Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

September 1999

Nou’s dit ek en Luisa

Ek het ’n rubriek oor my pyn belowe, maar die pyn het vervaag. Nadat Angel my hart gebreek het, het ek Luisa ontmoet — en ’n nuwe reeks probleme. Soveel dinge gebeur elke dag. Fragmente wat aangeteken word vir die boek waaraan ek werk, met die titel Bitch. Angel het my in een van haar nugter oomblikke, maar poepdronk, ’n manlike hoer genoem. Dit het my nogal laat dink. Die boek gaan in Engels wees, want hierdie keer wil ek geld maak. Hope geld. Ek is moeg van ’n armoedige bestaan. Die voortdurende geworry oor geld.

Elk geval, ek het verwys na Luisa. Luisa het laggende oë. Ek het haar op die dansvloer van Lido’s ontmoet. Ek onthou nog die song wat gespeel het. Lou Bega. Titel iets van Mumbo no. 5. Die woorde is nogal gepas: “A little bit of Monica in my Life, A little bit of Jessica by my side, A little bit of Sandra under the sun, A little bit of Rita for fun ...”, of iets in dié trant. Elk geval, Luisa se oë het my gevange geneem, en sedertdien is dit ek en Luisa.

Dit is vroegaand en ek wag vir Luisa en haar vriendin Joanna voor die Pickin Chicken in Puntweg. Joanna se woonstel is op die sesde verdieping. Sy is half-Portugees, half-Indiër, met ’n baie kort mini. Ek dink soms ek is gemaak om te wag.

Die vroue-karwag dwaal met ’n bedelende hand en ’n Zoeloe-sambok om die kar, busse dreun om my ore, ’n atletiese swart moffie kom by die ingang uit en ek wag en ek wag. Ek haat dit om te wag. Ek is nie gemaak vir wag nie. Joanna se spesialiteit is Filippynse matrose. Hulle kom op ’n drafstappie by die ingang uit. Ek is die taxi na ’n deel van die hawe naby die Bluff. Ek voel ’n bietjie gatvol. Ons hou langs die hoë boeg van die skip stil. Joanna gaan met die trappie op. Sy vra dat ons moet wag. Ander taxi’s wag ook, en hoere, meestal wit, hang by elke deur en venster uit. Ons wag en wag.

Ek het baie sterk gevoelens vir Luisa. Speel-speel druk sy haar goue ring van Nampula oor my vinger. Dit sukkel, maar uiteindelik is dit oor die kneukel. Ek voel naarheid in my opstoot, ’n engtevrees wanneer ek besef dat hierdie ring nie sommer weer van my vinger sal kan afkom nie. Die voorvaders het ingegryp. Joanna verskyn en waai. Dit is okay vir ons om te gaan.

Luisa het ingegryp in my lewe. Ek moet elke dag Ego aanspuit, mag nie met my T-hemp op straat verskyn nie, nuwe skoene is gekoop: ’n swart en ’n bruin paar. Ek mag nie die swart paar saam met ’n bruin gordel aantrek nie. Al die gloeilampies wat nie werk nie in die woonstel is vervang. Die kakkerlakke word dood gespuit, of gaan op hulle knieë vir kos, want Luisa is higiëne-befok. Ons wag nou net tot daar genoeg fondse is vir die finale uitwissing. Sy kom uit ’n Moslem-agtergrond. Haar eerste man het na Guinee-Bissau na sy ander vrou verdwyn en is nou reeds miskien dood in die burgeroorlog daar. Sy is blykbaar gek na my groen oë (vir haar is dit blou). Soos ek kan aflei, kan sy nie blou oë weerstaan nie. Ek begin perspektief verloor. ’n Sitkamerstel word gekoop. ’n TV word gekoop. Ek haat TV en het jare reeds ’n stryd met die TV-lisensiemense aan. Oxford-huis 27 begin anders lyk. Sy dreig om die boeke by die venster uit te gooi (ek moet net mooi verduidelik dat die goed baie waardevol is). Maar ek is gek na Luisa. Miskien vat sy my ’n stappie nader aan die dood, of is sy ’n genoot wat my oor die drumpel sal help. My voorneme is om nie ouer as vyftig te word nie.

