Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die held op reis

Mens vorm versigtig ’n mening oor ’n land as jy maar ’n week daarin deurgebring het. Dit neem tog veel langer om enige kultuur en sy mense behoorlik te leer ken: baie dae se loop in baie mense se skoene.

Maar ai, toe ons jongste darem ’n paar brokkies uit Denny’s se kinderspyskaart-en-aktiwiteitsboekie met ons deel terwyl ons aan ons Cokes sit en teug …

Dit was die einde van ’n weeklange toer tussen Atlanta en Knoxville deur Georgia en Tennessee. Die grootste deel van die tyd het ons in die Smoky Mountains-distrik deurgebring, wydsbeen oor die grens tussen die twee state.

Ses maande na 11 September was daar wel nog tekens van die Amerikaanse reaksie daarop: groot landsvlae voor huise en kleintjies op motorlugdrade, asook ’n sinnetjie op die kennisgewingborde van hotelle en restaurante langs die pad, dikwels genoeg om opvallend te wees: “God bless America”.

So far so good. Ons is op pad terug Atlanta toe en saal vir middagete af by Denny’s, een van ’n verskeidenheid heerlike diners wat werklik gebedsverhoring is vir die arm reisiger op soek na ’n ordentlike porsie daaglikse brood en vette.

Kleinsus pak die Wordfinder-speletjie in die aktiwiteitsboekie aan, en elke keer as sy ’n woord kry, sê sy dit hardop: “America”, “strong”, “hero”, “justice”. Hoe nou? “Gee bietjie hier,” sê ek. Daar’s nog woorde, soos “proud”, “brave”, “patriot”. Die voorblad van die boekie klaar die tema op: “Hip, Hip Hooray for the USA!” Op nog ’n bladsy is ’n paar versies van die “Star-spangled banner” met sy “broad stripes and bright stars”, verder aan ’n afdruk van die Statue of Liberty (“We love liberty!”) en op die agterblad weer ’n vlag, in hartjievorm, met “land of the free” en “home of the brave” weerskante gedruk.

Ek voel ’n oorweldigende begeerte om iets te sê, maar ek begin versigtig. “Die Amerikaners se patriotisme is prysenswaardig,” merk ek so half terloops op, “maar partykeer wonder ek of hulle dit nie oordoen nie.”

“Ek weet nie,” sê my man. “Kyk maar net wat het die Amerikaners alles bereik omdat hulle so patrioties is, en trots op hulle land.”

“Wel, dis darem baie makliker vir hulle om saam te staan as in byvoorbeeld Suid-Afrika, waar mense so verskillend is,” verdedig ek.

“Hulle het ook maar hulle probleme gehad, nè,” herinner my man. “Hulle Burgeroorlog het die land in twee geskeur, en hulle het groot rassekonflik in die Suide gehad.”

“Dit was nog altyd makliker,” hou ek vol. “Die Amerikaners is ten minste almal Amerikaners; hulle kultuur is dieselfde. Ons het Afrika, ons het elf verskillende bevolkingsgroepe in die land!”

“Kan ons dalk oor ’n positiewe onderwerp praat?” tjip Ousus in ’n klein stemmetjie in.

Vir ’n oomblik is ek uit die veld geslaan, dan neem die patriotisme heeltemal oor. “Maar dit is ’n positiewe onderwerp! In Suid-Afrika leer baie verskillende mense hoe om mekaar te verstaan en vir mekaar ruimte te gee - en dit is heroic, my kind, dit is strong en dit is brave!”

Toe tref die eerste bord pancakes ons, wat geen Afrikaanse eter sonder ware moed kan baasraak nie.

Maar toe ons na ete verder ry, dink ek weer oor die konsep van heldhaftigheid. Mens kan nie regtig verskillende vorme van heroïsme met mekaar vergelyk nie. Dat daar ware Amerikaanse helde in die gebeure van 11 September na vore gekom het, is so, en hulle verdien erkenning.

Maar ’n held is nie net iemand wat fisieke kragdade verrig nie.

Helde in sprokies is simbole van die ego, en die held se take simboliseer ons lewenslange uitdaging van die integrasie van die self. In sprokies is die goeie en die gagga eintlik alles deel van onsself, en ons taak in die regte lewe is om dit al hoe beter te verstaan en te versoen.

Ek hou van die Amerikaners se oopheid, pragmatisme en selfvertroue. Daar is iets aan ’n regiment uitgegroeide Amerikaanse troepe (almal graduandi van Denny’s, wed ek) wat my veilig laat voel.

Maar in dieselfde mate het ek respek vir die vermoë om stil te bly sit, te luister en te leer; om te groei in ons kapasiteit om kontraste in die wêreld en onsself te verstaan en te aanvaar.

Soms kan dit meer heroïes wees om stil te sit en te luister eerder as om op te tree.

Ons Suid-Afrikaners sing darem ook “God seën Afrika”. Ek wil die Amerikaners hul bede beslis nie verwyt nie. Maar wat ’n merkwaardige dag sal dit nie wees nie om iets te hoor soos: “God bless America and Afghanistan. God bless all of us who are human, vulnerable and brave.”

Naskrif: Ek vertrek self op ’n “reis” (hoe heroïes dit sal wees, sal ons maar moet sien): ek gaan eers weg by God@LitNet om ’n ander projek aan te pak. Maar hierdie gaan beslis nog ’n lewendige ruimte bly, so besoek dit gerus steeds en laat hoor jou mening!

Baie dankie aan al God@LitNet se lesers vir ’n wonderlike tyd van groei: vir dié wat ons ondersteun het, en veral dié wat ontevrede was. Mens leer mos soms die meeste van diegene wat van jou verskil.

Beste wense!

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.