GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.

Etienne Marais   

Ek is in 1969 in Randburg gebore, maar het op drie maande saam met my ouers besluit om Kaap toe te trek. Ná vier jaar aan die Universiteit van Stellenbosch behaal ek die graad B.Com. Honneurs (in Bestuursrek.). Toe volg etlike jare van sielswroeging in die rekeningkundige beroep vir van die grootste internasionale firmas, onder andere ’n jaar in Londen, waarna ek besluit het ’n verandering is nodig. Ek het toe rekenaarprogrammering geswot, kelner- en kroegwerk gedoen, baie van mense geleer, en nou gee ek onderwys in Taiwan van waar ek hoop om die wêreld te sien en meer van myself te leer. Sover nie ’n slegte besluit nie.”

Die Foto

Etienne Marais

Die laatmiddagson skyn vir oulaas by die oop venster in en vorm skadu’s langs Juan se kaal lyf waar hy nog half bewusteloos stry teen die realiteit wat hom wakker maak. Dit voel vir hom asof slaap die enigste manier is om die gebeure van die laaste paar weke te vergeet. Selfs in sy slaap voel hy nog die alleenheid van sy leë arms op die dubbelbed wat nou net ’n herinnering is van baie nagte se geworstel.

Later staan hy op en loop doelbewus met die lang gang af na die kombuis, wat nog steeds ruik na die geur van moerkoffie en dagga van baie aande se gekuier. Vandat André weg is, is hy meer bewus van alles wat hy doen, ’n reeks motoriese aksies waaroor jy normaalweg nie eens dink nie. Om bloot net te loop het nou ’n reeks van besluite geword om die een voet voor die ander neer te sit; vir die eerste maal is hy bewus van die lewe …

Hy gaan sit by die kombuistafel, wat nou sy enigste vriend geword het, en trek diep aan sy Lucky Strike tot hy byna kan voel hoe sy liggaam die nikotien absorbeer en hoe sy gemoed tydelik gestreel word. Hy proe-proe aan gisteraand se oorskietkos, maar dit proe vir hom soos mufbrood op die oggend van André se dood, en hy skuif die bord weg na die ander kant van die leë tafel.

Kort voor lank keer ’n vlieg terug na sy maal wat hom ’n oomblik lank ontneem is. Juan se gedagtes voer hom weg na die lekker maaltye van sy ma waaraan hy so gewoond was … en haar sagte, bruin oë.

Hy hoor hoe die sleutel in die voordeur draai voordat Princess binnekom; sy klink vreemd opgeruimd, maar vir Juan voel dit asof alle betekenis tot ’n einde gekom het. Hy stap terug na sy somber kamer, waar die foto-album dae lank reeds ooplê en dieselfde storie vertel van André se blou oë wat hom wil saamneem na sy wêreld, wat nou so vreeslik ver en stil is.

Later, wanneer sy haar netjiese rok verruil het vir die blou overall en wit tekkies, kyk Princess onbewustelik na Juan vanaf die buitekant van die sitkamervenster waar sy ingedagte staan en die vuil van die suidooster van die ruit afwas.

Sy dink aan haar klein sonstraal, Pagamisa, en hoe sy sukkel om hom deur die skool te kry; alles is nou so duur, en daar in die township is soveel slegte invloede. Goeie werk is maar skaars en die betaling is ook nie te waffers nie.

Sy dink aan haar man, wat nou al so lank weg is om in die myne te gaan werk. In die begin het hy nog gereeld geld huis toe gestuur, maar dit het reeds lank gelede opgedroog. Sy huil nie meer nie, maar haar hart is bitter. Sy het stories gehoor: sy het gehoor van die vrouens daar by die myn en van die drank. Dan sug sy en maak konsentriese sirkelbewegings met die koerantpapier teen die venster. Al in die rondte, al in die rondte. Sy wonder hoe lank sy nog kan aanhou met hierdie breinlose werk sonder dat sy geheel en al haar sinne verloor.

Tog voel sy veilig hier agter die glas van die vensters; sy aan die een kant, die buitestaander, en die res van die wêreld daar binne. Veilig en onaantasbaar. Almal se vloerlap.

Sonder dat dit iets is wat sy besluit het, sit Princess die stukkie koerantpapier en Windolene neer en begin in die straat afloop. Sonder haar mooi rok of haar handsak. Sommer net. Sy in die blou overall ...

