Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Godsdiens herontdek

Nokuzola Mndende

Nokuzola Mndende is ’n parlementslid en besig met haar doktorsgraad in die teologie.

Godsdiens is die rede hoekom ek in die politiek ingegaan het, en hoekom ek vandag in die parlement sit. Maar tot ’n paar jaar gelede het ek nooit gedink dit sou so gebeur nie.

Ek het in die Transkei grootgeword, in die landelike gebied. Ek het daar skoolgegaan, my onderwysopleiding daar gekry en daar begin skoolhou. Ek was gelukkig in my werk en sou my hele lewe daar kon gebly het. Maar ek was nog altyd geÔnteresseerd in godsdiens en kultuur, en terwyl ek in Umtata skoolgehou het, het ek besluit om deeltyds te begin studeer. In 1992 het ek na die Universiteit van Kaapstad gekom om my studies voort te sit. In daardie stadium het ek reeds twee grade in die onderwys gehad, en ek wou met my Meestersgraad begin.

Ek het vir godsdienswetenskap ingeskryf omdat dit ’n stopvak was, ’n “maklike” vak wat ek kon neem om vir my ’n krediet te gee. Destyds is godsdienswetenskap vanuit ’n taamlike eng — gewoonlik Christelike — perspektief aangebied. Maar eendag het een van my dosente, Canon Pato, oor Afrika-godsdiens kom praat. Ek was uit die veld geslaan; wat was hierdie Afrika-godsdiens nou? Hy het dan gepraat oor diť dinge wat ons by die huis gedoen het, die tradisionele rituele wat ons beoefen het. Maar ons het altyd gehoor dat hierdie gebruike nie ’n godsdiens was nie, maar kultuur. Daar is vir ons swart mense vertel dat ons nie ’n godsdiens gehad nie — ons was heidene. Ons was mense wat ’n godsdiens nodig gehad het, die Christelike godsdiens. En hier staan Pato voor ons en hy sÍ — en dit was die eerste keer ooit dat ek, ’n onderwyseres, besig met universiteitstudies, dit gehoor het — dat daardie dinge wat ons by die huis gedoen het, die hele tyd ’n godsdiens was!

Ek was so verstom om te besef dat wat my pa my geleer het, ’n godsdiens was, dat ek net daar besluit het om hierdie onderwerp verder te bestudeer. Dit was kennis wat my gedefinieer het, wat my in staat gestel het om te kon sÍ wie ek was sonder om skaam te wees daaroor. Daardie tradisies van ons swart mense, ons “kultuur”, is altyd as minderwaardig teenoor die Christelike godsdiens beskou, iets wat ons sommer net op ons eie by die huis gedoen het. In Pato se klas het iemand vir die eerste keer vir my vertel dat ons al die tyd besig was om die regte dinge te doen.

Ek het begin besef op hoeveel maniere die Christendom my gevoel van identiteit en eiewaarde ondermyn het. Een voorbeeld: My naam is Nokuzola. In ons tradisie word ’n naam nie sommer net gegee nie; dit het ’n baie spesifieke betekenis. Wanneer ’n kind gebore word, kry hy ’n plek in die familie van die lewendes, en die dooies. My naam was Nokuzola, en dis vandag nog Nokuzola. Maar ons het gehoor dat ons nie ’n godsdiens het nie: as jy dus na ’n Westerse skool wou gaan, was die heel eerste vereiste dat jy in ’n Christelike kerk gedoop moes wees. ’n Naam soos Nokuzola is beskou as ’n heidense naam, daarom kon jy nie daarmee skool toe gaan nie. Jy moes ’n sogenaamde Christen-naam hÍ — ’n “Christian name”. En hierdie Christen-naam sou jou eerste naam wees. Die ander naam sou jou tweede naam wees, wat jy net by die huis kon gebruik.

