Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van Zyl Slabbert se Afrikaanse liberalisme

Gewis ’n opwindende publikasie is Van Zyl Slabbert, die gevierde politikus, se Afrikaner Afrikaan1. Binne die huidige besinning oor die plek van Afrikaans en Afrikaners binne die eietydse politieke bestel is dit ’n uiters leesbare, vlot geskrewe en soms fassinerende bydrae.

Dog vir enigiemand wat hier ’n filosofiese gesprek oor die betekenis van Afrikaanswees verwag, is die titel ietwat misleidend. Dit is naamlik eerder ’n kombinasie van politieke memoires en politiek-filosofiese mymeringe oor Suid-Afrika. Die kwessie aangaande taal en identiteit word dan enersyds behandel as onderdeel van ’n groter bespreking oor ons onlangse politieke geskiedenis, of andersyds na aanleiding van Slabbert se eie identiteit as “Afrikaner”. In hierdie opsig is dit tekenend van Slabbert se intelligensie en nugterheid dat hy die skuldige ideologiese eierdans van, byvoorbeeld, ’n koerant soos Beeld rondom die term Afrikaner uit die staanspoor verwerp, en die begrip onverskrokke omhels:

    “Hoekom moet die begrip ‘Afrikaner’ opgeëis word deur ’n klein groepie mense wat ander Afrikaanssprekendes wegdefinieer? Hoekom kan ‘Afrikaner’ nie dui op alle Afrikaanssprekendes wat Afrikaans as taal wil bevorder deur hulle met Suid-Afrika as nasiestaat en met Afrika as kontinent te identifiseer, sonder om hulle historiese wortels — hetsy Europees, Oosters of uit Afrika — te misken nie? En dan om vanuit hierdie kulturele bronne te put en te besin oor hulle rol en bydrae in die nuwe bestel, en oor hulle verhouding tot ander landstale? So ’n uitgangspunt is inklusief verdraagsaam en laat ruimte vir verskeie groeperinge van Afrikaners om mekaar die stryd aan te sê oor hoe en waarom hulle oor waardes, beleid en uitgangspunte van mekaar verskil. Kan daar nie — net soos met Jode of Skotte — ortodokses, progressiewes, ongelowiges, tradisioneles, modernes en selfs postmodernes wees nie? Hoekom moet Afrikaners wegskram van die ongemaklikheid om die begrip ‘Afrikaners’ los te maak van sy historiese ongewensthede? Is die gehyg en gesweet rondom ’n eksklusiewe en verskraalde definisie hoegenaamd nodig? Hoekom kan daar nie gewerk word aan ’n toedrag van sake waar die gedagte aan ’n rassistiese Afrikaner ’n teenstrydigheid is, eerder as ’n stereotipe nie? Hierdie vrae spreek die geskiedenis van die begrip ‘Afrikaner’ aan vanaf die Boere-oorloë, Uniewording, die 1914-rebellie, deur apartheid tot nou toe. Ons samelewing gaan ons nie die luukse gun om te sê ons is Afrikaanssprekendes of -gebruikers, maar nie Afrikaners nie. Konsekwent sal die vraag kom: watse Afrikaners wil julle wees in hierdie ‘nuwe Suid-Afrika’?”2

