Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Augustus 1999

I’m not from heaven in any way

“My name is Angel, but I’m not from heaven in any way,” is die onvergeeflike woorde van die lang figuur, van kop tot tone in swart geklee, gevlegde hare tot op haar skouers. Die woorde Bad Girl is in silwer vertikaal op haar T-hemp gedruk. Angel is maklik die mooiste vrou wat ek nog in my lewe teëgekom het. Ons het ’n afspraak: Sewe-uur, Vrydagaand. Ons eet tamatiesop, lang Franse brood, pap en tjops in my woonstel. Nasan, ’n kunsgeskiedenisdosent, en Richard, ’n linguïs met ’n poniestert tot op sy boude, is ook daar. In die klubs is Richard bekend as Jesus vanweë sy voorkoms. Hy is verlief op tale. Die somtotaal van alle tale in die wêreld is seker net een taal. En dit is wat Richard opgewonde maak: oerwêrelds: ooreenstemmende stamwoorde van al die kontinente van die wêreld. Sy prooi is die matrose in die Durbanhawe. Hy ken die tegnieke om hulle te verlei na sy woonstel wat van muur tot muur toe is onder rakke kassette met opnames van matrose: opnames van die folklore van hulle lande, weergawes van staatsgrepe op eilande, stories oor skoonma’s en spreuke, ens.

Nasan besluit om vroeg te onttrek: hy het nie geld vir die nagklub of drank nie. Ek, Richard en Angel gaan Monte Carlo-nagklub toe. Op met die nou trappe stap ons. Koop ingangskaartjies by ’n vrou met rooi hare, rooi naels, ’n laehals rooi rok in ’n rooi beligte kantoortjie. Ons tree die luide tempel van plesier binne. By die kroeg sit ’n klomp mans en vroue op kroegstoeltjies. Die vroue is by verre in die meerderheid: Alle grotes en voorkomste. Teen die muur regs is tafels en meer sitplekke. Links is ’n ronde dansvloer met flitsende ligte uit die vloer en van die sirkelende dak. Daar is twee pedestale met blink pype tot teen die dak, pype waarteen die vroue hulle poese jags kan vryf. Die musiek iets van disco, San Francisco, wanna party, shake your body ... poop ... poop ... poop. En bo dit alles deur die byna histeriese gegil van Olivia wat my herken en omhels ... my fok hier kom moeilikheid want ek is saam met Angel. Ek gee Olivia die Judas-kus, gaan sit belangstellend by haar om die nuutste nuus te hoor, maar dit is nie lank of Angel beveel: “Come ... sit here”.

Ek doen dit gedweë en hou haar hand vas en gluur die hele aand verskonend na Olivia. My hart breek in my gesig vir haar. Ons suip en suip en suip ... Dans, maar my robotpassies is nie gemaak vir Afrika nie. Vieruur in die oggend strompel ons af na die kar toe. Ek kan goed verstaan hoekom die meisies gereeld die trappe afval en die dokters in besigheid hou.

Terug in my woonstel: Ek en Angel is gewikkel in ’n diep alkoholies-geïnspireerde gesprek: iets oor haar koning (sy is van Swaziland) en haar hoofman. Maagdelikheid word getoets aan die tepels, ’n gloeilamp word by die vagina opgedruk. Sy is verban omdat sy swanger geraak het op skool. En sy praat oor wit mans. Die vorige aand was sy saam met ’n polisieman van CR Swart-stasie. Hy het vir haar gesê dat sy ’n kaffer is.

Hy is mal oor haar liggaam, maar hy is ’n boer en hy haat kaffers. Boere en kaffers is natuurlike vyande. Ek sê vir haar ek is ’n kommunis ... Sy is ’n bietjie uit die veld geslaan en is skielik verskriklik honger: daar is nog ’n tjop, nog pap en tamatiesop en haar ronde swart handsak is vol kondome. In my agterkop heeltyd die kakgevoel oor Olivia, en Angel wat herhalend sê ek moet haar vieruur in die oggend laat gaan. Sy moet ’n kliënt ontmoet. Ons maak liefde. Sy vertel van ’n man wat ’n sigaret by haar opgedruk het en ’n woedebui oorval my. Hoe kan iemand so iets doen? Ek is genuinely die moer in. Sy verkies matrose, want dan kan sy heeltemal losstaan van die politiek. Intussen ook ’n verwysing na Mbali. Mbali gaan nog terugkom, sê sy. Nooit, sê ek. Sy was net ’n geraamte die laaste keer toe ek haar gesien het. Sy kan nie eers loop nie. Ons naai en naai. Wanneer die eerste kondoom af is, moet die volgende een op en intussen word sy honger ook. Agtuur is ons wakker, ek gaan bank toe. Sy kan nie by my bly vir die dag nie. Ek voel heeltemal leeg. Sy moet haar vriende sien (seker eerder haar geld gaan spandeer).

