Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wanneer teoloë nie dokter-dokter speel nie

Diek van Wyk

Gerrit Brand se artikel “Wanneer Teoloë Dokter-Dokter probeer speel” op God@LitNet is een van die minder emosionele, maar nie minder skerp nie, veroordelings van die sogenaamde nuwe hervorming. Hendrik Venter se vraag, ook op God@LitNet: “Is dit nie die teoloë wat die kerk moet help om dié se kom en gaan te formuleer nie?”, spreek my net soos vir hom aan. Anders as Gerrit, wat homself met onnodige beskeidenheid ’n halfteoloog noem, is ek ’n volslae leek op dié gebied. Dit verhoed my egter nie om die spore van enkele van sy argumente na te loop en te kyk waarheen dit ’n leek wat met hierdie vraagstukke worstel, lei nie.

Gerrit het groot gelyk dat JR Krige se analogie oor kennisoordrag in die medisyne en die teologie nie enduit opgaan nie. Soos met die meeste analogieë, indien nie almal nie, is daar naas geldige ooreenkomste ook aspekte wat onvergelykbaar is. Dit beteken egter nie dat ooreenkomste wat wel voorkom, as niksseggend afgemaak hoef te word nie. Dit is nogal die moeite werd om die dokter-dokter-analogie verder te ontleed, die ooreenkomste en verskille uit te pluis en te kyk of daar nie ’n paar insigte uit te haal is nie.

Die eerste ooreenkoms tussen die medisyne en die teologie is dat albei ’n drievlakkige kennishiërargie veronderstel, nl ’n vlak waarop kennis en insigte gegenereer en bevorder word, ’n vlak waarop dit deur opgeleide praktisyns na die praktyk deurgevoer word, en ’n vlak waarop die leek met die uitkomste van die deurgevoerde kennis in aanraking kom.

Die eerste vlak is die van professore of dosente aan universiteite/seminaria/kolleges wat studente oplei en van navorsers aan navorsingsinstitute. Dat die aard, kontroleerbaarheid, betroubaarheid en toepasbaarheid van die gegenereerde mediese en teologiese kennis aansienlik verskil, val nie te betwyfel nie, maar dit is nie die punt van die analogie nie.

Die tweede vlak is die van die mediese professie en die kerk, die dokter en predikant/priester/pastoor. Dit sluit ook mediese spesialiste en teologies gedoktoreerdes (halfteoloë?) in. Weer eens: om te kenne te gee dat die kerk as instelling soos die mediese professie werk, of dat predikante se bearbeiding van lidmate presies soos ’n dokter se behandeling van sy pasiënte is, sou gek wees. Wat wel relevant is, is dat die mediese professie/kerk en die dokter/predikant bemiddel tussen leke en die boonste vlak waar kennis gegenereer word.

Die derde vlak is die van die pasiënt en die gemeentelid of gewone gelowige. Nog eens: dit sou stompsinnig wees om die pasiënt-dokter-verhouding gelyk te stel aan die lidmaat/predikant-verhouding. Dit is nie waaroor dit gaan nie, maar wel daarom dat pasiënt en gemeentelid die grondvlak daarstel waarheen die kennis van bo af, op watter wyse ook al, deurgevoer word.

Die volgende ooreenkoms in die analogie is die struktuur van die kennissirkulasie tussen die drie vlakke. Gerrit voer aan dat dit in die geval van die medisyne iets van ’n geslote baan word waarin die pasiënt nie veel seggenskap het nie, in dié mate, selfs, dat tweede opinies nie meer gedoog word nie. Ek deel nie sy sombere siening hiervan nie, maar wil wel opmerk dat dieselfde situasie, net meer nog, in die teologie en kerklike lewe geld.

Van die kennisoordrag tussen die eerste en tweede vlakke — en ek gebruik die begrip “kennis” hier met dieselfde voorbehoude as Gerrit — syfer weinig na die lidmaat en die leek deur. Tiperend hiervan is ’n beswaar wat gedurig soos ’n refrein vanuit kerklike kringe teen die nuwe hervorming opklink: hou dit weg van die gewone lidmaat en beperk dit tot teoloë — asof “gewone lidmate” nie in staat is om hulle eie menings te vorm nie, en asof daar nie honderde ander belydenisse en gelowe is waarmee hulle daagliks gekonfronteer word nie.

