Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die waarheid sal jou vrymaak

Dit het nou al ’n paar keer gebeur: ek sit rustig iewers in ’n koffieplek en lees of skryf of droom, dan begin iets krap aan die rand van my bewussyn. Krap-krap-krap — tot dit so irriterend raak dat ek my boek of pen neersit en probeer agterkom wat tog die probleem is. A, dis ’n hinderlike stemtoon. Ek spits my ore. A, iemand wat iets aan ’n medekoffiedrinker probeer verkoop.

Met verkoop is daar natuurlik niks mee verkeerd nie. Almal moet ’n lewe op een of ander werf uitskrop — wie’s ek om te oordeel? My laaste ervaring van direkte verkope het my dalk bevooroordeeld gelaat: dit was immers die era van die partytjie, toe.

My eerste behoefte aan eie huisware het net mooi saamgeval met die laaste stuiptrekking van die plastiekwarepartytjie, gevolg deur die groot jare van die koperkastrolle, silwer potte en goue produkte. Ek het van sitkamer na sitkamer gereis en vasgenael gesit en luister hoe die verkoopsdame se lewensverhaal voor ons ontvou. Jy kon jou behoorlik inleef in hoe sukkelend, sonder plesier — byna doelloos — haar bestaan was vóór sy bypassende graankoshouers, ’n pan waarin vis nie vassit nie en ’n fantastiese matskoonmaakmiddel aangeskaf het.

Dit was vir my iets van ’n ontnugtering om agter te kom dat my lewe nie op die gewenste manier verander het na my kopies nie. Ten spyte van my bewondering vir die formidabele verkoopsvroue het ek maar begin wegbly van dié sitkamers waar gasvryheid teen ’n prys gekom het.

Weer eens: ek kla nie oor die prys nie — daar is baie monde in die wêreld wat gevoed moet word, maak nie saak uit watter kastrolle nie. Daar is immers min van ons wat nog nooit in een of ander sosiale situasie was waar ons nie verplig gevoel het om ’n ligte oneerlikheid te pleeg nie.

“Hoekom klink jy altyd so snaaks as jy met [sê nou maar] tannie Soetkoekie oor die telefoon praat?” vra die kinders my eendag.

Ek luister toe na myself en was dit nou ’n skok: soetkoekies al die pad. En soetkoekie as stemtoon behoort mens regtig te vermy, behalwe, miskien, teenoor babas en katte — babas omdat hulle nie van beter weet nie, en katte omdat hulle in elk geval alles ignoreer wat jy sê.

Ander liederlikhede is daar ook: suurvytjie teenoor jou beminde omdat jou skoene jou druk, gifappeltjie teenoor die kassier omdat die bure se hond jou uit die slaap gehou het …

Eerlikheid is ’n ingewikkelde sakie.

Onlangs loop ek een Sondagaand verby die radio en hoor ’n flenter van ’n program oor geluk, onder andere hierdie sin: “Geluk is om te weet dat jy aan Jesus Christus behoort.”

En ek kry presies dieselfde ongemaklike gevoel as in daardie koffieplekke.

Dis onverstandig om enigiets buite konteks aan te haal, dit weet ek. En die persoonlike oortuiging van dié spreker, en ander mense soos hy, wil ek geensins onder verdenking plaas nie. Dis net dat sy woorde my te veel herinner aan ’n tyd toe ek geglo het daar moet iets met my verkeerd wees omdat sinne soos dié nie vir my gewerk het nie.

Dit was iewers in daardie jare dat ek my man ontmoet het. Hy het al vertel hy kom uit die Wes-Transvaal en ek vra hom toe eendag wat sy pa doen.

“Hy is die besturende direkteur van ’n vervoermaatskappy.”

Laat ek erken, ek was beïndruk. My pa — toe al jare dood — se werk het daaruit bestaan om elke oggend in ’n groot gebou te verdwyn en smiddae weer te verskyn. Binne die gebou, dit het ek darem een keer gesien, was ’n klomp ander mans met vaal pakke, en hier en daar ’n vrou met ’n bril.

Hiérdie pa — dit was baie duidelik — het styl gehad. Ek het met nuwe oë na sy skaam seun gekyk.

’n Paar weke daarna gaan braai my familie en die skaam seun vleis by ou huisvriende van my ma-hulle. Terwyl die vroue slaaiblare rangskik, staan die mans by die kole en “bond”. Ná ’n rukkie hoor ek die ouer man vra: “… en wat doen jou pa?”

Kom die antwoord: “Hy verkoop trekkers.”

In albei gevalle was my man heeltemal eerlik. As enigeen hom verder sou uitvra, sou hy ook heeltemal eerlik kon sê dat my skoonpa waaghalsig is, en versigtig, geduldig en geïrriteerd, intelligent en soms naïef — en nog baie ander dinge. My skoonpa is ’n mens, soos alle ander, met soveel fasette dat jy maar daarvan kan vergeet om alles ooit volledig beskryf te kry.

Dis die soort leemte wat onvermydelik is as dit by mense kom. Maar dalk is dit nie ’n leemte nie.

Die waarheid is kompleks. As jy dit verstaan, sal jy vry wees.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.