Nadat sy by die woonstel uit is, voel ek goed, maar slaan neer op die bed in ’n diep slaap tot die buzzer my daaruit ruk. Vaagweg vrouestem aan die ander kant. Ek druk die knoppie wat die deur oopmaak, trek vinnig my jeans en T-hemp aan. Rukkie later. God, ek kan dit nie glo nie. Mbali by die deur. Haar klere hang los oor vel en been, en onder ’n hoedjie van tiervel loer haar blink tierogies. Sy bestel onmiddellik “spare ribs”. Sy vrek van die honger, het vir maande tussen lewe en dood gehiberneer. Mense van die township het haar na die busstop gedra, en hier het sy voetjie vir voetjie haar pad na die woonstel gevind. Kredietkaart in die sak ontvlug ek uit die woonstel, eers na Costas waar ek tot my verbasing vir Angel in die hoek sien sit by ’n man. Sy hou ’n roos in haar hand op haar skoot. Dit kom soos ’n skok oor my. Ek probeer myself oor die rumoer hoorbaar maak. Al die oë in die kroeg is op my, want gisteraand was dit ek en Angel en die pyn van hulle maatjie Olivia. “Mbali is back ... please tell Olivia as well” en dan verdwyn ek na die steakhouse om die spare rib te bestel.

Terug in die woonstel eet Mbali soos ’n wolf aan die ribbetjies. Ek is nie honger nie. Ek weet, iets tussen my en Mbali is dood, maar ek kan niks sê nie. Sy herhaal en herhaal “Thank you very much ... Thank you very much”, ek weet nie mooi waarvoor nie. Vir maande in haar semi-dood was ek haar enigste grashalm. Dit breek my byna.

Die volgende oggend het ek ’n vinnige afspraak met ’n besoekende Duitse professor. Daarna stop ons by W en J. Ek drink ’n glas wit wyn. Hulle sit beskuitjies met gerookte mossels en kaas voor. Net voor ons vertrek, drink ons Earl Grey-tee en eet vir die eerste keer daggakoekies. Ek eet twee. Hulle lag oor Piet wat so verskriklik gestoned geraak het op die goed. Dagga het my nog nooit werklik geaffekteer nie.

My fok ... dit was die naaste wat ek nog ooit aan die hel gekom het. Ek het die pad na die woonstel orraait gevind, self by Spar al die bestanddele vir ’n stir fry gekry, want Mbali was nog verskriklik honger. Onder by die hysbak het ek onbeheerbaar begin lag. In die slaapkamer begin ek beheer verloor. Dit voel asof ek by die venster moet uitspring om vars lug te kry, dit voel asof ’n monster my kan oorneem, ek dinge mag doen soos moord pleeg. Ek vat aan my arm en vra aanhoudend “Am I real?” soos ek tussen vlakke dynserige diep herinneringe beweeg, die pyn van andere deur my veroorsaak, Liesbet ... Olivia ... Mbali ... Angel kom te same by my op. Dit voel asof ek versmoor. Ek weet ek moet net probeer slaap. Ek kan nie regop staan nie. Mbali onder die komberse ingekruip, met haar ogies loerend na my smeek en kerm sy vir kos, sy is honger. Ek kan nie regop staan nie ... Ek hallusineer buikloop ... ek kan die gedagtes nie meer beheer nie ... die ego is seker soos ’n sirkusmeester met sy leeus ... My kop sweet ... my hande sweet ... vir vyf ure worstel ek met die dood.

Ek onthou Angel se woorde “My name is Angel, but I’m not from heaven in any way”. Oor my pyn skryf ek verder.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.