Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Emmie se teddiebere


Fanie Vermaak*

Wanneer ’n mens met ’n groep rondreis, is daar altyd baie interessante mense wat saamgaan. Soms baie unieke karakters wat kleur aan die groep verskaf. Jy is vir ’n baie kort tydjie na aan mekaar gebring; partykeer voel dit soos familie. Nie almal praat met enige iemand oor eie sake nie, die kamermaats kom meestal met die storie uit. ’n Verjaarsdag op toer is gewoonlik ook ’n groot ding. Emmie was nou al drie keer saam met ons Midde-Ooste toe en elke keer was haar verjaarsdag amper so halfpad deur die toer. Die eerste keer was dit in Libanon, die tweede keer in Irak en die derde keer in Egipte. Elke keer wanneer Emmie verjaar, is dit ’n anderste soort van lekkerte.

Emmie se eerste kamermaat, Linette, het vroegtydig met die storie uitgekom. Sy is blykbaar mal oor teddiebere, hulle staan haar hele huis vol, elke vertrek in die huis het sy eie spannetjie. Nie soos konyne wat almal eenders lyk en almal sommer gelyk daar opdaag nie. Nee, hulle is nie nommers nie, elkeen het sy eie naam en geskiedenis. Sy praat ook met elkeen in ’n ander taal, Emmie ken mos baie antieke en moderne tale. Sy sukkel blykbaar net ’n bietjie met die Chinese en Russiese bere, maar is besig om hulle ook Afrikaans te leer.

’n Mens moet ’n paar dae voor so ’n verjaarsdag al begin uitkyk. Die groep beweeg meestal vinnig en jy kan nie sommer net die bus stop wanneer jy wil nie. Wanneer die geleentheid hom voordoen, moet jy plan maak. Met haar eerste verjaarsdag is ons toe pas in Libanon. Net na ons die pragtige Baalbek in die Bekaa’-vallei besoek het, moes ons kortpad na Bcharrť deur die Kadisha-vallei en dan na die Sederberge se omgewing gaan — wat ’n pragtige roete. Maar dis net na die winter en die sneeu is nou besig om te smelt en ons kon nie meer van die oostekant af inbeweeg nie, die pad is te gevaarlik en gesluit vir gewone vervoer. Ons moes die lang pad vat, eers suide toe, deur die onderste punt van die Bekaa’-vallei wat net soos Stellenbosch en die Boland-omgewing lyk, met druiwe en al. Daarna kom ons toe in spitsverkeer Beiroet binne, daar is mos drie keer meer motors geregistreer as wat daar mense in die land is. Die rit raak net ’n bietjie te lank vir die dames, die Filistyne wil nie die bus laat stop nie, hulle sien dit gaan donker word, voordat ons daar in die Sederberge aankom.

Net toe ons so deur Beiroet is, kaap die dames feitlik die bus, Anne lei die span, dis nou nie meer ’n grap nie. Net so naby Biblos word daar toe afgedraai en ons kry ’n stop ingewerk. Dit neem ons letterlik meer as twee uur om weer in die stroom motors in te beweeg. Die pad na die Sederberge is nog ver, steil en bergagtig, toe onder die mis. Ons kom laataand daar aan. Geen tyd om vir ’n teddiebeer te soek nie.

Die volgende dag is toe die enigste tyd om vir ’n teddie uit te kyk, maar waar kry jy dit in die pragtige berge en rondom die Kadisha-vallei; ons besoek selfs die museum van Kahlil Gibran en die pragtige veelkleurige Maronitiese klooster en kerk. Hier is ook nie enige straatsmouse nie. Gelukkig begin ons toe later weer afbeweeg weer in Beiroet se rigting, maar die dag begin einde se kant toe staan. Genadiglik maak ons ’n draai naby Tripoli (nee, dis nou nie Ghaddafi se Tripoli nie). Hier besoek ons gou iets: ’n klein huisfabriekie wat seep en olies maak. Die gids speel toe ook saam en ek en Emmie se kamermaat glip weg en sak die eerste onderdak-basaar binne; ’n teddiebeer word gevind.

Die volgende dag by ontbyt word die teddiebeer met groot fanfare oorhandig, ek dog eers my aandeel is nou verby. Hier halfpad deur die dag word ek diplomaties deur die kamermaat genader: hulle wil weet of ek die teddiebeer sal doop. Bietjie onkant betrap, soek ek eers ’n bietije tyd om te dink. As oud-NG-dominee kan ek die kleindoop nie ligtelik opneem nie, ek kan mos nie al die heilige name en woorde so ydellik gebruik nie. Gelukkig is daar ’n paar kerkvas-mense in die groep en ek vra eers raad. Hulle stem saam, ons kan nie sommer so ’n doopformulier oorneem nie. Ek kry my storie toe mooi agtermekaar: ek sal net ’n naamgee-formulier uitwerk, nie met al die heilige name en terme van die kerk nie.

By aandete vind die seremonie plaas. Hulle reŽl alles, ek moet net daar wees en my funksie vervul, met my lang kalabia uit Aleppo aan. Toe ek my kom kry, bring die Italianer, Adami, die teddiebeer met dooprok en al, met groot applous van buite af in. Emmie straal van oor tot oor, nou gaan teddie naam kry. Ek gee hom toe naam, prins Liban van Tripoli, dis mos sy geboorteplek.

Emmie se kamermaat hou my op hoogte van wat in die binnekringe aangaan. In die bus op pad elders kry Liban ’n ereplekkie. Maar as ons moet uit vir die dag, die berge of klowe in, soos by Petra, word daar afskeid geneem en gegroet. ’n Ietsie word langs hom neergesit, vir ingeval die man honger word.