Twee groot, swart vlieë hardloop met hul plat voete teen die venster wat Princess so pas halfgepoleer agtergelaat het.

Ure later, toe die namiddagson reeds water trek, word Juan ’n tweede keer wakker en voel meteens lus vir die teenwoordigheid van onbekende mense om hom. Hy trek sy gebleikte Diesel-jeans en wit T-hemp, wat André vir hom in New York gekoop het, aan. Hy steek sy soveelste Lucky Strike aan, terwyl hy seker maak dat al die deure en vensters gesluit is.

Onder in die straat stap Juan stadig tussen die silhoeëtte van die blou straatligte en voel weer eens bewus van elke aksie wat nou blootgestel word aan die stilswyende veroordeling van honderde stadsgenote wat self probeer ontvlug van hul eie alledaagsheid.

Juan voel skuldig terwyl hy by die smal, rooigeverfde trappies van die moffiekroeg opstap. Nou moet hy homself ontbloot aan vreemdelinge. Sal enigiemand sy pyn kan verstaan, of selfs probeer verlig? Klinies-versigtig, dog berekend, soos wat ’n chirurg ’n arm amputeer?

Die Black Label gly welkom by sy keel af, en mettertyd verander die omstanders se gesigte in eenvormige maskers wat kyk, wegkyk, dans, met musiek wat doelloos in jou ore klink en jou liggaam saamdra en rondgooi totdat jy alles vergeet en ’n vreemdeling jou vriend word.

Juan se gesig is nuut en die donker se oë kyk gulsig waar hy tussen honderde kaal bolywe op die dansvloer heen en weer swaai. Hy neem nog ’n sluk van sy bier en voel hoe die beelde en musiek deur sy oë en ore tot in sy kop beweeg. Die musiek is van buite hierdie wêreld, en as hy mooi kyk, kan hy sien hoe die klankgolwe in klein stukkies glas verkrummel totdat dit soos gekleurde poeier tussen die rook en polsende ligte verdwyn. Die ligte flits-flits op die maat van die musiek en die mense gooi hulle arms en natgeswete lywe heen en weer. Hy word bewus van die lywe wat teen hom verbyskuur en ander oë wat syne willekeurig volg.

Sy lyf voel pap, asof dit soos kerswas van sy kop tot by sy tone wil smelt en by sy skoene uit wil val. Toe hy sy oë toemaak, beweeg hy binne-in ’n spierwit vertrek waar daar niemand anders is nie. Binne-in die vertrek is ’n spiraaltrap van kristal wat die wonderlikste kleure weerkaats: blou, groen, pers, suurlemoengeel en ander kleure wat hy nog nooit vantevore gesien het nie. Dan vorm die kleure bane wat weer opbreek in klein blokkies, soos die mosaïekblokkies om die swembad by sy oom waar hy eenmaal amper verdrink het.

Dan beweeg hy nader na die trap asof iets hom soos ’n magneet aantrek. Bo-op die trap skyn ’n helder lig, ’n lig wat so skitterwit is soos wat hy nog nooit in sy lewe gesien het nie. Dit voel vir hom asof die swembad se water van voor af oor hom spoel, maar hierdie keer is dit anders, hierdie keer is hy nie bang om te verdrink nie ...

Hy gryp aan die spiraaltrap en trek homself uit die water, wat soos stukkies jellie van sy klere afval. Hy kyk op na die wit lig en sien dan ’n donker vorm in die middel van die lig, maar hy kan nie mooi uitmaak wat dit is nie. Eers is dit net klein en sonder definisie. Die lig skyn van agter die figuur en vou om hom sodat dit vir Juan moeilik is om uit te maak presies wat dit is.

Hy trek homself versigtig verder teen die trap op totdat hy heeltemal uit die water is, nader aan die wit lig. Hy wil meer sien … die wit is so mooi, so uitdagend. Die figuur begin vorm aanneem en lyk al hoe meer na ’n persoon.

Juan begin ongemaklik en bang voel. Hy weet dat wie dit ook al is, wil hê hy moet nader kom, nader aan die wit lig, maar hy kan nie. Hy mag nie!

Dit raak nou te moeilik, die trap is te steil, die kleure maak hom deurmekaar, die wit lig ... Sê net ja, kom dit uit die lig, as jy meer wil sien, sê net ja, vir my.

Juan voel hoe ’n skokgolf hom nugter klap. Hy maak sy oë oop en word skielik bewus van die honderde gesiglose mense om hom, die harde musiek, die rook. Hy kan nie, hy wil nie meer sien nie!

