Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Geskenk wat nie kan breek nie

Jacqueline Leuvennink

Jacqueline Leuvennink is ’n joernalis van Durbanville wat vir verskeie publikasies bydraes lewer. Haar artikels oor die grootmaak van haar twee seuns is in die boek Soos net ’n ma kan gebundel.

Ná my pa se dood twee jaar gelede kom ek een oggend op ’n uittreksel uit ’n gedig van Olga Kirsch af:

    Toe ek nog klein was het ek aan jou sy
    gestaan in die sinagoge en gevolg
    terwyl jou vinger langs die letters gly
    van woorde wat ek nog nie kon vertolk ...
    Die kantor hef sy stem op, yl en soet
    wierook die lied omhoog. Rooi, geel en blou
    slaan vlamme uit ’n ruit hom tegemoet —
    En jy vou jou syige gebedsjaal weg en hou
    jou arm om my en ek staan gedruk
    vas teen jou knie en bewe van geluk.

Ek het ook Sondag na Sondag aan my pa se sy gestaan in die kerk toe ek klein was. Die toneel was ’n gewone, plattelandse NG Kerk in Suid-Afrika, nie naastenby so poëties soos dié van Kirsch se sinagoge nie. Maar ek is baie dankbaar om te kan sê ek ken ook uit my kindertyd daardie gevoel van veiligheid en gelukkigheid.

Meer as veertig jaar later, ná ’n gesonde dosis “swerftog en benouing”, skuil ek lankal nie meer onder Pa se blad nie, maak dit nie meer saak in watter land, geselskap, gebou of taal ek my bevind nie. Al wat ek weet, is dat ek nêrens meer geborge, meer geanker voel as waar ek, soms alleen, ander kere saam met my man, kinders en medegelowiges, die woorde van die Christelike kerk se geloofsbelydenis oor my voel spoel nie.

Twintig eeue het gekom en gegaan sedert die koms van Jesus Christus. Hy is op ’n afgeleë dorpie gebore. Sy ouers het nie geld of invloed gehad nie, Sy dissipels nog minder. Hy het nie toegang tot enige wafferse kommunikasiemiddele gehad nie, het nooit eens ’n boek geskryf nie. En tog, soos ’n ander skrywer tereg al opgemerk het, het niemand anders in die geskiedenis van die Westerse wêreld so ’n groot invloed op die mensdom uitgeoefen as die nederige Timmerman van Nasaret nie.

Geloof is nie uit te redeneer nie. Vir my is dit soos twee mense wat na ’n driedimensionele prent kyk. Vir een bly dit net ’n plat oppervlak, kry dit nooit lewe nie. Vir die ander een sluit dit ’n wêreld oop.

Waar begin die eerste roeringe van ’n mens se geloof? In my geval geslagte van gelowige voorouers terug. Die teks met my aanneming was Jeremia 1:5: “Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken.”

Dis vir my onmoontlik om te bepaal wat van my sou geword het as ek byvoorbeeld iewers langs ’n rysveld in China die eerste lewenslig aanskou het. Dalk sou die veelkleurige genade van God soos ek Hom deur die jare leer ken het, my ook daar ingesluit het. Wie weet? Om dus ander te veroordeel wat nie dieselfde oortuiginge as ek het nie, kom nie eers by my op nie.

MER het iewers gesê dat sy tevrede is met die wete dat sy nooit volledig sal kan begryp wie, wat en waar God is nie, “omdat die tweede deel van die groot Liefdesgebod vir my genoeg lig werp op die eerste deel”. In my lewe was en is ek gelukkig genoeg om meer as genoeg voorbeelde te hê van mense wie se lewens ondanks menslike beperkinge getuig van ’n Krag wat ek glo elders moet ontstaan het.

’n Gevoelige, krities denkende kind is uiters bevoorreg om in ’n huis groot te word waar twee ouers hul geloofsoortuiginge lééf, nie uit gewoonte of wetsgehoorsaamheid nie, maar gedring deur die liefde van Jesus. Selfs in ’n stadium dat niks wat my ma gedoen het, in my rebelse tieneroë goed was nie, het ek nooit enige rede gehad om te twyfel aan haar opregte soeke na God en sy Woord nie. Vir Ma was en is dit steeds belangriker as enigiets anders in haar lewe. Op haar sewentigste verjaardag vanjaar het my broer gesê dat ons altyd na Pa, die praktiese planmaker, gegaan het as ons probleme gehad het waaraan ’n mens iets kon doen. Maar as jy die punt bereik het waar niks meer menslik moontlik is nie, het jy jou na Ma en haar gebede gewend. Sy het my wel in haar ywerigheid soms verkeerd opgevryf. Maar dan was Pa met sy nugter, gelykmatige aanslag altyd weer daar.