Om plek te kry in die skool, moes jy dus ’n Christen-naam hÍ, en ’n doopsertifikaat. Dus moes jy gedoop wees, en aan ’n Christelike kerk behoort het, of jy nou daarvan gehou het of nie, en of jy daarin geglo het of nie. Volgens my ma is ek gedoop in die Gereformeerde Presbiteriaanse Kerk, en het by daardie geleentheid die naam van Oscarine gekry. Ek het nie eens geweet wat dit beteken nie. Maar ek het Oscarine Nokuzola Mndende geword; in geen stadium was dit Nokuzola Oscarine nie. By die skool was ek Oscarine; by die huis Nokuzola. Dit het ’n identiteitsverwarring geskep. Ook in die kerk, as iemand jou naam gevra het, moes jy jou Christen-naam gegee het, of jy nou werklik ’n Christen was of nie. As jou ouers jou nie ’n Christen-naam gegee het nie, het die onderwysers op skool dit sommer gedoen. In sy boek Long walk to freedom vertel Mandela hoe hy die naam Nelson op sy eerste dag by die skool gekry het.

Dus het ek kerk toe gegaan omdat ek moes. Jy het ’n doopsertifikaat nodig gehad om vir die skool se juniorsertifikaat in te skryf. Wanneer jy jou juniorsertifikaat — vorm drie — verwerf het en hoŽrskool toe wou gaan, het jy ’n getuigskrif van jou skoolhoof nodig gehad, jou doopsertifikaat en ’n getuigskrif van jou predikant.

Afrika-godsdiens is in baie opsigte glad nie erken nie. Op die sensusvorms van 1981 en 1991, byvoorbeeld, is daar keuses van al die godsdienste soos Islam, HindoeÔsme, JudaÔsme — selfs onbekende godsdienste soos die Confucianisme — maar wanneer dit by ons swart mense gekom het, is slegs keuses van kerke aangedui: die African Independent Kerke, die Sioniste, Metodiste, ensovoorts. Daar is aangeneem dat as jy nie aan die Anglikaanse of Metodiste-kerk of een van die ander hoofstroomkerke behoort het nie, jy aan ’n Sioniste-kerk behoort het. Die regering het nooit besef dat daar opgevoede swart mense was wat nooit kerk toe gegaan het nie, maar hulle eie godsdiens beoefen het. Afrika-godsdiens is nie erken nie, dit was slegs kultuur. Sulke mense het net nie bestaan nie. Selfs vandag nog glo party mense dat hulle nie bestaan nie.

Onder swart mense is daar die uitdrukking van “my huiskerk”, wat net dit beteken: “die kerk van my huis” — nie my kerk, of my oortuigings nie. Toe my ouma, my pa se ma, met my oupa getroud is, wat aan die Gereformeerde Presbiteriaanse Kerk behoort het, het sy ook ’n Presbiteriaan geword. Maar sy was die enigste lid van haar gesin wat kerk toe gegaan het! Sy het die voorbeeld van haar skoonma gevolg. Maar hoewel my pa en ooms nooit na die Presbiteriaanse kerk toe gegaan het nie, het hulle gesÍ dat hulle Presbiteriaans was. Toe my pa getroud is, moes my ma maar inval en by die kerk van haar skoonma aansluit. Nou was dit net my ma wat kerk toe gegaan het, steeds nie my pa of enige van my broers nie. Maar voor 1994, wanneer hulle vorms ingevul het en by die spasie vir “Kerk” gekom het, het hulle “Presbiteriaanse Kerk” ingevul. Die Presbiteriaanse Kerk het dus hierdie niebestaande getalle gehad.

My vraag is: Wat beteken dit om ’n Christen te wees? Beteken dit om ’n godsdiens op papier te hÍ, waaraan jy behoort selfs al glo jy nie werklik daarin nie en woon jy nie die dienste by nie?

Dus: toe ek in godsdienswetenskap van Afrika-godsdiens te hore gekom het, het ek besluit dat ek meer daarvan wou weet. Ek het toe Kursus I, II en III daarin gedoen, asook my Honneurs en Meestersgraad. In 1994 is ek as dosent in godsdienswetenskap aangestel.

