regdenkende skrywer behoort by so ’n onbetaamlik etnosentriese, koloniale en byna rassistiese projek betrokke te raak nie. ’n Mens kan insgelyks Breytenbach se ongemak met hierdie anglosentriese paradigma goed begryp, wat reëlreg indruis teen sy oeuvre en sy huidige standpunte oor die regte van Afrikaanstaliges.

Dit strek vir André Brink geensins tot eer dat hy hom wel met hierdie versameling geassosieer het nie. Dit is waarskynlik die grootste faux pas deur ’n Afrikaner sedert Andries Treurnicht die Milneriaanse benadering tot taalmediumkeuse in Soweto in 1976 probeer toepas het. Hoe kon Brink homself verlaag deur sy naam te voeg by hierdie bundel met sy skandelik tendensieuse etniese opvatting van letterkunde?

Ek keer aanstons terug na Brink se stuk, wat prominent ná die inleiding figureer, waarin daar ook andere, radikale mistastinge voorkom. Hiermee wil ek ook ’n uitdaging rig aan al die bydraers tot Writing South Africa, soos ek onlangs vir Nadine Gordimer tot ’n debat wou nooi, om hul jammerlike, anglosentriese, filistynse, oningeligte, benepe en bevooroordeelde konsep van letterkunde te probeer verdedig.

Hulle kan gesamentlik of afsonderlik ’n repliek lewer, en waarskynlik gaan hulle dit nie ontkom nie, want ek lewer hier kommentaar op amper elke individuele bydrae in die bundel, meer en minder breedvoerig onder die rubriek van ’n sloping. Pleks van ’n knusse Engelse huisie met chintz en blomgordyne en watnog voorsien van ’n rooibaksteenaansig en die Union Jack wat iewers daarbo wapper, waaronder ons “South African literature” moet verstaan, gaan daar bloot ’n hoop gebreekte bakstene en stof en bou-afval oorbly.

Sloping, vir diegene van my toehoorders wat geen Afrikaans verstaan nie, want Amerikaanse universiteite wemel mos van Franse spesialiste wat geen Frans ken nie, en Suid-Afrikaanse spesialiste wat geen Afrikaans of ander plaaslike taal magtig is nie, beteken in Engels “demolition”, die sogenaamde “demolition job”.

Maar, en nou raak dit sekerlik baie erg Germaans vir ons anglosentriese vriende, ’n mooier term is vir my die Duitse Abbau, letterlik “om af te bou” (ww. abbauen) wat vir my ’n minder geykte vorm is van die “dekonstruksie” wat ook, helaas, natuurlik ’n trans-Atlantiese kampusmodeverskynsel benoem.

In aansluiting by Abbau, is daar ’n ander Heideggeriaanse term wat ter sake is: dié van Abgrund, oftewel afgrond, wat staan teenoor Grund. Want huise, selfs Engelse huise, word op die grond gebou, en die maklikste manier om hulle te sloop is bloot om die grond onder die mure weg te kalwe waarna hulle vanself omval.

Heidegger verwys in sy bespreking oor die Syn na die aard van sinloosheid as hy sê:

“Der Sinn von Sein kann nie in Gegensatz gebracht werden zum Seienden oder zum Sein als tragenden ‘Grund’ des Seienden, weil ‘Grund’ nur als Sinn zugänglich wird, und sei er selbst der Abgrund der Sinnlosigkeit.”4
Ons hoef ons nie hier met die Syn op te hou nie; wat belangrik is, is Heidegger se insig in die aard van begronding. Dinge word slegs in taal begrond, en geen teenstelling tussen “sin” en “syn” is moontlik nie. Die “grond” van sin is inderdaad ’n afgrond, ’n sinloosheid.

Waarskynlik irriteer dit Attridge/Jolly en hul bydraers in ’n hoë mate dat ek hier na ’n Duitse skrywer verwys, want Duits is ook lank nie meer ’n taal waarmee “ ’n internasionale gehoor ten volle betrek” word nie. Maar soos ek binnekort sal aantoon, is hul eie denke ook nie suiwer Engels nie, wat myns insiens die idee van “internasionale” en dus magtige Engels-sentriese denke sterk in die gedrang bring.

Maar terug by sinloosheid en absurditeit. Die poging om ’n “fokus” op slegs Engels te verdedig, faal omdat dit in samehang met ’n patetiese, waarskynlik polities-korrekte poginkie om nie “eksklusief” te wees nie, genoem word (sien bogaande aanhaling).

Wat is meer ekslusief as ’n “fokus”, ’n blik wat nie net die veld vernou nie, maar ook die diepte beperk? Die uitsluiting van die ander taal (tale) wat die bydraers tot Writing South Africa pleeg, is in hul eie woorde “kunsmatig”, met ander woorde onnatuurlik. Verkieslik is Engelse oorheersing iets natuurliks wat ’n mens nie behoort te bevraagteken nie.

Daar is ’n vanselfsprekendheid waarmee die hele korpus van derduisende Afrikaanse boeke van die afgelope eeu en langer geïgnoreer word in die naam van internasionalisme (wat seker ook kan vertaal as Amerikaanse imperialisme) wat ewe seer “natuurlik” vir die Engelse bydraers voorkom.

Van daar dan die rare gebruik van die woord “kunsmatig” waarmee Writing South Africa as ’t ware in die voorwoord sy eie projek, naamlik om ’n uitsluitlik Engelse literêre tradisie in Suid-Afrika te vestig, ondermyn. Die absurditeit hiervan word verder uitgebrei deur die gedagte dat “sommige van die skrywers hul bespreking verder neem as werke in Engels”. As Suid-Afrikaanse letterkunde wel gelyk is aan “South African literature”, wat lê “anderkant Engelse werke”? Is dit bloot ’n monstrueuse nie-letterkunde?

Is Attridge/Jolly et al miskien besig om ’n grap te maak? Te oordeel na die nogal serieuse aanbieding van die tekste in Writing South Africa, kennelik nie. Trouens, die gepoogde begronding van ’n eksklusief Engelse “South African literature” doen soms nogal desperaat aan, soos byvoorbeeld waar Koos Prinsloo onder die rubriek “gay South African writing” ingesluit word. Het Prinsloo dan in Engels geskryf vir die internasionale of internasionalistiese leser? Of word hy gerehabiliteer deur die feit dat hy dood is en ’n Vigs-lyer was?

Maar genoeg van hierdie algemene besware. Kom ons gaan kyk in besonderhede waarop “South African literature” gegrond is. Ná my kommentaar op die individuele opstelle, wat eintlik ’n heel prettige en Nietzscheaans genotvolle takie is, gesien my jare lange lyding aan daardie boskollege, Wits, waar ek ook aan die parogiale nydigheid en uitsiglose gebrek aan finesse van “Engelse denke” in Suid-Afrika blootgestel is, keer ek terug na die teoretiese probleem van ’n “Suid-Afrikaanse letterkunde”.

André Brink of geraas oor stilte

Veral ná Brink se voortreflike roman Duiwelskloof is dit jammer dat hy hier op die gebied van die kritiek weer eens verval in ’n aantal gemeenplase en wanopvattinge wat ’n mens laat hoop dat hy ’n neger of spookskrywer gekry het om “Interrogating silence: new possibilities faced by South African literature” te skryf, want dit doen afbreuk aan sy reputasie. Afgesien nou van die taamlik geykte konsep “stilte” wat seker vae eggo’s van Derrida en ander se werk uit die sestigerjare moet oproep, en wat eintlik verwant is aan Freud, speel Brink in die hande van die Attridge/Jolly literêr-politieke verwarring wat ’n mens selfs sou vlei deur dit “vulgêr” in die sin van “vulgêr-Marxisties” te noem.