Dit is sekerlik ironies dat iemand, en hierop maak Slabbert die leser ook bedag, wat deur sommige lede van ’n selfversekerde konformistiese Afrikanerdom in die verlede getipeer is as ’n “verraaier” en blykbaar vir ’n tydperk deur PW Botha in die parlement geïgnoreer is, nou ’n lansie moet breek vir daardie internasionaal verguisde benaming, “Afrikaner”. Maar soos ek al elders te kenne gegee het, is dit juis een van die vele ironieë van die Afrikaanse tradisie dat dit juis ons, die verloopte, volksvreemde, nie-Christelike, uitgerangeerde, semi-verengelsde of -verfransde, of ver-wat-ookal-Afrikaners was wat nog altyd op die voorpunt was van denke rondom die waarde van Afrikaans en die aard van ons talige identiteit. Ook tans is dit die stoere Afrikaners wat boedel oorgee, katswink van die nasionale en internasionale propaganda-aanslag. (Nou onlangs hoor ek weer van ’n vurige regse professor wat maar sy kinders by ’n Engelse privaatskool inskryf, kwansuis om die wiskunde en wetenskap se onthalwe.) Waar Slabbert vir my tekortskiet, is waar hy Afrikaners konsipieer as ’n minderheid in Suid-Afrika, terwyl die meerderheid dan swart of Engels of albei sou wees. Aan die ander kant is sy vergelyking van Afrikaners met Jode in Duitsland baie geldig (bl. 47) binne Afrikaverband, wat aansluit by sommige van my eie gedagtes aangaande die gevare van stereotipering vir ’n welvarende, talentvolle minderheid, soos gepleeg deur die WVK, die SABC, Nadine Gordimer en die hele sous van Engelse pseudo-intellektuele. Hy waarsku egter teen konfrontasie met die nasiestaatideaal:

    “Die nuwe bewind is buitengewoon gevoelig en gemoeid met die smee van ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse patriotisme; tekens hiervan is die lomp en onduidelike begrippe soos ‘reënboognasie’, ‘Afrika-renaissance’, ‘national agenda’, ensovoorts. Enige groepering wat hierdie strewe na oorkoepelende waardes ondermyn deur spesiale minderheidstatus op te eis, kan ruim begroot vir konflik en vervreemding; met ander woorde, nog minder simpatie vir daardie minderheidsbelange.”3

Die verstommende van Slabbert se politiek is juis hoe klassiek liberaal dit is, ’n konstante poging om die “veelheid van waarhede” in te sien, wat daarom ’n meer intense konfrontasie sou uitsluit. Teenoor die verset wat vele Afrikaners sien kom oor byvoorbeeld die taalkwessie moet ons die pas aangehaalde kommentaar oor “konflik en vervreemding” sien as die afwys van kulturele opstandigheid. Dit is sekerlik wyse woorde, gevorm uit Slabbert se intieme omgang met die Suid-Afrikaanse politiek, wat ruimskoots in sy heldere en beredeneerde teks aan bod kom. Daar is egter ’n vraag wat by my ontstaan, en dit is: en sê nou ons is reeds vervreem van die sosio-politieke bestel, wat dan? Ek dink nie daar is enigiemand wat maar hoegenaamd homself “Afrikaans” voel in die breedste sin wat nie die huidige bewind as Afrikaans vyandig ervaar nie, vanaf die staat wat Afrikaans van ons paspoorte afgehaal het tot by die SABC wat Afrikaans afgeskaal het tot 3% van die kyktyd. Om dus ’n soort versetlose samewerking van ons te vereis mag na die redelike oplossing klink, maar dit hou nie rekening met die feit van ons vervreemding nie, dat ons toenemend in ons kulturele lewe die juk van ’n soort Afro-Engelse kolonialisme ervaar. En uiteindelik is die sin van sterk kritiese denke in Afrikaans juis dat dit ons landgenote gaan bevry van die tendens dat ’n Allistair Sparks of ’n Nadine Gordimer namens ’n illusionêre meerderheid praat. Ten minste in ons denke, indien dan nie op straat nie, meen ek is daar reeds sprake van ’n Afrikaanse verset, en vorentoe kan ek sien dat dit gaan verhewig.

’n Ander aspek wat hier ter sake is, is dié van die ekonomiese bydrae van Afrikaners. Slabbert bespreek die hele kwessie van “globalisering” en hoe die ANC-regering ’n balans moet handhaaf tussen sy versugtinge om aan maatskaplike dienste te bestee, en die aandrang van beleggers om die begrotingstekort klein te hou, inflasie te bekamp, en so meer. Globalisering behels dat beide kapitaal en kundigheid beweeglik is, en daarom sou ’n te groot vervreemding van Afrikaners ’n grootskaalse eksodus van hulle en hul kundigheid behels. Sonder om selfs globalisering by te haal, is daar vir my die eeue oue ekonomiese kwessie ter sprake: wat ontvang dié wat betaal? ’n Rasionele ekonomiese agent hou nie daarvan om te betaal en niks terug te ontvang nie. Die feit dat Afrikaners as ’n groep vandag waarskynlik die grootste bydraers tot die staatskas is, soos hulle ook is tot SABC-lisensiegeld, is ’n fundamentele rede waarom die kulturele verset myns insiens ook uiteindelik gaan oorslaan in ekonomiese verset, waar mense eenvoudig gaan ophou betaal vir swak of niebestaande dienste. Kortom, die Afro-Engelse staat gaan sy Afrikaanse kliënte verloor.

