Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vir die nuwe jaar wens ons mekaar voorspoed toe, en geluk, baie daarvan. Maar — kan mens die lewe dalk te veel geniet? En wie behoort die grense van ons plesier te bepaal: die kerk, die staat of die individu self?

Lees wat sê:

Francois Smuts (prokureur): “Vreugde en verskrikking gaan saam.”
Christina Landman (teoloog): “Te min plesier is ’n groter probleem.”
Robert Vosloo (predikant): “Streef na ’n etiek van feestelikheid.”
Jade Groen (medisynevrou): “Genot kan heilig wees.”

Lesers wat wil saamgesels, kan Annelie Ferreira kontak by anferreira@worldonline.co.za



Verlei deur die lewe

Francois Smuts

Mae West had ten minste deels reg dat “too much of a good thing can be ... wonderful”. Maar as ’n benadering tot die geniet van die lewe skiet dit te kort.
’n Goeie voorbeeld hiervan is die rubriekskrywer Taki se artikels in die Britse kommentaartydskrif Spectator. Hy het klaarblyklik ter harte geneem wat sir Thomas Beecham sê: “One should try everything in life at least once, except incest and country dancing”. Genoeg geld gehad om dit te doen, die voorkoms skynbaar ook — en dit weekliks aan sy lesers vertel met daardie ingetoë arrogansie waarvan die Britte meesters is (hoewel hy natuurlik ’n Griek is). Maar sy toenemend desperate rubrieke laat mens op die lang duur met die indruk dat die geniet van die lewe so min te make het met die steek van gepunte voorwerpe (van verskillende soorte) in liggame in as wat die “solank-dit-nie-ander-mense-seermaak-nie”-argument te make het met die werklikheid of met gesonde verstand.

Wat is dan die onderskeid tussen Taki en daardie rare voëls wat die lewe op sigself en in die geheel geniet?

My eie geniet van die lewe het begin by my pa: ’n stil man wat nie indruk maak nie. Behalwe wanneer hy te make kry met die skone kunste of musiek of boeke. Dan word sy hele wese spits-plesier en gloei sy gesig soos dié van ’n engel wat iets aan ’n aardse maagd moet gaan doen.

Ek is gaandeweg verlei om sy plesier te deel. Watter lekkerte was dit nie! Die onuitspreeklik mooi musiek, stories wat jou aan die hand vat en die wonders van die wêreld gaan wys, beelde wat nou nog in my gemoed gloei; en later plante, die grond, die gees van plekke.

Mettertyd het ek ook sy weemoed geleer vir die alleenheid van die geniet van die “fyner dinge in die lewe”. Ag, watter gewroet en gewroeg was my tienerjare nie! Maar gaandeweg is my gevoel van al-een-heid omskep in ’n bewustheid van een-saam-heid: wat enkelwees omskep het tot saam-met-jouself wees. Vergenoegd wees. Sodat die geniet ’n gesteelde kwaliteit bygekry het, hoewel ek ook geleer het dat geniet ook ’n gedeelte lot kan wees, as jy moeite doen om jou genotgenote te gaan soek. En tog ...
Tot ek verlei is deur ’n blouoogvrou, wat die lewe onbewus geniet het omdat dit is soos sy is. Soos haar familie, wat sekerlik as die model kon dien vir alle boeke wat al ooit oor geestigheid en die siel geskryf is. Met mooi goed die hele huis vol en ’n kombuis met ’n heks in en ’n AGA-stoof en speserye waarvan jy nog nie gehoor het nie en waaruit kos kom wat praat van ver lande; en wonderlike wyn uit die indraffie saam met kweperkaas en Karoo-lam, vir kuier saam met mense met snaakse tongvalle en eienaardige wolke in hulle kop.

