Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eendag, lank gelede ...

Ons in die Weste het die slag om stelsels te verbeter. Vat nou maar reïnkarnasie. Die “probeer-tot-jy-dit-regkry”-model van die Ooste het ons deesdae aangepas tot ’n “kies-jou-lesse”-stelsel.

Iewers in die eter, so ’n paar dekades gelede — so stel ek my voor — sou ’n paar siele saamgekom het. Dit sou weer tyd wees vir my om ’n paar lesse te kies, en ek het ’n klompie vriende gevra om my te help besluit.

“Iets rêrig uitdagends, hierdie keer, dis waarvoor ek lus is,” sou ek sê. “Laat ek sien: ek was nou al ’n prostituut in Ierland en ’n slaaf in Israel en ’n Romeinse soldaat en ’n matroos en ’n edelvrou en … ag, julle weet tog. Al daardie lesse van oorlewing en mag. Ek stel nie meer belang nie. Wat ek hierdie keer wil doen, is om te leer wie ek regtig is. Ek wil my siel kan sien terwyl ek op die aarde is.”

Die reaksie is glad nie so entoesiasties as wat ek verwag het nie. Inderdaad is daar ’n paar kreune; iemand rol sy oë.

“Dis nou al die hoeveelste een wat die afgelope tyd met daai plan kom,” sou ’n voormalige wetenskaplike onderlangs vir ’n voormalige boervrou sê. “Hoekom wil jy dit doen?” sou hy vir my vra, nie onvriendelik nie. “Hier weet jy klaar wie jy is: ’n onbeperkte wese, jou essensie liefde en vreugde. Hoekom is dit nie genoeg vir jou nie?”

“Want ek vergeet dit elke bleddie keer as ek aarde toe gaan! Die oomblik wanneer ek in ’n liggaam is — en dis nie dat ek liggame wil kritiseer nie, verstaan my mooi — word ek oorweldig deur gedagtes van sterflikheid, en vrees, en lyding.”

’n Siel wat eenkant gesit en slaap het, skrik skielik wakker. “Daar is nog baie plekke vir lyding oop in Indië, hoor,” begin hy vinnig praat, “in die laer kaste, baie plekke. In Rooi China ook — daar’s ’n hele klomp vakatures; die Kommunistiese lande is altyd ’n goeie keuse, en dan die Midde-Ooste ook. As jy nie haastig is nie, verneem ek daar sal ook heelwat plekke beskikbaar wees in Rwanda en Bosnië teen die einde van die twintigste eeu mensetyd.” Hy ril effens, slaan die kruis — hy was ’n Rooms-Katolieke priester vir drie lewens na mekaar. “Mag God hulle help,” fluister hy.

Ek sou my gedagtes agtermekaar kry. “Dis nie dat ek daardie lyding geringskat nie, regtig,” sou ek dan verduidelik, “dis net dat daardie swaarkry onmiskenbaar is. Dit waarin ek nou geïnteresseerd is, is die lyding wat op die oog af nie lyk soos lyding nie. Soos ’n onwaarheid wat nooit aangespreek word nie, omdat dit op die oog af nes ’n waarheid lyk. Dis wat ek wil gaan ondersoek.”

Stilte. Iemand gee ’n sug van gelatenheid.

“Wat het jy in gedagte?” sou ’n voormalige skoolmeester vra.

“’n Gesin in ’n kultuur waar daar nie openlik oor gevoelens gepraat word nie,” sou ek nadenkend sê.

“’n Vrou in ’n patriargale samelewing?” sou ’n voormalige heks voorstel.

“Goeie idee.”

“’n Godsdiens wat klem lê op die siening van die mens as inherent swak?”

“Uitstekend.” Nog ’n ingewing skiet my te binne. “Daardie landjie aan die suidpunt van Afrika — die een met die probleme tussen wit en swart …?”

“Suid-Afrika?”

“Dis hy. Ek het dit: ’n wit dogtertjie, gebore in Suid-Afrika in 1958 mensetyd.”

Doodse stilte. Die priester slaan weer sy kruis. “Mag God jou help,” fluister hy.

En Hy het.

Miskien, tydens daardie selfde byeenkoms, sou ons klompie siele gepraat het oor die moontlikheid van ’n markplein (dat dit elektronies sou wees, sou ons destyds nou wel nie presies kon voorspel nie) waar ’n groep uiteenlopende mense kon bymekaarkom om te torring aan die definisies van lyding en genesing, waarheid en leuen, en haai, sommer ook te argumenteer oor seks en politiek en boeke en epidemies. Want onder al die gekrap en gekarring aan die wêreld — naby en ver — soek hulle na hulleself.

God help hulle.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.