Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jesus: die Keuse deur Isak du Plessis

Francois P Viljoen

Jesus: die Keuse
Isak du Plessis
ISBN: 0 79630 266 9
R109.95
Klik hier vir meer, en om die boek te koop


Op vakwetenskaplike vlak het daar in die afgelope tyd baie diskussies plaasgevind en publikasies verskyn oor die historiese Jesus. Van hierdie gesprekke is ook in die openbaar gevoer. Veral die styl van opspraakwekkende stellings deur die Jesus Seminar in akademiese openbare forums het heelwat debat uitgelok. Dié debat is ook toenemend in Suid-Afrika gevoer. Dit het daartoe gelei dat mense al hoe meer ongemaklike vrae oor die historiese Persoon van Jesus begin vra.

In ‘n poging om op openbare vlak van hierdie vrae te behandel, het ‘n verskeidenheid populêrwetenskaplike publikasies die afgelope paar jaar die lig gesien, byvoorbeeld van Louw Alberts, Johan Cilliers, Jan du Rand, Adrio König en Murray Janson. Die vraag is of die publikasie van Isak du Plessis nie maar net nog ‘n boek in dieselfde lyn is nie.

Dit is opvallend dat Du Plessis bogenoemde boeke noem, maar nie as bronne raadpleeg nie. Sonder om iets inhoudelik oor hierdie boeke te skryf maak Du Plessis wel dié stelling: “Selfs die buiteblaaie of stofomslae van hierdie boeke teken vir ons ‘n Jesus soos ons Hom uit die Kinderbybel en ander populêre publikasies leer ken het” (p 20). Met hierdie stelling maak Du Plessis dit duidelik dat hy die benadering van bogenoemde skrywers onbevredigend vind. Die debat word syns insiens nie grondig gevoer nie, deurdat daar telkens op tradisionele en selfs sentimentele beelde van Jesus teruggeval word.

Du Plessis se uitgesproke bedoeling met hierdie boek is dat ‘n openliker debat met die kritiese standpunte (soos onder andere deur die Nuwe Hervormers) gevoer moet word, sonder “kleinlike bekgevegte” (p 21). Sodoende wil hy mense wat kritiese vrae oor die historiese Jesus het, begelei om ‘n “ingeligte keuse” te maak – ‘n doelwit wat hy deurgaans in sy boek herhaal.

Die boek val uiteen in die bekende tradisionele tweedeling van die histories-kritiese benadering wat ‘n skeiding maak tussen die “Historiese Jesus” (Deel I van sy boek) en die “Verkondigde Christus” (Deel II). Du Plessis begrond hierdie benadering op verskillende maniere: “Waaraan ons vashou is die apostels en ander gelowiges se verstaan van Jesus. God het nie die Bybel geskryf nie, Hy het dit aan mense oorgelaat om oor God te skryf” (p 108); en “Wat ons in die Nuwe Testament het, is hoofsaaklik Petrus en Paulus se siening van Jesus” (p 109); ook, “Dit is hulle (Paulus en Petrus se) weergawes wat oorheers het en wat ons tot vandag toe as die Woord van God ken. Daar was ook ander stemme in die vroeë kerk, maar hulle het mettertyd op die agtergrond geraak” (p 118). Du Plessis skryf wel ‘n kort paragraaf oor “Wat van die Heilige Gees se inspirasie?” (p 45). Sy argument is egter baie vaag en moeilik om binne die konteks van die res van sy boek te verstaan.

Vir persone met ‘n akademiese verwysingsraamwerk wat gewoond is aan hierdie kritiese debat oor die historiese Jesus, bied Jesus: die Keuse ‘n goeie oorsig oor die vraagstukke wat hier aan die orde kom. Vir “eenvoudige” gelowiges kan die boek egter ontstellend wees, aangesien talle “tradisionele” grondliggende beskouings oor Jesus as onseker voorgestel word: die maagdelike geboorte is onseker en die moontlikheid van ‘n buite-egtelike geboorte word genoem (p 230); dit is onseker of Jesus werklik die Seun van God is (p 144), daarom verkies Du Plessis om eerder van Jesus as die “Agent” van God te praat (p 168); Jesus sou nog verkeerdelik aan die Satan as persoon gedink het (p 165); siektes in die Bybel sou naïewelik aan die werking van onrein geeste toegeskryf gewees het (p 168); Jesus het misgetas oor die einde van die wêreld (p 197); die Heilige Gees is dalk bloot die krag van God (en nie ‘n Persoon nie) (p 229); die kruisdood van Jesus was dalk nie ‘n soendood nie (p 208); die opstanding van Jesus uit die dood is histories onseker (p 210), en so ook sy hemelvaart (p 217); die leer oor die lewe na die dood was ‘n heersende opvatting in die tyd van Jesus (p 195), gevolglik is dit twyfelagtig om vandag nog daaraan te glo.

Op grond van hierdie “onsekerhede” oor Jesus (wat in die kerklike belydenisskrifte as sekerhede gestel word) skryf Du Plessis dat dit tyd is vir ‘n nuwe belydenisskrif, wat hy van plan is om op te stel (p 229). Hy beskou dit as noodsaaklik vir mense wat die Bybel “met intellektuele integriteit” lees. Hy meen tog wel dat dit nog die moeite werd is om in so ‘n Christus (en Jesus?) te glo. Ek dink nie alle lesers van sy boek sal noodwendig met hierdie stelling van hom saamstem nie.




LitNet: 09 Februarie 2006

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.