Maar hierteenoor ook in hul familie: die verkoopte plaas, die mislukte huwelik, die siekte sonder naam, die inskripsie op die graffie in die begraafplaas op die koppie agter die huis: “Ons verstaan dit nie, maar weet dit is God se wil”. Wat die verdere vraag vra: Hoe kán al hierdie geniet? Ontken dit nie die “realiteite” nie? Is dit nie roekeloos te veel nie? Moet mens die lewe nie ernstiger opneem nie?

Ek het laasjaar self ’n grafskrif vir ’n graffie op die koppie agter die huis laat skryf. En gaandeweg besef op ’n manier wat ek verstaan so min soos wat ek my baba se lewe en sterwe verstaan: ons word deur God verlei om Hom lief te hê (met die vreugde en verskrikking wat ware liefde omarm) — en saam met Hom, die lewe. Sodat “to know him and (to) enjoy him forever” ook word: om die lewe te ken en te geniet — strykdeur, van hier tot by oom Daantjie in die kallerhok.

Ja, ja (pluk die liberalis aan my mou), maar wat van die grense van ons plesier; en die kerk en die staat en die jagse individu?

Ek het hier bo reeds aangedui dat laasgenoemde nie die lewe geniet nie — net deeltjies daarvan, omdat die geheel van die lewe te groot, te onbeheerbaar, te vreesaanjaend is: dis gewoon makliker om fyndraai te behartig as om die lewe te beheer. Die Bybel is ten minste oor diésulkes reg: hulle sien uiteindelik maar hulle gatte.

Daarmee saam herinner die preutse staat en kerk my aan die waar woord wat Natalie Barney spreek: “Most virtue is a demand for greater seduction”. Maar dan: die rare voëls wat reeds deur die lewe verlei is, het nie ’n saak met die reëls van die staat of die kerk nie — hulle is te besig om die lewe te geniet. En dis hoe ek wil lewe.

Gelukkige Nuwe Jaar vir die stroomoppers

Christina Landman

Nee wat, vir my lyk dit of daar veel meer mense hier is wat die lewe te min eerder as te veel geniet. ’n Vriend vra my nou die dag, “Is daar nog iemand in Suid-Afrika wat gelukkig is?”

Nou, dis ’n vraag, en dit het my lank laat dink.

Ek neem hom nie kwalik dat hy dit vra nie. Sien, hy is ’n gebore Suid-Afrikaner, maar nou predikant in Nederland. Hy sou eerder hier wou bly, maar ons weet mos daar is nie werk vir (nuwe) predikante in Suid-Afrika nie.

Sy vraag is eerder amper ’n uitroep. Want sien, die man kry baie met Suid-Afrikaners te doen wat nou in Nederland woon. En hulle kla te vreeslik oor Suid-Afrika. Die plek is glo sat en oor die muur. Dis net geweld en korrupsie en diskriminasie teen wit mans waar jy kyk. Dit alles het gemaak dat hulle die pad uit Suid-Afrika gevat het.

Maar, sê my vriend die predikant vir my, hierdie Suid-Afrikaners is ook nie in Nederland tevrede nie. Dis te koud, te reënerig, te grys, kla hulle. En die samelewing is te hard.

Ja, dit laat ’n mens dink, nè. Hoekom is Suid-Afrikaners so ongelukkig? Of hulle nou in Suid-Afrika bly en of hulle nou trek, die ongelukkigheid bly by hulle woon.

Wit Suid-Afrikaners het natuurlik groot verliese gely — dis dié dat hulle so ongelukkig is. Politieke mag, bevoorregting, werksgeleenthede, gesag — al daardie dinge is moer toe. Niks vir hulle oorgebly nie.

Maar dit laat ’n mens tog verder wonder. Is ons geloof nie veronderstel om ons deur verliese te kan lei nie? Daardie geloof wat ons deur die Groot Trek en die Boere-oorlog gelei het: is dit nou niks werd nie? Of was hierdie geloof regtig so rassisties en selfgesentreerd dat ons nie weet hoe om op ’n nierassistiese manier te glo nie?

Geloof moet jou deur ’n krisis kan help, anders is dit niks werd nie. Dis wat ek voel.

