GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.

Twee nuwe nuusbriewe van Johann Rossouw uit Taiwan

Die tweede keer is beter

Mense sê altyd die derde keer is beter, maar in my geval is dit die tweede keer beter. Dit was nou my tweede besoek aan Suid-Afrika. My tweede keer was soveel beter. Geen gewag by die lughawe; my vriende was daar. Ek kan vir niemand beskryf hoe dit voel as jy ná 13 ure in die lug 'n bekende gesig op die lughawe sien nie. Dit was absoluut wonderlik!

Dit reën op Johannesburg-lughawe. So gly-gly land ons. Een van die Sjinese haak af: "So much for sunny South Africa." Ja, dit is snaaks. In Taipei lyk dit soos Londen in die winter: koud, bewolk en nat. Dit is mistroostige weer. Genoeg om jou laat te verlang na sonnige Suid-Afrika. Suid-Afrika het die reën baie nodig. Ek kla nie. Dit is lekker.

Gaan eet saam met my vriende ontbyt by die Spur, sê dankie in Mandaryns aan die mense, en is lekker deurmekaar. Almal is so ontspanne. Afrika-tyd, sê my vriende. Ek gee nie om nie. Ek is met vakansie; ek het baie tyd. Tyd om te dink wat ek met my toekoms wil maak; ek kan nie vir ewig in Taiwan bly nie. Ek sal eendag moet terugkom Suid-Afrika toe; wat doen ek dan? Wat hou die toekoms vir my in, hier in Suid-Afrika? Het ek nog 'n toekoms hier? Ek dink my mal; dan hier, dan daar. Gaan ek gelukkig wees in Suid-Afrika? Agge nee, my vakansie het skaars begin, en ek dink aan al hierdie dinge.

Voor my vertrek uit Taiwan het so baie dinge gebeur. Ek trek na 'n nuwe dorp toe in die noorde, baie naby aan Taipei. Ek het 'n nuwe werk. Kom ons noem dit 'n nuwe begin. Dis wonderlik om te dink dat ek so vinnig 'n nuwe werk gekry het. Ek het aansoek gedoen en sonder 'n onderhoud net met my CV die werk gekry. Ek is seker maar net gelukkig. My ondervinding tel baie vir my.

My kuier in Suid-Afrika was baie lekker. Mense het uit hulle pad gegaan om my te laat welkom voel. My vriende (dié wat ek oor het) was so goed vir my. Wys jou net dis my ware vriende. Nie "good weather" vriende nie. Toe ek geld gehad het, het ek so baie vriende gehad. Waarom? Maak geld my 'n beter mens? Geld kan beslis mense se persoonlikhede verander. Nou het ek omtrent niks. My huis en kar verkoop. Al wat ek het, is my meubels wat iewers gestoor is, en ja, baie memories. Ek het 'n rekenaar met 400 plus foto's van Taiwan en my vriende in Taiwan. Is ek dan arm? Ryk aan herinneringe, niks materialisties nie.

Dit lyk of dit goed gaan in Suid-Afrika. Al my vriende ry nuwe motors. Hulle lyk gelukkig - of is hulle?

Die eerste paar weke was ek gelukkig, toe kom die depressie. Dit voel asof ek nog niks in my lewe bereik het nie. Gaan eet saam met mense een aand uit. Almal gesels oor hulle werk en ander gebeure; dis, wel, gewone gesprekke. Ek is maar stil, kan nie juis saam praat nie. Hierdie een vertel vir die ander van die nuutste skinderstorie; ek weet nie eens wie die mense is nie.