Dit kom daarop neer dat alle Suid-Afrikaanse letterkunde verwant is aan en bloot ’n weerspieëling is van die elementêre en stereotipe apartheidgeskiedenis wat die meer populêre televisiestasies nou al jare lank uitsaai. Hetsy die literêre teks, hetsy estetiese ervaring (die skone of Das Schöne/le beau) beskik oor geen eie spesifisiteit nie. Alles is polities, of polities gedetermineer.

’n Mens wil Brink hier nie te sterk uitsonder vir hierdie “vulgêre” geneigdheid nie, want hy herhaal bloot ’n tendens wat regdeur Writing South Africa voorkom en wat soms vergoeilik word in die naam van die “etiese” (sien bladsy 5-6 van die inleiding). Waar Brink egter myns insiens alle grense van redelikheid en intelligente gesprek oorskry, is in sy verwysings na die Groot Brandoffer, ofte wel soos dit hier genoem word die “holocaust”.

’n Geval van faire plus royal que le roi, ’n poging om homself as Afrikaner hier binne ’n sterk anglosentriese konteks aanvaarbaar te maak deur rassesegregasie in Suid-Afrika met die Groot Brandoffer te vergelyk?

Sy modebewuste afwysing van die “binarism of ‘fact’ and ‘fiction’ ”5 ten spyt, is hierdie tipe verwarring van Suid-Afrika met Nazi-Duitsland onverskoonbaar en spreek dit van ’n bedenklike poging tot histrioniese literêre politiek. Nie net is dit ongelooflik dóm nie, maar dit pleeg presies die soort veralledaagsing of banalisering van die Joodse ervaring van nazisme waarteen die meeste Joodse denkers sterk gekant is.

Die perke van literêr-politieke opportunisme raak vir my nog duideliker wanneer Brink ’n sin skryf soos:

“There is another dimension to the present experience of transition which may inform the new literature in South Africa, and that is the discovery of Africa. Many times in the past Africa has been conquered; its true discovery — certainly in white literature — is still awaiting its moment.”6
’n Mens gooi jou hande in die lug. Maak vol jou vier-by-vier en kom ons gaan op safari! Binne die kampusgeroesemoes waar sulke stellings amper as de rigueur beskou word, mag dit miskien nie opval nie, maar vergun my ’n paar kritiese en waarskynlik retoriese vrae oor Brink se woorde:
  • Waar is die “nuwe letterkunde” in Suid-Afrika? Is dit Miriam Tlali (waarby ek nou-nou uitkom) of dalk Nadine Gordimer se wending met The House Gun? Wat is die premisse van hierdie “nuwe beweging” wat so ongesiens by ons verbygegaan het?
  • Waarom moet ons Afrika ontdek as ons reeds sedert die vroegste geskrifte in Suid-Afrika daarmee besig is? Het die Afrikaanse letterkunde nie talle voorbeelde van Afrika-entoesiaste nie, soos byvoorbeeld Sangiro? Daar is ’n baie nou grens tussen ’n gemoeidheid met Afrika soos mense dit “internasionaal” verstaan, en kitsch, soos enige besoek aan ’n snuisterywinkel naby ’n Suid-Afrikaanse vyfsterhotel vir Brink behoort te oortuig;
  • Hoe lank gaan ons nog moet saamleef met die patetiese rassebewustheid van wit letterkunde/swart letterkunde? As Brink enigiets begryp het van die Franse outeurs wat hy soms lustig aanhaal, dan behoort hy te besef dat die sogenaamde “dood van die outeur” ook die “dood van die wit of swart outeur” beteken. Óf ons stap af van die naïewe biografiese opvatting van die boek as synde geskryf deur ’n wit of swart outeur met sy persoonlike psigologie soos ’n snuisterymasker daaragter, óf nie. Jy kan nie jou à la mode opvattinge oor tekstualiteit en dekonstruksie en watnog handhaaf en terselfdertyd die luukse van bevolkingsklassifikasie vir letterkunde behou nie. Get real! om dit nou gepas Anglo-Amerikaans te stel.
Peter Horn of die toelating van ’n Trojaanse perd

Peter Horn behoort hom ook ietwat ongemaklik te voel binne die streng anglosentriese opset van Writing South Africa, want volgens die biografiese aantekeninge is hy ’n professor van Duits. Dus nie suiwer internasionaal Engels nie.

Sy bydrae sondig ook verder teen die Attridge/Jolly-ideologie aangesien hy sommer vroeg-vroeg na Lacan verwys. Nou, miskien vergis ek my en het Kaliforniese kampusgangers my al verkeerd bewys, maar daar is weinig Engels aangaande Lacan. Dit klink miskien vitterig om die aandag hierop te vestig, maar gesien die episteem van talige uitsluiting wat hier werksaam is, lyk dit my problematies as mense wat fokus op Engels hul kamera laat dwaal na die nie-Engelse, want uiteindelik sluit die klas van nie-Engelse tekste tog beide Lacan en die Afrikaanse letterkunde in. Horn betrek nog verder vir Don Quixote en Michel Foucault7 wat as ’t ware ’n breuk in die lens veroorsaak, aangesien ons nou verder en verder van Engels verwyder raak.

Essensieel bespreek Horn André Brink se roman Inteendeel, maar dan natuurlik in die Engelse weergawe. Dit bring mens by die vraag: kan André Brink as ’n Engelse skrywer beskou word? ’n Moontlike antwoord word verskaf deur Horn self wat aan die einde van sy artikel om die “internasionale” leser se onthalwe die volgende noem:

“In 1962 and 1963 André Brink contributed significantly to the development of the modern novel in Afrikaans with Die Ambassadeur [The Ambassador] and Lobola vir die lewe [Lobola for life]. With these two novels he immediately became one of the leading figures of the Sestiger movement (the generation of Afrikaans writers of the sixties).”8
In die bibliografie aan die einde van Writing South Africa, word André Brink egter ingesluit as Engelse skrywer afkomstig uit die databasis van die “National English Literary Museum in Grahamstown, South Africa”. Die onhoudbaarheid van die Engelse uitsluitingsmeganisme word goed geïllustreer deur die werk van André Brink, want duidelik vind hier ’n penetrasie plaas van die muur wat daar rondom “South African literature” opgerig is ten einde anderstalige tekste uit te hou.

Brink malgré lui is die Trojaanse perd wat hierdie muur laat omval. Logies behoort enige Afrikaanse skrywer soos Karel Schoeman, Elsa Joubert, Marita van der Vyver, Etienne van Heerden, Breyten Breytenbach wie se werk in Engels vertaal is, dan ook te figureer binne die databasis van onse nasionaal (sic) Engelse literêre museum wat, lyk my, die maatstaf is. Is dit nie ’n Boere-inval nie?

Dit bring mens by die vraag: wat is die kriteria van Engelsheid in Suid-Afrika? Is dit die aksent? Dit is folklore dat Engelse in Suid-Afrika neersien op Afrikaners vanweë hul “horrible accent” as hulle Engels praat. Het die “horrible accent” nou gepromoveer tot literêr-teoretiese kriterium? Gaan die nasionale Engelse literêre museum te Grahamstad stemtoetse op skrywers doen ten einde te bepaal wie toelaatbaar is as Engelse en daarom gerekende skrywers in Suid-Afrika?

Horn se enigsins ideologiese lesing van Inteendeel het sodoende die mure van die Engelse huis laat omval. Kom ons maak dit nog verder gelyk met die grond deur kortliks na die ander bydraers te kyk.

Elleke Boehmer of die periodiseerder van apartheid

Elleke Boehmer voer die absurditeite van Writing South Africa verder deur ’n konsep soos “late apartheid fiction” in te bring.9

Op tipes Stalinistiese of “vulgêre” wyse word daar byna deurentyd in die versameling die aanname gemaak dat as ’n wet op die wetboek geplaas word of as die ANC sy beleid verander, dan neem fiksie ’n wending. Op soortgelyke wyse kan ’n mens daardie politieke fenomeen gebruik om ’n nuwe periode in die letterkunde te boekstaaf. Vandaar dan “late apartheid fiction”. Op ’n manier is ons almal “late apartheid fiction”, soos geskryf deur x aantal morone van buitelandse TV-kanale, maar Boehmer se verbeelding strek nie so ver nie. Vir haar is dit ’n periode in die politiek wat sito-sito op letterkunde toegepas moet word.

