Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Godsdiens vir dummies

Dit, sê party mense, is presies wat die probleem is: godsdiens is vir dummies. Om jou lewe daaraan te wy om Iemand te probeer plesier wat niemand nog ooit in lewende lywe gesien het nie, om seker te maak jy beland eendag op ’n plek wat niemand nog ooit in lewende lywe gesien het nie en wanna bet ook nie in dooie lywe nie … ássebliéf.

Ek stem saam.

Maar laat ek net eers vertel van die kaste. Die kaste in ons huis bevat, soos in alle ander wonings, geraamtes, kos en klere. En in ons geval ook dorpies.

Ons oudste meisiekind het ’n kas met ’n Barbie-dorpie. Daar is ’n Barbie wat staan en mooi lyk in ’n pienk kombuisie, ’n Barbie wat sit en mooi lyk langs ’n kampeertentjie en ’n Barbie wat haarself mooimaak voor ’n spieëltafel. Tussen die mooi is daar egter ook hier en daar iets wat onvoltooid is, soos ’n sitkamerbank en -stoele wat nie klaar gestoffeer is nie. Want terwyl Ousus nog so lekker besig was met bou en beplan, het sy oorgekom wat alle kinders die een of ander tyd tref: die een dag was sy klein, die volgende dag groot.

’n Paar kilometer van die Barbie-dorpie, in ons woonkamer, is daar ’n kas met ’n perdedorpie. Dis ons jongste s’n. Op die boonste rak is die ruiters se huis. Dis ten volle toegerus met al die mod cons, soos ’n toilet (in ’n lekkergoedwinkel raakgeloop, vol jellieboontjies), ’n stel eetgerei en eetgoed (sorgvuldig handgemaak uit klei) en ’n telefoontjie (het uit iemand se Kersklapper geval).

Op die onderste rak is die stalle, en dis nou éérs goed ingerig: ’n rak vir die saals, hake teen die mure vir halters en tome en ’n kissie met saalseep, borsels en medisyne. As enige noodsaaklikhede sou opraak, is daar gelukkig ’n winkeltjie met perdebenodigdhede net ’n paar kaste verder.

Mense leef eintlik ook maar in ’n kas, dink ek — en nee, ek het nie enige sneak preview van ons nuutste seksnavorsing gehad nie. Dit gaan eerder oor wat ons glo moontlik is.

Gestel byvoorbeeld dat Uri Geller kleintyd in ’n graad 1-klassie was wat hard geoefen het om hul letters reg te skryf, tussen die lyne in te kleur en ordentlik te eet met ’n mes en vurk. Wanneer sou hy die idee gekry het dat ’n vurk vir meer as ryskorrels bestem kon wees, dat grense gebuig kon word?

Gestel twee mense bevind hulle vir die 156ste keer in presies dieselfde argument, met dieselfde woede, verwyte en trane, en een van hulle wonder skielik: Maar daar moet iets meer wees as dit? ’n Ander, beter manier om hierdie kwessie te hanteer — is dit nie moontlik nie?

Daar moet iets meer wees as dit is ’n gedagte wat sin maak in baie verskillende situasies: vir die persoon wat in armoedige of gewelddadige omstandighede leef, én die persoon wat genoeg geld het om ’n paleis — selfs bypassende prins of prinses — aan te skaf. Nuwe — en wonderlike — moontlikhede word geskep wanneer iemand begin dink daar moet iets meer wees as besittings, besoedeling, verkragtings, moord, oorlog.

Soms kom die “iets meer” onverwags oor ons pad — in die vorm van ouerskap, ’n nuwe liefde, ’n tweede kans na ernstige siekte of ’n ervaring van hoop, vergifnis of genade wat ons so sterk aanraak dat dit ons vir altyd verander.

Die probleem is dat ons die groter werklikheid wat ons buite die kas vermoed, slegs kan definieer in terme van dit wat binne die kas is, van dit wat ons reeds ken. Dis hoekom ons baiekeer foute maak en dit met groot vertroue honderde en selfs duisende jare kan voortsit — en verskriklik kan baklei oor dinge waarvan niemand presies seker is nie.

Maar dis juis in die raaksien van hierdie foute waar uitkoms lê. “Problems cannot be solved at the level of thinking that created them,” het Einstein gesê. Daar is sekere spronge wat ons nie kan maak voor ons nie dummiebodem getref het nie, voor ons nie ’n bietjie verleë, maar helder, kan sien waar ons staan nie.

Salig is die dummies, want vir hulle is die moontlikhede groot.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.