Omdat jy nie oor iets kan praat wat jy nie ken nie, het ek ook Honneurs in die Nuwe Testament gedoen. Ek weet hoe die Bybel geskryf is, en kan hierdie inligting aan my mense deurgee. Wanneer iemand ’n teks uit die Bybel aanhaal, kan ek ook ’n teks uit die Bybel aanhaal.

Op die oomblik is ek besig met my PhD in rituele rede. Ons swart mense begin nou stadig uit die skadu’s kom om te erken dat wat godsdiens betref, ons so dikwels geen ander keuse gehad het as om voor te gee dat ons aan ’n erkende godsdiens — meer spesifiek die Christelike godsdiens — behoort het nie. Ek wil my mense die vryheid bied om op te hou voorgee, om op te hou dink dat ons nie ons eie godsdiens het nie. Ons het ons eie godsdiens! Ons het gehoor dat ons gebruike heidens, barbaars en primitief is — maar dit is nie waar nie! Dit het egter ’n dualiteit by die meeste swart mense geskep: op Sondae is hulle Christene, maar van Sondagaand tot Saterdag leef hulle hul Afrika-tradisies uit. Hierdie tradisies was nog altyd deel van ons lewens.

Ons swart mense het in twee groepe verdeel, soos Philip Mayer duidelik aantoon in sy boek Tribesmen or townsmen? Hy het sy navorsing onder die Xhosas gedoen, daar waar ek vandaan kom. Die mense in daardie omgewing wat Afrika-tradisionaliste is, staan bekend as die amaqaba. Ukuqaba beteken “om te smeer”; die amaqaba is die mense wat hulleself met oker gesmeer het, ’n gebruik wat afgekeur is deur die sendelinge. (Ons het altyd afgegaan rivier toe om daar oker te gaan uitgrawe. Dis beskou as heidens — maar deesdae kan jy dit in winkels koop, so dit word blykbaar nie meer as heidens beskou nie.) Die sendelinge het ook ons rituele en baie ander dinge gekritiseer en as heidens bestempel. Van ons mense het hulle nie daaraan gesteur nie — die amaqaba — maar op ander het dit ’n indruk gemaak, en hulle het hulle bekeer tot die Christelike geloof. Ons het hulle amagqobhoka genoem — ukugqobhoka beteken “om ’n gat te hÍ”, wat beteken dat daar ’n opening vir ’n mag van buite of vyand is, wat in ons terme beteken om nie betroubaar te wees nie. Die tradisionaliste — die amaqaba — het voortgegaan om hulle godsdienstige tradisies te handhaaf, ongeag Christelike invloede.

Soos ek vroeŽr gesÍ het, het baie swart mense die Christelike geloof op die oog af aangehang ter wille van ekonomiese oorlewing. Maar by die huis het hulle soos Afrika-tradisionaliste geleef. Selfs die amagqobhoka, die Christene, het in krisistye gedoen wat die ander gedoen het: teruggeval op hulle tradisionele gebruike om die krisis op te los. By die huis het hulle tradisionele godsdiens beoefen, want dis waarin hulle werklik geglo het, maar omdat hulle verleentheid en vernedering van Westerlinge wou vermy, het hulle voorgegee dat hulle ander oortuigings het. Hulle het dit ook gedoen om voorbereid te probeer wees op die onbekende, op dit wat volgens die Christelike tradisie na die dood sou gebeur.

Dis hierdie situasie wat ek wil verander. Ek wil my mense leer dat hulle tradisies in werklikheid ’n godsdiens is, en dat hulle trots kan wees daarop. In die verlede was daar swart mense wat nie eens geweet het dat mens verskillende godsdienste kry en dat daar ander godsdienste naas die Christelike geloof bestaan nie.

