Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wonderwerke

Dit was in Januarie toe ek besluit het dat 2001 Die Jaar van My Blitsverkoper sou wees.

Maar op watter kategorie sou ek my visier stel? Met ’n resepteboek kan jy nie ver verkeerd gaan nie, maar myne sou begin met “Kry ’n maat wat hou van kook”, en daarna sou ek nog ’n hele honderd of so leë bladsye hê om te vul.

’n Geestelike boek, besluit ek toe — mense soek tog na iets wat hulle siele ook voed. Ek meen, kyk net hoe goed verkoop die Bybel. Maar nie bloot ’n boek oor God nie; een waarin God se woorde en dade onmiskenbaar te bespeur is. Vat nou maar, weer eens, die Bybel, en ek reken God se gesprekke met Neale Donald Walsh was nie verniet so gewild nie.

Wonderwerke — dit sou my onderwerp wees.

Ek maak ’n voorstel vir God: Hy voorsien die wonderwerke — een per dag sal piekfyn wees — en ek skryf hulle neer.

Net — uhm — ’n paar voorwaardes. Eerstens moet dit die soort wonderwerke wees waarvan ek in ’n ligte trant kan vertel. Dit kan roerend wees, natuurlik; my lesers mag lekker aangedaan raak, maar ek sal darem graag ’n grappie of twee af en toe wil inwerk …

Op dié oomblik dat ek my plan sit en bedink, bel ’n vriendin (en dit het alles presies so gebeur, ek belowe). Ons ruil nuus uit en sy vra of ek weer iets aan die skryf is.

“Nie regtig nie,” sê ek. “Ek het nog net ’n paar idees.”

“Wat van ’n geestelike boek met humor?” vra sy.

Ná hierdie teken so reg uit die hemel is ek werklik opgewonde. Met hierdie projek, verseker ek vir God, kan nie een van ons verloor nie.

Ek haas my om die fynskrif gefinaliseer te kry: geen wonderwerke wat enige lid van my naby, uitgebreide of aangetroude familie of vriende in die verleentheid sal stel as dit op skrif sou verskyn nie — vir myself gee ek nie om nie. En: ek kan net nie baie goed skryf oor seks nie, so verkieslik geen wonderwerke in die bed nie, dankie.

En verder net één spesifieke versoek: dat my man ’n engel sal sien. Net een keer — dit sal genoeg wees.

Ek sit pen en papier reg en gaan die aand vol verwagting slaap. Watter wonderlike ding gaan gebeur wanneer ek my oë die volgende oggend oopmaak?

Ek gaan ’n uitval hê met my oudste meisiekind, dis wat.

My eerste aantekening vir my nuwe boek is somber: “Het ’n uitval gehad met Ousus. Dit sal ook ’n wonderwerk wees as ek haar sonder skade groot kry.” En met dié verdamp my entoesiasme vir my lekker nuwe projek sommer. Wat ek eintlik gesoek het, erken ek aan myself, was maar net ’n tasbare ervaring van Goddelike teenwoordigheid binne die morsigheid van elke dag se lewe. Maar hiervoor, skat ek, is Niemand se arm te draai nie.

Ek gaan bêre my aantekeninge in ’n kas bo-op die stapeltjie ander Belowende Idees op Ys.

Tog, amper ’n jaar later dink ek na oor daardie kordate plan van my — en ek begin wonder of ek nie uiteindelik gekry het waarna ek gesoek het nie. A course in miracles is ’n lywige boek wat al jou gekoesterde oortuigings neem en hulle een vir een op hul kop draai. Aan die einde van baie honderde bladsye kyk jy heeltemal anders na die wêreld, en hierin lê ook die kernbeginsel van die boek: “A miracle is a change in perception.”

Kan ’n wonderwerk so eenvoudig wees? Ek begin dink ja, as mens in gedagte hou dat dit dikwels nie ’n negatiewe ervaring op sigself is wat die grootste uitwerking op jou het nie, maar jou persepsies daaromheen: persepsies omtrent jouself, ander mense en die wêreld. Ons bou hele lewens op persepsies.

Persepsies is berug daarvoor dat hulle onakkuraat kan wees. Ek kyk terug oor die afgelope paar maande en sien hoe ’n hele boel van my persepsies verander het; hoeveel wonderwerke ek inderdaad beleef het.

En my man en die engel?

Met die nadink snap ek vir die eerste keer die betekenis van ’n gebeurtenis wat my ’n paar maande gelede bloot verras het. My man het my een enkele keer in 22 jaar “engel” genoem.

I rest my case.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.