Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Spiritualiteit

Heine de Waal

Heine de Waal was vroeër ’n mediese tegnoloog in die Tygerberg-Hospitaal. Die afgelope vier jaar praktiseer hy as holistiese terapeut in Bellville.

Dit het begin kort na ek twintig geword het: aanvalle van gewrigsontsteking in my heupe, bene en arms. Dit was so pynlik dat ek byna nie kon beweeg nie. Net so skielik as wat die aanvalle begin het, het hulle opgehou — tot ’n volgende keer. Ek het al hoe meer bekommerd geword en van die een dokter na die ander begin gaan. Die een was meer oortuig as die ander hoe om my te behandel — maar niemand kon my gesond kry nie.

Dit was die begin van ’n lang tydperk van pyn en wanhoop in my lewe. Amper erger as die aanvalle was die onsekerheid oor wat met my verkeerd was, en wat my toekoms sou wees. Uiteindelik is ek op agt en twintig gediagnoseer met ankiloserende spondolitis, ’n ongeneeslike gewrigsiekte. Die simptome daarvan is kwaai aanvalle van pynlike gewrigsontsteking in die bekken en rug. Ongeveer tien persent van pasiënte kry die ontsteking ook in hul arm- en beengewrigte, soos ek. Tydens die episodes van inflammasie vind daar ook beenvergroeiing plaas, sodat die gewrigte elke keer ’n bietjie stywer word. “Bamboo spine” is die naam vir die erg vergroeide, immobiele ruggraat wat lyers later ontwikkel.

Ek het gehoor dat die dokters niks vir my kon doen nie, behalwe om my simptome te verlig. Die siekte sou al hoe erger word en ek sou uiteindelik ’n afhanklike kreupele word. Medikasie kon my dalk in remissie hou, maar dit was net ’n moontlikheid.

Dit het gevoel of my wêreld tot stilstand gekom het. Die prentjie wat die mediese wetenskap vir my geskilder het, was donker, en ek het verskriklik alleen gevoel. Tog wou ek dit nie aanvaar dat ’n mens sommer net met ’n siekte gestraf word nie. Nie een dokter kon aan my verduidelik hoekom ek hierdie siekte opgedoen het nie — ek het dit “maar seker” van my ouers geërf. Ek kon nie hierdie verduideliking aanvaar nie en het my eie navorsing begin doen. As niemand anders my kan help nie, het ek besluit, moet ek dit self doen.

Ek was lankal bewus daarvan dat ek nie op godsdienstige vlak bevredig word nie, en het reeds ’n verskeidenheid kerke “uitprobeer”. Nou het ek nog verder begin soek, boeke gelees en nuwe idees begin oorweeg.

Ek het in alle erns begin mediteer en tydens elke sessie ’n gesonde liggaam en gewrigte gevisualiseer, elke dag. Ek het vir komplementêre terapieë gegaan, waar die terapeut my op ’n energievlak behandel het om die elektromagnetiese velde in en om my liggaam te beïnvloed.

En ek het heeltemal gesond geword. Ek neem vandag nie eers meer medikasie nie.

Eers later, toe ek hierdie verskynsels en terapieë begin bestudeer, het ek besef dat my siekte oor selfliefde gegaan het. Ek wou myself nie aanvaar nie. Ankiloserende spondolitis is ’n outo-immune siekte, wat beteken dis ’n toestand waar die liggaam teenliggame teen sy eie weefsel produseer. Dit wat ek aan my gees gedoen het, het fisiek gemanifesteer as hierdie siekte.

Ek het ’n moeilike paadjie geloop, en eers toe ek my spiritualiteit ontdek en ontgin het, het dinge vir my radikaal verander. Dis iets wat vanself begin plaasvind het; ek het aanvanklik nie besef dat ek besig was met ’n spirituele proses, ’n proses van selfaanvaarding nie. Maar die oomblik toe ek begin het om myself te aanvaar en lief te hê soos God my geskape het, het my liggaam sy vernietigingsproses gestaak.

Spiritualiteit is nou deel van alles in my lewe. Ek kan my nie dae indink sonder daardie geestelike konneksie nie. Ek het as kind ’n goeie Christelike basis gekry om op te bou, en dit het my baie gehelp. Maar ons is dikwels geleer om al ons probleme net op God te werp en dan te verwag dat ’n ongelooflike wonderwerk moet gebeur. Die wonderwerk gebeur wel, maar dit kos harde werk van ons mense se kant ook. Dit is nie altyd maklik om te glo en te vertrou dat God jou sal verlos van jou lyding nie. En dis nie maklik om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou aandeel in die probleem, en ook die oplossing, nie.