En nou sal ’n mens natuurlik kan vra: maar watse soort geloof maak jou gelukkig en lei jou vaardig deur jou verliese, om dit nou maar so fancy te stel?

Ek dink sommer so van die top van my kop af, en ek dink aan drie dinge: natuurlik dink ek aan die verlede, die hede en die toekoms.

Ja, ek dink die verlede kan goed wees vir jou geloof. As jou geloof jou help om jou vorige vaardighede te onthou, toe jy verliese gely het en weer daaroor gekom het — dis daai geloof wat ek soek. Ek is nie skaam vir daardie geloof van my voormoeders wat gesien het hoe word hulle dooie kinders op ’n hoop gegooi in die Boere-oorlog en die varke eet aan hulle nie — en nog geglo het God sit ook in die sekulêre, die vieslike en die varklike. En dat God van daar af ’n pad saam met ons kan stap.

Ek het ook sin ’n geloof wat my help om te droom, om roekeloos in die toekoms te glo. Ek is nie skaam vir Luther se geloof wat hom laat sê het, “As ek weet die wêreld kom môre tot ’n einde, plant ek vandag ’n boom” nie.

Maar ek soek ook ’n geloof vir die hede. Een wat sê dat dit nie net ryk en magtige en voorspoedige mense is wat gelukkig mag wees nie.

Hierdie tyd van die jaar vier die Christene Kersfees, die Jode die Hallukah (die Fees van die Lig) en die Moslems Ramadan.

Ek wil saam met hulle feesvier, maar ek wil in hierdie tyd ook fokus op Jesus wat gedurende sy lewe mense op heterdaad gelukkig gemaak het met eenvoudige dinge.

Om vir ander mense hoop te gee, maak jou gelukkig, sê Jesus, en om saam met jou vriende brood te eet en oor geestelike dinge te praat, maak jou gelukkig. Eerlikheid maak gelukkig, saamwees sonder vooroordele maak gelukkig — ag al die evangelies is vol van ’n gelukkige Jesus.

Dit is die uitdaging van ons geloof: om gelukkig te wees binne ’n kla-kultuur. Om geluk te gryp, daaroor te droom, en dit te onthou.

So, as ons nou vir mekaar sê “Gelukkig Nuwejaar”, lê daar ’n hele klomp werk daaragter. Dis iets wat ek in die nuwe jaar gaan uitprobeer: om gelukkig te wees. Al beteken dit om stroomop en aspris te wees. Om die stroom op te vat teen almal wat kla.


Karnaval in konteks

Robert Vosloo

So ’n tydjie gelede het Nederlandse vriende by ons gekuier. Ons het ’n bottel sjampanje oopgemaak, en toe die prop skiet, sê die een vriend tong in die kies: “Ja, dat hoor je in de kerk niet!”

Dit is inderdaad so dat vir baie mense kerk en vreugde, of godsdiens en feestelikheid, nie natuurlik saamgedink word nie. Nee, word gesê, Christelikheid en kerk verteenwoordig eerder dit wat vreugde en feestelikheid demp. Deur die inbring van kategorieë soos sonde en die daarstel van ’n reeks moets en moenies word menslikheid en lewenslus geoffer op die altaar van sogenaamde gehoorsaamheid.

Daarom die reaksie van baie mense teen gesagsinstansies wat die grense vir die morele lewe op so ’n manier wil trek dat plesier onderdruk word en vreugdelose middelmatigheid tot norm verhef word.

Op die vraag of ’n mens die lewe te veel kan geniet, kan een reaksie dan wees om te wys op die manier hoe byvoorbeeld die kerk en sommige Christene deur plesier bedreig voel en daarom deur reëls en voorskrifte die vlerke wil knip.

Na die ander kant kan sommige voel dat die grense in ons oorgangstyd juis te vaag geword het. Mense doen vandag net wat hulle wil en in die proses verloor die samelewing sy morele vesel. Nou, redeneer sommige, is dit immers die tyd dat daar ’n slaggie duidelik gesê word waar die streep getrek moet word. Daar is die behoefte om sekuriteit te vind in duidelike grense en die versekering te hoor dat daar vaste bakens te midde van die see van morele onstuimigheid is.