Haar stuk gaan oor eindes in Suid-Afrikaanse fiksie waaronder — natuurlik — Engelse fiksie begryp moet word. Sy bespeur die volgende:

“Speaking very generally, what a reader picks up in more recent work — especially during the last phase of apartheid — is a suspension of vision, a hemming in as opposed to a convinced and convincing opening up or testing of options. Choices of plot and style are marked by a kind of havering, even ... a cultural or artistic pessimism, a loss of will, sometimes also by a concern with stylistic or political orthodoxy.”10
Sy bespeur eweneens ’n gebrek aan die “postmoderne” gebruik van ’n “heterogeniteit van verteltegnieke” by hierdie laat-apartheidfiksie, terwyl dit “elders” — waaronder mens buite Suid-Afrika moet verstaan — wel aan die orde van die dag was. Met haar opmerkings oor Suid-Afrikaanse Engelse fiksie, wat enige gesofistikeerde leser merendeels laf, moralisties en vervelig sou vind, kan mens in die breë saamstem, maar dit is juis haar tipering van hierdie opwindende “elders” — in sterk kontras met die saaie plaaslike — wat opval.

Waar is hierdie “elders”? Wel, dit moet natuurlik iewers buite Engelse Suid-Afrika wees, wat ook Afrikaans sou insluit. In weerwil van die konstante poging om “South African literature” op te pomp tot die dominante en “internasionaal” oorweldigende kategorie van letterkunde, bespeur ’n mens in oomblikke soos dié die besef dat die parogiale, bevooroordeelde, oorgepolitiseerde, en simpel versamelinkie tekste wat daar in Engels in Suid-Afrika voortgebring is, juis nie die paal haal nie, selfs nie eens vir die grootste voorstanders en kampioene daarvan nie.

Indien die “stilistiese of politieke ortodoksie” van hierdie tekste opvallend is in jukstaposisie met tekste van elders ter wêreld, hoeveel te meer is dit nie naas die Afrikaanse letterkunde met sy ryke verskeidenheid van style, standpunte en tegnieke wat dieselfde milieu in heel ander terme beskryf nie! In Afrikaans is ons al moeg vir postmodernisme, dit het iets van die Afrikaanse koerantpolemieke van die vroeë tagtigerjare, dit het selfs al Potch gehaal, terwyl dit in Engels in Suid-Afrika nog ontdek moet word!

Graham Pechey, of van laat-apartheid tot post-apartheid

Ná Boehmer volg Pechey, en ons vorder in die literatuurgeskiedenis van “laat-apartheid” tot post-apartheid.

“Post-apartheid” is ook volgens Pechey ’n “kondisie”, waaronder ons waarskynlik ’n eksistensiële staat moet verstaan. Belangrik egter is die konsekwente uitbouing van dit waarna ek eerder verwys het, naamlik die streng periodisering — baie strenger as by Kannemeyer in Afrikaans met sy dekade-indelings — van die literatuurgeskiedenis in terme van apartheid, wat saamhang met die Engelse vulgarisme. Die geskiedenis van letterkunde in Suid-Afrika — waaronder ons uiteraard Engelse letterkunde moet verstaan, want die res tel nie — lyk dus min of meer as volg:

Pre-pre-apartheid
Pre-apartheid
Vroeë apartheid
Middel-apartheid
Laat-apartheid
Post-apartheid

Omdat daar nie so baie in Engels in Suid-Afrika geskryf is nie, is ses kategorieë waarskynlik genoeg om hierdie letterkunde vir ’n paar eeue te tipeer. Die enigste probleem kan ontstaan as ’n mens probeer om die Afrika-renaissance hierby in te pas, want gewoonlik kom die Renaissance voor die pre- en post-periodes in die meeste estetiese geskiedenisse.

Pechey begaan myns insiens ’n geringe kategoriefout as hy byvoorbeeld Age of Iron> beskou as:

“a conventionally ‘realist’ text of the apartheid period”11
... want ek is seker dat dit in terme van bogaande model as behorende tot die “laat”-periode gereken moet word. Of is dit nou “middel-”? Dit mag ook wees dat daar ’n subtiele vormlike onderskeid is waar “konvensionele realisme” tot middel-apartheid gereken word, en sodra die oop einde bykom, dan word dit “laat”.

Laat in die dag vir die Engelse hegemonie, want wat verhoed ons om die Afrikaanse plaasroman as ’n soort pre-middelapartheidvorm te sien? Gemoedelik-lokale realisme kan sodoende bietjie opgekikker word en met ’n hopelike vertaling die belangrike Grahamstadse lys haal. En: ’n mens wonder of HF Verwoerd eendag erkenning sal kry vir die groot bydrae wat hy tot die Engelse literatuurteorie in Suid-Afrika gelewer het?

Ek wil nou ook vir Pechey skok met die volgende gedagte. Terwyl hy hom grotendeels bepaal by JM Coetzee as die Suid-Afrikaanse Engelse skrywer par excellence, wil ek die Engelsheid van Coetzee bevraagteken. In die eerste plaas is Coetzee ’n Afrikaanse van en indien ’n mens Coetzee se outobiografie, Boyhood, lees, kom ’n mens agter dat Afrikaans die taal van sy vader was en Engels dié van sy moeder. Coetzee is dus nie anders as ’n baie groot aantal Afrikaners nie: hy is tweetalig.

Terwyl sommige van ons ’n identifikasie met Afrikaans as eerste taal behou in weerwil van ’n redelike kompetensie in Engels, het Coetzee met Engels geïdentifiseer en publiseer hy in Engels. Coetzee se Engelse identiteit is egter nie sonder wroeging gevorm nie, want in Boyhood sê hy byvoorbeeld:

“If he had a choice between Son and his own father as a father, he would choose Son, even though that would mean he would be irrevocably Afrikaans and would have to spend years in the purgatory of an Afrikaans boarding-school, as all farm-children do, before he would be allowed to come back to the farm.”12
Elders in die teks praat die seun van homself en sy broer as “English only in a way”.13 Terwyl Attridge/Jolly — waarskynlik met reg, want hierdie tekste is merendeels gerig op lesers buite Suid-Afrika — ’n internasionale betrokkenheid sien as dié tiperende kenmerk van “South African literature”, druis die plaaslike geworteldheid van Coetzee se tekste en veral sy gebruik van Afrikaanse dialoog, ens, geheel en al hierteen in.

Met ander woorde, in terme van Attridge/Jolly se eie definisie van Engelse internasionalisme is Coetzee geen Engelse skrywer nie. Soos André Brink, behoort hy nie voor te kom op die Grahamstadse Indeks nie, en word hy uitgesluit op dieselfde manier as wat die res van die breë Suid-Afrikaanse letterkunde uitgesluit word.

Lewis Nkosi of die Poolse professor in ’n nuwe baadjie

Lewis Nkosi neem ’n oksimoron as uitgangspunt, naamlik postmodernisme in swart letterkunde. Soos ek hierbo aangedui het, sluit ’n konsep soos postmodernisme die rassekategorisering van skrywers uit. Wat vir my persoonlik egter meer verbysterend is, is dat ek Nkosi in 1986 in die toentertydse Wes-Duitsland in sy hoedanigheid as professor aan die Universiteit van Warskou by ’n kongres ontmoet het waar hy my baie neerhalend meegedeel het dat Afrikaners se belangstelling in Lyotard, Derrida en ander postmoderne figure op daardie stadium ’n teken van agterlikheid was, asook ’n blyk van hul onvermoë om die hoër vorme van denke soos sosiaal-realisme en Marxisme te begryp.

