Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Uit ’n kosmiese gemaksone

Hervormings is nooit maklik nie. Begin maar by die gaping tussen dié mense wat sug “Uiteindelik!” en dié wat probeer keer: “Nou al? Maar ons voel gemaklik hier!”

Tog (sê diegene wat weet) is gemaksones nie noodwendig gemaklik nie: hulle kan bloot bekend wees. Hulle kan selfs pertinent ongemaklik wees, maar omdat dit bekend voel, aanvaar ons dit maar so.

Ek is erg verknog aan my fisieke gemaksones. Ek hou nie daarvan as teerstrate ongerepte stukke veld begin inseil of as ’n geliefde koffieplekkie toemaak nie, en ek voel persoonlik beledig as ek by ’n winkel instap en hulle het die spaghetti geskuif na waar die seeppoeier laas was. Dan bly ek ook al vir meer as 30 jaar binne dieselfde radius van enkele kilometers.

Toe my man se base hom ’n paar jaar gelede van rustige Durbanville na dinamiese Gauteng wou stuur, het ek leliker vasgeskop as die hele donkiebevolking van die Wes-Kaap.

“Ek gaan nêrens heen sonder my ma en die Tygervalleisentrum nie!” het ek gesweer, en ek het ook nie.

Miskien, as ’n teenwig vir hierdie fisieke steeksheid, het ek ’n sterk geestelike avontuurlus ontwikkel. Aan die begin, moet ek wel sê, het ek tog af en toe angstig verwag dat iets dodeliks my uit die hemel sou tref omdat ek sekere dinge bevraagteken het, sekere boeke gelees het en sekere plekke betree het.

Ek rapporteer graag dat ek in plaas van deur iets dodeliks, eerder getref is deur geestelike moontlikhede van groter diepte en rykheid as wat ek tevore vermoed het.

Een van die plesiere van so ’n ontdekkingstog is dat wanneer jy skryf oor hierdie proses, jy dikwels mense ontmoet wat ook karring en krap aan bestaande grense. Wonderlike mense het my pad al só gekruis, met stories van ’n allenige stryd, dikwels, maar volgehoue soeke, en onverwagse groei.

En altyd: ’n huiwering om te sê wat hulle regtig dink en glo.

Wanneer predikante hierdie huiwering met my gedeel het, was ek altyd verbaas, selfs verontwaardig. Dink net: om in ’n amptelike hoedanigheid ’n benadering van oopheid en vernuwing te kan skep, en dan nie die geleentheid te gebruik nie?

Sake is nie so eenvoudig nie, besef ek toe. Die venynige kritiek en aanvalle waarmee die enkele teoloë wat wel eerlik is, beloon word, is geen aanmoediging vir diegene wat gesinne onderhou deur ander se goedkeuring nie.

Daarom dink ek dat die reg op godsdienstige vrye spraak uitgeklaar moet word voor daar aan enige hervorming gedink kan word.

Wat ook nie noodwendig ’n eenvoudige saak is nie. ’n Kerk is immers soos ’n vereniging met sekere reëls van lidmaatskap, en dis ’n redelike vraag in watter mate reëls aangepas moet word om voorsiening te maak vir verandering.

Gestel jy het ’n Vereniging vir Troeteldiereienaars, om nou maar ’n voorbeeld te noem. Almal sit ewe rustig met hul skaaphonde en gemmerkatte en nog wat, dan kom daar ’n ou met ’n olifant aan. Hoort hy daar? Ek kan my voorstel dat minstens die goudvismanne nie baie gelukkig gaan wees daarmee nie.

Wat ons bring by die probleem wat onderliggend lyk aan die kwessie van vrye spraak: gevoelens.

As ek die bespreking van geestelike onderwerpe op SêNet vergelyk met die bedrywigheid op die brieweblad van die Kerkbode (om nou twee uiterstes bymekaar te bring), is dit duidelik dat briefskrywers van oraloor met groot vreugde in mekaar se karakters en intelligensievlakke inklim. Dit val my egter op dat LitNetters — afgesien daarvan dat hulle mekaar op veel kleurryker wyses bykom — uiters selde die indruk gee dat hulle bedreig voel deur mekaar.

Op die brieweblad van die Kerkbode lyk die prentjie anders. Dis asof baie van daardie briefskrywers bang is dat ’n teoloog wat nuus maak iewers van ’n kansel of ’n podium af ’n proses aan die gang kan sit wat uiteindelik iets baie kosbaars van hulle gaan wegneem.

Dalk lê die verskil tussen dié twee gesprekstyle daarin dat die meeste LitNetters vrye geeste is wat hulle in elk geval min steur aan belangrike mense. Maar ook is daar ’n aansienlike mate van veiligheid in hierdie kuberbriefwisseling ingebou: daar is ’n hele paar skuilname, afstande van derduisende kilometers of ten minste die beskerming van ’n paar kabels en elektroniese toebehore, wat verseker dat slegs ’n kuberpersoonlikheid ooit blootgestel hoef te word.

Ons is almal op een of ander manier kwetsbaar: ons koester almal dié dinge wat ons sterk laat voel.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.