GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eet weer koeksisters!

'n Opbeurende brief van Johann Rossouw uit Taiwan

Ek mis 'n kerkbasaar met 'n koektafel, 'n vleistafel en 'n lekker poedingtafel. Jaffels, pannekoek en braaivleis. Maar die meeste mis ek 'n lekker koeksister. 'n Vet koeksister, vol stroop. Dit laat my dink aan die dae toe ek jonk was. Gewoonlik is die basaar op 'n Saterdag gehou. Jy moes vroeg opstaan, anders koop mev De Lange de laaste koek op die koektafel, koeksisters ingesluit. Gewoonlik het my ouers dan ook by die basaar gaan werk. Weke voor die tyd is daar beplan en is daar dag en nag lank gewerk om die basaar 'n sukses te maak. Dié kerk mag nie by die ander kerke afsteek nie; nee, die basaar moet 'n groter sukses wees as die ander kerk s’n. So werk ma, pa en die kinders vir daardie een groot dag van die kerkbasaar.

Toe ek 'n kind was, het ek amper meer na die kerkbasaar uitgesien as na Kersfees. Daar was so baie om te eet. Ma was besig, daarom stop sy vir jou geld in die hand om te gaan koop net wat jy wil. Met die geld wat oorbly, het jy tombola gaan speel, of sommer net aan die boeresport deelgeneem. Dit was feeste! Dit was een van my lekkerste ervarings van my kinderlewe. Dit was so eg Suid-Afrikaans. Dit was nie ‘n “fête” nie; nee, dit was anders, soveel anders.

Ná twee jaar in Taiwan het ek onlangs 'n tweede keer in Suid-Afrika gaan kuier. Twee jaar gaan so vinnig verby, dis verbysterend. Twee jaar voel soos twee maande. My maand en 'n half in Suid-Afrika het so vinnig verbygegaan. Dit het gevoel asof ek skaars geland het, en woerts – die tyd is verby. My eerste jaar in Taiwan was my swaar jaar, my tweede jaar my gemaklike jaar, en my derde jaar, wel, ek dink dis my ek-kan-nie-worry-nie-jaar. Ek is so rustig, so kalm. Niks en niemand pla my meer nie. Dis nie meer nodig om elke sent om te draai nie. Ek is nou ingeburger in hierdie land. Ek voel vry, vry van alle finansiële las, vry van dit wat my kreatiwiteit in Suid-Afrika teruggehou het. Hier kan ek skep. Ja, dis waar. Ek skep iets uit niks. Om in my klasse in te stap, waar die kinders moeg is van skoolgaan, en te weet vandag gaan ek die “performance” van my lewe gee. In Taiwan moet jy as onderwyser baie kreatief wees, anders is dit soos ‘n soufflé wat platval. Jy moet behoorlik soos 'n nar wees; al wat kortkom, is die rooi neus en die fiets.

Nou kan ek skep met my denke. Nuwe speletjies wat ek met hulle kan speel, sodat Engels interessant is vir hulle. Die meeste word deur hulle ouers geforseer om Engels te neem. Dis so “in” soos Pilates. As jou kind in Taiwan in ‘n “cram school” is, beteken dit dat die gesin geld het, want sien, die “cram schools” is baie duur. Dit gee my die vryheid om myself te wees, om kreatief te wees in alle opsigte. Selfs om hierdie nuusbriewe te kan skryf. Hier werk ek hard, dis waar, maar dit is iets anders as om van agt tot vyf op kantoor te sit. Dit is ‘n soort vryheid wat jy het. Jy het ‘n baas wat oor jou skouer loer, en jy kan afgedank word as jy nie jou werk doen nie. Dis nie die begin en die einde nie, maar dit is beter as om van agt tot vyf in 'n kantoor te sit.