Maar die groot probleem is dat ons nog nie werklike godsdiensvryheid in hierdie land het nie. In 1994 was ek ’n lid van die komitee vir godsdienssake van die SABC. Omdat die handves van regte godsdiensvryheid gewaarborg het, wou die SABC alle godsdienste van Suid-Afrika in hulle programme insluit. Volgens hulle was die syfers: Christene 70 persent, Moslems 5 persent, Hindoes 5 persent, Afrika-godsdiens 5 persent, JudaÔsme 3 persent, en 12 persent ander of geen godsdiens. Ek het hulle gevra hoe hulle by hierdie syfers uitgekom het. Hulle het gesÍ dat die Christelike godsdiens die meerderheidsgodsdiens in Suid-Afrika is, dat ons ’n Christelike land is, en dat die ander almal minderheidsgodsdienste is.

Ek kon nie daarmee saamstem nie. Islam is ’n minderheidsgodsdiens hier, omdat dit in die Arabiese lande die meerderheidsgodsdiens is; HindoeÔsme is ’n minderheidsgodsdiens hier, maar die meerderheidsgodsdiens in IndiŽ. Net so is JudaÔsme ’n minderheid hier, maar in Israel is dit die godsdiens van die meerderheid. Maar as Afrika-godsdiens hier, in sy plek van oorsprong, ’n minderheidsgodsdiens is, waar is dit dan die meerderheidsgodsdiens? In my land van herkoms is dit vir my ’n vernedering om die stempel te dra van ’n godsdiens wat van buite af die land ingekom het, om redes van ekonomiese en politieke mag.

Die “70 persent” Christene het my ook gepla, en die stelling dat Suid-Afrika ’n Christelike land is. Die kriteria wat hulle gebruik het, was gegrond op die laaste sensus uit die apartheidsera, toe swart mense nie gevra is aan watter godsdiens hulle behoort het nie, maar aan watter kerkM hulle behoort het, omdat aangeneem is dat hulle almal Christene was. As iemand hulle sou gevra het wat vir hulle die swaarste weeg: die genesende krag van die bloed van Jesus Christus, of die genesende krag van die bloed van die dier wat hulle vir hulle voorouers offer, sou jy ander antwoorde gekry het. Vra swart mense in wie hulle die meeste vertroue het as tussenganger tussen hulleself en hulle God, Jesus of hulle voorouers, en jy sal die waarheid hoor omtrent hulle oortuigings. Die statistieke wat die SABC gebruik het, was na my mening onakkuraat, of doodgewoon verkeerd.

Maar hulle het nie gehou van wat ek gesÍ het nie. Ek is uitgeskop en vervang deur ’n aartsbiskop van die Rooms-Katolieke Kerk, wat van Afrika-godsdiens op televisie ’n blote les in sosiologie gemaak het. ’n Godsdiensprogram wat ons Afrika-tradisionaliste begin het, is oorgeneem deur swart Christene.

Destyds was ek ’n lid van die ANC, en het uitgesien na die godsdiensvryheid wat na 1994 sou kom. Ek was die voorsitter van die verteenwoordigende liggaam van Afrika-godsdiens en het met die ANC begin onderhandel om amptelike erkenning aan hierdie godsdiens te gee. Ek is verwys na eerw. Stofile (nou premier van die Oos-Kaap), en ons het gemeen hy sou verstaan waaroor ons wou praat. Ek het ’n afspraak gemaak en ’n brief vir hom geskryf om hom in te lig waaroor die bespreking sou gaan. Sy reaksie was baie teleurstellend. Ek het die brief geskryf as die voorsitter van die liggaam van Afrika-godsdiens, maar hy het op my sienings as ’n akademikus op universiteitsvlak gereageer, en die inhoud van die brief aangeval. Van ons afspraak het niks gekom nie.

Ons was nie gelukkig met die plek wat aan Afrika-godsdiens gegee is nie. By vryheidsdagvieringe sou daar verteenwoordigers van al die godsdienste wees, maar Afrika-godsdiens sou verteenwoordig word deur ’n predikant van die African Independent Kerke — deur ’n Christen!