Gaan kuier by my gay vriende - dieselfde. Ons reminisce oor die "ou" dae. Toe ons nog dit en dat gedoen het. Hoe ons lewens was toe ons almal minder geld gehad het. Volgens my was ons lewens soveel beter. Wel, die gesprekke gaan aan oor hulle werk, hoe belangrik hulle werk is. Hulle praat oor dié een en daai een. Weer eens ken ek die helfte van die mense nie. Daar daag 'n stuk of tien kuiermense op. Ek ken die mense nie. Was ek so lank weg? Dié een beskinder daardie een. Weer eens trek die gesprek na hulle wonderlike werke toe. Ja, hier sit ek. Ek is so verveeld. Ek dink aan Taiwan. Ek dink ek verlang. Hier maak dit nie saak of André of Jaco of Johan of wie ook al met dié een of daai een se "boyfriend" seks het nie. Wat maak dit saak?

Mense, ek dink nie my werk is so belangrik nie. Ek is vervangbaar; volgens wat ek kan aflei uit julle gesprekke, is julle onvervangbaar.

Een van die "nuwe" kennisse vra toe wat ek doen. Wel, ek bly in Taiwan, en ek "teach" klein Taiwannesies Engels. Ek het nie 'n nuwe motor of huis nie en nee, ek slaap nie met jou "boyfriend" of een van julle se "boyfriends" nie. Ek ry 'n scooter wat uitmekaar val, ek eet by restaurante wat kos op straat maak, ek bly in 'n woonstel wat so groot is soos sommige van julle se hoofslaapkamers. My beste vriende is straight vrouens en, nee, ek slaap ook nie met hulle "boyfriends" nie. Ek koop klere wat op uitverkoping is en, nee, ek weet nie van Versace se nuwe fragrance nie. Is ek 'n bitch? Wel, sê jy my. Wat my toekoms inhou, weet ek nie. Ek weet nie wat ek gaan doen wanneer ek terug is in Suid-Afrika nie. Maar vir nou is ek gelukkig. Ek gee nie om wat mense van my dink en sê nie. Ek gee werklik nie om wie met wie seks het nie.

Die mense trek hulle wenkbroue op.

"'n Engels-onderwyser in Taiwan?"

"Klink interessant!"

"Ons ken mense wat in Londen bly. Hulle maak baie geld."

Agge nee, fok, man! Hoe dan nou? Londen is op 'n ander vasteland. Omtrent so 16 ure se vlieg van Taiwan af. In Londen kan jy alle "Westerse" kos koop. Die mense praat Engels. Hoe kan jy Taiwan met Londen vergelyk?

Niemand vra my uit oor my lewe nie. Hoe moeilik dit was om aan te pas in 'n land waar net vyf persent van die land se bevolking goed Engels kan praat. Hoe jy kos bestel nie. Waar hoenderpote en -anusse heerlike disse is. Waar jou kos jou behoorlik nog aankyk. Waar "Westerse" kos moeilik is om te bekom. Goed wat jy alledaags eet, is in Taiwan peperduur.

Hoekom vra julle my nie meer uit oor die lewe in Taiwan nie? Die sosio-ekonomie van die land. Oor toerisme, lewenstyl, die Sjina-Taiwan-kwessie, hoe oud en well-preserved die Sjinese kultuur in Taiwan is nie. Die Sjinese kultuur word nou deur Amerikanisme versmoor en dis werklik hartseer. Die Sjinese kultuur is gelaai met legendes en fabels. Duisend jare oue geskiedenis vervleg met moderne Westerse lewe. Dis waar, dit is interessant. Waar honderde jare oue tempels langs moderne kantoorgeboue staan. Dis so anders as waaraan ons gewoond is.

Vir my was die ergste klap in my gesig toe my vriende my metgesel beledig. Hoe kan ek met 'n Sjinees uitgaan? Is hulle nie klein daar onder nie? Hulle noem die Sjinese geelbekke, geelgatte, ens. Agge nee, mense!! Ek het werklik meer van julle verwag. Ek is so geskok. Hoe kan julle? Het ons in Suid-Afrika nie verder gekom as apartheid nie? Wat het van julle geword? Julle wat almal wil hof toe sleep as hulle julle "faggot", "moffie", "queer" ens noem? Is dit nie dubbele standaarde nie? Hoe nou? Ek verstaan nie. Wat het van julle geword? Ons was almal dan so gevoelig oor die kwessie van ras en geslag, asook seksuele voorkeure. Het julle verander? Waarom? Julle ken nie eens my "boyfriend" nie. Hoe kan julle so oordeel? Wat gee julle die reg? Wie behalwe die Drie-enige God mag oordeel oor ander mense? Ek vra julle. Wat maak julle beter? Omdat julle blank is? Ek het nuus vir julle. Kyk rondom julle, maak oop julle oë. Ai, mense. Word wakker.