Die bevestiging van liberale ekonomiese denke sou behels dat mense hulself al hoe meer afwend van die staat, hul “eie ding doen” en ’n soort virtuele ekonomie skep waarop die staat weinig of geen invloed het nie. Is dit nie die enigste hoop vir ’n Orania nie, want die kulturele konsep van Orania is sekerlik negentiende-eeus en eintlik onafrikaans in sy eksklusiwiteit, maar die ekonomiese konsep van ’n onafhanklike “vrystaat” sonder belastings van waar finansiële dienste bedryf kan word, is radikaal liberaal en eietyds. Miskien kan daar ’n Afrikanerheimat gekoop word by die Suid-Afrikaanse regering?

Maar terug by Van Zyl Slabbert. Laasgenoemde stukkie kontemporêre “soewereine individu”-denke is beslis nie eie aan hom nie. Vir Slabbert vervul die staat steeds ’n funksie, en hy gaan selfs sover om die Suid-Afrikaanse staat, wat steeds in ’n werkende toestand is, te vergelyk met ander Afrikalande waar dit in ’n sekere mate van verval verkeer. Ons funksionerende staat hou vir ons ’n voordeel in, volgens hom. Ook die demokrasie is vir Slabbert ’n summum bonum, en hy lewer myns insiens een van die mees nugtere ontledings van die totstandkoming van een-mens-een-stem-demokrasie in Suid-Afrika wat ek in die onlangse tyd gelees het. Ook die verband met die val van die Berlynse muur en daarmee saam die Oos-Europese kommunisme word geboekstaaf op ’n manier wat al ons vermoedens bevestig, waaronder natuurlik ook dat “demokrasie” vir die ANC tot baie onlangs “demokratiese sentralisme” beteken het.

Slabbert se liberale redelikheid is miskien die beginpunt van ’n begrip oor ons meer onlangse geskiedenis, juis omdat dit so onbevange en op-die-man-af gestel word. Vele van sy anekdotes is van onskatbare waarde om te begryp wat daar alles op die spel was oor die afgelope twintig jaar of so, ook aangaande die WVK waaroor hy eweneens fundamenteel twyfel. Hy onthul vele dinge, soos die sleutelrol wat geldskenkings deur George Soros gespeel het om Afrikaners en die ANC bymekaar uit te bring. Liberalisme is natuurlik een van die Afrikaanse tradisies, en in dié opsig sluit Slabbert se denke vir my sterk aan by dié van die latere Van Wyk Louw, met sy “oop gesprek”, maar ook by vele ander Afrikaanse figure soos die digter en oud-hoofregter HA Fagan wat reeds in die vyftigerjare ’n beredeneerde en heldere kritiek op rigiede segregasie gelewer het, spesifiek gerig aan sy eie mense, die Afrikaners. Slabbert se omskrywing van sy eie identiteit verdien om saam met die beste uit die Afrikaanse literêre tradisie onthou te word, juis vanweë die speelsheid daarvan.

    “Wie is ek? Niks wat ek hier gesê of in my lewe ondervind het, het my in die minste laat twyfel dat, of ek wil of nie, of ek daarvan hou of nie, en afgesien van my eie subjektiewe wroeging hieroor, my maatskaplike identiteit ook dié van Afrikaner is, en dat ek daarom so Afrikaans is soos snoek en patats, en boerewors en pap. Nie ’n voorstebors-Afrikaner of ’n kerklike swartpak-een nie; ook nie ’n kultuurvraat-, styweruggraat-Afrikaner nie; ook nie ’n losgat-, alternatiewe Woodstock-Afrikaner nie. Maar ’n snelverouderende, verdwaasde en soms verdwaalde Afrikaner, nietemin. Dat dit ’n bron van konsternasie vir sommige was en is, het ek aan die lyf gevoel. Maar selfs die konsternasie is ’n bevestiging van my maatskaplike identiteit.”4

