Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Maart 1999

1
My rekenaar sê dit is 2h13 in die oggend: beslis diep in die nag. Hier word dit egter nooit donker nie — die blou neonlig van die Holiday Inn Garden Court gooi sy skynsel oor die stad. ’n Geweldige slag het my uit my slaap geruk, ’n ontploffing, glas wat uitmekaarspat, dit klink soos ’n plafon van een van die verdiepings van die Four Seasons wat inmekaargesak het. Vroeër die aand het ’n motorfietsbende met groot lawaai hulle plesier uitgeleef: die dames het halleluja-liedere gesing en die mans het ingekom met ’n kwaito-koor. Ambulanse en vangwaens koek bymekaar voor die Four Seasons. ’n Bakkie staan skuins oorkant die robot geparkeer, en iets is besig om te gebeur om die draai.

2
Later die oggend, omtrent 10h00. Ek keer terug van die Pick ’n Pay in die Wheel met inkopies in my hand. By die pilaar, ingang tot Oxford-huis, staan Piet, die insleep-man. Sy insleepwa staan aan die ander kant van die pad. Die reuk van ’n vroeë dop asem by sy mond uit. Ja, hy weet van die ongeluk: ’n trok het op ’n bakkie beland. Hulle moes ’n vrou lossny. Net haar bene het uitgesteek. Nie iets wat ’n mens oor die naweek wil sien nie.

3
’n Kokkerot teen die kombuismuur hou my dop terwyl ek uie, knoffel en rissies opkap. Voeg kerrie, kaneel, komyn by.

4
Openingsinne is die onderwerp van ’n gedagtewisseling tussen my en Fanie de Villiers oor die vonkpos. Hy het gehou van die “eenuur in die aand”-openingsin van die vorige slenter. Gewoonlik praat ’n mens van eenuur in die nag. Soos reeds gesê, dit word nooit werklik nag hier nie.

5
Daar is net twee reëls hier by Oxford-huis, volgens die opsigter: Jy moet jou gedra of jy word gedonner.

6
Baie ingenome wys die opsigter, Hennie, my ’n koerantknipsel. “Kyk hierdie berig. Hulle gaan nou mense wat steel se hande afkap! Dink jy nie dis ’n oplossing vir die land nie?”
    Ek is ’n bietjie uit die veld geslaan. Ek glimlag: “Nee, ek dink nie dit is ’n goeie idee nie. Enigiemand kan gedryf word tot steel. Dit kan met enigiemand gebeur.” Na ’n paar oomblikke: “Kyk net na ou Chris.”
    “Ja, kyk net na ou Chris,” sê Hennie ingedagte.
    Ek dink aan ou Chris. Kortbroek, met sy dik arms gevou oor ’n bultende bierpens, oë wat die wêreld opsommend bespied: sagte oë van ’n predikant en ’n breker van ’n snor en ’n alwetende glimlag. Daar staan hy eenuur in die nag en kyk die sondige wêreld aan. ’n Regte boereverneuker. Wie het dit nou van ou Chris verwag? Hy was altyd die witbroodjie in die familie, volgens Piet, die insleepman en sy broer.
    Chris het die Prof so van ver af uitgekyk, soos ’n kat ’n muis. Elke dag het die Prof by die woonstel opgedaag met ’n kattebak vol boeke, dit ingedra soos ’n mier stokkies by ’n miernes intrek. Boeke en boeke, en nogmaals boeke. Stapels boeke op die vloer. Daar is nie plek om te beweeg nie. Die hele Suid-Afrikaanse letterkunde.
    Chris het geglimlag. Hy het ’n bod gemaak vir ’n boekrak. “Kyk, hierdie ding wat ou Fred vir jou ingesit het, is sommer gemors.” Hy kan nie glo dat ’n mens so ver kan gaan om ander te verneuk nie. Hy belowe die beste hout, hout wat nie onder die gewig sal swig nie. Ek het goedgelowig die paar honderd rand voorgeskiet. Inderdaad, die timmerman en sy handlanger, met gesig geplooi en gesonbrand soos dié van ’n akkedis, het opgedaag. Die muur is afgemeet en daar is begin werskaf. In plaas van die wonderlike hout belowe, is gewone laaghout gebruik. Ek het maar my oë toegemaak en my eerste teleurstelling verduur.
    Hy vertel van ’n ou vrou met ’n hele garage vol hout. Haar man is dood en nou wil sy ontslae raak van die goed teen ’n appel en ’n ei. Maar hy was net te laat.
    Chris het die harte van almal in die gebou gesteel. Tot my verbasing het hy selfs volmagtiging gekry by een van die weduwee-eienaars om namens haar op die raad van direkteure te dien. Hy gaan van nou af sy plek volstaan as die persoon verantwoordelik vir die instandhouding van die gebou. Daar was groot verwagtinge.
     Die eerste vergadering. Ek en Chris loop saam na Mr. Taylor, voorsitter, se woonstel so ’n blok weg. Ons beur deur die hoere en die dealers in die straat. Taylor spekuleer met woonstelle. Hy besit omtrent die helfte van die woonstelle in Oxford-huis. Hy is de moer in vir Dale, ’n ander direkteur. Dale is verantwoordelik vir die onderhoude met nuwe huurders. Hy neem sy posisie van mag ernstig op en klim behoorlik in die potensiële huurders se karakters in. As dit so aangaan, sal ou Taylor een van die dae nie meer huurders hê nie. By die vergadering word Dale behoorlik geskrobbeer en van sy posisie onthef. Taylor is ’n prokureur van beroep. Hy het ’n keelvel soos dié van ’n verkleurmannetjie met ’n onderkaak wat voortdurend besig is om ’n ellelange tong te priem. Enige oomblik kan hy dit laat uitskiet na ’n arme vlieg al spartelende.
    Chris maak sy merk as ’n man van aksie, ’n man van sy woord. Dinge gaan gebeur by Oxford-huis.
    Dit was ongeveer Kersfeestyd. Ek het my bonus gekry, maar geld is nogtans skraps. Chris kom klop aan met ’n bargain wat nie te versmaai is nie. “Prof gee my R250 en ek sit vir jou Woensdag hier ’n boekrak in, en ek gee jou geld — die volle bedrag — teen Donderdag terug.”
    Ek is uit die veld geslaan. Ek het nie nou geld nie.
    Maar hoe is dit moontlik? “Die hout waarvan ek jou vertel het ... Ek kan dit kry, maar dis dringend. Dis genoeg hout om my vir ’n jaar aan die gang te hou.”
    Ek protesteer. “Jy sal eers vir my ’n dokument moet opstel, en dan teken.”
    “Oukei, ek bring die dokument vir jou,” en binne vyf minute is hy terug met die handgeskrewe — en ondertekende — belofte. Ek vat dit en gee hom die tjek.
    Weke het verbygegaan en niks het gebeur nie. Tot ek eendag afgekom het op Hennie, die opsigter, wat nors peins. Wat is nou verkeerd? Nee, dis Chris. Wat van Chris? Die polisie soek hom. Hy het hierdie nuwe mense wat nou pas hier ingetrek het uit R15 000 geswendel (die man, omtrent sewe voet hoog, werk nogal by die Fidelity Guards), die ou weduwee uit R5 000, myself uit R500, en Mr. Taylor uit R250. Hy het ’n kar op sy broer se naam in Pinetown gekoop. Sy broer se handtekening vervals. Hy gaan sit ... lank sit, want hy is juis uit op ’n opgeskorte vonnis. Hei, wat vertel jy my ...? Ou Chris met sy stories. Hy sal ’n magistraat uit sy tjekboek uit kan praat.
    Ander dag weer gedink aan Chris. Daar het ’n boemelaar op die sypaadjie gelê met ’n dik weglê-snor, maar baie maerder. Ek het gedink aan Chris.