My Sjinese geel, pers, pienk, oranje, wit, swart, groen, indigo, wat ook al "lover" is baie goed vir my. Ons is lief vir mekaar en net die gedagte daaraan dat ek miskien volgende jaar moet terugkom Suid-Afrika toe, maak my so hartseer. Hoe sal ek sonder hom kan regkom? Ek weet dit gaan moeilik wees. Toe ek nou in Suid-Afrika was, was die versoekings daar. Om elke hoek en draai. En, nee, ek het hom nie verneuk nie. My gewete sou my te veel pla. Ek kan dit nie aan hom doen nie. Hy beteken vir my te veel. Dis onnosel om hom te verloor. 'n Nuwe probleem: Wat gaan ek volgende jaar doen sonder hom? Maar later daaraan dink. Vir nou eers moet ons mekaar geniet en 'n nuwe lewe in die noorde begin.

So, was my tweede kuier in Suid-Afrika beter? Ek sou sê: beslis. Dit was 'n eye-opener! Dit is soos om 'n Ithuba-kaartjie te koop en dan met jou vysentstuk die silwer verf af te krap om te kyk wat jy gewen het. Wat het ek gewen? Niks; net 'n eerlike visie op my vriende se lewens. Ten spyte van die feit dat hulle nuwe motors ry, mooi huise het, is hulle sielsongelukkig. Hulle ly aan werkstres, ontnugtering en algemene "disillusion". Ten spyte van die feit dat ek in hulle geskok was, bly hulle my vriende. Ek haal my hoed vir hulle af. Hulle gee nie op nie. Hulle is vasbyters en het nie, soos ek, uit Suid-Afrika "gedros" om 'n ander lewe te begin nie.

Aan my vriende: baie dankie vir julle gasvryheid. Dankie dat ek julle lewens met julle kon deel. Dankie dat ek 'n nuwe perspektief op julle lewens kon kry. Vir my werklike vriende wat werklik daar vir my was, baie dankie. Julle het nie een keer iets negatiefs te sê gehad nie. Julle is diamante!

Moet asseblief nie hierdie opmerkings sien as 'n aanval teen enige iemand nie. Eerder net my observasie van verskillende gay mense en hoe hulle op die lewe reageer. Hulle sienswyses en menings.

Ek mis Suid-Afrika. Die diversiteit wat Suid-Afrika so uniek maak, kry jy nêrens anders in die wêreld nie. Dit wat Suid-Afrika Suid-Afrika maak, is net daar te vind. Onnodig om te sê dat ek pakke "leeu-logo"-aartappelskyfies met boerewors-en-biltong-smaak saamgebring het Taiwan toe. Afrika-curio's en 'n Suid-Afrika-T-hemp met 'n kaart van Suid-Afrika daarop, wat ek met trots dra. Ek het met een van die beste lugdienste in die wêreld, die een van Suid-Afrika, gevlieg.

So, ek kan sê: ek is trots Suid-Afrikaans! Not an American in Paris, but a South African in Taipei, wat net sy bes probeer om die lewe te geniet. En, ja, ek is gelukkig in Taiwan; ek mag nie lieg nie. Ek kan mos nie 'n verraaier wees en my rug op Taiwan draai nie. Die land was my tuiste vir die afgelope twee jaar. Ek het wonderlike herinneringe, dit wat my sal bybly vir 'n baie lang tyd. Ek sal Taiwan besoek wanneer ek eers terug is in Suid-Afrika. Dit is per slot van rekening my tweede tuiste. Soos hulle in Engels sê: "Your home is where your heart is." Op die oomblik lê my hart in Taiwan.