So ’n paar jaar gelede het daar ’n boek van Joanne Harris met die titel Chocolat verskyn (dit is ook later verfilm met Juliette Binoche in die hoofrol). Die boek handel oor ’n swerwende vrou, Vianne Rocher, wat op ’n dag met haar dogterjie ’n dorpie in die Franse platteland binnekom en daar ’n sjokoladewinkel oopmaak. Hulle word letterlik die dorpie binnegewaai. Soos die openingsin dit stel: “We came on the wind of the Carnival”. Haar teenwoordigheid skep egter ’n krisis vir die priester op die dorp. Dit is immers die begin van lydenstyd — die tyd van self-onthouding. Sjokolade staan vir verbode plesier en sintuiglike oortreding. Daarom word die vrou en haar winkel as ’n bedreiging vir die gemeenskap se morele lewe beskou. Die res van die boek is dan ’n vindingryke uitbeelding van die stryd tussen die priester (in die rolprent is dit die burgemeester) wat die winkel wil sluit en die vrou wat deur sjokolade die onderdrukking en ontkenning in die gemeenskap oopbreek.

Die subteks van die boek is dat gesagsinstansies (soos die kerk) vreugde, menslikheid en gasvryheid onderdruk. Daar word uit vrees grense getrek wat onderdrukkend en verknegtend inwerk.

Dat die kerk en godsdiens dikwels hierdie rol speel, kan sekerlik met talle verhale bevestig word. Ons sou egter ook kon argumenteer dat in ’n snel veranderende laat-moderne kultuursituasie, kerklike pogings om die grense vir die morele lewe te trek nie meer soveel gesag dra nie.

Die belangrike vraag is dan: Wie trek die grense? Wie bepaal nou die kriteria vir reg of verkeerd?

Een antwoord wat in die vraagstelling vir ons besinning gesuggereer is, is dat die staat dit kan doen. Die staat het immers wette wat mense aanspreeklik hou.

Maar soos die ou Romeine dit al gestel het: Wat help goeie wette sonder moraliteit? Wette word immers gemaak, onderhou en gebreek deur mense — mense met ’n sekere karakter en sekere passies.

In ons tyd van globalisering kom die staat as gesagsinstansie ten regte of ten onregte ook toenemend onder druk. Die popgroep U2 verwoord baie mense se ervaring as hulle sing, “I’ve got no home in this world … Stateless” (uit hulle lied “Stateless” — op die klankbaan van Wim Wenders se briljante nuwe rolprent The Million Dollar Hotel).

Dalk is die talle ontleders regs wat meen dat dit eerder die mark is wat in ons tyd die grense van moraliteit bepaal. Wat ekonomies nuttig is, mag!

As reaksie op die feit dat sogenaamde gesagsinstansies soos die kerk, die staat of die mark die grense vir die morele lewe bepaal, kan ons saam met die etiese teorieë van die modernisme sê dat ek as rasionele individu eerder self die grense van my plesier (en moraliteit) moet definieer. So laat ek nie toe dat ander se definisies van moraliteit my inperk en my van vryheid ontsê nie. Soos Immanuel Kant dit gestel het, die mens laat nie toe dat ’n wet van buite moraliteit bepaal nie. Nee, die mens is outonoom (letterlik vir hom- of haarself tot wet) en moet uitbeweeg uit die selfopgelegde onmondigheid.

Die drie verskillende gedagtes: dat die kerk of die staat of die individu die grense van ons plesier (of breër beskou, van ons moraliteit) bepaal, het egter myns insiens meer gemeen as wat dit op die oog af lyk. Dit gaan uit van die een gedagte dat moraliteit gaan oor die daartrek van grense of oor die neerlê van reëls en riglyne vir reg en verkeerd. So beskou, word die krisis dan: Wie bepaal die reëls en wette? Wie baat daarby? Hoekom moet ek daaraan gehoorsaam wees?

