Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dina, Job, Cees en Cas

Annelie Ferreira

  • The red tent deur Anita Diamant, uitgegee deur Panmacmillan. R77.

    Resensie deur Anastasia se Vries (joernalis)

    Vernuftig en verloklik, is die blywende indruk van Anita Diamant se The Red Tent oor die bybelse Dina wat spoorloos uit Genesis 34 verdwyn nadat haar broers haar “verkragting” vergeld.

    Maar in Diamant se roman word Dina meer as net ’n voetnota in die bekende geskiedenis van Jakob en die gevierde kroniek van Josef. In die rooi tent, die heiligdom van vroue, ontvou Dina se lewe in die intieme sirkel van haar ma, Lea, en Josef se drie ander vroue. In dié boeiende wêreld kan die vrou (meestal) met ’n verdeelde hart leef, en met ’n onverdeelde een sterf in die wete dat “of all life’s pleasures, only love owes no debt to death.”

    Dit kon ’n bemagtigende roman gewees het, as jy net ontslae kon raak van die knaende ongemak met die stereotipering en konvensies wat in dié “herskrywing” van die Bybelgegewe verskuil lê. Die mans is karikature wat hulle vergryp aan taboes, Jakob word by sy ma soos ’n knieserige kind en Josef ’n arrogante papbroek. Een van die vrae wat opgeroep is, is: Kom die vrou slegs tot haar reg as die man óf opperste skurk óf engel is?

    Tog bly dit ’n pakkende verhaal, maar met die gevaar dat die meegesleurde leser die vernuftige wyses kan mislees waarop die vervanging van een mite (die superioriteit van die man ten koste van die vrou) deur ’n ander (die superioriteit van die vrou ten koste van die man) ’n onbevredigende werklikheidsbesef baar.

    Weliswaar ’n verhaal uit antieke tye, maar geskryf vir mense wat (dalk) volwasse genoeg geword het om die eiewaarde van die Self te meet sonder negatiewe en onverkwiklike vergelykings met die Ander.

  • Electric God deur Catherine Ryan Hyde, uitgegee deur Simon & Schuster. R164 hardeband.

    Catherine Ryan Hyde is ook die skrywer van die roman Pay it forward, wat laasjaar ook as ’n rolprent te sien was.

    Electric GodIn Electric God is die hoofkarakter Hayden Creese, ’n regte hedendaagse Job. Dis wat die flapteks sê, en ek kan dit bevestig, asook dat ’n paar skakerings van Jona in sy persoonlikheid tydens die verhaal duidelik word. Boonop hou hy hom op met al dié soorte mense teen wie jou sielkundige jou gewaarsku het, dus bly die ellende net toeneem.

    Die uiteindelike ontknoping van die roman is ’n bietjie te netjies vir my smaak, maar op pad daarheen is daar darem ’n paar verrassings wat die leser se aandag hou.


  • Ruim geloven: Een theologisch zelfportret, deur CJ den Heyer, uitgegee deur Zoetermeer: Meinema. R210.

    Resensie deur Sakkie Spangenberg (teoloog)

    ’n Interessante ontwikkeling op die terrein van die teologie is dat teoloë deesdae outobiografieë skryf. Dis egter nie droë vertellings oor die teoloog se lewe nie, maar pakkende vertellings van die persoon se betrokkenheid by die kerklike lewe en die teologie.

    Hier te lande het Willie Jonker vier jaar gelede ’n boek Selfs die kerk kan verander (Kaapstad: Tafelberg, 1998) gepubliseer. Alhoewel hy verkies om dit nie ’n outobiografie te noem nie, speel die ek-verteller daarin ’n groot rol en daardie “ek” is niemand minder as Willie Jonker nie.

    Ek het Willie Jonker as dosent op Stellenbosch beleef en het dikwels via die “theological grapevine” brokkies inligting rakende sy lewe gehoor (toe ek nog maar ’n kind was). Nadat ek in sy klasse gesit en hom as dosent leer ken het, het ek met belangstelling sy lewe gevolg. Sy teologie het my beïndruk en beïnvloed. Ek het sy boek dus opgerakel toe dit verskyn het. Vir die eerste keer kon ek uit sy pen van die dinge lees waarvan ek soms net tweedehands kennis gedra het. Maar ek het die boek ook geniet omdat ek ’n deel van die geskiedenis waaroor Jonker skryf, beleef het.