Verandering

In Engels is daar 'n spreekwoord wat sê: "A change is as good as a holiday." Verandering behoort nie noodwendig negatief gesien te word nie. Baie mense sien verandering as iets negatiefs. Dit is juis die teenoorgestelde. Verandering beteken nuwe begin, verandering van dit wat oud was, na iets nuuts en opwindends. Te veel veranderings is ook nie goed nie. Veral nie in 'n mens se kinderjare nie. Indien 'n kind baie moet rondtrek as gevolg van sy ouers, kan dit later negatiewe gevolge hê in die kind se lewe. Verandering van omgewing, verandering van dit waaraan hy gewoond was - dit alles kan bydra tot 'n versteuring in die kind se psige of geestesgesondheid. Dit is nie 'n psigoanalise van 'n kind se lewe hierdie nie, net 'n opmerking. 'n Logiese redenasie, of is dit nie?

Verandering in 'n positiewe lig gestel is gesond. 'n Voorbeeld: iemand is vasgevang in 'n roetine. Elke dag dieselfde, en al waarna daardie persoon uitsien, is "a change of scenery". Die persoon ry elke dag dieselfde pad na sy/haar werk. Sien dieselfde dinge elke dag. Doen elke dag dieselfde ou vervelige werk. Hy/sy bid vir verandering, 'n verandering wat sy/haar lewe kan verander. Wees gewaarsku waarvoor jy wens: dit mag dalk net waar word. Baie faktore kan daartoe bydra dat daardie persoon se lewe drasties kan verander. Wortels word uitgeruk, ankers weggeneem. Die dood van iemand, 'n egskeiding, werkloosheid, armoede en baie ander faktore kan 'n verandering maak in die persoon se lewe.

Ek het onlangs na 'n ander stad verhuis. Ek het eers in die suide van Taiwan gebly en aan die begin van my nuwe jaar in Taiwan het ek na 'n stad na aan Taipei verhuis. Ek was baie opgewonde. Ek het so verlang na verandering, nou het ek dit. Ek het vriende gehad in die suide en nou ken ek behoorlik niemand nie. Al my vriende sit nog in die suide, en my een vriendin wat saam met my 'n woonstel sou deel, het na 'n ander stad, twee uur hiervandaan, getrek. Ek het darem my "eggenoot" hier, maar hy weet nie wat hy hier moet doen nie. Hy sal moet 'n werk kry. Werk is volop hier. Regtig nie 'n tekort daaraan nie. Hy staan my by in alles; sonder hom sou ek in sak en as gesit het. Nou mis ek my vriende, my ou dorpie in die suide met die bekende reuke, bekende persone en bekende werk. Ek moet basies alles van voor af leer. My skool se sisteem werk anders as die ander een; hier is meer mense. Die mense hier is nie so vriendelik soos in die suide nie.

Die lug is vuil, die geboue hoog, die weer in die winter is grys, koud en nat. Dit reën gemiddeld 2 500 mm per jaar hier. Hoekom doen 'n mens dit aan jouself? Hoekom los jy die bekende vir die onbekende? Is ek mal? Is ek masochisties? Wel, partykeer dink ek dit was 'n verkeerde besluit, maar ook nie. Hoekom vasklou aan net die bekende? Ek's avontuurlustig, ek hou van verandering.