Ek dink in elkeen van ons, in 'n meerdere of mindere mate, sit daar ‘n kind vasgekeer. Of ons dit nou wil ontken of nie. Somtyds hunker ons om die kind in ons vrye teuels te gee. Om uiting te gee aan daardie innerlike kind. Wel, as jy “teach” in Taiwan, kan jy daardie kind vryheid gee, en dis dan dat jy besef hoe sterk die kind in jou nog is. Ek glo dis die vonk in baie mense se lewens. Voel jy nie partykeer net lus om 'n bietjie laf te wees nie? Net om weer soos 'n kind te kan wees nie? Toe jy 'n kind was, was jou grootste bekommernis heel moontlik watse aaklige groente jou ma jou gaan forseer om te eet, of dat jy miskien vergeet het om jou huiswerk te doen en dat jy 'n pak van die skoolhoof sal kry. Die lewe was soveel meer eenvoudig, soveel minder kompleks. Reg, sommiges van ons was nie so gelukkig om 'n goeie kinderlewe te kon gehad het nie. Ek verstaan dat sommige mense glad nie terug verlang na hulle kinderjare nie, dis te verstane. Maar onthou net, MOET nooit dat jou verlede jou hede sowel as jou toekoms terughou nie. 'n Mens kan nie altyd jou verlede blameer vir alles wat verkeerd loop in jou lewe nie. Nee, asseblief, moet dit nooit aan jouself doen nie.

As ek my verlede die skuld moet gee vir alles wat al verkeerd geloop het in my lewe, sou ek ‘n permanente lid van die AA (nie die een vir karre nie) gewees het. Ek sou ALLES en ALMAL blameer, en in die toekoms dit aanhou doen. Vind vrede in jou gemoed en begroet die toekoms. Indien ek my verlede moes blameer, selfs ook mense in my verlede, sou ek nooit vandag die vryheid gehad het om vir myself te kon sê: “Goed gedaan, ek is trots op jou” nie. Baie mense blameer ander mense en vir God vir wat in hulle lewens verkeerd geloop het. Fout! Groot fout! Jy kan nie ander mense blameer omdat jy byvoorbeeld gay is nie. Nog minder kan jy God daarvoor blameer. Dis die verloop van die lewe. Dit is jou lewenspad. Jy kies wat jy daarmee wil maak. Wil jy lewe of wil jy God en ander mense bly blameer omdat iets “fout” gegaan het met jou lewe? Kom by, mens! Jy kan en mag nie ander mense en God blameer omdat jy gay is nie. Dis hoe dit is. Wat jy daarmee dóén – dít maak die verskil. Ek kan so baie mense blameer as ek wou. Daar het so baie dinge al in my lewe verkeerd geloop. Waar sou ek begin? So baie dinge wat my lewe negatief beïnvloed het. Indien ek al die mense moes blameer – wat sou van my lewe geword het? Waar sou ek wees? Wie kan ek blameer omdat ek in Taiwan sit? Dit het wel al baie by my opgekom, en, ja, ek het al baie vrae gevra. Maar wat help dit my? Absoluut niks! Hier sit ek nou in Taiwan. Daar is so baie dinge waarvoor ek moet dankbaar wees. Die Here het 'n rede gehad waarom my lewenspad hierdie draai moes neem.

Nie net het ek wonderlike mense ontmoet nie, maar ek het ook goeie vriende gemaak. Ek het so baie ervarings en herinneringe wat ek, al sou ek wou, nie sommer maklik met julle kon deel nie. Ek het ‘n “maat” vir my lewe ontdek. Alhoewel net vir ‘n vlietende deel van my lewe, maak hy my lewe so wonderlik. Indien my lewenspad nie hierdie draai gemaak het nie, sou ek nooit al die wonderlike mense en dinge kon ervaar nie. Daarvoor sê ek dankie. Dankie vir die wending in my lewe. Ek kon weer leer wat dit is om vry te wees. Vry in denke en vry om myself te kan wees. Ek kon aan die kind binne my weer vryheid gee. Ek kon weer laf wees, en nie skuldig voel daaroor nie. Ek kon weer lag, ek kon weer huil. Wie moet ek dan nou blameer? Myself. Net myself.

Terug in Suid-Afrika. Het mense in Suid-Afrika verleer om die kind binne-in hulle weer vryheid te gee? Ek sê nie jy moet dit te veel vrye teuels gee nie, want dit kan grens aan onvolwassenheid. Ek bedoel net daardie oomblik, daardie een minuut of dalk een uur. Gee net weer om vir mense soos toe jy 'n kind was. Gay mense blameer so graag ander omdat hulle gay is. Ons blameer God en ons ouers. Ons blameer die samelewing omdat hulle ons nie wil aanvaar nie. Ons blameer die regering, omdat hulle so baie jare teen gays was. Dis reg, ons het 'n reg as mense om soos gewone mense in die samelewing opgeneem te word. Ma’s en pa’s blameer hulleself omdat hulle iewers in hulle “opvoeding” van die kind gefaal het. Sommiges blameer die TV. Hier in Taiwan blameer die ouers die Amerikaners en alle Westerlinge wanneer hulle uitvind hulle kind is gay. Almal blameer almal en alles. Stop dit! Hou op om te blameer! Om gay te wees is nie 'n siekte nie. Wat dit is, weet ek self nie. Ek glo dis aangebore. Ek is so van kleins af. Wie moet ek blameer? God, my ouers? Wat gaan dit my help? Gaan dit my enigsins verander? Ek is soos ek is en dis hoe dit is.

