Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Boekresensies

Piet Pompies

Hildegard of Bingen: Selected Writings (Penguin Classics).
Mark Atherton (vertaler).

Penguin Books. ISBN 0-14-043604-9.

Mystical Orbits: Hildegard von Bingen and Birgitta of Sweden with Sufi Poems by Rumi. (Audio CD).

Dynamo House, Melbourne.

Boek beskikbaar by Boekehuis, Auckland Park. Prys: R89,95.
CD beskikbaar by geselekteerde takke van Exclusive Books. Prys: R79.

Hildegard van Bingen (1098-1179) was een van die veelsydigste mistieke van die Middeleeue en het onder haar tydgenote as die “Sybil van die Ryn” bekend gestaan. As ’n komponis, ’n digter en skrywer oor teologiese, wetenskaplike en mediese onderwerpe het sy ’n ryke skat van musiek en geskrifte nagelaat. Sy is een van die min vroulike komponiste uit die Middeleeue wie se werk vandag bekend is. Dit was vir baie jare in obskuriteit gehul, totdat haar liturgiese komposisie Symphonia Harmoniae Caelestium Revelatonium herontdek is. Liedere daaruit word deesdae gereeld uitgevoer en tans is daar reeds meer as twintig CD’s wat van haar musiek bevat, soos die pragtige album Mystical Orbits, waarop haar liedere “Hodie aparuit nobis clausa porta”, “O frondens virga”, “O viridissima virga”, “O victoriosissimi triumphatores”, “O virga ac diadema”, “Caritas habundat in omnia” en “Ave Maria” verskyn. Dit word gesing deur die soprane Miriam Andersen, Kelly Landerkin en Marilia Vargas, met Susanne Ansorg op Middeleeuse viool en Michael Form op blokfluit.

Atherton se boek bied geselekteerde tekste uit haar visioenêre Scivias-trilogie, haar mediese geskrifte en haar liedere en briewe.

Interessant genoeg is Hildegard vandag in Europa veral aan die een kant bekend onder aanhangers van kruiemedisyne en holistiese genesing, en aan die ander kant onder akademici vir haar musiek. Tot ’n mindere mate word sy ook waardeer vir haar lewensverhaal en die feit dat sy haarself kon laat geld as ’n gewilde en invloedryke skrywer tydens ’n misoginistiese era. Hoewel sy ortodoks in haar geloof was, en tot my ontsteltenis die gnostiese Katare veroordeel het, bewonder ek tog haar spiritualiteit, die vroulike vergestalting daarvan (sy het vrou en man as gelykes gesien), en haar begrip van die mens se eenheid met die natuur en die kosmos. Haar geskrifte is van inleidings voorsien deur Atherton, en die boek bevat ’n chronologie van haar kleurryke lewe, ’n diskografie van haar musiek, notas, ’n woordelys en kommentaar.


Chakra Chants deur Jonathan Goldman.
Etherean Music.

Kan bestel word by CD Wherehouse. Prys +/- R150.

Hierdie kosbare CD bestaan uit sewe snitte wat elk met een van die hoof-energie-vortekse in die mens se liggaam resoneer. Jonathan Goldman is ’n pionier op die terrein van klankgenesing en is deur die Dreunsangmeester van die Dalai Lama se Drepung Loseling-klooster bemagtig om mense in Tibetaanse bowetoon-dreunsang (overtone chanting) op te lei.

Bewonderaars van musiekgroepe soos byvoorbeeld Dead Can Dance en Delerium sal rasend wees hieroor. Die siklus begin by die wortel-chakra en werk sistematies deur tot by die kroon-chakra. As sodanig is dit ’n roerende stuk musiek wat geskik is as meditasie-klankbaan, om jou energieliggaam mee te verken, of sommer net as rustige agtergrondmusiek. Elke snit is ’n samestelling van ’n verskeidenheid toepaslike klanke en frekwensies vir die betrokke vorteks: ’n dreunsang van mans- en vrouestemme wat op ’n enkele vokaal en ’n spesifieke tonaliteit gebaseer is, ’n “bija”-mantra, en ’n elementele of “shabd”-klank. Laasgenoemde is die volgende vir elk van die sewe energiepunte: Donderweer vir die wortel-chakra; vuur vir die midderif; loeiende wind vir die hart; kriekgesang vir die keel; ’n resonerende kristalbak vir die voorkop; en kosmiese sopraanstemme vir die kroon.