Dit was natuurlik ook in hul reaksionêre aard om te reik na hierdie reaksionêre en ligsinnige teorieë. So by my kool, dertien jaar later is Nkosi ’n groot voorstander van postmodernisme, en Foucault hy voor en agter soos ’n Amerikaanse student.

Desnieteenstaande moet ’n mens met Nkosi se tipering van dit wat as “swart letterkunde” bekendstaan, saamstem. Hy meen naamlik dat dit “koloniaal” is, waaronder hy ook die volgende verstaan:

“... its formal insufficiencies, its disappointing breadline asceticism and prim disapproval of irony, and its well-known predilection for what Lukacs called ‘petty realism, the trivially detailed painting of local colour’: all these naively uncouth disfigurements of which many critics, including myself, have sometimes complained, can be seen as the result, in part, of which it is hoped, a post-apartheid condition will set it free. Time and again, in its gasps and stutters, in its nightmares and premonitions of a past to be endlessly repeated, black writing shows clearly its relation to this colonial history ...”14
Hierdie passasie kan ’n mens entoesiaties beaam, behalwe dat ’n mens die frase “black writing” kan vervang met “English writing”. Die ironie is dat daar in weerwil van die naïewe aard van Engelse literatuur in Suid-Afrika wat aan die meer gesofistikeerde vormlike en veral die ideëwêreld van die modernisme verbygaan en bly vassteek in ’n kleinlike moralisme en politiekery waar apartheid die rol vervul van ’n deus ex machina om interesse te probeer skep waar die poësie- of romankuns self nie daartoe in staat is nie, daar nou gepoog word om ’n neo-koloniale hegemonie ten gunste van hierdie literatuur in te stel.

Helaas gaan die “post-apartheidkondisie” ons nie hierteen beskerm nie; trouens nie net literêre stereotipes nie, maar ook historiese en politieke stereotipes is ons probleem. “Post-apartheid” is ewe seer ’n stereotipe as apartheid self, en tans benoem dit ’n opwelling van neo-koloniale drange om ’n soort Afro-Engelse homogeniteit in te stel ten koste van plaaslike kultuur. Hieronder keer ek terug na hierdie probleem, en ook die kontinuïteit van die Engelse koloniale tradisie in Suid-Afrika oor die afgelope tweehonderd jaar.

Michiel Heyns of nog ’n poging tot koöptering

Die Engelse tradisie in Suid-Afrika is nie baie verdraagsaam nie; daarvan getuig die uitsluitingsmeganisme waarna ek reeds verwys het. Ons het pas ook gesien dat dit “armoedig” is. In ’n desperate poging om dit op te bou tot ’n letterkunde wat darem ’n ondergraadse kursus sou kon vul, word vele Afrikaanse skrywers daarby ingesluit indien hulle ook hier en daar iets in Engels gepubliseer of vertaal het.

Die tematiese eenselwigheid van Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde is natuurlik ook ’n probleem: ’n mens kan net soveel keer ’n storie lees oor ’n seksuele verhouding oor die kleurgrens heen of mense op vlug voor die bose veiligheidspolisie.

Terwyl Engels internasionaal veronderstel is om die reusagtige smeltkroes van wêreldkultuur te wees, is dit in Suid-Afrika iets wat sterk herinner aan ’n winkelsentrum in Johannesburg, Durban of Kaapstad: oppervlakkig blink en altyd dieselfde. Michiel Heyns probeer insgelyks sy bes om die eenselwigheid van “South African literature” op te kikker met gay skryfkuns, maar het daarvoor vir Koos Prinsloo nodig, wat nooit in Engels geskryf het nie, en nêrens op die Grahamstadse Indeks verskyn nie.

Indien die toelaatbaarheid van Afrikaanse skrywers nou op seksuele voorkeur geskied, waar is die lesbiërs? Die feit dat Heyns gay skryfkuns byna uitsluitlik aan die Noodtoestand wil koppel, is maar net nog ’n manifestasie van apartheid über alles as dit by letterkunde kom.

Rita Barnard of karnavaleske boerehaat

Rita Barnard was blykbaar op ’n stadium die karnavalkoningin van die Maties. Met haar ervaring van skoonheidskompetisies was dit nie moeilik om te besluit dat die mooiste taal op die verhoog wel Engels is nie, want sy skryf met ’n wrewelige venyn oor die Afrikaanse letterkunde wat ’n opregte Ponsonby-James na sy asem sou laat snak. Nie net die Afrikaanse letterkunde nie, maar die gehele Afrikaanse kultuur is ideologies besmet:

“... it is fair to say that apartheid, linked as it has been with the Afrikaner’s struggle for political power, has rendered the entire Afrikaans language mythic. Under forty or so years of Nationalist rule, it was no mere system of linguistic signs (as evident in the very existence of the Afrikaans Language Monument in Paarl — surely the only monument ever to memorialize a living language). The language itself became a second-order signifier, attached to a larger concept of the Afrikaner’s ‘national identity’. Myth, consequently, is hard to avoid in Afrikaans, and perhaps especially so in literary Afrikaans, which in the past has so readily been turned into a safe cultural treasure to be ‘appreciated’ by the Afrikaner establishment. The dissident Afrikaans writer is, therefore, confronted at the outset with the task of writing against the system in the self-same language that has been used to justify the system and to express the colonizers’ claim to African soil.”15
Barnard, wat blykbaar klas gee aan die Universiteit Pennsilvanië, is kennelik trots daarop dat sy Roland Barthes se Mythologies gelees het. Weliswaar was dit in Engels, en is die boek al vier dekades oud en eintlik in ’n groot mate oorbodig gemaak deur Barthes se latere, meer Nietzscheaanse werke.

Maar nou ja, enige blyk van kultuur in Pennsilvanië is sekerlik te verwelkom. Ook is dit natuurlik nog ’n nie-Engelse werk wat binne die benoude anglosentrisme van Writing South Africa resoneer met die ander wêreld daarbuite. Dit is in dié verband nogal frappant dat Barnard as ’t ware om verskoning vra om na ’n Franse, dws nie-Engelse, teoretikus te verwys , asof haar bewustheid van ’n neokoloniale anglosentrisme só sterk is dat selfs die gedagte aan Parys eerder as Londen of New York of dan Pennsilvanië die afkeur van sekere mense sou ontketen.

Maar kom ons ontleed in meer besonderhede wat Barnard hierbo vir ons wil sê, want dit lyk na die totale aanklag teen Afrikaans wat dan sekerlik die “finale oplossing” sou oproep om ten minste van die besmette taal ontslae te raak, indien nie van sy sprekers nie.

Die idee dat literêre Afrikaans deur die “establishment” tot stand gebring is, getuig van ’n totale onkunde oor die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en tradisie. As Barnard al ooit van Eugène Marais gehoor het, ’n vroeë voorstander van Afrikaans, ateïs, natuurkundige en morfienverslaafde wat deur Paul Kruger verbied is om vergaderings van die Volksraad by te woon vanweë die hewige kritiek op sy bewind, sal sy miskien die teenoorgestelde besef.

Literêre Afrikaans was nog altyd avant-garde, anti-establishment, krities en soos tans in ’n geding gewikkel met ’n stompsinnige Suid-Afrikaanse owerheid. En met establishment-sikofante soos Barnard en die res van die bydraers tot Writing South Africa!

’n Mens veronderstel dat wat Barnard hier oor Afrikaans en mites beweer, nie op Engels van toepassing is nie. Daar is geen mites in Engels nie.

Die Voortrekkers is waarskynlik ’n mite, maar nie die 1820-setlaars nie. Die pogings om Afrikaans te onderdruk oor die afgelope tweehonderd jaar — en wat tans weer baie sterk aan die orde is — het niks met maguitoefening te make nie. Dit alles veronderstel ’n gepriviligeerde posisie vir Engels. Engels is dus in Suid-Afrika, en waarskynlik in die wêreld, ’n soort morele metataal vanwaar ander tale qua tale gekritiseer kan word.