Hy beskou verder dié identiteit as ’n “sosiale geboortevlek”, en hy versoen hom daarmee

    “dat ons lewe in ’n land waar sosiale geboortevlekke aan die orde van die dag is. Ons is mense saamgegooi in hierdie land, maar ons is ook swart, wit, kleurling, Asiër, Indiër, Zulu, Xhosa, Tswana, Hindoe, Afrikaner, Moslem, Engels en somtyds ’n mengelmoes van ’n paar van hulle. ’n Mens kan net bid vir verdraagsaamheid en ’n ruimheid van gees wanneer ons worstel met ons naasbestaan in die ‘nuwe Suid-Afrika’. Daarsonder gaan ons mekaar in ons hel in verbeel dat die land net aan een van ons behoort. Dit is ’n resep vir permanente stryd.”5

Dit is egter in passasies soos dié dat ’n mens ook die perke van redelike, liberale denke besef. Kan ons reken op die verdraagsaamheid van ons medeburgers? Is hulle vatbaar vir die redelike oop gesprek? Elders spreek Slabbert hom uit teen die neiging om “Afrika” voor te stel as iets wat tot die swart ras behoort, en die blote bestaan van hierdie vorm van denke druis myns insiens in teen die liberaal-redelike hoop op verdraagsaamheid. Die neiging om alle kulture en alle identifikasies as te alle tye “gelyk” te sien, soos die elf-amptelike-tale-idee, mag ’n goeie politieke slagspreuk wees, omdat dit inpas by ons idee van liberale demokrasie waar alle individue gelyk is, maar in die praktyk weet ons dat tale omtrent nooit gelyk is nie, ewe min as wat geldeenhede in die wêreld ewe belangrik is. Daar is ook ’n versweë strategie daarin, net soos die “afsonderlike vryhede” van apartheid die versweë strategie tot blanke oorheersing bevat het. Hoe onliberaal dit ook al mag klink, meen ek dat die imperiale, Engelse oorheersing in Suid-Afrika net teengegaan sal word indien daar wel vir Afrikaans ’n soort “voordeel” of privilegie opgeëis word. Noem dit die irrasionele estetiese wellus van die kunstenaar, maar myns insiens verdien Afrikaans wel daardie “spesiale plek” waarvan Slabbert sou wegskram.

Daar is sekerlik diegene wat hierdie tipe frase (“imperiale, Engelse oorheersing”) as ’n argaïese vorm van “HNP-retoriek” sou sien. “Imperialisme” is egter vir my eerder gekodeer met Vladimir Lenin en sy beroemde uitsprake daaroor. Taal is altyd besmet. Die sin waarin ek imperialisme hier gebruik, is dubbelsinnig en heterogeen: enersyds dui dit iets argaïes, koloniaal en Brits aan, andersyds is dit kontemporêr, Amerikaans, virtueel en ’n newe-effek van die pax americana. In sy kultuurpolitiek toon die ANC-bewind aspekte van beide, ook in sy “Afrika-momente”, want ek meen dat hy ’n swart-Amerikaanse begrip van Afrika het. Ook in Breyten Breytenbach se voorwoord tot Afrikaner Afrikaan praat hy van “te veel wat ‘oud’ is in die ANC”, wat myns insiens ook ’n herkenning is van die skatpligtigheid van dié organisasie teenoor nie net een nie, maar vele imperialismes: die Britse, die Amerikaanse, die kommunistiese, die pan-Afrikaanse. Want is pan-Afrikanisme nie maar ’n spieëlbeeld, ’n chirale inkarnasie, van die empaaier nie?