Hierdie jaar in Suid-Afrika wou ek so graag die kind binne my weer bietjie vryheid gee. Ek is aangesê dat ek myself moet gedra. Kon ek nie maar net een minuut bietjie laf wees nie? Kon ek nie net aan julle verduidelik wat dit is om net so nou en dan 'n bietjie weer kind te wees nie? Is dit 'n sonde? Nie onvolwassenheid nie, maar net daardie een oomblik van vryheid. ‘n Paar minute lank wil ek die sorgeloosheid van ‘n kind ervaar. Net 'n paar minute vergeet van alles daar buite. Dit wat seermaak. Dit wat jou omkrap. Dis goeie terapie om so nou en dan net 'n bietjie laf te wees. Dit wat jy het, te sien as 'n gawe. Om te probeer onthou hoe dit was toe jy ‘n kind was.

Ek en my familie het een Sondag na die dorp toe gery waar ek grootgeword het. Ons het verby ons ou huis gery. Ek het trane in my oë gekry. Ek het die ou dae onthou. Hoe gelukkig ek was in die huis. Watter drome ek gehad het. Hoe groot die dennebome in die erf vir my was. Die reuk van kaneel, varsgesnyde gras, dennenaalde en my pa se pronkertjies. Ek sien my pa se groentetuin, my ma se mooi rose. Ek dink aan my hond. Ek dink aan my kinderlewe, al die herinneringe vasgevang in die gebou. Was ons toe meer laf as nou?

Die huis lyk verwaarloos. Ná 16 jaar vandat ek laas daar was, lyk alles so dood. Die groot plataanboom in die voorerf is dood. Die dak se verf lig op. Alles is so anders. Die dorp lyk verwaarloos. Ek is hartseer. Maar gelukkig het ek nog my herinneringe. Nou kan ek weer terugval daarop. Ek onthou hoe sorgvry my lewe was. Ek onthou toe my pa nog geleef het. Toe my ma nog jonk en mooi was. Toe my broer en suster pas met hulle grootmenslewens begin het. Alles was so rein, alles was so mooi.

Terug in Johannesburg by my vriende. Ons loop deur die supermark. Ek soek iets. My vriende vra my wat ek soek. Ek soek koeksisters, man. Heerlike, vet koeksisters, met stroop wat drup. Ek kry die koeksisters. Dit lyk maer en droog, maar vir nou is dit reg. My vriende kyk my aan of ek van die verkeerde kant van die spoorlyn af kom. "Aag, nee, man, net common mense en expats eet koeksisters," snou my vriende my toe.

Ek voel hoe my ma die tien rand in my hand druk. "Gaan koop vir jou iets lekkers. Gaan koop lekker koeksisters vir ons almal."

"Reg, Ma."

"En sorg dat hulle lekker vol stroop is."

"Net so, Ma."

Ek hoor my ma aan mev De Lange sê dat hierdie jaar se basaar ‘n reusesukses is. Beter as verlede jaar, 1979 s’n. Ek hoor my ma sê dat die 80’s glo blykbaar baie beter sal wees. Ek glo so, Ma. En dankie, Ma. Dankie dat ek van koeksisters hou. Ek is nie seker of ek common is nie, ek glo nie so nie, maar dat ek ‘n "expat" is, dis waar. 'n Expat wat nou en dan weer kan kind wees. Wat weer kan leef. Wat nou en dan kan en mag vergeet van nou en kan dink aan toe. Toe daar geen dood, kanker, osteoporose, egskeidings, homoseksualisme, alkoholisme en selfmoord in ons familie was nie. Wie kan ek dan blameer vir die feit dat ek ‘n expat is wat van koeksisters en kerkbasaars hou?




LitNet: 27 September 2005

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.