As Barnard nou ’n bietjie kon inprop by die Foekaauw-manie wat op sekere trans-Atlantiese kampusse gedy, maar wat helaas seker nog nie Pennsilvanië gehaal het nie, sou sy miskien gehoor het van die skopiese basis van mag, of die “blik” (le regard) waarvan Foekaauw (die uitspraak is afkomstig van twee New Yorkese wat ek onlangs meegemaak het) so ’n ophef gemaak het. Barnard bekyk Afrikaans met die meesterblik van ’n Engelse persoon, byna soos die beoordelaar by ’n skoonheidskompetisie die meisies in hul baaikostuums sien verbykom.

Afrikaans as sodanig is ’n tweede-ordebetekenaar, volgens Barnard, wat vas verbind is aan die Afrikaner se “nasionale identiteit”. Sonder twyfel is Barthes uit die vyftigs die hoogtepunt van mode in Pennsilvanië en ek wil nou nie ’n pretbederwer wees deur Barnard op ’n toer deur Le plaisir du texte te neem waarin die idee van ’n vaste betekende natuurlik aan ’n Nietzscheaanse wyfeling onderwerp word nie.

Nee, as outydse Boer wil ek eerder rugsteun op ’n metafoor uit Plato. Die blik van Barnard op Afrikaans herinner my aan die grot-allegorie. Ons, Afrikaanssprekendes, gevang en verblind deur ons mites, praat ’n taal met al sy besmette tekens, maar sy praat Taal, wat reeds die universele en absolute Idee van taal is. Dit is waarom sy ons mites kan raaksien, en ons nie hare nie. Ons is die gevangenes in die grot; sy is vry.

Die probleme van idealisme is oorbekend en ek vrees dit mag ’n aangename gedagte wees om in jou anglosentriese alwetenheid jou minderes in mitiese terme te analiseer, maar uiteindelik moet die aartskoloniale Engelse metataal — die universele van die universeles, die absolute van die absolutes — ook in duie stort.

Daar is niks wat Barnard beskerm daarteen om ook haar Engelse mitedom, vanaf lady Di tot SA Brouerye met sy Afrikanistiese bieradvertensies, ontleed te sien nie. Uiteindelik is Barnard se begronding van ’n gepriviligeerde aanspraak op kultuurbeheer in Suid-Afrika via Engelse oorheersing ewe wankelrig as enige aanspraak van ’n vervloeë Afrikaner-nasionalisme.

Myns insiens spreek die visie van Afrikaans as ’n taal wat bloot dien om die “koloniseerders se aanspraak op Afrika-bodem uit te druk” soos dit hierbo gestel word, van ’n filistinisme waarvoor ’n mens net sprakeloos in verbystering kan staan, veral komende van iemand wat darem al sekerlik hier en daar blootgestel is aan die skoonheid van Afrikaans en sy letterkunde. ’n Totale gebrek aan smaak of sensitiwiteit wanneer dit by die estetiese kom, is op sigself fascisties.

In hierdie opsig onderskei Barnard haar as die literêre voorstander van die Nuwe Engelse Fascisme wat blykbaar voortaan as norm behoort te geld.

Miriam Tlali of die intelligensie van boekbrandery

In hierdie beskaafde tye waarin ons leef het ’n Engelse skrywer, mnr Serote, onlangs die soort voyeuristiese genot wat ’n mens kan put uit die aanskouing van halssnoermoorde beskryf.17

Die skryfster Miriam Tlali, met wie Rosemary Jolly ’n onderhoud voer, wil darem nie mense brand nie, net boeke. Verwysende na skoolkinders wat biblioteke in ’n swart woonbuurt afgebrand het, meen Tlali:

“The so-called libraries which were there were destroyed by the kids. They are very intelligent, these children. Those are some of the first things they went for, to burn them down, because they were really structures which were full of stupid books, really degrading stuff. (Recently, some of the ‘old’ libraries have been rebuilt, and stocked with new materials.)”
Tlali, wie se boek ek toevallig jare gelede gelees het, met die titel Muriel at Metropolitan, en waarvan ek die leser kan verseker: dis nie Proust nie, word op die flapteks van Writing South Africa beskryf as een van die “most distinguished novelists ... of our time”.18

As ’n mens daaraan dink dat alles wat daar oor die jare heen in Afrikaans geskryf is, vanaf Eugène Marais regdeur Van Wyk Louw tot en met Karel Schoeman, en wat per definisie deur Writing South Africa uitgesluit word, waarvan die redaksie dan goeddink om ’n onderhoud te plaas deur die gedistingeerde skryfster met haar vergoeilikende uitsprake oor boekbrandery, dan is dit duidelik dat “smaak”, daardie element wat vir Nietzsche die belangrikste kwessie van almal was by die estetika, nie figureer binne die denke van Attridge, Jolly et al nie.

Die graad van filistinisme by Barnard, wat die estetiese dimensie van beide die Afrikaanse letterkunde en die Afrikaanse taal as sodanig radikaal ontken, wat ek hierbo as “fascisties” getipeer het, word hier aangevul deur die gesprek tussen Jolly en Tlali.

Boekbrandery is aanvaarbaar, solank jy die regte boeke brand — en die vermoede dat dit Afrikaanse boeke sou moes wees, is nie heeltemal vergesog nie — en letterkunde is gelyk aan Tendenzliteratur, waar die politieke tendens dié bepalende faktor is, bó die estetiese en waarskynlik by volkome uitsluiting van die estetiese.

Die gevolgtrekking sou wees dat “South African literature”, die anglosentriese konsep van literatuur wat hierdie skrywers voorstaan, ingedeel moet word by die ergste vorme van “Party-letterkunde” wat al in die twintigste eeu by tye gehuldig is, met al die Stalinistiese konnotasies wat daaraan kleef.

Ek kom weer terug hierna in my bespreking van die bydrae van ’n “Party-man”, Albie Sachs. Die probleem by die ontkenning en miskenning van die estetiese, is egter dat “letterkunde” as kategorie eintlik in duie stort. Vir sommige doktrinêre Marxistiese denkers kan daar geen onderskeid wees tussen “Party-letterkunde”, die gesanksioneerde beleidstukke, toesprake, ens, van die Party, en letterkunde of belletrie nie. Het dit dan nog enige sin om van letterkunde te praat? Het “South African literature” in sy slaafse verbintenis met die ANC/SAKP en gebrek aan smaak dan nog enige sin qua letterkunde?

Kennelik is die antwoord nee. Die hegemonie van Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde, linguïsties gegrond op die internasionale oorheersing van Engels, faal hier in sy estetiese aanspraak, as letterkunde. Soos die huisie wat van strooi gebou is in die fabel van die drie varkies en die wolf, waai dit eenvoudig weg, of soortgelyk aan ’n pamflet wat uitgedeel is by ’n partypolitieke vergadering.

Zoë Wicomb, of die aandrang op swart-wees

’n Mens het hoop gehad vir die opstel van Zoë Wicomb, wat afskop met ’n bespreking oor die interessante geval van Saartjie Baartman wat in die negentiende eeu haarself ten toon gestel het in Engeland en Frankryk.

Haar verbintenis met die beroemde Franse bioloog, Georges Cuvier, is ’n interessante stukkie geskiedenis en ’n mens kan selfs iets skryf aangaande die ontogenese van die konsep van “ras” na aanleiding van hierdie episode. Daar is ook ’n paradoksale tussenspel tussen ekshibisionisme en die uitleef van ’n tragiese fratsstatus in die verhaal van Saartjie Baartman, ’n soort voorspel tot die fratsstatus wat Suid-Afrika self uiteindelik in die wêreld sou inneem as synde half-Westers, half-Afrikaans (in die sin Afrika-).

Daar is reeds ’n uiters moralistiese en dweperige drama deur ’n swart Amerikanerin oor Saartjie gepubliseer. Wicomb sluit aan by hierdie dweperige tradisie, kyk die hele sin van die “Hottentot-Venus” mis, en gaan oor in ’n preek oor “kleurlingskap” as synde die draer van “die skande van paring met die koloniseerder”.

