GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.

Der letzte Zug

Jo Robinson

Hans-Peter se briewe word al minder. In inhoud én frekwensie.

Dis ook natuurlik, so. Eers was daar nuus oor sy ouers, sy twee broers en die drukkery. Hy was, naamlik, lettersetter by die een of ander Buchen Gesellschaft in Interlaken. Of dalk was dit maar die plaaslike koerant. Knock 'n drop, miskien.

Ag, en die foto's! Die Teutoniese drie jongelinge met hulle bolywe effe wit maar glansend in 'n skugter Switserse somerson, afgeneem op die balkon van hulle huis in Thun aan die anderkant van die mere.

Die ouers was randfigure. Van hulle het hy nooit veel geskryf nie; eerder van hom en die broers. En het Kobie dit nie geniet nie, hierdie halfbronstige brokkies Suisse-Deutsche inligting uit die vreemde! Wat dit natuurlik soveel meer magies vir hom gemaak het. Die vreemde.

Maklik om te lees was dit nie - Kobie se matriekduits het, so ongenadiglik soos die ouderdom, 'n afwaartse neiging getoon. En voeg daarby die Switserse dialek, dan's dit nag. Hans-Peter het egter sy bes probeer om Engels baas te raak. Aanvanklik maar vrotterig, maar met die koms van Gertrüde, veel beter.

Natuurlik was dít waar die verwydering begin het, by Gertrüde. Tog het Kobie nie te veel omgegee nie, al het die nuus oor die bronstige boeties minder en die ophemeling van Gertrüde hewiger geword. Die punt is: die Engels het verbeter.

En dit was die dilemma: wat Kobie eintlik wou hoor, was in Switserse Duits en die gemeenplase (vir hom, altans) van die nuutgevonde liefde, in die al beter wordende Engels. Verfoeilike Gertrüde!

Nogtans was die ligblou briewe met hulle gebroke swart-en-rooi raam op baie broos papier altyd iets om na uit te sien. Kobie kon behoorlik uitstorm en die posman iets wrewelrigs toesnou as daar nie elke tweede Vrydag 'n brief met nuus van "oorkant" af was nie.

Oorkant, ja, was 'n wêreld van baie lank gelede. Die foto's het nou al ook begin verdof. Die onthou nie meer so akkuraat nie.

Ná die troue het Gertrüde die korrespondensie oorgeneem. Kobie was sommer pleinweg moerig as die adres op die koevert nie met daardie tipiese sterk Europese hand geskryf was nie. Gertrüde se klein, ronde skrif was 'n soort koggeling, 'n tipe "wê-wê-we-wê-wê" van 'n dogtertjie wat weet sy het die mooiste pop gekry en jy kan tog nie daarmee speel nie, so, wê-wê-we-wê-wê.

Toegegee, haar briewe was voller, interessanter en ... in Engels. Nie te waffers nie, maar darem. Die stukkies wat Hans-Peter geskryf het, was maar eina. Tog was dit juis daardie ou skraps flentertjies waarna Kobie gehunker het.

Maar, toe is Gitte op pad. Ja, die eersteling sou 'n dogtertjie wees; hulle het die sonar gesien. En Gitte se koms was min of meer die korrespondensie se einde.

Ook te verstane, het Kobie dikwels gemymer. Heel te verstane. Die twee jongmense het nou ander belange as om hulle op te hou met 'n (vir Gertrüde, in elk geval) gesiglose ou korrespondent in veraf Afrika. Dat Hans-Peter ophou skryf het, het Kobie egter veel Herzenschmerz besorg.

Ja, ja, daardie aand in Interlaken was tog idillies mooi. Die toergroep het vroeër die dag met die rattrein opgerammel na die Jungfrau. In die klomp sale wat uit die ys gekap was, het hulle jolig foto's geneem en buitekant mekaar met sneeuballe bestook. Laer af teen die hang was daar sowaar 'n man in Lederhosen wat sy koeie met 'n regte Alpenhorn geroep het!

Die Chablis wat Kobie by aandete bestel het, was glad nie so romanties as wat hy hom al die jare voorgestel het nie. Net maar nog 'n wit wyn. En die prys! Tog, die naam lyk goed in 'n mens se memoires. Die Vichyssoise was, volgens Kobie, 'n mislukking. Ag, nee wat, tuis maak hulle dié ou soppie self baie beter. Meer aartappels, growwer preie en dik Jersey-room. Met 'n bietjie meer van dit en heelwat minder van dat.

Ná aandete het die hele toergroep die kleine Interlaken ingevaar om vensterkopies te doen. Môre was die dag van die groot koop! Kobie self het lank voor die toer begin spaar vir 'n Rolex. Die meeste vrouens in hulle crimplenes wou koekoek-horlosies koop.

Daar was 'n hele paar mense uit die Vrystaatse Goudveld op toer en Kobie kon net dink hoe dit van Virginia tot in Odendaalsrus sou klink as al die koekoeke nie gesinkroniseer was nie. Siestog, die een paartjie het juis gedag - toe hulle in die winter uit Suid-Afrika vertrek - dit sal wys wees om genoeg warm klere in te pak. En nuwe skoene! Die arme man, met al daardie geloop. Middel Julie.