Om gay te wees en te weet jy is, is baie moeilik, veral as jy in 'n konserwatiewe huis grootgeword het. Om te weet daar is iets anders omtrent jou. Jy verstaan nie wat dit is nie. Vandag is die jong mense meer oop, maar ook net in 'n mate. Hulle word meer en meer aan gay mense en gaylewenstyle blootgestel as toe ek jonk was. Ou Suid-Afrika was nog aan die orde van die dag. Homoseksualiteit was só onaanvaarbaar! Jy't geweet daar is iets snaaks, iets "weird" met jou. Ek't gevoel ek's die enigste een wat so voel en dink. Surprise! Ek moes 20 jaar lank wag voordat ek die GROOT verandering kon maak in my lewe. Dit wat alles in my lewe sou verander. Jy voel deurmekaar, jy weet nie hoe om dit aan jou familie oor te dra nie. Om uit die kas te kom, is baie moeilik. Dis seker dié grootste verandering wat ek in my lewe moes maak. Om "onaanvaarbaar" te wees vir almal, om die "ander" kind te wees. Maar ek het dit gedoen. Ek is trots daarop; ek was vry. Vry van skuldig voel, vry van dit wat my heeltyd gepla het.

Die pad nadat ek uitgekom het, was alles behalwe glad. So 'n verandering maak 'n reuseverskil aan jou lewe. Jou hele lewe maak 'n 360 grade draai. Kom ons wees eerlik: om uit die kas te kom, is nie so maklik as wat hulle op TV wys nie. Dankie tog vir die films wat die waarheid uitbeeld van wat gaywees is en die verandering wat dit in jou familie bring. Hoe dit werklik is om uit die kas te kom. Ná hierdie verandering in jou lewe lyk ander veranderings na "a walk in the park".

Hier in Taiwan is dit nie juis anders nie. Om "uit te kom" is maar net so moeilik as vir ons in die "Westerse beskawing". Dit is nie te sê dat dit vir hulle makliker is net omdat hulle nie almal Christene is nie. Hier is dit maar net so moeilik vir gay mense om "uit te kom". Die samelewing sien dit ook as "anders", as 'n onnatuurlike lewe. Om gay te wees in Taiwan is nie maanskyn en rose nie. Die selfmoordsyfer onder gay mense is net so hoog soos in die Weste, indien nie hoër nie. Ek lees die koerant hier in Taiwan, en telkemale is daar 'n berig oor 'n gay persoon wat selfmoord gepleeg het omdat sy familie dit nie aanvaar het nie. Telkens hoor mens van gay mans wat gevange geneem is weens prostitusie en die gebruik van dwelms. Ecstasy, Acid, heroïen en K is net so vrylik hier beskikbaar soos in Suid-Afrika. Dit neem toe onder klubgangers, veral onder die gaygemeenskap.

So, 'n mens kan baie vergelykings tref tussen gaylewe in Suid-Afrika en in Taiwan. Daar is nie juis veel verskille tussen die twee lande nie. Hier is onlangs 'n fliek vrygestel: Seventeen, wat handel oor twee gay mans se lewe in Taiwan. Gayflieks, nie porno nie, kan mens oor die toonbank huur. Pornoflieks koop jy op die net in Taiwan vir R20 vir 'n VCD. Gaylewe word nie so openlik uitgebeeld soos in Suid-Afrika nie, maar dis hier en dis hier om te bly. Verskuiwings vind elke dag plaas. Een van die dae is Taiwan ook so openlik oor gaylewe soos Suid-Afrika.

Ek loop 'n paar weke gelede deur een van Taipei se bekendste areas: Sjimen. Dit is soos Times Square in New York, Picadilly Circus in Londen of Ginsa in Tokio. Dit is die bymekaarkomplek vir al die jong mense. Orals is winkels, "cinemas" en restaurante. Dit wemel van die mense. Een van my vriende merk toe op dat daar betreklik baie gay mense is. Hoe merk jy dit op? vra ek haar. Haar antwoord was: "Al die mans lyk so goed versorgd en dra modieuse klere." Ek lag. Word gay mense dan so gestereotipeer? Wat dan van straight mans? Lyk hulle dan onversorgd? Ek het ook opgelet, maar op 'n heel ander wyse. Al gehoor van "gaydar"? En ek praat nie van die webruimte nie?