7
Valentynsdag was ek by die Westbrook-hotel, hier anderkant Tongaat. ’n Mens gaan spesiaal soontoe vir die oesters. Groot Zoeloe-tantes met dik arms haal die oesters in die vroegoggende van die rotse af. Dit is oesters wat ’n mens se tone laat krul. Ek dink hulle het die oesters spesiaal vir Valentynsdag gekweek.

8
Julle hoef my nie te glo nie, maar die onderwerp van hierdie slenters is veronderstel om die Suid-Afrikaanse letterkunde te wees. Wat my altyd fassineer oor die onderwerp is die evolusie van die term “Suid-Afrikaanse letterkunde”. As ’n mens vandag na sekere titels kyk, dan moet jy glo dat die enigste Suid-Afrikaanse letterkunde die Engelse een is. ’n Paar jaar terug was dit heeltemal anders. By ’n baie interessante konferensie in 1969, gereël deur die English Academy of South Africa (Opgeneem in English Studies in Africa Vol. 13, no. 1, Maart 1970 ) blyk dit byvoorbeeld dat die Suid-Afrikaanse letterkunde eerste by Engelse departemente aan Afrikaanse universiteite ingestel is om so materiaal in te sluit waarmee die Afrikaanse student kan identifiseer. Maar ’n mens kan verder teruggaan. In ’n artikel uit die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring 1938 skryf J.Y.T. Greig:

I am tempted to cut the knot by roundly declaring that there is no such thing as South African literature in English; and I believe that much could be said for such a view. There is literature written in South Africa in Afrikaans. I can see no serious objection to calling this ‘South African literature’ tout court; it is distinct from all other kinds of literature because of the language it is written in, and this language is admittedly peculiar to South Africa. There is also literature written in South Africa in English. But this, because it is written in English, should be regarded as part of English literature. (The same is true of so-called American, Canadian, Australian and West-Indian literature.) In short, the only sure criterion by which we may distinguish one literature from another is the language it is written in; and the country it is written in is largely irrelevant.

Die diskoers het beslis verander.

9
Nou net hier opgedaag: Annemarie van Niekerk se nuutste bloemlesing van ongeveer 500 bladsye: The Torn Veil: Women’s Short Stories from the Continent of Africa. (Queillerie 1998). Prys R89,95. Afrikaanse skryfsters soos Corlia Fourie, Jeanette Ferreira, Riana Scheepers is tussen die ander Afrika-stemme opgeneem. Ek wonder net: Waar is M.E.R.?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.