Juis van baie loop was die groep bra moeërig en het vroeg gaan slaap. Kobie het in die middedorp agtergebly, na horlosies in al wat winkelvenster is, gekyk, en uiteindelik op sy Rolex besluit en tevrede by 'n drinkplekkie oorkant die stasie 'n dop gaan soek.

Op pad het 'n weerkaatsing in 'n winkelvenster hom laat vassteek om geveins-aandagtig na 'n uitstalling te kyk. As die weerkaatsing die werklikheid weerspieël, dag Kobie, is dit een van die verruklikste skepsels wat hy nog ooit gesien het. Maar, nou ja, die raaisel in die spieël bedrieg heel dikwels. Meer dikwels as soms.

Tog was dit hierdie keer waar. Hans-Peter heet hy. Dít natuurlik eers uitgevind ná 'n uur of wat se op en af stap, weer stap en weer terugstap in systraatjie, hoofstraat, systraatjie, tot iemand dit nie meer kan hou nie en sê: "Would you like some coffee?"

Natuurlik moes dit Kobie gewees het, want die mirakel in die venster verstaan toe geen duit Engels nie. "Machst du etwas Kaffee?" probeer hy. Daar sit hulle toe en voer gesprek op Kobie se verroeste matriekduits, handgebare en absurde mimiek. En die vingers! Sowat van mooie hande het hy nog nooit gesien nie en het bly wens hy was die blokkies in die drukkery se letterkissies waaroor daardie slankheid daagliks gaan.

Kobie kon ongelukkig genoeg verstaan om te begryp toe Hans-Peter verduidelik hy moet "den letzten Zug nach Thun" haal. Thun was, naamlik, aan die anderkant van die meer met die spoorlyn langs. En Kobie vrees die aankoms van daardie laaste trein.

Hulle gesprek raak al hoe meer intiem soos die pils sy alkoholiese borreling oor hulle bring. Tot, glads, kan jy jou verbeel, praat hulle oor apartheid. Ja, dis 'n woord wat Hans-Peter goed ken - natuurlik omdat hy by die Zeitung werk. En daar kom "der letzte Zug" toe aan. Ysterswart en klaende, krysende op die staal wat al om die meer loop.

Kobie ys en wys die pragtige jongman daarop. Nee, sê dié, daar is darem nóg een 'n bietjie later. Net veel stadiger en kom baie laat tuis. So gaan die gesprek aan en word al dringender tot die twee se knieë en vingertoppe naderhand aan mekaar raak. Bewend in afwagting.

Og, Kobie sal dit nooit vergeet nie - daardie eerste skuifeling van die jagtog. Eers 'n been hier en dan daar wat per ongeluk (!) teen die ander raak. Natuurlik met 'n halfwas verskoning vir die "ongeluk". Die verskonings bly later uit en die skuifelings word meer bereken en doelgerig. Uiteindelik sit hulle daar met verstrengelde bene en hande trillend oor mekaar. Broeke snaarstyf gespan.

Hans-Peter sê weer van die laaste trein en Kobie wil iets oorkom. Dis 1975 en daar is geen manier hoe 'n mens by die hotel se concierge gaan verbykom nie. Buitendien hou hulle almal se paspoorte in die kantoor en die bestuur sal seker met groot basuin verklap wie gisteraand skande gemaak het om 'n vreemdeling kamer toe te probeer neem. Dit mag nie, want dit kos geld om die hotel aan die gang te hou, respektabele familiewaardes, en … en ... en.

Kobie was koorsig van wanhoop. Maar daar was niks aan te doen nie. En toe die lááste letzte Zug kom, het hulle mekaar se hande gegryp en met bewende liggame elkander 'n ewigheid lank staan en aanskou. Hande uiteindelik ontstrengel. Nog staan en kyk en ná 'n eeu omgedraai en elkeen 'n eie pad geloop.

Kobie wou heelpad hotel toe huil en vloek en van woedende verongelukte geluk alles op pad aan flarde skop en slaan. Dit het lank gevat voor hy onder die dik donskombers in Am Laken aan die slaap geraak het.

Die volgende dag het Kobie die Rolex gekoop en sielsverlore op die sypaadjiekafee oorkant die stasie 'n pils bestel.

En nou, dertig jaar later, lees hy die brief met die gebroke swart-en-rooi raam op broos ligblou papier die hoeveelste maal oor. Hier in die kompleks is dit nie die posman nie, maar Frau Schneider wat hulle briewe bring. Dit was vriendelik van die mense wat sy huis by hom gekoop het om die brief aan te stuur. Die oorspronklike adres was in 'n sterk Europese hand geskryf:

Divorced Gertrüde. Still see Gitte. She is also now a mother. Ich bin ein Grossvater, ja! Wie geht's? Ich hoffe dass es Dich sehr gut gehe. I always think of you. Der Abend in Interlaken … ja, Ich denke so oft ... Was tust Du nun? Woh wohnst Du? Wann kommst du wieder nach Europa? Ich wohne noch immer in Thun. Interlaken ist nun ein touristen Stadt. Der letzte Zug … You remember? I did not go. I sleep in hotel Am Laken.

Kobie snuif, gooi die brief in die snippermandjie; staan op en gaan skink vir hom nog 'n dop. Hy moet iets aan die katarakte laat doen - sy oë water deesdae heeltemal te veel.



LitNet: 19 Augustus 2004

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.