Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Junie 1999

Die universiteit bly my onderwerp — maar miskien moet ek so ’n bietjie afwyk met ’n klein narratief wat sy ontstaan het in Gillespiestraat. ’n Skrywer soos Etienne van Heerden sou daaraan kosmiese betekenis kon verleen. Dit gaan oor die uitsonderlike gebeurtenis van pis en kak wat deur ’n woonstelbalkon reën. Soortgelyke tonele uit Chris Barnard se Pa, maak vir my ’n vlieër pa het my altyd gefassineer as iets heeltemal onwaarskynlik, absurd. Die teater van die absurde. Maar, mense, sulke dinge kan werklik gebeur. Ek het ervaring daarvan. ’n Week of twee gelede arriveer ek by my art deco-woonstel in Oxford-huis, Gillespiestraat, en soos ek die deur oopmaak, sien ek net hierdie bruin modderplas in die gang en strale vuil water wat deur die plafon afreën. Gelukkig geen skade aan die uitgebreide Suid-Afrikaanse Letterkunde-biblioteek binne die woonstel nie. Ek hardloop die trappe af. Te haastig om vir die hysbak te wag. My storie werk onmiddellik die opsigter se bloeddruk op. Dit moet woonstel 38 se skuld wees. Dit is daardie agtermekaarmannetjies (volksmond vir moffies) wat daar bly. Hulle gooi hulle kondome en ander vreemde goed in die toilet af, dan verstop dit. Ons draf onmiddellik soontoe.
    Die deur is oop op ’n gang met koerantpaper oral op die vloer, en ’n reuk wat mens disnis slaan. Die eienaar verduidelik dit is nie sy skuld nie, maar die pype van die gebou wat herstel moet word. Hy vee nie sy agterwêreld met koerantpapier en nappies af nie, en dit is wat daar in die spoelbak opborrel. In die sitkamer voor ’n spieëlkas sit en staan drie of vier swart transvestiete. Hulle doen mekaar se hare. Die eienaar vertel my dat hy tans boekhou studeer. Hy was negentien jaar in die weermag. Het toe maar ’n pakket gevat. Later daag ’n loodgieter op. Steek sy arms elmboogdiep in die kak, en kry die pype oopgeblaas. Later vat hy ’n ruskans en eet ’n hotdog. Maar soos reeds gesê, my eintlike tema is ’n ander kakspul: naamlik die universiteit in die nuwe Suid-Afrika. Mense, ek wil nie moedeloos wees nie. Miskien kan daar nie veralgemeen word nie, want Durban-Westville, waar ek klasgee, is anders. As onderwerp van ’n 26 volume-verslag is dit seker een van die mees interessante gevalle van intrige: die verslag moet kwalifiseer as die kanonieke teks van ons tyd. Nie dat die verhaal afgerond is nie. Vreemde dinge gebeur nog daagliks. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die plek is my brood en botter.
    Daar is nou ’n situasie waar daar seker meer bestuurders (kanseliers, vise-kanseliers, adviseurs tot kanseliers, registrateurs, vise-registrateurs, super-dekane, dekane, adviseurs tot dekane, en baie geheimsinnige transformasiekomitees) is as personeel in sekere fakulteite. Die gevolg is fakulteite moet saamsmelt. Alles moet groter, meer eenvormig, en sentraal beheer word: ’n Meta-narratief met net een storie. Die salarisse van die bestuurders is seker die ekwivalent van hele fakulteite, en sou omgeskakel kon word in beurse vir ’n paar honderd studente. In 1974 het ’n rektor net een kerf bo ’n professor verdien. Maar soos hulle werk meer polities van aard geword het, so het die salarisgaping toegeneem: hulle het vandag allemagtige politieke agendas om uit te voer.
    Die magspel is ingewikkeld, dit is ’n stryd tot die dood toe en wonderwerke gebeur: ’n junior lektor word oornag assistent-registrateur of -rektor (sonder enige publikasie op die naam). Om te kwalifiseer, moet jy die hardste op ’n vergadering kan skree. Jy moet die slagoffer wees wat weet hoe om te kan vervolg (is dit nie die klassieke definisie van die fascis nie?) Die vyand is daardie groot sameswerende spook van die verlede: Apartheid, die gedaante wat die spook aanneem, is die Europese tale-departemente, die Afrika-tale-departemente, die Oosterse tale-departemente, of enige departement wat nie ’n “Ontwikkelingstudie-fokus” het nie. Ironies, want wat eintlik geïmplimenteer word, is onderontwikkeling. Die wêreldbank is die onderskrif. Intussen word die universiteitsbiblioteek geplunder dat die boeke tot by die ingang uit rondgestrooi lê.
    Die politieke taal oorheers alles in Suid-Afrika. Dit is ’n mengelmoes van wêreldbank-voorskrifte, anti-apartheidsentimente, en stalinistiese oratorie. Ek wil naar word. Hou die politiek uit die letterkunde want dit bevuil alles. Skakel die TV of radio af wanneer dit politiek is. Gisteraand was Ndebele se “Fools” op M-Net. Wat ’n wonderlike film, ten spyte van die hortende dialoog. ’n Verkragter word as ’n mens voorgestel! Dit is beslis nie iets wat moontlik is in die politieke diskoerse nie. Laas week het ek Nadine Gordimer se Burger’s Daughter gelees. Hoeveel meer kompleks is hierdie teks nie as al die historiese geskrifte van die afgelope 20 jaar saam nie. Die insig is sterker as al die sosiologie-boeke en al die sielkunde-tekste. Dit is essensieel ’n hedendaagse tragedie: die aristokratiese familie (gebaseer op die Fischer-familie en Kommunistiese Party-geskiedenis in Suid-Afrika), die oedipale verhoudinge, die melankolie en dan die volgende reëls (wat myns insiens die essensie van tragedie is):
I don’t know the ideology:
It’s about suffering.
How to end suffering.
And it ends in suffering.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.