Daar is hierdie mooi uitdrukking van “being the voice of the voiceless”. Ek sÍ niemand is stemloos nie. Gee die “stemloses” die kans om vir hulleself te praat. Moenie hulle verteenwoordig nie, want jy kan hulle dalk verkeerd verteenwoordig. En Afrika-tradisionaliste wil nie verteenwoordig word nie; hulle wil vir hulleself praat.

Nog ’n voorbeeld was die WÍreldkongres van Godsdiens en Vrede in Johannesburg waar Desmond Tutu ’n toespraak gaan hou het. Verteenwoordigers van elke liewe godsdiens op die aarde was daar, tot die Confuciane en die BahŠ’Ū’s en selfs diť waarvan ek nog nooit eens gehoor het nie — maar nie Afrika-godsdiens nie!

Die Waarheids- en Versoeningskommissie — ’n proses wat baie, baie swart mense geraak het — is deur Christene gelei. Wie was die voorsitter? Aartsbiskop Desmond Tutu. Wie was sy assistent? Eerw Alex Borain. Wie was die voorsitter in die Oos-Kaap? Eerw Finca. Wie was die voorsitter in KwaZulu-Natal? Biskop Mgojo. Dit was vir baie mense ’n groot probleem dat hierdie leiers van die Kommissie verteenwoordigers was van die Christelike geloof, wat soveel skade aan die swart mense in Suid-Afrika gedoen het.

Ons Afrika-tradisionaliste was nie gelukkig met die stand van sake onder ’n regering wat hulleself as demokraties beskou het nie. Ons het besluit om met die Staatspresident daaroor te gaan gesels en het ’n afspraak gemaak, wat bevestig is vir ’n sekere tyd. Vyf leiers van die tradisionele godsdiens sou daar wees — twee het van Johannesburg gevlieg. Maar toe ons by die parlement in Kaapstad kom, was mnr. Mandela nie daar nie. Hy het vader Mkatshwa, ’n Rooms-Katoliek, en Carl Niehaus opdrag gegee om ons te woord te staan. Vader Mkatshwa het nie opgedaag nie, en toe was Carl Niehaus heeltemal alleen met ons, die arme man. Hy is ’n Afrikaner, hy het nie geweet waaroor dit gaan nie. Dus het ons vir hom gesÍ: “Carl, met alle respek, daar is niks waaroor ons kan praat nie, ons kan maar net hierdie memorandum by jou los.” Hy is ’n nederige man, hy het begryp wat ons bedoel, en ons het gesÍ hy moet vir die President sÍ dat ons so teleurgesteld was.

Ons maak toe nog ’n afspraak met die President in Pretoria. Ons groep het bestaan uit ekself, ’n dosent met drie grade en ’n Xhosa van die Wes-Kaap; Thabo Seekane, ’n Sotho, kultuurbestuurder van Radio Sesotho; Mama Komane, ’n afgetrede onderwyseres; en Mahamba Dlamini, ’n fabriekswerker.

Toe ons onsself voorgestel het, was daar natuurlik geen nodigheid om ons CV’s of opvoedkundige kwalifikasies te noem nie, dus het ek eenvoudig gesÍ dat ek Nokuzola Mndende is van die Wes-Kaap, en diť is Thabo Seekane van die Vrystaat, Mama Komane, ’n Sebwana van Gauteng en Dlamini, verteenwoordiger van die amaSwali. Ons wou hÍ dat hy moes weet dat ons verskillende etniese groepe verteenwoordig.

Die vrae wat die president ons gevra het, was gestel in Christelike terme. Hy het ons gevra wat ons Bybel was. Maar het jy ’n Bybel nodig om ’n godsdiensgroep te wees? Hy het gesÍ: Het julle gemeentes? Nog ’n Christelike konsep! Hy het gepraat van “julle godsdiens”, asof hy nie geweet het waarvan ons praat nie. Tog, in sy boek Long walk to freedom, het hy self gesÍ: “I was brought up in two religions: my mother was a Methodist, my father believed in Qamatha.” Dus het ons vir hom gesÍ dat ons gekom het om oor die godsdiens van sy pa te praat.