Die duursame CD-boekie bespreek die subtiele liggaam en die beginsels van klankgenesing en voorsien fassinerende inligting oor die chakras en die frekwensies, klanke, kleure en geometriese vorme wat met elkeen resoneer. Bowetone (“overtones” of “harmonics”) is geometriese veelvoude van ’n spesifieke noot en verteenwoordig die “kleur” van klank. Die stem-bowetone wat hier gehoor word, voeg ’n diep emosionele kwaliteit aan die algehele luister-ervaring toe. Boonop is al die instrumente outentiek, dit wil sê geen gerekenariseerde klanke word gebruik nie. (Dus geen “backtracks” nie [glimlag].)

Die resultaat beloon die luisteraar met ’n bruisende opwelling van besielende vibrasie. Chakra Chants is ’n meesterstuk, ideaal vir ’n hele spektrum holistiese-genesingspraktyke soos Reiki, massering, aromaterapie en aanrakingsterapie. Donald Beaman se omslagkuns integreer die Sjri Yantra-simbool, ’n vierhoek-mandala en die menslike liggaam op ’n briljante manier. Ek beveel hierdie wonderlike klankervaring ten sterkste aan.


The Shamanic Experience: A Practical Guide to Contemporary Shamanism deur Kenneth Meadows.

Element Books. ISBN 1852302267.

Beskikbaar by Outer Limits, Mainweg, Melville. Prys: R80.

Hierdie is ’n omvattende inleiding tot die sjamaniese ervaring in hoofstukke wat onder meer die innerlike horison, die kosmos van die sjaman/medisynevrou, gereedskap, totems, die reis, kragdiere, gidse, leermeesters, beskermers, genesing en die kosmiese wette bespreek.

Die skrywer baseer sy insigte op dit wat hy by die Lakota Sioux geleer het, en verwys na die Groot Gees in hul taal as Wakan-Tanka. Op alle fundamentele punte stem hierdie sjamaniese leerstellings ooreen met huidige New Age-gelowe en die antieke wysheid van die Weste en die Ooste. Die outeur stel dit goed: “Sjamanisme het geen leiers of dogmas nie, en sjamanisme het geen volgelinge nie, net mense wat dit uitleef.” Met ander woorde, dis die verantwoordelikheid van die individu om die goddelike in haar-/homself te vind. Hy skryf boeiend, sy styl is toeganklik en die teks is ryklik geïllustreer. Daar is oefeninge, ’n woordelys, bibliografie en indeks. Dis ’n leersame boek en ’n waardevolle naslaanwerk vir die aspirant-sjaman en -vrou.


Liber Null & Psychonaut deur Peter Carroll.

Samuel Weiser. ISBN 0877286396.

Beskikbaar by Outer Limits, Mainweg, Melville. Prys: R150.

Hierdie klassieke werk in die chaos-towerkuns dien as ’n instruksiehandleiding vir ingewyde lede van die Internasionale Orde van Thanateros, ’n organisasie van anargo-okkultiste wat deur die wetenskaplike/punk/filosoof Peter Carroll gestig is.

Maar dis ook meer as dit, en beslis ’n leersame teks. Liber Null en Psychonaut is eintlik twee afsonderlike boeke. Eersgenoemde word weer opgedeel in Libri MMM, Lux, Nox & Aom, en hier behandel pous Piet (soos hy homself noem), onder meer gnosis, waarsêery, oproeping, magiese simbole (gekodeerde begeertes) en “lukrake geloof”, iets wat regtig amusant is: daar is ’n ritueel waartydens jy opeenvolgend vir ’n paar minute vas “glo” in konsepte soos materialisme, politeïsme, monoteïsme, panteïsme, chaos en panenteïsme.

Psychonaut is ’n versameling boeiende essays oor inter alia nuwe-eeuse magie, die rites van chaos, chemognosis (met ’n besonder interessante kykie na hallusinogene soos die amanita- en psylocybe-sampioene en die solanumspesies wat in Afrikaans monnikskap, wolfswortel en valkruid genoem word) asook sjamanisme, gnostisisme, thelema, magiese paradigmas en magiese tyd. My probleem by die lees van dié teks is die — om die minste te sê — ontstellende illustrasies deur Brian Ward. Dit doen afbreuk aan die jouissance, want dit voel asof die grillerige demone vir ’n mens staar as jy lees. Verder is die teks ryklik geïllustreer deur diagramme, gliewe en tekeninge.

As geheel dien die boek as ’n gids tot die magiese in ’n verstaanbare en aangrypende styl sonder fieterjasies. ’n Regte “classic” dink ek.

Net ’n woord van waarskuwing — ek reken dié boek moet buite bereik van kinders en onstabiele mense gehou word. Met hierdie voorbehoud beveel ek dit van harte aan vir bewonderaars van die Addams Family-films.

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.