Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Koning Dawid en die Psalms

Sakkie Spangenberg

Een van die goeie ou Sondagskoolgebruike uit my kinderdae was om kinders Bybelgedeeltes te laat leer. Op dié manier het ek ’n paar psalms aangeleer. Een daarvan was Ps 23: “Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie.”

Die woorde van hierdie psalm het so deel van my geword dat die bewoording van die 1983-vertaling maar net nie vir my dieselfde gevoelswaarde kon kry nie.

Dit is juis hierdie gevoelswaarde wat mense teësinnig maak om ’n nuwe vertaling van die Bybel te aanvaar. Tog is dit broodnodig om die Bybel van tyd tot tyd te vertaal. Tale groei en verander immers, vertaaltegnieke verbeter en ontdekkings in die antieke wêreld bring nuwe insigte na vore.

Dit is juis die ontsluiting van die ou Nabye-Oosterse wêreld en die studie van ou antieke tekste wat geleerdes laat besef het dat koning Dawid nie vir al die psalms verantwoordelik kon wees nie. Neem nou maar Psalm 23 as voorbeeld. Dié betrokke psalm het as opskrif: “’n Psalm van Dawid”. Sonder om twee keer te dink, het ek as kind aanvaar dat Dawid hierdie psalm geskryf het. Sy naam staan dan immers bo-aan die psalm.

Later jare het ek geleer dat Dawid na alle waarskynlik nie die psalm geskryf nie. Die psalm sluit tog met die woorde: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.” Die uitdrukking “die huis van die Here” verwys na die tempel — en dié het nie in Dawid se tyd bestaan nie.

Mense kan nou wel redeneer dat daar ook na die tabernakel verwys is as “die huis van die Here” — en dis korrek — maar die psalm verraai ’n soort teologie wat na die Babiloniese ballingskap na vore gekom het. Dit was ’n teologie wat rondom die wet en die tempel gedraai het.

Dit geld ook van Ps 15. Dié psalm dra ook die opskrif “'’n Psalm van Dawid”. Maar net soos in die geval van Ps 23 kon Dawid dit nie geskryf het nie, want hier word ook vertel van die tempel. Ps 15 begin met die woorde: “Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?”

Alhoewel hier van “u tent” gepraat word, slaan dit op die tempel in Jerusalem. Die hele psalm word as ’n Poortliturgie of ’n Intreeliturgie geklassifiseer.

Wanneer ons praat van die liturgie van ’n erediens, verwys ons na die orde waarvolgens ’n erediens verloop. Ons kan ook hierna verwys as die volgorde van die verskillende elemente van die diens. Mense kom gewoonlik ’n kerkgebou binne en gaan sit in stilte in afwagting van die predikant of pastoor. Sodra hy/sy binnekom, gebeur daar ’n aantal dinge in ’n bepaalde volgorde totdat die diens met ’n seëngroet of gebed beëindig word.

Ps 15 weerspieël iets van die (volg)orde wat by die tempel afgespeel het. Die besoekers het by die ingang na die tempel gestaan en die vraag hardop uitgespreek: “Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?” Die priester het hierop geantwoord met die woorde: “Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek.”

Wat ons hier het, kan ook as ’n soort opsomming van die Tien Gebooie (Eks 20) beskou word.

Op grond waarvan weet ons dat dinge só by die tempel verloop het? Op grond van ander tekste in die Ou Testament wat byna identies aan hierdie psalm is.

Vergelyk byvoorbeeld Ps 24:3-4. Daar staan byna dieselfde woorde: “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is ....”

As Dawid dan nou nie hierdie en ander psalms wat sy naam dra, geskryf het nie, waarom is dit aan hom toegedig? Die antwoord moet ons soek in die neiging in die ou tyd om vername persone in die geskiedenis as beskermheer (op Engels “patron”) van ’n belangrike saak te maak. Dawid is so die “beskermheer” van die psalms gemaak en Moses die “beskermheer” van die wette van Israel en Solomo die “beskermheer” van die wysheid. Net soos Moses nie vir al die wette kan pa staan nie, so kan Dawid ook nie vir al die psalms pa staan en Salomo ook nie vir al die spreuke en wysheidsgeskrifte nie. Latere geslagte het dit maar net met hulle verbind.

Hierdie was maar één van die interessante feite wat ek teëgekom het in verband met die Psalms. Die interessantste feit vir my was egter die ontdekking dat die Psalmboek ook uit vyf boeke of bundels bestaan. Ons kan daarna verwys as Israel se “lofprysingspentateug”.

Die woord Pentateug kom van die Griekse woord penta wat “vyf” beteken. Wanneer ons van die Pentateug praat, verwys ons na die eerste vyf boeke van die Ou Testament: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium. Hierdie vyf boeke is deur latere geslagte aan Moses toegedig, en op voetspoor hiervan het die tradisie ’n lofprysingspentateug tot stand gebring wat met Dawid verbind is.

Elkeen van die vyf psalmbundels word afgesluit met ’n vers waarin God geloof word. Die slot van die eerste bundel lui: “Geloofd sy die Here, die God van Israel, van ewigheid tot in ewigheid. Amen, ja amen.” Die slotpsalm (Ps 150) dien tegelykertyd as afsluiting van die laaste psalmbundel en die ganse Psalmboek.

Die vyf psalmbundels kan in die vorm van ’n piramide voorgestel word met die laaste bundel as die spits: Bundel vyf (Ps 107-150). Bundel drie (Ps 73-89:53) en vier (Ps 90-106:48) vorm die middellaag en bundel een (Ps1-41:14) en twee (Ps 42-72:19) die basislaag.

Die feit dat die Psalmboek met ’n lofpsalm eindig, het deels daartoe bygedra dat die boek in Hebreeus die naam “Lofliedere” dra. Heelwat psalms is dan ook gedigte wat God se lof besing: vergelyk Ps 8, 100, 103-107, 111-118, 135-136, 146-150. Wat hulle betref, sal een stelling van Claus Westermann (’n Duitse Ou-Testamentikus wat heelwat navorsing oor die psalms gedoen het) my altyd bybly:

    Allein der Lobende vergieß nicht.
    Man kann von Gott sprechen und ihn doch längst vergessen haben.
    Man kan über Gott nachdenken und ihn doch längst vergessen haben.
    Das Vergessen Gottes, das Fortgehen von Gott
       fängt immer damit an, daß das Lob verstummt.

Vry vertaal lui dit só:

    Alleen diegene wat God se lof besing, vergeet nie.
    ’n Mens kan oor God praat, maar Hom lankal vergeet het.
    ’n Mens kan oor God nadink, maar Hom lankal vergeet het.
    Die vergeet van God, die afskeidneem van God
       begin altyd daar waar lofsange stil raak.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.