Van kleins af afkerig van enige emosionele opsweping of manipulasie het ek eendag hoogs ontstoke van ’n Pinksterdiens teruggekeer waar almal moes opstaan wat sê dat hulle gered is. Ek het bly sit. By die huis aangekom, was Ma ontsteld omdat ek ontsteld was. Pa het my net, sonder om ’n woord te sê óf vir haar te kritiseer, in sy arms geneem — een van die baie boodskappe wat ek deur my lewe moes ontvang dat ek nie noodwendig soos die een langs my hoef te reageer om voor Hom wat my gemaak het, aanneemlik te wees nie.

Ons is aangemoedig om ons menings oor enigiets van politiek tot verhoudings te lug. Dinge is nie sommer klakkeloos aanvaar nie. Vandag besef ek dat om vrae te vra eerder ’n teken van geloof as ongeloof is; ek glo dat dit vir die denkende Christen ’n noodsaaklike evolusionêre proses is waardeur jy moet gaan om by die punt te kan kom waar jou geloofslewe al meer ’n persoonlike verhouding met Christus word. Iets wat my tot vandag toe bybly wanneer iemand in ’n geselskap die kerk of ’n predikant bykom, is Ma se reaksie as een van ons ’n preek of ’n diens uitmekaar begin trek het: “My kind, het jy hierdie week vir hom gebid?” Ons is medeverantwoordelik gehou vir dit wat die kerk is. Dit was nooit iets of iemand op ’n verhogie daar buite wat jy op ’n veilige afstand kon kritiseer nie. Veel eerder ’n spesifieke ruimte deur God geskep vir gewone, feilbare mense soos ons. Ek onthou van die man wat gesê het hy vermy die kerk omdat dit “net ’n klomp skynheiliges” is. ’n Kerkganger se reaksie was: “Daar’ s altyd plek vir nog een ...”

Toe ek drie maande oud was, het ’n bruin vrou, Elizabeth Bester, by my ma kom werk. Vir ons vyf kinders vir wie sy al vyf uit die dop uit help grootmaak het, is sy Nanna. Vandag, 44 jaar later, is sy steeds Ma se se getroue, geliefde metgesel. Waar ek die Blye Boodskap met my moedersmelk ingekry het, het Nanna ’n plaaswerker-stiefpa gehad wat vir haar as klein dogtertjie saans gegroet het deur die laaste sluk wyn wat hy van die kelder af gebring het in haar mond te spoeg. In die beginjare by ons het haar drankprobleem net sporadies kop uitgesteek. Ma en sy het elke oggend saam godsdiens gehou en sy het by ’n aktiewe gemeente ingeskakel waar sy aangeneem en voorgestel is.

Sy het haar eerste man en kind verloor voor sy by ons gekom het. Toe haar tweede kind uit haar tweede huwelik ook sterf, het die hartseer haar oorweldig. Dit, saam met die wankelrige voorbeeld van haar man, het dinge vinnig agteruit laat gaan.

Ma het gebid en gepleit en gewaarsku. Ek onthou die ontnugtering van ’n Saterdagoggend wat ek haar, wat soos ’n tweede ma vir my was, op ’n winkelstoep sien dronknes hou het, ’n totale vreemdeling. En Ma se trane toe sy uiteindelik nie anders kon as om Nanna te laat gaan nie. Die jonger kinders wat minder verstaan het, het gepleit dat sy, met haar wonderlike slag om ’n kind se verbeeldingswêreld vlerke te gee, moet terugkom. Ek, die oudste, was verlig. En uiters sinies oor Ma wat aanhou bid het vir iemand wat myns insiens reeds oor die wal was.

Toe ek haar in my hoërskooljare weer raakgeloop het, was dit vir my ’n skok. Ek het nou uitgetoring bo die verskrompelde, brandmaer mensie. Na aanleiding van ’n teksgedeelte een Sondag by die kerk het my ouers besluit om weer in te gryp. Nanna het ’n skoonmaakwerkie by my pa in die spreekkamers losgeslaan. Iets wat haar, nou ’n volslae alkoholis, net in haar kwaad gesterk het. Sy het spiritus uit die spreekkamer begin drink.

En toe sterf haar man. Ma het haar by die AA probeer betrek, maar sy wou nie daarvan hoor nie. Die versugting na iets beters was egter tog nog daar. Sy het eendag vir Ma gesê sy wens soms sy kan soos Ma wees en ook soveel liefde in haar huis hê. Waarop Ma geantwoord het: “Liesbet, Hy kan jou verander. Hy het my verander ...”