Myns insiens is dit egter ’n verskralende manier van praat oor moraliteit en meen ek dat die Bybel ’n ander morele taal praat as dié van die soek van grense in wette en reëls. Die etiek van die Bybel kan meer juis beskryf word as ’n etiek van gasvryheid en feestelikheid.

Dié gedagte vra egter om groter verduideliking.

Deur die eeue was daar altyd kritiek teen die poging om plesier deur reëls en wette te tem. Een van die interessantste reaksies hierteen is die verskynsel van karnaval. Karnaval was die tyd wanneer die wette van gesagsinstansies jou nie kon bereik nie. Soos die Russiese literêre kritikus Michael Bakhtin dit in sy diepsinnige refleksie op karnaval dit stel: “While carnival time lasts, there is no life outside it. During carnival times life is subject to its own laws … the laws of its own freedom.” Karnaval is die feestelike viering wat die gate en gapings in sistematiese teologieë, wetskodes, normatiewe poëtiek en klas-hierargieë blootlë. Deur karnaval word mense bevry van die onderdrukking van sulke sombere kategorieë soos “ewig”, “onbeweeglik”, “absolutes” en “onveranderlik” en blootgestel aan die vreugde van verandering en vernuwing.

Karnaval, sou ons dus kon sê, is ’n geritualiseerde kritiek teen die verstaan van die morele lewe in wetsterme. Hoewel daar sekerlik ook verskille is tussen die verstaan van Karnaval en van ’n Christelike etiek, meen ek dat die Bybelse verhale ook kritiek lewer teen die verstaan van die morele lewe in terme van vaste wette en overanderlike reëls.

Hoewel reëls en wette en grense sekerlik nie onbelangrik is vir die morele lewe nie (dit is immers die distillering van die wysheid van die eeue), is dit myns insiens ’n misverstand om die fokus van moraliteit bloot hierop te laat val. As gestolde wysheid is reëls uiteraard van waarde, maar dit vra gedurig weer na interpretasie om die gees van die wet te herontdek en waar te maak.

Jesus se etiek, meen ek, was nie ’n etiek wat gepleit het vir die daarstel van een of ander bloudruk vir die morele lewe of die gehoorsaamheid aan sekere wette nie. Dit was juis Jesus se probleem met die Fariseërs. Hulle het gesoek na die reël en die grense en wou die morele lewe opklaar los van die verhouding met God en hulle naaste. In die proses was hulle lewens arm aan deernis en gasvryheid. Jesus se etiek, daarenteen, is ’n etiek van gasvryheid en feestelikheid. Hy eet saam met hulle wat die “reëls” van die samelewing oortree het (die prostitute en die tollenaars). Hy gaan na maaltye en besoek troues (maak selfs by een van hulle ’n oormaat wyn). In die verhale wat hy vertel om die koninkryk te verduidelik, gebruik hy dikwels die beeld van feeste. In een van die verhale (Lukas 14) lees ons van die feesgangers wat nie wil deel in die feesvreugde nie, daarom gaan die uitnodiging uit na die randfigure, die kreupeles, die blindes, die verlamdes en die armes. In die bekende gelykenis van die verlore seun (Lukas 15) lees ons oor die vreugde van die Vader en die fees wat gehou word vir die terugkerende seun. Die oudste broer deel nie in die vreugde nie. Duidelik is die verskil tussen die broer en die vader. Die broer gebruik morele kategorieë om oor sy broer te praat (sy broer — hy praat van “hierdie seun van Pa” — het sy geld met prostitute deurgebring). Die vader is anders: hy gebruik nie eng morele kategorieë wat uitsluit nie, maar inklusiewe verhoudingskategorieë (“Hierdie broer van jou was dood en lewe weer, hy was verlore en is weer tuis”).