Met Emmie se tweede verjaarsdag is ons in Bagdad. Ons besoek in die omgewing al wat ’n ander ding is, van Babilon tot kopersmede en dadelwinkels. Die teddiebere bly my ontwyk. Laataand voor Emmie se verjaarsdag gaan ruil ons geld om by ’n snaakserige winkeltjie. Vir ’n dollar kry jy agt sulke groot note, so groot soos die ou Franse franknote. Twee duisend Irakese dinar vir een dollar. Vir so dertig tot vyftig dollar kry jy ’n hele plastieksak vol note, baie gerieflik vir kleinerige fooitjies. Die note lyk aantreklik en selfs indrukwekkend, maar is nie veel werd nie. Die aftellery aan die oorkant van die toonbank is ’n groot affÍre, alles per hand, geen elektroniese tellers nie. Met die groot getellery vir die hele groep se geld-omruil, sien ek ’n gaping en verdwyn in die strate. Met groot geluk kry ek ’n klein winkeltjie waar ’n teddiebeer hang. Met almal wat moeg is, eet die groep die volgende mŰre op verskillende tye ontbyt. Die naamgee-seremonie moet weer wag tot die aand.

Diť aand eet ons verrassend uit by ’n baie indrukwekkende plek, ’n aangename atmosfeer, die mense maak lekker tradisionele musiek, ’n goeie ritme vir die Midde-Ooste. Dit is ’n unieke gebou wat gedurende die sestiende eeu gebou is. Jy sien eintlik niks snaaks van buite af nie, die buurt lyk ook maar gagga-rig. Wanneer jy by ’n heel nederige deurtjie ingaan, klim jy omtrent drie meter met trappies af. Dan kom jy binne hierdie enorme kompleks in, dit is soos die straatvlak oor vier honderd jaar drie meter gestyg het. Dit was blykbaar ’n soort van ’n markplein in die sestiende eeu, ’n dubbelverdieping. Omtrent die hoogte van die driedubbele-verdieping wat jy in ons land sal kry. Aan alle kante van die saal, onder en bo, is afskortings ingebou waar ou stalletjies moes wees. Die onderste deel was blykbaar vir dierehandel gebruik en die boonste deel vir alles, van speserye tot kledingstukke.

Hier bedien hulle ons met ’n vyfgang-maaltyd. Met elke porsie wat hulle bring word daar eers ’n paar danspassies voor ons uitgevoer, so saam met die maat van die musiek, wat die hele aand aanhou.

So halfpad deur hierdie sessie moet Emmie se teddie nou eers naam kry. Met die eerste breuk van die musikante kry ons die kans. Die helfte van die nuwe groep ken nog nie vir Emmie en haar voorliefde vir teddies nie. Daar moet eers ’n bietjie agtergrond gegee word. Uit erkentlikheid vir die grootman in Irak, vernoem ons toe die teddie na hom, Saddam, prins van Bagdad. Die Irakese, sien ek, lyk nie so opgewonde hieroor nie. Hulle dink nie hulle president moet met ’n teddiebeer vergelyk word of aan een gekoppel word nie, al is daar effense trekke. Ek red maar die situasie en herdoop hom tydelik na Cassim. Nadat ons weer uit Irak uit is, kon hy weer sy regte oorspronklike naam terugkry. Cassim, ons reisagent, wat reg oorkant my sit, is toe kamstig heel opgetrek dat hy nou vernoem is.

Emmie se derde verjaarsdag op toer vind plaas in die suide van Egipte. Ons besoek die hele dag voor haar verjaarsdag die wesbank by Aswan. ’n Klein motorboot neem ons van een plek na die ander en die man wag elke keer geduldig vir ons aan wal. Vroegoggend neem ons die kameelrit op na St Simeon, die ou klooster, daarna die botaniese tuine in Kitchener se eiland, beleef laat middag ’n storm op die Nyl in ’n felucca-boot (tradisionele Nyl-seilboot), en ons besoek ook die grafte van die adellikes uit die Middel-Ryk, omtrent uit Abraham se tyd. Hieruit kon die nuwe teddie se naam ook herlei word, van Sirenput II, hoofman van Aswan. Hierdie teddie was so effens groot en kon nie in Emmie se tas inpas nie, nou nie dat sy hom in die tas wou bÍre of wegsteek nie. Hy kry die volgende dag ’n ereplek in die vliegtuig op pad Abu Simbel toe. Dis nie elke teddiebeer wat die son-tempel by Abu Simbel vanuit die lug te sien kry nie.

Hierdie nuwe teddie, Sirenput II, het eintlik eers die aand naam gekry by Abu Simbel, op die Nubian Sea waarmee ons op die Nasser-meer gevaar het om al die Nubiese sites te besoek wat nog oorgebly het, nadat die hoŽ dam by Aswan opgerig is in die sestigerjare. Dit het ’n mens baie laat dink aan die verskille tussen geboorteplekke en doopsregisters van die ou dae. Die ou familieregisters van ons agtergrootouers gee mos byna al die besonderhede van die doop aan, met getuies en al, terwyl die geboorteplekke en soms selfs die geboortedatums maar selde iewers gevind word. So is Sirenput II dan eintlik in Aswan gebore, maar het by Abu Simbel sy naam gekry.


*Fanie Vermaak is tans professor in Ou Nabye-Oosterse Tale en Kulture aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy onderneem jaarliks opvoedkundige toere na die Bybellande, hoofsaaklik gemik op studente in die Ou Nabye-Oosterse kultuur en ander belangstellendes in die agtergrond van die Bybel. Die hooffokus van die toere is die antieke beskawings in die Bybellande soos Egipte, EtiopiŽ, SiriŽ, Libanon, JordaniŽ, Iran (Ou PersiŽ), Irak (ou MesopotamiŽ) en Israel, met relevansie vir die Bybel.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.