Toe dit ’n tyd lank ’n bietjie beter gaan, het ’n familielid wat Ma se pogings dopgehou het, verwoord wat baie gedink het: “Ag jong, ek ken daardie soort — hulle hou net ’n rukkie.” Romeine 14:4 het egter die hoop op ’n wonderwerk in Ma laat bly flikker: “Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.”

Dit het ’n spanpoging geword tussen die dokter en ons huisgesin. Eersgenoemde het ’n taal gepraat wat sy goed verstaan het: “Liesbet, jy moet ophou met jou gesuipery anders begrawe ons jou oor ’n jaar.”

Ma het die waagstuk aangegaan om haar oor ’n Kersvakansie saam met ons te neem. Laatmiddag as die dranksug op sy ergste was, moes die vitamien B-pille en die kalmeermiddel help. En ons kinders het haar met uitstappies en lawwighede teen die bedruktheid laat stry soos sy kleintyd ons trane met haar manewales laat opdroog het.

Ná die vakansie het Ma besef Nanna sal nie in haar ou omgewing alleen die mas kan opkom nie. Dit het vir haar duidelik geword dat sy haar weer by ons moes laat inwoon, ’n moeilike besluit waarmee sy dae lank geworstel het. Maar toe het sy maar soos Abraham van ouds “uitgetrek sonder dat hy geweet het waarheen hy gaan”. Met wonderbaarlike gevolge.

Daar was een laaste doodsnik. My ouers moes ’n week weg Kaap toe. My jongste suster het een aand gebel om te sê dis weer so met Nanna. Ma kon dié nag nie slaap nie. Sy is die volgende oggend vroeg deur Vredenburg toe. Nanna het dit nie verwag nie. “Wat maak Miesies nou so skielik hier?” Ma was nie lus vir mooipraatjies nie: “Jy vra nog! Die Hére het my na jou gestuur.”

Later die dag het hulle weer gepraat. “Liesbet, ek kan ’n bietjie wyn neem en baie ander mense kan, maar vir jou is dit die duiwel self.” Soos so baie kere vantevore het hulle sommer daar in Nanna se kamer op hulle knieë gegaan.

Nanna het twee dae loop en huil. Sy het op haar geliefkoosde kissie in die pakkamer tussen die rye bokkoms waarvoor sy haar voete sal deurloop, gaan sit: “Ek kon nie waffers bid nie, ek het maar net vir Hom gevra Hy moet vir my wys.”

Dit was twintig jaar gelede. Waar ons in ’n stadium geen drank in die huis aangehou het ter wille van haar nie, laat my ouers reeds jare lank die huis vir lang tye in haar sorg, die drankkabinet ongesluit.

Ek het haar onlangs gevra wat vir haar die grootste verandering in haar lewe was. Die antwoord was eenvoudig: “Om my Vader te ken, om al my probleme na Hom toe te neem. Dis tot op vanmôre ’n wonderwerk dat daardie lus nooit weer na my toe teruggedraai het nie.”

Die liefde wat sy vandag so weelderig uitdeel tot groot seën van almal wat haar vrolike pad kruis, loop uit ’n kraan wat nooit opdroog nie. Want sy het nie vergeet nie. Dis onder meer deur haar toedoen dat Andrew Fortuin, in ’n stadium ook haweloos weens ’n dranksugtige ma, vandag by sy werk en as jeugwerker in sy kerk ’n voorbeeld en inspirasie vir baie ander jongmense uit soortgelyke omstandighede is. Iemand wat, toe hy in ’n stadium in die stad by familie kom bly het, een middag aan my suster se deur kom klop het met die desperate woorde: “Niemand wil my hê nie ...”

Ek glo dat dit vir die ontwikkelde mens soms die grootste struikelblok is dat die Skat waarvan die Bybel praat, nie in ’n stylvolle winkelvenster in Fifth Avenue uitgestal is vir gesofistikeerde verbruikers nie, maar in gewone, stowwerige grond lê waar selfs die armstes dit kan vind. Hierdie twee mense se lewens was en is vir my ’n pantser teen kleingeloof en sinisme. Ek staan dikwels beskaamd as ek sien hoe ver hulle my vooruit is.

Ek is op een en twintig Europa toe vir ’n swerf- en studiejaar, iets wat vir my die geleentheid gebied het om ’n groot verskeidenheid Christelike kerke te besoek, van die Russies- en Grieks-Ortodokse kerke en ’n verskeidenheid Rooms-Katolieke kerke tot ’n Protestantse Amerikaanse kerk in Parys. Dit het my laat besef hoeveel wyer die kerk as ’n blote kultuurorganisasie strek, dat jy veel meer gemeen kan hê met ’n witgepoeierde Rooms-Katolieke meisie uit Tokio as ’n Suid-Afrikaanse kennis wat nie die tekens van die geduldige skaafwerk van die Timmerman van Nasaret dra nie.