Ons sou kon sê dat Jesus se etiek nie in die eerste plek ’n etiek van gehoorsaamheid aan wette is nie, maar ’n respons op ontmoetings. Moraliteit word in die verhouding met ’n ander / Ander opgeklaar.

Dalk moet ons dan sê dat as ons vra na die grens vir die morele, ons kan praat van die ander — en meer spesifiek die wéérlose ander — as grens. In die ontmoeting met dié ander ontspring etiek, hier ontspring verantwoordelikheid. Soos die Joodse denker Emmanuel Levinas dit stel: die weerlose gelaat van die Ander is wat my uitnooi tot geweld, maar dit is tegelykertyd my Sinaï, my verbod om dood te maak. Dit is juis in die weerlose gelaat van die Ander dat ’n mens die spore van die Transendente ontdek.

Daar is vroeër na die boek Chocolat verwys wat poog om iets van die gees van karnaval te midde van ’n moraliteit wat wil grense trek, te herroep. Die vraag kan egter gevra word: Kan jy karnaval hou sonder Aswoensdag? Anders gestel: Kan ons oor vreugde dink los van belydenis? Kan ons hoop hê sonder ’n eerlike omgang met skuld?


Myns insiens het Chocolat (die rolprent én die boek) nie hierdie spanning tussen karnaval en Aswoensdag, of tussen Paasfees en Goeie Vrydag, genoegsaam in ag geneem nie.
Ek meen dat die Bybelse verhale juis ’n stuk lewensgetrouheid vergestalt deurdat dit die weg na inklusiwiteit en vreugde wil aandui op ’n manier wat pyn en worsteling (wat saamhang met die risiko om lief te hê) ernstig opneem.

Die Duitse moraalfilosoof Josef Pieper skryf in sy In Tune with the World: A Theory of Festivity dat die redes vir vreugde en fees altyd dieselfde is: “Possessing or receiving what one loves, whether actually in the present, hoped for in the future or remembered in the past”.

Of in die woorde van die ou kerkvader Chrysostomus: Ubi Caritas gaudet, ibi est festivitas — Waar daar blydskap in liefde gevind word, daar is feestelikheid.”

Dalk is die morele vraag in die lig van bogenoemde nie: “Kan ons die lewe te veel geniet nie?” maar eerder: “Het ons genoeg lief?”


Geniet die Lewe!

Jade Groen

Dis net in die neurotiese wit Weste waar ons wonder of ’n mens die lewe te veel kan geniet en dan boonop vra wie die grense van ons genot behoort te bepaal. Ek hoor ons oeroumagrootjies skaterlag doer uit voor-Christelike Europa!

Lust het in die ou Germaanse tale “geestelike vreugde” beteken. Die Aardgelowiges het gedink die Christene was mal omdat hulle die lewe op Aarde verwerp het in ’n poging om afstand te doen van alle “wêreldse plesier”. Hoekom bevind ons ons dan op hierdie materiële planeet? Hier waar ons kan vat en voel en lekkerkry. As Aardkinders is ons gemaak van Haar vleeslike stof, Haar water, wind, grond en vuur. Hier, in ons Moeder se skoot, manifesteer ons plesier op die fisieke vlak, want dis lekker.

Maar ons het heeltemal vergeet van die lekkerste lekker: Hemelse seks. Ons beoefen dit nie meer nie, daarom sit en bespiegel ons oor genot. Daarom is daar ’n aanhoudende hunkering na iets; ’n honger en ’n dors wat skynbaar net nie geles kan word nie.

Ekstase beteken om buite jou ego te staan, om naak stelling in te neem vir ’n geestelike ervaring.

Ons Aardgelowige voorouers het dit doelbewus nagestreef om met ekstatiese trans beGeesterd te raak. Gemeenskaplike ekstase is bereik met volgehoue dans, die gebruik van bewussynswysigende sampioene en met hemelse seks.

Lank, lank gelede, toe ons nog die Aarde ons Moeder genoem het, het ons die mag van die gevleuelde draak verstaan. Ons het die draak verwesenlik tydens hemelse seks. Ons het geweet ons lywe is heilig en ons seks is heilig.