Hy trek sy hemp oor sy natgeswete bolyf en beur tussen die menigte deur. Dis vir hom asof ’n donker atmosfeer oor die plek neergedaal het. Hy sit die halfleë bierbottel op die vloer neer en stap by die deur uit sonder om met enigiemand oogkontak te maak. Hy stap vinnig met die straat af, met die musiek wat hom soos ’n skoothondjie volg.

Die koel aandlug skeur voor sy gesig oop en dreun langs sy ore verby. Hy voel soos ’n nagdier wat vlug voor ’n gewisse dood, iets met rooi oë en skerp, kwylverstrengelde tande wat hom jaag. Die eentonige geboue beweeg vinnig en met reëlmaat verby hom soos hy die nag in hardloop oor strate en sypaadjies heen totdat die dik mis en reuk van die see hom oorval. Sy asem jaag behoorlik toe hy met die trappies afloop totdat die sagte sand sy voete laat wegsink.

Hy val neer en lê ’n oomblik doodstil op die sand. Die eensaamheid van die wêreld en mense met leë beloftes en leuens maak hom seer, nou meer as ooit. Hy weet nie meer waarheen om te hardloop nie, of hy hom moet oorgee aan die wellustige, kortstondige begeertes van ’n vreemdeling nie; die leë, liefdelose gevoel wanneer jy jou klere aantrek en die verkeerde nommer los, net om weer eensaam in die donker strate rond te dwaal. Ronddwaal soos ’n anderwêreldse wese tussen die skadu’s van groot, leë geboue en oorvol vullisdromme waarvan die stank jou walg soos die dubbelsinnige, skynheilige gesigte van kerkleiers en die leë gesigte wat sê ek is lief vir jou. e.k.i.s.l.i.e.f.v.i.r.j.o.u. Liefdesletters geïsoleer deur punte.

Hy voel hoe die trane warm teen sy gesig afrol, hoe sy lyf onbeheerst ruk in die koue sand. Hy vou sy arms oor sy gesig asof hy hom wil beskerm teen die maan wat sonder uitdrukking na hom staar, sy eensaamheid verstaan.

Die branders klots geduldig en eentonig teen die rotse, en spoel rustig oor sy gemoed. Hoe lank moet hy nog deel wees van hierdie siellose wêreld met sy vinnige motors en wegneemetes en wegneemliefde?

Tussen die branders se sagte geklots deur klink die sagte geluid van iemand wat pen op papier neersit, dan iets mompel en ’n stuk papier skeur, opfrommel en onvergenoegd neergooi. Hy kyk op en sien ’n middeljarige staatsamptenaar met ’n dik swartraambril wat op ’n droë rots sit en skryf. Hy dra ’n swart pak, het ’n bolkuil op sy hoof en is vasgevang in sy skryfwerk.

Juan staan op, vee die trane van sy gesig af en loop nuuskierig nader. Wat sou ’n man in ’n pak in die middel van die koue nag hier op die strand sit en doen?

“Hallo!”benader Juan die vreemdeling versigtig, maar die man hoor hom nie. “’Skuus tog,” wend hy ’n tweede poging aan.

“ Ag nee, kyk nou wat doen jy,” sê die staatsamptenaar en frommel die papier op. Die man se skielike onvriendelike houding keer Juan nie en hy vra die staatsamptenaar wat hy op die strand doen. Die man antwoord dat hy sy werk probeer doen en dat dit die enigste plek is waar hy deesdae sy werk in stilte kan doen en waar alles nog sin maak.

“ Ek werk aan statistiek vir Die Departement van Dinge Reg Doen, maar dit is nou moeiliker deesdae, want die definisies en woorde waarmee ons voorheen gewerk het, mag ons nou nie meer gebruik nie.”

Die man kyk op na Juan se engelgesig en sonder om verlief te raak sien hy dat Juan nie verstaan nie en sê met ’n sug: “ Sien, juis dit.” Hy kyk bekommerd oor sy skouer en praat dan verder: “ Ek kan nie eens in my eie woorde vir jou verduidelik nie, want netnou het iemand ’n afluisterapparaat hier op die rots geplant. Sien, laat ek dit so stel, as ’n swart kar ’n niksvermoedende geel motor stamp, mag ons nie meer sê dit is ’n swart motor nie. Ons mag ook nie meer die motor se herkoms noem nie, of eens watter tipe motor dit is nie. My plig is om nuwe woorde te skep wat sonder kleur is, maar steeds waardevolle, betekenisvolle inligting aan die publiek oordra. My amptelike taak is om ’n kleurlose, geslaglose, voorkeurlose en, uiteindelik, identiteitlose wêreld te skep. Geen diskriminasie ten opsigte van enige kriteria nie.”