Bý sy insiggewende analises van wat hy die struggle noem, voel ek soms dat Slabbert ook geneig is om te onnadenkend met ’n konsep soos “apartheid” om te gaan. Sy bewering dat Suid-Afrika in Popperiaanse terme ’n “geslote maatskappy” was op soortgelyke wyse as Oos-Europa of Nazi-Duitsland, word weerlê deur sy verhale aangaande die absurditeite van die eertydse Bevolkingsregister waar sy goeie woord soms die regte uitwerking op die betrokke NP-minister gehad het om iemand van “bevolkingsgroep” te laat verander. In sy afwys van die eertydse parlement vergeet Slabbert ook dat daar in “geslote” maatskappye geen parlementêre opposisie, hoe ontoereikend dan ook, geduld word nie.

Vir my is een van die insiggewendste passasies in die boek dié oor De Klerk se siening van die veranderings wat hy in 1992 aangebring het as ’n “stroomversnelling”. Slabbert self is hieroor uiters verbaas:

    “Stel jou voor: die afskaf van apartheid en die begin van onderhandeling vir ’n volledige demokratiese alternatief ‘ ’n stroomversnelling’! Toe ek hom ná 2 Februarie in sy kantoor sien en vra hoekom hy die toespraak gemaak het, was sy antwoord dat hy enersyds ’n ‘geestelike sprong’ weg van apartheid ervaar het, en andersyds dat hy gek sou wees om nie die gaping te neem wat die val van kommunisme in Oos-Europa bewerkstellig het nie.”6

Teenoor Breytenbach se “nie met die pen nie, maar met die masjiengeweer”, kan ’n mens alternatiewelik iets voorhou soos, “nie met die masjiengeweer nie, maar met die uitveër”. Gegewe De Klerk se siening van die oorgang van 1992-1994 as ’n “stroomversnelling” in die hervormingsproses, asook die feit dat die ANC-rewolusie inderdaad gefaal het ná die verlies aan Oos-Europese borge, moet ons nou enkele jare later die kontinuïteit van hervorming raaksien, wat ook nie eintlik die rassebasis van sekere beleide verander het nie, videz regstellende aksie. Vir my is die grootste absurditeit van die huidige Suid-Afrika dat mense volgens ras in diens gestel moet word, gegrond op die ou Bevolkingsregister waaroor daar al gesê is dat dit ’n misdaad teen die mensdom was. Kan enigiemand miskien opstaan en ’n “swart persoon” vir my definieer, en sommer die rasgenetiese veronderstellinge waarop dit rus, daarmee saam? Feit bly, weer eens, plus ça change, plus ça reste la même chose. Hoewel Slabbert se liberalisme nog steeds die “breuk” van 1992 onderskryf, ondermyn hy tog in vele van sy opmerkings hierdie idee, soos ook in sy kritiek op die amptelike dogma van rewolusie soos gepredik deur die ANC en SAKP. Indien daar geen rewolusie was nie, waarom is die huidige Suid-Afrika kwalitatief anders?

Dit is ook die aard van Slabbert se kritiek op die huidige Demokratiese Party, dat hulle nie besef dat die parlement nou baie anders as tevore is nie7. Hierteenoor kan ’n mens die vraag opper: maar is die gebou dan nie nog dieselfde nie, en het die ANC/SAKP nie tog “burgerlike” (in die sin van bourgeois) demokrasie aanvaar en inderdaad die rewolusie verloën nie? Daar was tog geen breuk in die legitimiteit van die regstelsel nie?

Slabbert se nugtere, liberale en, hoef ’n mens by te voeg, baie verleidelike, perspektief bied miskien die eerste deurdagte siening van ons eietydse situasie wat voortspruit uit die bewindsoorname van die ANC. Dit is egter slegs wanneer ’n mens sy boek met ’n uitveër byderhand lees dat dit regtig interessant word. Slabbert het hier die voortreflike openingsrede gelewer in die besinning oor ons eietydse kultuurpolitiek — en op ’n manier is alle politiek in Suid-Afrika kultuurpolitiek — wat ons vorentoe nog lank gaan besig hou.



1 Van Zyl Slabbert. Afrikaner Afrikaan. Kaapstad: Tafelberg, 1999
2 Ibid., bl. 46
3 Ibid., bl. 47
4 Ibid., bl. 48
5 Ibid., bl. 49
6 Ibid., bl. 77
7 Vgl. bl. 82

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.