Kundalini is ’n vurige energiekonfigurasie wat aan die onderpunt van ons ruggraat opgekrul lê soos ’n adder. Wanneer ons seksueel gestimuleerd raak, word dié adder wakker. ’n Lieflike golf energie wel in ons op. Kundalini-energie poog altyd om teen ons ruggraat op te seil. Wanneer ons ’n normale orgasme ervaar, jaag die adder teen ons ruggraat op en vir daardie kortstondige oomblik gee ons ego mee. Die skeidslyn tussen ons en die res van die skepping verdwyn en ons smelt saam met die energie wat volgens die Wil van die Skepper deur alles vloei. Ons ervaar die ekstase van ons innerlike goddelikheid.

Wanneer ons en ons maat gelyktydig ’n orgasme ervaar, seil albei Kundalini-adders terselfdertyd teen die ruggrate op en ervaar ons ’n Hemelse eenwording met mekaar en die energie wat deur die heelal vloei.

Normale seks bied ons ’n vlugtige blik op ons ware geestelike, innerlike vermoëns. Dit is regtig slegs ’n kykie, want op die oomblik wat ons die fisieke orgasme ervaar, val die adder uit die boom. Tydens normale seks handhaaf ons nie die hoër energievibrasie om die adder soos ’n fantastiese draak te laat vlieg nie.

Met Kundalini-seks word die orgasme hoegenaamd nie op die fisieke vlak ervaar nie, want die energie word teen die ruggraat opgetrek en ons kan die orgasmiese gevoel vir vyf tot tien minute of selfs ure handhaaf. Die onthouding van orgasme lei tot illuminasie en bied ons direkte toegang tot die geestelike ruim. Die individu bepaal dus die grense en besluit op watter vlak die genot ervaar word, op die fisieke, of op ’n hoër energievlak.

Terwyl die Kundalini-energie opstyg teen die ruggraat, reinig en genees dit die sewe reënboog-chakras of energievortekse en ooreenstemmende endokriene kliere en organe. Elke chakra van die wortel-chakra af op, deur die heiligbeen-chakra, die midderif-, hart- en keel-chakra tot in die derde oog vibreer uiteindelik met die suiwer vuurenergie. So reinig ons die dubbelchromosoonspiraal. Dit bring volkome genesing op genetiese vlak mee. Vandaar die teken van die slange wat om ’n staf draai.

Hemelse seks het baie name, want dis vir duisende jare regoor die wêreld beoefen: Kundalini en Tantra (Indië, Nepal en Tibet en Europese Troebadoere), Synesaktis, (Sufi in die Midde-Ooste), Coitus Reservatis (Romeinde Ryk) en Druïdaria (Paganistiese Europa en Ooste).

Tantriese seks leer ons dat genot, heldersiendheid en ekstase deur almal ontwikkel en geniet behoort te word. Tantrika span die verlengde beoefening van ekstatiese meditasie, mantras, inbeeldings, jogahoudings en die manipulasie van vroulike en manlike energie in om die adder vlerke te gee. Ons sien/vlieg/droom saam met ons maat en styg uit bo aardse seks.

Dis elke liewe mens se geboortereg om hemelse ekstase te ervaar, want dis ’n ingebore gawe van elke kind van Moeder Aarde. Dis hoog tyd dat ons daardie reg tot absolute genot terugeien. Ons het nie ’n instansie buite onsSelf se hulp nodig om geestelike vreugde te ervaar of om die grense van ons genot te bepaal nie. Ons hoef nie die een of ander doktrine of dogma aan te leer om saam met die Wil van ons Skepper te vloei nie. Ons kan die lewe geniet soveel soos ons Wil en op watter vlak ons Wil.

So geniet jouSelf, in hemelsnaam!

Jade Groen is ook die skyfster van Spinnelap, wat onlangs op Boekenuus bekend gestel is.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.