Me Wicomb is self iemand van gemengde of Kaapse afkoms, en die kwessie lê haar na aan die hart. Daar was vir my nog altyd iets baie aantrekliks aan die tussenin-status van Kleurlingskap, vandaar dat Breytenbach ook alreeds in 1973 dit by Afrikaans en Afrikanerskap betrek met sy beroemde uitspraak: “Afrikaans is ’n bastertaal.”

Enigiemand wat belangstel in die vroeë geskiedenis van Afrikaans aan die Kaap, sou ’n baie interessante stuk oor hierdie kwessie kon skryf. Ook het ek onlangs ’n baie interessante gesprek gehad met ’n vrou van wie die vader Duits en die moeder Swazi is, wat besig is om Afrikaans te leer — hoewel dit nie die taal van een van haar ouers was nie — en wat aan haar ’n sekere “plek” in die wêreld en ’n identiteit gegee het, wat sy andersins moeilik sou kon verwerf met ouers wat uit verskillende wêrelde afkomstig is.

As konformistiese anglosentris werp me Wicomb haar lot in by die kultus van swart en bestee bladsye aan die “skande” van Kleurlinge wat vir die Nasionale Party in die Kaap stem. Die verwarring van literêre gesprekvoering met partypolitieke vlieë-afvangery is natuurlik ’n hebbelikheid van Writing South Africa, maar Wicomb voer dit tot ’n nuwe hoogtepunt.

Haar tirade teen kleurlingskap eindig in ’n bewondering vir ’n taamlik gemeenplasige stukkie Afro-Amerikaanse ophemeling van “swartheid” wat dan sito-sito op Suid-Afrika toegepas moet word. Weer eens is dit ’n geval van die oorname van ’n klaargemaakte konsep uit die metropool wat met ons so min te make het as die prys van eiers in Vancouver, solank dit maar iewers Engels of Amerikaans is.

Benita Parry, of Madame Jargon losgelaat op JM Coetzee

Benita Parry skryf in “Speech and silence in the fictions of JM Coetzee” die soort prosa wat bestem is vir die seminaarkamer op kampus waar jy nie hoef te dink nie, want die jargon doen dit sommer vir jou.

Dit is soos ’n vloed wat afkom en wat iewers deur ’n paar Franse en Duitse stede is (lees: swak vertalings van Foekaauw et al) en nou Noord-Amerikaans die skerm van die universitêre woordverwerker oorstroom, vuilerig en bruin, met hier en daar ’n term herkenbaar wat binne die ambience van politieke korrektheid bestem is om die uiteindelike sondige aard van die skrywer aan die kaak te stel.

Waarom die woord Calvinisme in Suid-Afrikaanse Engels oor sulke negatiewe konnotasies beskik, weet ’n mens nie, want tussen die mees ortodokse skuldige protestantisme en die mikroskopiese naspeur van tekstuele sonde soos hier, is daar myns insiens geen verskil nie. Maar miskien het Benita Parry raakgesien dat dit nogal ironies is dat die Groot Hoop van Engelse letterkunde in Suid-Afrika nie net ’n Groot Wit Hoop is nie, maar boonop manlik en met ’n Afrikaanse van. Skandelik, as ’n mens Coetzee se jongste roman gelees het. In elk geval, na haar smaak is Coetzee nie gepolitiseerd genoeg nie:

“What I have attempted to suggest is how a fiction which in its multivalence, formal inventiveness, and virtuoso self-interrogation of narrative production and authority remains unmatched in South African writing, is marked by the further singularity of a textual practice which dissipates the engagement with political conditions it also inscribes.”

Wat natuurlik hier opval, is ook die frase “unmatched in South African writing”, wat impliseer dat Parry al elke boek wat in Afrikaans sedert die GRA-dae geskryf is, gelees het en nou kan konstateer dat dit in “formele vindingrykheid ...” geen gelyke in die Suid-Afrikaanse letterkunde het nie.

Self vind ek Coetzee maar taamlik ná aan die Engelse realistiese tradisie, en ek sou meen dat Etienne Leroux, byvoorbeeld, ’n veel “formeel vindingryker” skrywer as Coetzee is, om van die vele prettige, eksperimentele en “postmoderne” tekste in Afrikaans wat ná 1980 verskyn het , nie eens te praat nie. Maar natuurlik, weer eens, hierdie boeke behoort nie tot die versameling “South African writing” nie en kom daarom nie in aanmerking nie.

David Attwell, of kom ons maak Coetzee meer eties

David Attwell, in ’n soort repliek op Parry se Calvinistiese uitwys van die sondige gebrek aan die korrekte politieke betrokkenheid by Coetzee, poog om Coetzee as “etiese skrywer” te red, dit ook na aanleiding van, lyk dit, ’n sekere koel ontvangs wat Coetzee by Suid-Afrikaanse linkses gehad het “tot en met die laat-tagtigs”.19

Dit is voorwaar ongewoon om by die voorstanders van anglosentriese letterkunde ’n mate van meningsverskil op te merk, die paradigma synde een waar uitsluiting in ’n groot mate die kenmerk is, waarby enige vorm van dissidensie inbegrepe sou wees, en daarom sou mens kon praat van ’n “verkrampte” en “verligte” vleuel. Vir Parry en die res van die verkrampte vleuel is daar weinig onderskeid tussen ’n politieke toespraak en ’n roman, en romans behoort ook volgens politieke maatstawwe (lees: politieke konformisme) beoordeel te word. Vir Attwell en die verligte vleuel is daar egter iets soos die teks, wat nie bloot reduseerbaar is tot politiek en die maatskaplike werklikheid nie. Hoera! Al daai eerstejaarslesse in literêre teorie het tog wel by iemand vasgesteek.

Dat letterkunde nou ook onderhewig moet wees aan “etiese” maatstawwe, spreek wel van verligtheid, maar is nog lank nie vir my ’n vooruitstrewende of selfs aanvaarbare opvatting van letterkunde nie. Wat maak Attwell van die Markies de Sade? Of is dit, synde ook nie-Engels, per se uitgesluit van letterkunde?

Attwell dwaal verder af van die etnosentriese en benepe doktrine van “South African literature” deur na nog ’n Duitser, Kant, te verwys. Nou nie na Kant direk nie — dit sou darem te veel gevra wees dat ons Ingelse literatore nou ook al Kant begin lees — maar Kant soos aangehaal deur Hannah Arendt. Arendt is daarom meer polities korrek, en dit geskied “in the wake of European fascism”, waaronder ’n mens seker ’n onmiddellike toepaslikheid op Suid-Afrika moet vermoed binne die analogiese denkraampie waar Suid-Afrika geen eie spesifisiteit het nie, maar bloot weerspieëling is van ideologiese konflikte binne die metropool.

Die feit dat Coetzee egter so prominent in die bundel figureer, is myns insiens ’n verdere teken van ’n onderliggende onsekerheid aangaande die grootse korpus wat “South African literature” veronderstel is om te wees. Dit is amper asof hierdie letterkunde rondom een blanke man van kwalik suiwere Engelse afkoms gekonstrueer word. Goddank vir Coetzee! Maar wat van die poësie, waar is “South African” poësie?

Jeremy Cronin, of: jou tuinier is ook ’n groot digter, volgens Brian Macaskill

Die onhoudbare van die weglating van Afrikaans uit “South African literature” verkry met die besprekings oor poësie ’n lagwekkende intensiteit.

Dit lyk asof Jermey Cronin, die Party-digter met sy Manicheaanse kinderrympies, die vaandel van Engelse poësie moet hooghou. Die Afrikaanse poësie moet seker ’n groot verleentheid wees vir ons Engelse vriende, want hier is nou ’n merkwaardige korpus wat in enige terme met van die heel groot literêre tradisies kan vergelyk. Trouens, die Afrikaanse poësie is miskien Suid-Afrika se enigste werklike bydrae tot wêreldkultuur! Vir Attridge/Jolly et al verdof dit egter in die liries-politieke glans van die Groot Digter, Jeremy Cronin.