Talle reaksies in die media en die pers belig weer die lidmaat se kant van die saak. In ’n bydrae op God@Litnet haal Dewald Hattingh — as hy ’n leek is — byvoorbeeld met instemming ’n stelling van Julius (Julian?) Muller aan dat predikante nie altyd heeltemal eerlik is oor probleme soos die wat Ruda Landman aanroer nie — en wat, terloops, onder andere deur die “nuwe hervorming” aangespreek wil word.

Nog ’n veelseggende aspek van die analogie is die wyse waarop kennis na die grondvlak deursyfer. In die geval van die medisyne geskied dit by wyse van (dikwels oorvereenvoudigde) artikels in die Reader’s Digest en die populêre media, maar ook van inligtingspamflette wat deur die beroep, gesondheidsowerhede, farmaseutiese firmas edm uitgereik word. In die geval van die teologie word die leek toegegooi onder lektuur wat die kerk se standpunt weerspieël, maar moet hy/sy hom/haar vir inligting omtrent wat “hoër op” aangaan, verlaat op (dikwels oorvereenvoudigde) berigte en artikels in die populêre pers. Die gewone lidmaat het egter een belangrike voordeel bo die pasiënt: teologiese literatuur is in die reël toegankliker as die hoogs tegniese verslae in mediese joernale. Die lidmaat kan, as hy/sy wil, beter ingelig wees.

En dit is net waar die mees potente ooreenkoms tussen die medisyne en die teologie na vore kom. Gerrit noem dat alternatiewe genesingspraktyke — homeopatie, neuropatie, akupunktuur, chiropraktyk, sangomas ens — toenemend meer vertroue onder die publiek inboesem en dat hulle — die publiek — dikwels die regte keuses doen deur dokters se raad te verontagsaam.

Ek wil die stelling maak dat dieselfde proses hom, net in ’n veel groter mate, in die godsdienstige lewe afspeel. Al meer leke wend hulle tot New Age-konsepte, Oosterse religieë, esoteriese praktyke, agnostisisme, ateïsme edm, of hulle word doodgewoon onverskillig, omdat hulle spirituele probleme en behoeftes nie deur die kerklike ortodoksie aangespreek word nie. Net soos die mediese leek die reg het om self te kies watter raad hy/sy wil volg, net so eis al meer teologiese leke die reg op om eie antwoorde te vind. Die (post-?)moderne mens wil al meer die verantwoordelikheid vir sy spiritualiteit self aanvaar en dit nie aan eksterne gesagsbronne — kerk, predikant, teoloog — oorlaat nie.

Die briewerubrieke van die koerante en ander media is vol van bydraes wat hieraan uiting gee. ’n Mens hoef nie verder as God@LitNet te soek om bevestiging daarvoor te vind nie. Die polemiek wat Steve Hofmeyr — ’n nie alte oningeligte leek — uitgelok het, is ’n voorbeeld. Ook Hendrik Venter se aangrypende bydrae, “En waar was Jesus dan toe ek hom nodig gehad het?”, is ’n voorbeeld, dié keer van ’n reis wat hom deur ’n dorre landskap moes voer voordat tuiskoms bereik is.

Ek wil aanvoer dat dit ’n wekroep behoort te wees tot teoloë, die kerk en predikante/priesters/pastore om dokter-dokter te begin speel, maar in ’n ander sin as wat Gerrit bedoel. Dit is om nie weg te skram van die probleme wat leke met konvensionele antwoorde ondervind nie, om onbevooroordeeld en met deernis die behoeftes aan te spreek sowel van swart vroue wat onder doringbome in die oop veld kerk hou as van ’n subsektor van die moderne burgerlike kultuur, om maar te hou by twee gevalle waaroor hy dit self het. As dit nie gebeur nie, kan ons ons uiteindelik in dieselfde situasie as Europa bevind, waar kerke leeg staan en ’n groot deel van die bevolking ontkersten is.

Wat veral belangrik is, is dat aanvaar moet word dat mense se spirituele behoeftes en ingesteldhede verskil. Gerrit erken self: “Uiteindelik moet ons elkeen ons ‘mind opmaak’ oor wat ons kan glo en hoe ons ons lewens wil lei.”

