Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Verklaring van ’n postapartheid denkende christen

prof Sakkie Spangenberg

Ek aanvaar die Bybel as die basisdokument van die Christelike godsdiens. Aan die hand daarvan leef ek, formuleer ek my geloof, neem ek aan debatte deel en beoefen ek teologie. Wanneer ek dit sÍ, doen ek dit met die bewustheid dat daar eintlik nie ’n entiteit soos die Bybel bestaan nie, maar alleen Bybels. Binne die Christelike godsdiens is daar Oosters-Ortodokse Bybels, Katolieke Bybels en Protestantse Bybels. Hierdie Bybels bestaan uit boeke wat ’n lang ontstaansgeskiedenis gehad het en slegs deur mense geskryf is — weliswaar mense wat met God in ’n verhouding gestaan het. Om hierdie boeke reg te verstaan en korrek in teologiese gesprekke te gebruik, is dit noodsaaklik om kennis te dra van die destydse kultuur en leefwÍreld. Om Bybeltekste klakkeloos op ons samelewing van toepassing te maak, is ’n growwe miskenning van die leefwÍreld waarin dit geskryf is.

Ek glo dat God deur alle eeue na alle mense uitgereik het. Daarom was daar van alle tye af ’n variasie van godsdienste, omdat daar ’n variasie van mense, kulture en leefwÍrelde was. Die ware God het dus nie per skip vanuit Europa na Suid-Afrika gekom nie, maar die Christelike sendelinge wat hierheen gekom het, het gevind dat God ook hier aan die werk was. Die mense van Afrika het op hulle manier aan hulle belewenisse van God uitdrukking gegee. Daardie belewenisse wat in klip gegraveer, in verhale en gedigte vertel word, wil ek met respek en eerbied behandel.

Ek glo dat God ook vandag na ons almal wat aan die suidpunt van Afrika leef, uitreik. Ek wat binne die Christelike godsdiens groot geword het en hier saam met ander gelowiges van ander godsdienste leef, wil aan die beoefenaars van daardie godsdienste ruimte gee in die wete dat ons almal behoefte het aan God se liefde, trou en sorg. Ek doen dit in die verwagting dat ons almal ’n wedersydse begrip vir mekaar se belewenisse en tradisies sal toon. Ek wil saam met alle gelowiges van alle godsdienste stry vir reg, geregtigheid en vrede in hierdie land. Ek wil my ook beywer vir ’n verantwoordelike omgang met die aarde en sy hulpbronne. Ons as mense, wat laatkommers op hierdie planeet is, dra ’n dure verantwoordelikheid vir die voortbestaan van alle spesies op aarde. Volgens ’n prominente verhaal in my tradisie het God mense aangestel om sy skepping met verantwoordelikheid te bestuur.

Wanneer ek oor God praat, is ek daarvan bewus dat ek met my menslike verstand en begripsvermoŽ Hom in sy totaliteit nie kan omvat en finale uitsprake oor Hom kan maak nie. As Christen gebruik ek die begrippemateriaal waarmee ek geskool is om oor God te praat, maar met die wete dat hierdie begrippemateriaal met tyd verslyt. Daarom bestaan daar by my die behoefte om hierdie begrippemateriaal weer te ondersoek, na die sinvolheid daarvan te vra, en waar nodig, met nuwe begrippe en metafore na vore te kom om aan my geloof uitdrukking te gee.

Vir my as ’n gelowige vir wie die Christelike godsdiens sin en betekenis aan die lewe gee, is Jesus van Nasaret vir my ’n belangrike oriŽnteringspunt. Ek glo die getuienis van sy eerste volgelinge wat Hom as ’n buitengewone mens gesien en beleef het. Van hulle beskryf Hom as die lydende kneg van God, as die verwagte messias; ander praat van Hom as God se seun, as ’n groot profeet, ’n wysheidsleermeester by uitnemendheid, ens. Die wyse waarop hulle Hom beskryf en die metafore wat hulle gebruik het, moet teen die agtergrond van die vroeŽ JudaÔsme verstaan word. Jesus self het immers nie die Christelike godsdiens beoefen nie, maar die godsdiens waarin sy moeder en vader Hom groot gemaak het, te wete JudaÔsme van die Tweede Tempeltydperk. Daarom is Hy as kind besny, het Hy die tempel en sinagoges besoek, spreuke uitgespreek en gelykenisse vertel wat verband hou met daardie godsdiens. Sy uitsprake, verhale en handelinge dra onmiskenbaar die vingermerke van daardie godsdiens en daardie leefwÍreld. Die huidige navorsing oor die vroeŽ JudaÔsme en Palestina van die eerste eeu is vir my belangrik en fassinerend. Danksy belangrike argeologiese ontdekkings in die vorige eeu beskik ons tans oor meer inligting as vorige geslagte en kan ons ’n beter profiel trek van Jesus, sy godsdiens, sy leefwÍreld en sy tydvak in die geskiedenis.

Ek as ’n gelowige, navorser en gespreksgenoot in die debat oor die historiese Jesus en die nuwe reformasie wil ’n eg Suid-Afrikaanse en Afrikaanse stempel op die debat afdruk. Ek is daarom nie ’n klakkelose navolger van Robert Funk en die Jesus Seminaar nie. Daardie groep navorsers se navorsing kan ek egter nie ignoreer en afmaak as onwetenskaplik, onlogies, strydig met die rede en ontdaan van enige waarheid nie. Daardie navorsing open vir my deure om te vra na my eie denkbeelde van Jesus en om te vra na my verantwoordelikheid as sy volgeling. Sosiale, politieke en ekonomiese geregtigheid was klaarblyklik vir Jesus van Nasaret belangrik — daarom wil ek dit ook in ons samelewing nastreef, en wil ek in hierdie land tekens van daardie koninkryk oprig wat Hy verkondig het en waarna sy volgelinge steeds uitsien.


terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.