My verbintenis met die veelrassige Libertas-koor die afgelope tien jaar was ook in meer as een opsig ’n geestelike reis. Waar mense uit verskillende kultuurgroepe een tree na mekaar toe gee in gehoorsaamheid aan wat God van ons verwag, maak Hy die onmoontlike moontlik. Dit bly vir my ’n openbaring om te sien hoe die Heilige Gees deur ’n groep feilbare mense werk en keer op keer vir ons wys hoe kragteloos ons sonder Hom is. Dit het my toenemend laat beleef hoe ’n voorreg dit is om juis in hierdie land met sy komplekse probleme te woon, iets wat ’n mens van dag tot dag jou afhanklikheid van Hom laat besef juis omdat dinge nie so onder beheer is soos wat ons dit so graag wil hê nie.

’n Week voor my pa se onverwagse dood is hy in die gehoor toe ons die konsert met die Nunc Dimitis van Gretchaninoff afsluit. Die teks is gebaseer op die woorde van die ou man Simeon toe hy die kindjie Jesus gesien het: “Heer, laat nou U dienskneg in U vrede gaan, gedagtig aan U Woord; en my heil sal wees in U woning, U heil’ ge woning, wat U voorberei het vir die mens op aarde ...” Ons groet haastig ná die uitvoering, Pa nog vreemd ontroerd: “Dit was soos om in die hemel self te wees, my kind.”

Toe ek die nuus kry dat hy oorlede is, dink ek met verwondering terug aan ons laaste woorde, maar ek sê vir niemand iets daarvan nie. Die woorde van die lied bly egter vertroostend in my kop draai. ’n Paar dae later luister ek by die roudiens met nog groter verwondering toe die predikant juis hierdie teksgedeelte kies vir sy preek. Die vrede wat ek te midde van die hartseer in my familie om my sien, kom lê ook in my. God het Hom tussen al die gebeure van die voorafgaande dae sowaar nog ook aan my gesteur.

Jörg Zink verwoord dit wat keer op keer my ervaring was in die wispelturige beroepslewe, my huweliks- en gesinslewe, en ook ten tye van swak gesondheid, teleurstelling en verlies: “As die wind van God waai, is daar vir die mens ’n pad waar hy gedink het ’n muur hom voorkeer, het hy ’n opdrag waar alles vir hom sinloos gelyk het, ’n metgesel waar hy hom alleen gevoel het.”

Tydens ’n onlangse besoek aan die Holocaust-museum in Washington het ek gelees van konsentrasiekamp-oorlewendes wat gesê het hulle het hul geloof in God verloor. Ek het bly soek vir iemand wat van die teendeel getuig. Naby die uitgang van die museum is ’n rolprent vertoon waarin van die oorlewendes gepraat het. Presies op die oomblik dat ek die vertrek moes verlaat om by die res van ons groep aan te sluit, het ’n vrou op die skerm verskyn wat vertel het hoe sy ’n groep mense na die gaskamers sien loop het terwyl hulle ’n lofgesang gesing het. Haar volgende woorde was vir my soos ’n geskenk: “Jy sal oplet dat ek jou nie vertel van die gille of die gehuil wat ek gehoor het nie. ’ That sound overrode all the other sounds ...’ “

Terug in Suid-Afrika het ek in ’n koerantberig gelees wat die pa van ’n seun wat vermoor is, aan sy predikant gevra het: “Waar was jou God toe my seun vermoor is?” Die predikant se antwoord was: “Net waar Hy was toe Sy eie Seun aan die kruis gehang het.”

My geloofspad was nie ’n reglynige, gelyk pad nie. In krisistye het ek my by geleentheid ook van God verlate gevoel, begin wonder of Hy nog êrens in sy besige wêreld vir Hom aan hierdie stippeltjie gaan steur. En tog weet ek vandag Hy was altyd daar met sy volmaakte tydsberekening en eindelose geduld, dat Hy ’n God is wat ek met my hele lewe kan vertrou. Dat ek veel eerder twee treë sáám met Hom sal kruip as om tien treë sonder Hom te loop.

Daarom bid ek saam met Zink:

    Ek buig voor U, en ek weet
    dat ek my nie uit eie krag oorgee nie,
    maar dat dit U is wat U in my buig
    en dat my harde hart dit deur U leer.

    Ek bly voor U staan, en ek weet
    dat dit nie deur my trou is dat ek bly nie —
    my trou is maar min en wankelrig —
    maar dat U my vashou.

    Here, ek bid U:
    Moet my nie weer aan myself oorlaat nie.
    Laat U geskenk by my, in my bly.
    Ek dank U. Amen.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.