    In Nederland het daar twee jaar gelede ook ’n boek verskyn wat my onmiddellik getrek het. Dis geskryf deur Cees den Heyer, professor in Nuwe Testament aan die teologiese universiteit in Kampen. Dit dra die titel Ruim geloven: Een theologisch zelfportret. Die boek het reeds ’n tweede druk beleef, wat bewys dat Cees oor sake skryf wat mense raak.

    Ek het Cees in 1984 tydens sy eerste besoek aan Suid-Afrika ontmoet. Hy het nie veel erg aan my gehad nie. Ek was nog maar ’n stofpoepertjieteoloog. Enkele jare tevore aangestel as lektor in Bybelkunde by RAU.

    Hy het wel ’n kopie van sy boek De Messiaanse Weg 1: Messiaanse verwachtingen in het O.T. en in de vroeg-joodse tradisie (Kampen: Kok, 1983) aan my gegee. Eintlik was dit nie ’n behoorlike kopie nie. Dit was ongebonde dele, maar ek het dit met dank ontvang. Die onderwerp het my geïntereseer.

    Nadat ek dit gelees het, het Cees nooit weer uit my blikveld verdwyn nie. Hy het my immers bewus gemaak van die Joodse agtergrond van die Nuwe Testament en van die feit dat die voorspellings in die Ou Testament nie reglynig op Jesus uitloop nie. Ek het heelwat van sy boeke en artikels daarna gelees, want Cees het hom toegelê op die Joodse milieu van die evangelies en die feit dat die vroeë Christendom ’n vertakking van die Judaïsme is.

    Cees staan tans in die teologiese spervuur in Nederland vanweë sy standpunt oor die versoeningsleer, of dan die kerklike siening dat Jesus as offer aan die kruis gesterf het om mense se sondes te versoen. Hierdie sienings het hy in die boek Verzoening: Bijbelse notities bij een omstreden thema (Kampen: Kok, 1997) verwoord. Die herrie het na die publikasie van daardie boek losgebars en Cees moet nou nog bontstaan. In sy outobiografie vertel hy hoe sy denke oor jare ontwikkel het en waarom hy reken dat die kerk sy basisdokumente nie reg vertolk nie.

    Mense wat belangstel in die navorsing oor die historiese Jesus, oor die vroeë Christendom en oor ’n nuwe hervorming binne die Christendom moet hierdie boek lees. Cees skryf verstaanbaar en onderhoudend.


  • Zin en onzin rond de bijbel: Bijbelgeloof, bijbelwetenschap, en bijbelgebruik deur CJ Labuschagne, uitgegee deur Zoetermeer: Boekencentrum. R 183,50.

    Resensie deur Sakkie Spangenberg (teoloog)

    Cas Labuschagne is ’n oud-Suid-Afrikaner wat gedurende die sestigerjare van die vorige eeu na Nederland verhuis het. Hy is verbonde aan die Rijksuniversiteit in Groningen en doseer daar oud-Israelitiese letterkunde en uitlegkunde van die Ou Testament. Die rede vir sy verhuising was deels polities van aard. Die gebeure tydens en na die Cottesloe-kerkeberaad het hom sy tasse laat pak en Nederland toe laat versit.

    Hy het ’n hele aantal populêre boeke oor die lees en verstaan van die Bybel geskryf en hierdie een is eintlik die laaste een van ’n trilogie oor die Bybel en die verstaan daarvan. Aan die anderkant kan ’n mens dit ook as die laaste een van ’n tweetal sien: hy het enkele jare gelede ’n boek vir die populêre mark geskryf met die titel Zin en onzin over God: Een kritische beschouwing van gangbare godsvoorstellingen.

    Hoe lesers dit ook al verkies om te sien, dis ’n boek wat hulle aan die dink sal sit. Ek meld slegs die opskrifte van drie baie interessante hoofstukke: (1) “Hoe lezen wij de verhalen in de bijbel?”; (2) “Hoe gaan we om met de getallen in de bijbel?”; (3) “Wat stellen we ons bij het ‘spreken’ van God voor?” Dis ’n boek wat bedoel is vir mense wat op die hoogte wil kom met hoe Bybelwetenskaplikes tans oor die Bybel dink en praat.

    Na my mening behoort alle predikante wat afgevaardigdes is na die komende algemene sinode van die NG Kerk hierdie boek te lees. Daar gaan glo ’n studiestuk dien wat handel oor Skrifgebruik en Skrifgesag en hierdie boek bevat net die regte inligting vir ’n goeie gesprek.

    to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.