Veranderinge kan goed wees, hoe dan anders. Sommige veranderinge is onvermydelik. Kom ons onderskei tussen twee soorte veranderings: dié wat onverwags gebeur en dan dié wat jy self kan meebring. Dus: een soort verandering waaraan jy niks kan doen nie, en dan een wat jy wel iets aan kan doen. Ek glo dat verandering goed is vir jou. Positiewe verandering, dit wat jyself kan laat gebeur. Ek het al so baie keer veranderings gemaak in my lewe. Nie noodwendig almal positief nie. Verkeerde besluite wat ek geneem het. Verkeerde rigtings wat ek ingeslaan het. Beslis een van my meer positiewe veranderings was toe ek uit die kas gekom het. Dit was beslis baie positief.

Om Taiwan toe te kom was eers 'n negatiewe verandering. My werkstatus het verander, in so 'n mate dat ek basies gedwing was om Taiwan toe te kom. Die verandering was amper net so groot soos toe ek uit die kas gekom het. My hele lewe het verander, my sienswyses het verander. Ek sou sê my persoonlikheid het ook in 'n groot mate verander. 'n Mens se visie word so verbreed. Jy begin 'n nuwe lewe, 'n hele nuwe bestaan. Ek hoop van harte dat Taiwan ook sy siening ten opsigte van gay mense sal verander. Nie net Taiwan nie, maar ook Suid-Afrika en die hele wêreld.

Maak jouself meer toeganklik vir verandering en jy sal sien jou lewe en jou sienings mag ook dalk net verander. Ek dink dalk die verandering wat ek in Taiwan gemaak het, om na die noorde te trek, was toe nie so 'n slegte besluit nie. Dit het ook sy positiewe sy. Ek het nou meer te doen met gay mense in die groot stad. Hopelik sal ek spoedig vriende maak, vriende wat my nuwe idees kan laat vorm. Die verandering moet ek dus in 'n positiewe lig sien, nie negatief nie. Wat moet gebeur, sal gebeur.

Besluit self of veranderinge goed of sleg is vir jou. Indien jy nog steeds in die kas is en jy wonder … wel, die besluit lê by jou of jy die besluit wil neem om uit te kom of nie. Net jy kan daardie besluit neem. Om gay te wees is nie altyd so wonderlik en "fabulous, dazzling" nie, maar wanneer jy daardie besluit geneem het, gaan jou lewe 'n wending neem en drasties verander.

Wat nou van dié wat vasgevang is in hulle vervelige roetine? Wel, roetine is goed vir jou. Sonder roetine sal ons lewens so deurmekaar wees dat ons self nie sal weet of ons kom of gaan nie. Buiten dit glo ek dat jou liggaam roetine nodig het. Indien jy 'n verandering wil maak in jou lewe, doen dit nadat jy egter baie lank en diep daaroor nagedink het. Moet nie net sommer jou werk opgee omdat jy lus voel vir 'n verandering nie. As jy dit doen sonder dat jy eers goed daaroor nagedink het, wel, dan kan jou verandering negatief word.

Onthou net: verandering het baie met jou persoonlikheid te doen. As jy nog in die kas is, en jy's tevrede - wel, moet dan nie uitkom nie. Dis nie nodig dat jy moet verander nie. Wees net jouself. Sorg net dat jy gelukkig sal wees. Om elke vyf minute te verander is ook nie gesond nie. Ek ken mense wat al jare lank omtrent elke week hulle lewens probeer verander. Dit, aan die ander kant, help ook nie. Dit kan jou nie geluk bring nie.

In Afrikaans sê ons altyd: waar daar 'n wil is, is daar 'n weg. Eers nou verstaan ek waarom ek die verandering nodig gehad het. Dit sal my goed doen. Hopelik ook die Suid-Afrikaanse en Taiwannese samelewing wanneer dit by gay mense kom. Hopelik sal hulle ook spoedig verander.

In idle wishes fools supinely stay;
Be there a will - then wisdom finds a way.

Robert Burns





LitNet: 05 Julie 2005

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.