Vir Macaskill is poësie ’n vorm van “ideologiese kritiek” waarby ’n mens seker die noue verwantskap met Party-literatuur in Leninistiese sin moet begryp.

Miskien het Cronin iewers poësie geskryf wat nie jammerlik banaal is nie, maar die aangehaalde gedeeltes in Macaskill se bespreking is vol geykte religieuse beelde — Camus het ons reeds daarop attent gemaak dat die Party ’n Kerk is — wat dan met behulp van ideologiese interpretasie opgestop word tot grootse rewolusionêre kuns.20 ’n Mens kan seker in die reëls:

Die tuinjong
werk
in die tuin

die hele Das Kapital weerspieël sien, asook ’n implisiete kritiek op kolonialisme, rassisme en die hoop op die rooi daeraad van rewolusie, om nie van die dialekties-materialistiese struktuur te praat nie, maar is dit poësie vir die liefhebber van digkuns?

Ek vrees dat “South African literature” in sy flirtasies met Marxisme ’n verkeerde perd opgesaal het, want eerder as wat dit bydra tot die gepoogde vestiging van ’n dominante letterkunde, maak dit hierdie pseudo-tradisie net meer belaglik. Dit faal nie net literêr nie, maar ook intellektueel.

Heelwat is al geskryf oor die probleme van Engelse Marxisme, waarvan die Suid-Afrikaanse variant seker gereken moet word as die armoedigste en agterlikste.

Albie Sachs, of Partyvoorskrifte oor letterkunde

In aansluiting by Cronin se Party-poësie vind ons die insluiting van ’n ANC-referaat oor kultuur aan die einde van Writing South Africa, dié keer deur Albie Sachs.

Weer eens wemel dit van dogmatiese Marxistiese aannames oor kultuur en letterkunde wat saam met die val van die Berlynse muur uit ons woordeskat behoort te verdwyn het, maar vir Sachs is dit nog alles baie relevant. En ook vir Attridge/Jolly, aangesien hierdie stuk andersins nie ingesluit sou gewees het nie. Trouens, dit lyk asof die kulturele opvattinge binne ANC/SAKP-geledere die skoot so hoog deur het met voormalige Oos-Europese propagandamodelle, dat Sachs die “kamerade” moet maan tot ’n minder militêre vorm van kuns en kultuur.

“In the case of a real instrument of struggle, there is no room for ambiguity: a gun is a gun is a gun, and if it were full of contradictions, it would fire in all sorts of directions and be useless for its purpose. But the power of art lies precisely in its capacity to expose contradictions and reveal hidden tensions — hence the danger of viewing it as if it were just another kind of missile-firing apparatus.”21
Dit mag dalk vir Sachs ’n verrassing wees dat party van ons nog nooit die fout gemaak het om kuns met missiele te verwar nie. Weer eens spreek die feit dat kuns in hierdie terme bespreek moet word, van ’n graad van filistinisme en “vulgêre” dogmatiek wat eenvoudig die verstand te bowe gaan. Daarom verbaas dit ’n mens dat Sachs nogal ’n soort pleidooi vir multikulturalisme in Suid-Afrika lewer wat indruis teen die beginsels van jingoïstiese kultuur soos dit deurentyd in Writing South Africa gepleeg word. Sachs gaan, in ’n byna kranksinnige oomblik van liberale verdraagsaamheid, so ver as om te beweer dat:
“Each culture has its strengths, but there is no culture that is worth more than any other. We cannot say that because there are more Xhosa speakers than Tsonga, their culture is better, or because those who hold power today are Afrikaans-speakers, Afrikaans is better or worse than any other language.”22
Hierdie woorde is in 1989 geuiter, en sedertdien was dit egter baie duidelik dat multikulturalisme kwalik in die praktyk deur die ANC toegepas is. Die vestiging van ’n Afro-Engelse staat het inderdaad amptelike beleid geword, en in hierdie verband het Afrikaans toenemend ’n lastigheid geword wat saam met die ander nege “minderheidstale” in een sak gegooi is.

Daar is ook vir my iets geweldig patroniserends in Sachs se aanmerkings oor Afrikaans, in bogaande gedeelte, maar ook elders in die stuk, wat vir my spreek van die verhewenheid waarmee ander tale vanuit die neo-koloniale jingoïsme bejeën word.

Die problematiek van ’n Suid-Afrikaanse letterkunde

As konsep het “South African literature” vir my gefaal, om al die redes wat hierbo genoem word. Dit kom neer op ’n afgrond van Suid-Afrikanerskap, want ons word absurde wesens wat slegs betekenis verkry wanneer ons in Engels belig word vanuit ’n “vulgêre”, stereotipe perspektief. Buite Engeland en Amerika stort betekenis oor die afgrond soos water oor die Victoria-waterval, met iewers ’n koloniale, gesubsideerde reisiger wat dit afneem of opteken sonder om die sin daarvan te verstaan.

Voordat ek enigsins verder oor Suid-Afrikaanse letterkunde bespiegel, wil ek nog ’n paar opmerkings oor kolonialisme maak binne die Suid-Afrikaanse konteks. Dit sou nodig wees om op ’n latere stadium verder hierop in te gaan, maar hier stel ek bloot enkele vermoedens. Dit kom hierop neer.

Dit is verkeerd om ’n oorgang tussen ’n “ou” en “nuwe” Suid-Afrika te sien. Ons is nog steeds in dieselfde Suid-Afrika. Daar was geen historiese breuk nie. Tans beleef ons die opwelling van die mees argaïese jingoïstiese strategieë waarvan Writing South Africa ’n literêre voorbeeld is. Dit gaan egter veel verder as dit. My vermoede is dat die ANC/SAKP en die armoedige weltanschauung wat in die vaarwaters van dié beweging floreer self in ’n baie diepgaande sin koloniaal of neo-koloniaal van aard is. Vandaar die poging om Afrikaans, die Afrikaanse kultuur en letterkunde te onderdruk, te ontken en te probeer elimineer.

Afrikaans verteenwoordig die derde term tussen die Weste en Afrika, die tussengebied waarvan ek voorheen gepraat het, en is daarom ’n verleentheid vir die poging om ’n pan-Afrikanisme te vestig. Afrikaans is die lewende herinnering aan driehonderd jaar se deurlééfde ervaring in hierdie streek, wat ’n unieke, selfs ’n singulêre ervaring binne ’n spesifieke landskap en tydsgewrig is.

Pan-Afrikanisme is, soos alle vorme van rewolusionêre denke — lees maar vir Lyotard hieroor — reaksionêr in die sin dat dit terugreik na ’n vorige, ongeskonde, paradyslike staat voor die koms van die blanke, die Maleier, die Kleurling, die Indiër, ens. Daar is boorlinge en setlaars, en in ’n sekere sin is elke Suid-Afrikaner ’n setlaar. Die boorling is ’n ideaaltipe wat nou in rasseterme gedefinieer word en Engels (behoort te) praat.

Omdat stam- en kulturele verdelings hierdie rassesolidariteit van boorlinge versteur, word die koloniale tale Engels en Frans in Afrika op paradoksale wyse ingespan om te probeer homogeniseer waar daar geen homogeniteit is of was nie. Met Mbeki se Afrika-renaissance word daar gepoog om die mislukte pan-Afrikanisme van Kwame Nkrumah en ander uit die dode op te wek.

Suid-Afrika, die land wat weens sy gedeelde ervaring nóg van Afrika, nóg Westers is, moet nou geafrikaniseer word en as ’t ware gekoloniseer word in die naam van ’n Afrika-ideologie.