Ons kon nie tot ’n vergelyk kom nie. Ons kon Mandela nie tevrede stel met ons antwoorde nie, omdat ons vanuit verskillende perspektiewe gekom het. Hy het die onderhoud afgesluit met: “Ek raai julle aan om geleerdes te raadpleeg.” Maar hy was besig om met geleerdes te praat!

President Mandela was ons laaste hoop, en ons het nÍrens gekom nie. Toe sÍ die ander in die groep: “Ay, Nokuzola, miskien sukkel ons so omdat ons nie ’n verteenwoordiger in die parlement het nie. Wil jy nie politiek toe gaan nie?”

Ek het nie gedink dat ek in die politiek sou inpas nie, omdat ek baie uitgesproke is, en nie kompromisse aangaan nie. “Dink julle ek sal dit kan doen?” het ek hulle gevra.

“Ay, Nokuzola, ons vertrou jou.”

Ons was ontnugter deur die ANC, omdat dit die ANC was wat ons ondermyn het en ons gemarginaliseer het. My mense het my gevra of ek nie by Bantu Holomisa se nuwe party, die destydse NCF (National Consultative Forum, wat later die United Democratic Movement sou word) wou aansluit nie. Want Holomisa is self uitgesproke, en gaan nie kompromisse aan nie.

Ek het na ’n NCF-byeenkoms in een van die plakkerskampe gegaan. Ek het Holomisa gevra of hy my mense sou toelaat om vir hulleself te praat as ek by sy party sou aansluit, en nie sal toelaat dat hulle deur swart Christene verteenwoordig word nie. Ek het vir hom gesÍ dat ek nie ’n Christen is nie, en dat ek dit haat wanneer Christene dink hulle kan my verteenwoordig. Ek respekteer die Christelike godsdiens, maar daar is baie swart mense in Suid-Afrika wat nie Christene is nie. Is hulle nie deel van die kleure van die reŽnboognasie nie?

Holomisa was eerlik met my. Hy het gesÍ: “Mama, as jou mense nie opstaan en hulleself laat hoor nie, sal julle altyd geÔgnoreer word. Wanneer daar ’n godsdienstige geleentheid is en alle godsdienste word uitgenooi, net julle nie, maak beswaar. Moenie stilbly nie, staan op en maak ’n lawaai. Moenie wag tot dit te laat is nie. Organiseer julleself en stel julle saak by die betrokke departemente. Niemand het die reg om julle stil te maak nie.” Ek het geweet hy het dit bedoel.

Toe sluit ek aan. Dis hoekom ek vandag hier in die parlement is. En jy kan seker wees dat wanneer daar enige geleentheid is waar godsdienste verteenwoordig word, die UDM sorg dat Afrika-godsdiens nie uitgelaat word nie. Ons word altyd genader en gevra wie ons wil stuur. Wanneer uitnodigings aan ander godsdienste gestuur word, word Afrika-godsdiens altyd ingesluit. En hulle maak nie die fout deur die uitnodiging na die Sioniste te stuur nie! Hulle stuur dit vir die regte mense.

Holomisa is ’n Christen, maar hy meng nie in met Afrika-godsdiens nie; hy ondermyn ons nie. Wanneer dit gepas is om by geleentheid ’n gebed te doen, selfs in ons eie vergaderings, sal hy mense van verskillende godsdienste vra. Wat hy destyds vir my gesÍ het, was nie sommer net vir vertoon nie. Hy het dit bedoel. Ek weet dit; ek is nou al twee jaar hier.

Wat betref die verteenwoordiging van Afrika-godsdiens by nasionale geleenthede het ons gemengde sukses. Op Erfenisdag in September 1999 is Afrika-godsdiens vir die eerste keer by die nasionale byeenkoms ingesluit. Ek is daarheen uitgenooi. Maar op 16 Junie vroeŽr die jaar, met die inhuldiging van die staatspresident, is Afrika-godsdiens weer verteenwoordig deur ’n eerw Koka van die Rooms-Katolieke Kerk.