In dié verband sou dit goed wees om die onderskeid in gedagte te hou wat Ben du Toit in sy boek God — Geloof in ’n Post-Moderne Tyd, tussen verskillende spiritualiteitsmodaliteite maak. Ter wille van diegene wat ingestel is op wat Ben “intellektuele spiritualiteit” noem, is dit nodig om vir die “nuwe hervorming” plek op die tafel in te ruim, maar dan sonder om snedige etikette soos “middelklas Westerse Bybelnavorsers”, “ivoortoringbewoners” en “selfingenome intellektualisme” daaraan te koppel. (Om beredeneerde standpunte daarteenoor te stel, is iets anders.)

Dit is ook nie besonder behulpsaam om met fasiele argumente en uitsprake voor die dag te kom nie. Gerrit beweer dat omdat wonders en ander Goddelike ingrype nie histories-wetenskaplik waar of vals bewys kan word nie, dit nie volg dat dit nie geglo (of ontken) kan word nie. Om te dink dat dit wel volg, grens vir hom aan die idiotiese. Selfs vir ’n leek is dit duidelik dat dié argument meer kante het. Dit hang af van wat onder “kan” verstaan word. Sy standpunt dat “nuwe hervormers” beweer dat die histories-wetenskaplik onbewese nie geglo kan word nie, kan ’n sterk betekenis hê, nl dat dit nie geglo mag word nie. Dit sou doodgewoon ’n valse voorstelling wees. Geen “nuwe hervormer” sal beweer dat daar nie op ’n ander manier as hulle geglo mag word nie. Natuurlik kan of mag elkeen glo wat sy/hy wil. Jy kan of mag ook in reïnkarnasie, karma, ’n veelgodedom of selfs bose geeste glo as jy wil.

Sy stelling kan egter ook ’n swakker betekenis hê, nl dat dit moeilik is om aan wonderwerke edm as objektiewe, historiese feite te glo. Let wel, ek praat van wonderwerke edm as historiese feite en nie as metafore van geloofsinhoude nie; hieroor aanstons meer. As dit aan die idiotiese grens, sou ek nogal nie omgee om ’n idioot genoem te word nie.

Waarteen “nuwe hervormers” dit wel het, is die teenkant van die argument. Ewe min as wat dit volg dat die histories-wetenskaplik onbewese nie geglo kan (of dan: mag) word nie, volg dit dat dit geglo moet word, dat dit die enigste geldige gesigspunt is. Waaraan sou dié argument grens? Ek weier om dit idioties te noem; daarvoor het ek te veel respek vir die geloof van diegene wat anders besluit wanneer hulle voor die keuse van glo in onbewese dinge te staan kom.

Enigeen wat onbevooroordeeld na die verskille tussen die kerklike ortodoksie en die “nuwe hervorming” kyk — trouens, na bykans alle godsdienstige verskille — sal besef dat dit ten diepste om metafore gaan, dws die wyse waarop gepraat en gedink word oor die Goddelikheid, Jesus en die Bybel. Sonder metafore verskraal geloof tot geestelike armoede. Selfs dié gelowiges wat aandring op die letterlike verstaan van die Bybel en belydenisstukke, kan nie daarsonder nie; hulle metafore is net minder en swakker as die van andere.

As jy ’n “nuwe hervormer” — en ek het spesifiek Suid-Afrikaanse voorstanders van die “nuwe hervorming” in gedagte — sou vra of hy/sy in God, Jesus en die Bybel glo, sal die antwoord in elke geval ja wees. Daarop sal dan ’n verduideliking volg dat alles wat in die Bybel staan en oor God en Jesus gesê word, egter nie letterlik opgeneem word nie. Formulerings oor die nieletterlike verstaan van dié dinge kan verskil, maar dit sal in elke geval daarop neerkom dat dinge wat anders gesien word, beskou word as metafore waardeur uitdrukking gegee word aan diepliggende waarhede omtrent die Goddelikheid en die mens se verhouding tot Hom. Só gesien, verskil “nuwe hervormers” van die kerklike ortodoksie grootliks daarin dat hulle groter erkenning aan metafore gee, dus dat hulle meer metafories en minder letterlik dink, en dat hulle metafore ’n groter reikwydte het.

Daar is nog meer oor Gerrit se artikel te sê. Ek wou egter net ’n paar gedagtes wat sy betoog by my losgemaak het, deel.


terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.