Ek het al die jare as ’n mediese tegnoloog in ’n groot hospitaal gewerk. Terwyl dit my vroeër bevredig het, het ek toenemend besef dat hierdie streng wetenskaplike werk besig was om my siel te versmoor. Een van die groot stappe in my lewe was om hierdie werk te los en iets te soek wat my totale bevrediging sou gee, en wat my geestelik sou verryk. Nog ’n belangrike stap vir my was die keuse wat ek gedoen het om my vertroue in God vir myself te toets deur my medikasie te staak en my toestand as my eie verantwoordelikheid te sien. Ek het wel hulp van ander gekry in die vorm van komplementêre terapieë, maar ek het verantwoordelikheid vir my omstandighede aanvaar en geglo dat God my die leiding sou gee wat om volgende te doen.

Dit is hoe ek self in die komplementêre geneeskunde beland het. Ek het my eie resultate so ongelooflik gevind dat ek hierdie veld self wou bestudeer. Dit was ’n groot sprong vir iemand met ’n wetenskaplike agtergrond, maar ek is immers genees van ’n toestand wat in my vorige beroepsveld as ongeneeslik gesien is. Die resultaat was ’n nuwe beroep. Die grootste beloning vir my is die ongelooflike bevrediging wat ek kry uit hierdie “werk”. Elke pasiënt verryk my siel. Die hartseer van die werk is dat jy moet aanvaar jy kan nie elke mens help nie. Uiteindelik moet elke mens homself genees; ek speel maar net die rol van ’n mediator tot genesing.

Soos ons die nuwe millennium inbeweeg, duik die woord spiritualiteit oral op. Baie mense voel verward oor wat die woord werklik beteken. My siening en interpretasie is gegrond op my eie ervaring. Ek sien dit as iets wat wel nié van die fisieke wêreld is nie, maar tog in noue kontak daarmee is, in so ’n mate dat spiritualiteit slegs vanuit ’n fisieke wêreld ervaar kan word. Oor die vraag waar godsdiens inpas: dit is juis vir my die punt waarom alles draai — nie die godsdiens nie, maar die “Goddelikheid” in diens.

Iemand het eenkeer die volgende oor godsdiens en spiritualiteit kwytgeraak: As mens die situasie met ’n piesang sou vergelyk, beeld die piesang soos ons dit daar sien, die geloof en godsdiens uit soos wat ons dit beoefen. Maar die hele piesang is nie sigbaar nie, net die skil. Die skil is die godsdiens. Die geloof lê daarin dat daar meer is as net die skil. As ons die diens in die geloof sit en die skil afhaal, sal ons die kern van die piesang vind, wat eintlik spiritualiteit is (Jak 2:26: “So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood”).

Baie mense kom nooit hier uit nie en ontdek dus nooit hulle spiritualiteit nie. Die proses van ontdekking is egter baie persoonlik en kan nie veralgemeen word nie. Ek het onder andere deur meditasie by spiritualiteit uitgekom. Dis ’n metode om diep in jou wese antwoorde te vind; elke mens vind dit op sy eie manier.

Meditasie is vir my ’n manier van in stilte met jouself verkeer. Dit maak nie saak watter vorm dit aanneem nie. Dit is wel belangrik om jou heeltemal af te sluit van die wêreld se dinge en na binne te keer. So hoor jy die “stem” van God met jou praat. Dit neem tyd en oefening om dit reg te kry, om hierdie “piesang” goed geskil te kry. Maar as jy vasbyt en deurdruk, word jy werklik beloon. Ek ondervind dit daagliks. Toe ek eers hierdie paadjie begin loop het, was daar nie meer omdraai nie. Enigiets anders wat ek probeer het, het maar droog en vaal gelyk.

Meditasie is iets wat nog redelik onbekend is onder Afrikaanse mense. Die konsep van meditasie kom oorspronklik van die Boeddhisme en het stadig oorgewaai na die Weste. Westerlinge beoefen meditasie oor die algemeen egter meer as ’n visualiseringsmetode om by hulle kultuur aan te pas. Deur meditasie leer jy jou eie “ek wees” ken, sonder die oordele en waardes wat die samelewing in jou denke geplaas het. Dit bring jou in aanraking met die splintertjie van God wat elkeen van ons binne-in ons dra. Daar kry jy baie antwoorde op vele vrae. Vir my is die geheim om hierdie antwoorde te vertrou en nie te dink jy fabriseer dit nie. Die Bybel praat van bepeinsing, wat ’n vorm van meditasie is. Dit beteken in stilte sit en antwoorde soek. Ek ervaar dat God dan met my praat, deur die wêreld se harwar.

Ek glo dat ons al die kennis van die lewe binne-in ons dra, maar dit slegs in stukkies kan ontvang soos die siel ryp genoeg word om al die inligting te kan hanteer. Wanneer ons gebore word, is ons nie bewus van hierdie kennis nie, want ons taak is om te leer en te groei. Ons kan slegs hier op aarde die siel verryk. Ek glo ook aan die konsep van reïnkarnasie. Wanneer die liggaam afsterwe en die siel het nie ’n sekere vlak van ontwikkeling bereik nie, moet dit terugkeer na hierdie fisieke vlak om verder te leer. Hoe beter ons dus die siel verryk, hoe nader kan ons aan ons Goddelike oorsprong kom.