Party mense sÍ ek is teen die Christelike godsdiens gekant. Dis nie waar nie; ek is teen wanopvattings en onderdrukking gekant, of dit nou rasse-onderdrukking of godsdienstige onderdrukking is. As die regering die regte ding doen, sal ek hulle krediet gee daarvoor, maar as hulle verkeerd optree, gaan ek dit nie ignoreer nie. Afrika-godsdiens kan nie verteenwoordig word deur ’n leraar wat vandag die genesende krag van die bloed van Christus verkondig, en mŰre iets anders nie. Dis nie eerlik nie.

Wat my motiveer, is bo alles die feit dat so baie van my mense ’n identiteitskrisis het; ’n geÔnternaliseerde minderwaardigheidskompleks. Ek wil hulle help om dit te oorkom en om weer te glo in wat hulle doen, dat dit reg en sinvol is.

In tye van krisis is dit Afrika-godsdiens wat my mense bevry. Ons glo in God, en aanbid daardie God deur ons voorouers en rituele, en streef na eenheid, en die gemeenskapslewe is ons fokus. Wat ek het, is nie myne nie; dit is ons s’n. “Ek is, omdat ons is; en omdat ons is, is ek.” Ons is altyd bewus van ons plek in die gemeenskap. Ek glo as almal in hierdie wÍreld so ’n lewe kon lei, sal daar vrede wees. Ek streef na vrede. En die welsyn van ander mense is vir my belangrik, omdat ons almal geskep is deur een God. Ek dink dat as Christus vandag hierheen sou kom, daar so baie mense is vir wie Hy sou sÍ: “Julle stel my teleur, want daar is soveel dinge wat julle in die naam van Christus gedoen het wat verkeerd was.”

Nog iets wat bygedra het tot ons swart mense se minderwaardigheidsgevoel, is dat ons geleer is dat wat die wit man doen, bo tyd verhewe is. Dit was ons swart mense wat geestelik moes verander, om te kom tot waar die wit man was. Maar godsdiens het niks te doen met wie jy buitekant is nie; godsdiens is binnekant jou.

Ek is eenkeer by ’n kongres gevra hoe ek kan sÍ dat ek die Afrika-godsdiens aanhang en dan Westerse klere dra, en skoene. Ek het gesÍ: “Kom nou, julle dra pakke — Jesus het nooit ’n pak aangehad nie. Jesus het op ’n donkie gery; julle ry in Mercedes Benze!” Godsdiens gaan nie oor wat jy aan het nie.

Dis vir my belangrik dat ons sal besef watter dualiteit geskep word wanneer swart Christene by hulle huise sÍ: “God, nou aanbid ek U deur my voorouers”, en dan kerk toe gaan en sÍ: “God, nou aanbid ek U deur Christus.” Dis kunsmatig. Ons moet in onsself seker wees van waarin ons werklik glo. Wanneer swart Christene ’n dier slag in die kraal, en met hulle voorouers praat om hulle tevrede te stel en met hulle versoen te word, noem hulle nie Jesus se naam nie. Glo hulle werklik dat Jesus God is? Dit is die vrae waarop ek nog nie bevredigende antwoorde gekry het nie.

Om ’n Afrika-tradisionalis te wees, maak die lewe in sommige opsigte moeilik. Die Christelike godsdiens is ’n ryk godsdiens. Wanneer jy oorsee gaan en sÍ dat jy ’n Christen is en geld wil hÍ om swart mense te bemagtig, kry jy die fondse. Kom as ’n Afrika-tradisionalis, en jy sal dit nooit kry nie. Dis dikwels nie meer ’n geval van “Bloed is dikker as water” nie, maar “Geld is dikker as bloed.” Maar ek sal liewer arm wees as om leuens te vertel.

En dit is my doel: om swart Suid-Afrikaners so ver te kry om eerlik met hulleself en hulle God te wees, om ware Afrika-tradisionaliste te wees as dit is wat hulle wil wees, en om trots te wees daarop.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.