Die opbreek met Angel was pynlik. Sy het met my rondgejol. Gesê sy kom my besoek, dan daag sy nooit op nie. Soek ek haar, is sy by Costas se straatkroeg. Ek onthou die aand van die opbreek baie goed. Angel het belowe sy kom. Toe sy teen twaalfuur nog nie opgedaag het nie, besluit ek om op my eie na Lido’s die nagklub te gaan. Maar voordat ek die pad soontoe vat, net eers ’n draai by Costas maak. Terwyl ek die kar al luierend dubbelparkeer, sien ek hoe Angel na die toilette toe nael; ek ry om die blok, gaan parkeer aan die agterkant van die gebou en loop na Costas. Terwyl ek in sig kom, sien ek hoe Angel weer vir die toilet nael. Ek gaan sit, bestel ’n bier, sê vir ’n vriendin van Angel om vir haar te sê dit is okay, sy kan maar uit die toilet kom. Angel kom uit sonder om my te groet. Die kroeg is vol mense.

Angel se vriendin kom pleit by my. Sy is dronk. Ek moet haar vergewe, ensovoorts.

Met die laaste sluk van my bier stap ek senuweeagtig na Angel en sê ek gaan na Lido’s. Sy kyk my net uitdrukkingloos aan. Ek is daar weg. Parkeer my Langley voor Lido’s. Is op met die trap. Betaal. Gaan sit. Op die dansbaan herken ek Luisa van ’n vorige week toe Angel ook kak met my gemaak het. Ons oë vang mekaar onmiddellik. Sy het my by ’n later geleentheid vertel dat sy my oë van ons eerste ontmoeting nie kon vergeet nie, ten spyte van my vuil professorbril. Miskien was dit die pyn in my oë wat sy raakgesien het, of die sagte aggressie. Of iets. Maar ek het soos ’n sjamaan op die dansvloer te kere gegaan, veral op die Mumbo no. 5. Myself in ’n hipnotiese toestand verloor. Gevlieg. Uiteindelik is ek en Luisa uit die klub uit op pad na Gillespiestraat.

Vreemd. Sy het weer rigting in my lewe gebring. Die pyn van Angel was nog daar. Die volgende dag het Angel kom pleit. Maar ek is jammer. Angel het histeries begin raak. One day is one day. Maar ek het net voor my uit gekyk. Want Angel was iemand besonders. Luisa het al Mbali se klere in ’n swart sak gegooi. Later het ek dit by Mbali se antie gaan afgooi. Nog ’n afskeid. Oor die heining wou die antie nog iets sê. En ek onthou woorde van Mbali tydens een van ons laaste ontmoetings. Dit was by die Star Fish. (’n Wonderlike restaurant op die Suid-Strand.) Ek het vir haar gevra hoekom glimlag haar oë, waarom is sy gelukkig. “I’m happy, because I’m alive and I’m with you.” Die woorde het deur my gesny. Maar ek was reeds deurmekaar met Angel. Ek onthou alles van die jaar met Mbali. Die hoogtepunte, die laagtepunte. En haar lewe is op die keerpunt. As afskeidsgeskenk het ek vir haar geld gegee om ’n klein besigheid te begin. Jeans verkoop in die township. Hoop sy kan dit maak.

Punt-radio het Saterdag, half uit die bloute uit, ’n onderhoud met my oor 24.com uitgesaai. Ek was deurmekaar. Kan nooit uit die vuis uit praat of groot stellings maak nie. Wat probeer jy bereik met jou rubriek? Ek weet nie. Wat gaan jy in die volgende aflewering kwytraak? Ek weet nie. Wie is jy? Ek weet nie, ek het ’n Ph.D. oor Ingrid Jonker geskryf, en probeer haar voetspoor volg. Ek is romanties. Wat verstaan jy onder die begrip Romanties? Ek weet nie, of ek is ’n dier. Waarom is jou sentrum by die Universiteit van Durban-Westville so suksesvol? Ek weet nie. Oor die naweek werk ek aan ’n manuskrip oor Ingrid Jonker. Die biografiese hoofstuk uit my Ph.D. Wat ek vir publikasie verwerk. Titel: Gesig van die Liefde: Ingrid Jonker. Verder is ons toe onder die transformasievergaderings hier by die universiteit. Om te kan dink, het ek tyd en ruimte nodig. Baie tyd en ruimte.

Daar was sulke krapgeluide oor die telefoon. Wie luister in? Waarom? Ek is ’n oop boek. Lees 24.com. Alles is daar.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.