Om spiritueel te word beteken vir my nie net om gereeld te mediteer nie, maar ook om gereeld te bid. Deur te bid vra ons dinge van God. Gebed en meditasie vul mekaar aan. Deur te bid kan jy vrae rig aan God en deur te mediteer ontvang jy die antwoorde. Dis belangrik om stilte vir God te skep om met ons te praat, om antwoorde te ontvang. Dis ’n kuns om bewus te word van hoe en waar die boodskappe oral opduik. Maar ek weet verseker dat as ek vra, ek ook ontvang.

Een van die heel belangrikste elemente van spiritualiteit is vir my onvoorwaardelike liefde. Dit begin met liefde aan jouself. Jy kan nie jouself ten volle vir ander mense gee voor jy nie geleer het om volledig aan jouself te gee nie. Dis soos ’n beker wat jy eers self moet volmaak totdat dit oorloop sodat ander daarvan kan ontvang.

Dit is dán eers wanneer hierdie volheid na jou terugkom en jy werklik liefde kan ontvang. Daar is so baie mense wat liefde soek, maar hulle weet nie eens hoe om dit aan hulleself te gee nie. En as jy dit nie weet nie, kan jy dit ook nie aan iemand anders gee nie. Ek het self hierdie moeilike les moes leer. Ek het myself nie liefgehad nie en het myself daardeur nie net geestelik nie, maar ook fisiek vernietig.

Om spiritueel te wees, beteken vir my dat ek in wese ’n siel is met ’n liggaam en nie ’n liggaam met ’n siel nie. Die siel is dus in beheer van die liggaam en deur die gees word hierdie liggaam lewe gegee. Ons besef nie tot hoeveel ons in staat is nie, hoe magtig ons werklik is nie. Dis vir my belangrik om my volle krag te eien sodat ek die lewe werklik kan geniet en nie alles hoef te vrees wat met my gebeur nie.

Die siel kom van ’n almagtige God; hierdie liggame van ons is net voertuie waarin ons hier op aarde beweeg. Ek sien dit as deel van die verrykingsproses, want ons liggame gee ons ervarings van emosies en pyn. Ek het geleer dat ek werklik in staat is om my liggaam te beheer, soos ek ’n voertuig bestuur. Ek praat dikwels met my liggaam asof hy ’n kind is en ek ’n ouer. Die liggaam het nie ’n redenasievermoë nie. Dit wat jy jou liggaam vertel, sal hy doen. As jy elke oggend vir hom sê dat hy moeg is, sal hy altyd moeg wees. Ons skep baie van ons siektes so — selfs dié wat as ongeneeslik deur die ortodokse geneeskunde bestempel word — deur denkpatrone te skep wat die liggaam negatief beïnvloed en so die selle siek maak.

As holisitese terapeut sien ek dikwels in my praktyk hoe ongeneeslike of onverstaanbare siektes deur blote energie-terapie genees word. Denkpatrone skep emosies en emosies is energie en energie kan verander word. My spiritualiteit help my om die moeilike dinge in die lewe beter te verstaan en te aanvaar, en so probeer ek om nie onnodig negatiewe denkpatrone te skep wat my later kan siek maak nie. Ek glo dat negatiewe denkpatrone (soos ek dit self ervaar het, en ook in ander mense sien) kan bydra tot siektes soos kanker, artritis, asma, hartversaking, anorexia, depressie, ensovoorts. Negatiewe denkpatrone wat oor ’n lang tyd aankom, manifesteer later op sellulêre vlak omdat dit die selle op daardie spesifieke plek se vibrasies so verlaag dat dit makliker geaffekteer word deur eksterne faktore, soos virusse en bakterieë, dieet, spanning en omgewingbesoedeling.

Spiritualiteit beteken ook vir my om met my kreatiwiteit in aanraking te kom. Ons raak so afgesluit van die dinge wat ons as kinders geniet het, dat ons hiervan vergeet. Tog het elke mens ’n kreatiewe sy en dit moet in werking bly as jy geestelik gesond wil wees. Dit beteken nie dat jy een of ander kunsvorm moet beoefen en met kunstenaars moet meeding nie, maar dat jy die kinddeeltjie in jou — wat wil speel en liefde en plesier wil ervaar — lewendig moet hou. As jy net eers bewus daarvan raak, word dit maklik om kreatiwiteit in jou alledaagse lewe uit te leef. Dit kan iets so eenvoudig wees soos die manier waarop jy ’n bord kos inskep — dit mooi maak al is dit net ’n gewone aandete by die huis.