Mbeki is waarskynlik die eerste swart koloniale heerser met ’n neo-koloniale projek om sy eie burgers hul kultuur te ontneem en Engelse pan-Afrikane van hulle te maak. Dit verduidelik die uiters netelige posisie van Afrikaans. Afrikaans is modernisme, heterogeniteit, plaaslikheid, alles elemente wat indruis teen die pan-afrikanisme en sy pogings om ’n verlore klassieke “gesuiwerde” Afrika-identiteit te herwin. (En is die renaissance nie by uitstek die herontdekking en inderdaad hergeboorte van die klassieke nie?)

Meer nog as die taal self, verteenwoordig die Afrikaanse letterkunde in sy speelse beheptheid met estetiese kodes en deelname aan ’n universele literêre interteks, ’n skandelike ontkenning van die gesuiwerde Afrika-identiteit. Die aantrekkingskrag van Marxisme en ander staatsbeheerde ekonomiese en kultuurmodelle vir die pan-afrikanisme lê juis in die potensiaal vir ekspansionisme en neo-koloniale social engineering wat dit inhou. Ná alles was Sowjet-kommunisme ’n versweë vorm van tsarisme, en is die Marxistiese vektor aangedryf deur ’n imperiale logika om meer en meer grondgebied in te palm.

Op die vlak van taal in Suid-Afrika ken Engels insgelyks geen ander logika nie as: inpalm, inpalm, inpalm. Elke keer oor die afgelope tweehonderd jaar as daar nie ’n beduidende getal Afrikaners in die regering was nie, is daar onmiddellik voortgegaan met ’n agressiewe taalveroweringsbeleid.

In hul slaafse en klakkelose aanhang van wat hulle meen is amptelike taal- en kultuurbeleid, poog die skrywers van Writing South Africa om Suid-Afrika as ’t ware “oor te skryf” net soos wat die pan-afrikanisme dit wil doen. Op ’n vreemde manier vind die koloniale blik vanuit die metropool of vanaf die Amerikaanse kampus ’n komplement in die pan-afrikanistiese neo-koloniale strewe om plaaslike kultuur te ontken en af te takel.

Die uitdaging vir die Afrikaanse skrywer was daarom nog nooit so groot nie, want hy moet hom tegelyk kan verdedig teen twee kolonialismes, teen Scylla én Charybdis.

In sy brief Über den Humanismus skryf Heidegger “Die Heimatlosigkeit wird ein Weltschicksal”.23

“Heimatlosigkeit” is vir hom by uitstek die bepalende faktor by vervreemding, teenoor die Hegeliaanse model wat op bewussyn betrekking het, en wat deur Marx oorgeneem is en “materialisties” voorgestel is in sy ekonomistiese interpretasie. In die uitsluiting van Afrikaans en ander inheemse tale, skep die pan-afrikanisme die potensiaal vir ’n ongekende vervreemding in Heideggeriaanse sin, want ons word as ’t ware van ons tuiste beroof.

Die Afrikaanse letterkunde is die enigste wat maar hoegenaamd ’n kans staan om teen die aanslag staande te bly. Terwyl die inheemse Afrikaletterkundes stadigaan deur die soort bewuswording gaan wat meer as honderd jaar gelede in Afrikaans plaasgevind het, en nog oor geen beduidende korpus beskik nie, rus daar ’n enorme verantwoordelikheid op die Afrikaanse skrywer, ’n anti-kultuurwerker as daar al ooit een was, om oor te gaan tot die verdediging van plaaslike kultuur en letterkunde.

Hoe definieer ’n mens “Suid-Afrikaanse letterkunde” binne hierdie konteks? In die eerste plaas sekerlik nie taaluitsluitend nie. Maar om geen taal daarvan uit te sluit nie, sê nog niks daaromtrent nie. Dit gaan waarskynlik om ’n Suid-Afrikaanse eiesoortigheid. Enige boek in Afrikaans of ’n ander inheemse taal kwalifiseer onmiddellik as Suid-Afrikaans, selfs al woon die skrywer in Timboektoe en skryf ’n verhaal wat afspeel in die Noordpool. Christoffel Coetzee, byvoorbeeld, het in Namibië gewoon en ’n verhaal geskryf wat hoofsaaklik buite Suid-Afrika afspeel. Nogtans sou niemand sy status as Afrikaanse en Suid-Afrikaanse skrywer wou ontken nie.

Met Engels is dit, by wyse van spreke, ’n heel ander storie.

Word James Michener ’n Suid-Afrikaanse skrywer sodra hy ’n roman oor Suid-Afrika skryf? Kennelik nie. Indien die Earl Spencer wat in Kaapstad woon, sy mémoires skryf oor die lewe van ’n adellike in Engeland, promoveer hy tot Suid-Afrikaanse skrywer bloot omdat hy in Kaapstad woon? Indien wel, wat sou gebeur as hy wegtrek? Aan die ander kant, is Tolkien, die skrywer van The Hobbit en The Lord of the Rings, ’n Suid-Afrikaanse skrywer op grond daarvan dat hy in Bloemfontein gebore is maar grotendeels in Engeland gewoon het en boeke geskryf het wat in ’n verbeelde milieu afspeel? Indien ’n gebore Suid-Afrikaner in Suid-Afrika aanbly, maar boeke skryf vir ’n oorsese mark wat nie eens in Suid-Afrika uitgegee word nie, kwalifiseer dit steeds as Suid-Afrikaanse letterkunde?

Indien Tolkien ’n anti-apartheidroman in ’n Britse uitgawe sou skryf, sou ’n mens dit kon beskryf as Suid-Afrikaanse letterkunde of as Britse letterkunde? Duidelik is die hele kwessie nie so eenvoudig as wat ons Engelse literatore dit wil voorstel nie.

Tans word ’n eksklusief Engelstalige “South African literature” onder die rubriek van koloniale kategorieë soos “Commonwealth literature” aan Britse en Amerikaanse universiteite bestudeer.

Die lesers van vele van hierdie tekste woon oorwegend, soms 95% en meer, buite Suid-Afrika, wat ook die bron is van ’n sekere toeristiese gemeenplasigheid en sodoende ’n meer paradoksale of verwikkelde verkenning van ons werklikheid uitsluit. Is dit Suid-Afrikaanse letterkunde of maar net Engelse letterkunde met ’n Suid-Afrikaanse tema?

Ek sou geneig wees om Suid-Afrikaanse letterkunde, soos ook Afrikaanse letterkunde, te koppel aan ’n “tuiste” in die Heideggeriaanse sin, ongeag die taal of herkoms van die skrywer, of selfs waar hy woon. Die boek wat tuis is, stel die koloniale boek in die verleentheid, en skyn met ’n triomfantelike plaaslikheid daar waar daar nou al reeds ’n pan-skim moes gewees het.

boontoe


1 Attridge, Derek en Jolly, Rosemary, reds. Writing South Africa — literature, apartheid, democracy, 1970 — 1995. Cambridge: Cambridge University Press, 1998
2 Ibid., bl. 5.
3 Loc. cit.
4 Heidegger, Martin. Sein und Zeit. Tübingen: Max Niemeyer Verlag, 1986, bl. 152
5 Ibid., bl. 21.
6 Ibid., bl. 25.
7 Ibid., bl. 35.
8 Ibid., bl. 41.
9 Ibid., bl. 44.
10 Ibid., bl. 44-45
11 Ibid., bl. 67.
12 Coetzee, J.M. Boyhood. London: Secker & Warburg, 1997, bl. 100.
13 Ibid., bl. 67.
14 Attridge, Jolly, op. cit., bl. 77.
15 Ibid., bl. 131.
16 Ibib., bl. 124.
17 Serote, Mongane Wally. Gods of our Time. Ravan Press , Sien bll. 116 en 127-128
18 Attridge, Jolly, op. cit., bl. 143.
19 Vgl. ibid., bl. 166.
20 Sien ibid., bl. 194.
21 Ibid., bl. 240.
22 Ibid., bl. 244.
23 Heidegger, Martin. Über den Humanismus. Farnkfurt-am-Main: Vittorio Klostermann, 1949, bl. 30.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.