Juan haal ’n sigaret uit sy sak en steek dit aan.

“ Die bedrag wat jy betaal op die goed wat jy rook, gaan uitsluitlik na die sak van die mense vir wie ek werk, wie se name ek nie mag noem nie, ten spyte van die derduisende rande wat spandeer word om dit ...”

“ Maar wat maak jy hier, op die strand? Dit is tog totaal onsinnig!” val Juan hom in die rede.

“ Bemarking!” vloek die staatsamptenaar. “ Die Departement van Bemarking staan in my pad. Die bevordering van Volkome Diskriminasie. Kan jy jou dit indink?”

Die man kyk gefrustreerd na die vraagteken op Juan se mooi gesig. Hy kyk nog ’n wyle na Juan en beduie dan met ’n swaaibeweging van sy hand dat hy nie verder kan praat nie.

Juan loop ’n ent teen die strand af en begin dan sy klere uittrek. Eers die skoene en sokkies, dan sy hemp, en broek en onderbroek. Hy staan ’n oomblik stil om moed te skep en hardloop dan roekeloos die uitlokkende branders in.

Hy duik onverskillig in die eerste brander in, maar die skok van die koue water gooi hom halflyf bo die water uit soos hy smag na asem en die koue sensasie van die branders hom tot sy sinne ruk. Hy voel hoe sy ore pyn van die koue water, duik dan nog ’n slag, en wanneer hy opkom, begin hy hardloop deur die water soos ’n marlyn aan ’n visserman se lyn, kaal en vry. Die koue lug omhels sy lyf. Sy tepels is kliphard en sy penis miniatuur gevries terwyl hy teen die strand af hardloop om warm te word, so vinnig as hy kan, sonder om aan enigiets te dink, één met die koue naglug.

Toe hy uiteindelik begin moeg word, draai hy om en draf stadig terug na sy klere. Wanneer hy dit optel, voel hy dat dit ook nog klam is van die nag se gedans en die vogtige aandlug. Hy steek nog ’n sigaret aan en trek die rook diep in terwyl hy in die donkerte oor die swart water staar waar die maan ’n geel streep vertikaal teen die horison trek net voordat dit in die water val.

Onbewus van die oggendson en deurnagpartytjiegangers drentel hy heelwat later huis toe. Huis? Hy wonder waar sy huis regtig is. Is dit die leë dop met die klein venstertjie waardeur die son laatmiddag op hulle bed skyn? Nee, huis was waar hy en André saam kon wees, geen verwagtinge nie, net die warm omhelsing van iemand wat werklik omgee, die soekende hande wat jou diepste begeertes verken. Here, dit is nie reg nie. Waarom dan nie liewer hy nie … of hulle twee saam … dood, dan was hulle nou by mekaar.

Sy hand bewe toe hy die sleutel in die voordeur se slot druk. Hy aarsel ’n oomblik - hy wens dat André aan die ander kant van die deur vir hom sal wag. Dat alles weer dieselfde sal wees, maar hy besef dit kan nie. Sy kop val swaar teen sy hand wanneer sy gedagtes hom kruisig en die verlede vir oulaas soos spoke voor hom verbyflits.

. Uiteindelik druk hy die deur oop en loop stadig maar doelgerig na die kombuis, waar hy die skerp knipmes uit die kaslaai haal. Die trane maak sy oë nat toe hy stadig die gang afloop na sy kamer - hulle kamer - koud en berekend soos die dun lem op sy pols terwyl die blou oë in die foto saggies roep.

’n Oomblik lank het die hele wêreld stil en tydloos geword. Hy het ’n wit pak gedra en hy het langs sy eie bed gestaan, maar ook nie. Die musiek van ’n roomyskarretjie draai om en om op die agtergrond.

Die volgende oggend het dit saggies gereën. Buite het die mis dik gehang en dit was mooi.

Alles was mooi.

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op Etienne Marais se teks: letterkundige kommentaar, of ’n e-pos oor die tema. Vertel hoe jý so ’n verlies hanteer. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

LitNet: 17 Maart 2004

 

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.