Kreatiwiteit is God in werking deur ons. Mense wat hulle spiritualiteit ontwikkel, raak meer kreatief en mense wat hulle kreatiwiteit ontwikkel, raak meer spiritueel, selfs sonder dat hulle daarvan bewus is.

Nog ’n betekenis wat spiritualiteit vir my het, is die reiniging van my liggaam, gees en denke. Reiniging van die liggaam is redelik eenvoudig. Reiniging van die gees en denke is meer ingewikkeld, maar as jy bereid is om dit aan te pak, sal jy meer as dubbel en dwars daarvoor vergoed word. Dis ’n geleidelike en soms lang proses om te werk deur al die negatiewe oortuigings waarin jy vasgevang is. Partykeer is daar baie klein dingetjies waarna eers gekyk moet word voor die groter take aangepak word. Dis belangrik om dinge te probeer regstel met almal in jou lewe met wie jy op een of ander manier worstel.

’n Goeie riglyn vir myself is dat as daar iemand is wat ek nie graag op straat wil raakloop nie, ek weet dat ek ’n kwessie het om met daardie persoon uit te werk. Om te sorg dat daar nie ’n nuwe probleemsituasie ontstaan nie, probeer ek om enige moeilike kwessie sommer dadelik te pak as dit opduik, en dit af te handel. Dis nie goed om toe te laat dat iets eers sweer en dan later as ’n groot abses oopbars nie. Soos die emosionele aspek van jou lewe “skoongemaak” word, volg die behoefte om jou fisieke omgewing ook skoon te maak dikwels outomaties. Ek het gevind dat dit ’n onvermydelike proses is: om behoorlik huis skoon te maak en alle besittings wat nie meer ’n doel dien nie, uit te gooi of weg te gee. Wanneer energie emosioneel geskuif word, volg fisieke verskuiwings outomaties.

Vir my is nog ’n hulpmiddel om my spiritualiteit te ontwikkel om my kennis oor geestelike dinge uit te brei. Die Bybel is nie die enigste geestelike boek wat daar is nie. Daar is vandag baie boeke beskikbaar oor spirituele sake. Mense kry dit al hoe meer reg om hul geestelike horisonne te verskuif en ook na ander mense se opinies oor geestelike verryking te luister. Daar is selfs baie nuttige boeke wat ons meer oor die Bybel vertel.

Die Bybel dra vir my een goue boodskap uit, en dit is onvoorwaardelike liefde. Ons is so geneig om dit mis te kyk, net al die moets en moenies in die Bybel raak te sien en so hope skuldgevoelens te kweek wat in negatiewe denkpatrone omgesit word.

Die veranderinge in Suid-Afrika het vir baie mense ’n onsekere situasie geskep. Baie mense vrees die toekoms en sien net die negatiewe raak. Ek voel egter baie positief oor al die veranderinge en sien ’n ongelooflike toekoms vir ons land en ook die hele wêreld. Ek glo dat Suid-Afrika, en veral Kaapstad, ’n uiters belangrike rol te speel het in die wêreld. Ons is besig om ’n voorbeeld te stel van hoe dinge kan verander tot ’n mooier en beter kwaliteit van bestaan.

Dit is egter so dat ons eers deur moeilike tye moet gaan om daar uit te kom. Daar moet “sleg” wees om die “goed” teen te meet. Daar sal nog baie moet verander omtrent mense se sienings oor menswees. Ek glo dat al die gruwelmoorde, ongelukke en misdade ’n spesifieke doel het en nie sommer net ellende is waarmee ons gestraf word nie.

Ek sien dit nie so dat God ons straf nie; ons straf onsself. God bring net hulp, leiding en liefde. Alles gebeur met ’n spesifieke doel om by ’n sekere goeie resultaat uit te kom. Alles wat met ons gebeur, is maar net om die liefde van God te vind, en die weë is nie altyd so duidelik nie. Daar is baie te leer uit alles wat met ons gebeur. Ek glo dat ons soms in ’n sekere lewe niks meer kan leer nie, daarom sterf ons sodat ons op ’n nuwe manier kan begin leer. Die smart en die angs wat die mensdom deurmaak, is nie weg te redeneer nie en is ’n harde werklikheid, maar bly steeds vir my deel van die Goddelike plan. Dit is in sulke omstandighede dat spiritualiteit vir my standvastigheid bied en ek elke dag met die wêreld se dinge kan saamleef.

Om spiritueel te wees beteken nie vir my om soet en vreeslik dierbaar te wees nie, maar om eerlik en opreg te wees. Dis om die doel te hê om ’n konstante beeld van jouself uit te dra sodat mense weet presies waar hulle met jou staan. Dis om ’n werklike lig van God te wees, wat elke dag met dieselfde helderheid skyn.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.