GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.

In die begin ...

Leandi Erasmus

Soos God vir Adam geskape het uit die stof van die aarde, het hy vir Lilith geskep uit die vlerk van 'n vlinder. Volkome en pragtig het sy oor die aarde gereis. Sy het die lewe aan die boom in die middel van die tuin geskenk, en die vrugte was nie vir haar verbode nie. Adam het 'n slang in die boom gesit. Die slang het die volronde en pragtige vrugte van die boom opgeëet. Die slang het vir Eva verlei. Eva het vinnig geval vir die vrugte aan Lilith se boom en Adam was jaloers omdat hy nie eerste die vrugte saam met die slang kon geniet nie.

God het Adam se jaloesie gesien en hom uit die tuin van Eden verjaag. Lilith het agtergebly saam met die vrugte, die boom en die paradysvoëls. Eva, uit Adam se rib, het saam met hom gereis tot hulle 'n skuiling gebou het in die bos. Lilith het die vrugte in die paradys in oorvloed en met passie geniet. Adam se afguns teenoor Lilith het afstootlik geraak.

Bedags wanneer Adam gaan jag het, het hy gewonder of Eva saam met Lilith in die tuin aan die vrugte eet. Wanneer Adam Lilith in die omtrek bespeur, het hy homself met blare bedek, bang dat sy manwees sou uitsteek en hy aan sy dierlike aard herken sal word. Wanneer die donker oor die aarde val, het Adam vir Eva geneem. Eva het Adam gesoen en bemin, soos wat God vir haar bestem het.

As Adam saans teruggekeer het na die skuiling, het sy liggaam na die bloed van jong bokke geruik. Sy hande en hare was taai na die slagtings van die dag. Wanneer Adam dan op jag was, het Eva saam met Lilith die aarde verken, aan vrugte soos bessies geproe, gelag en gejil terwyl hulle in en om die bome en gras baljaar het. In die somer het hulle in strome geswem, en hulself verlustig aan die wyse waarop die son oor hul blas velle gedans het.

In die aand het Eva vir Adam die vrugte voorgesit wat sy en Lilith gepluk het. Hy wou gewoonlik nie eet nie; sy asem het nog na rou bokvleis geruik. Meestal het Adam vir Eva soos 'n dier geneem. Vir haar, die gehoorsame vangs van die vreeslose jagter, met haar hulpelose vlees, dit waarop hy geteer het, in die hoop om die aarde te bevolk. Soos dit bestem was, sou sy geboorte skenk in pyn.

So het Eva se buik stadig begin du. Onbewus van die oorsaak, het sy en Lilith eenmaal naak op 'n rots in die son die eerste beweging in haar moederskoot waargeneem. Lilith se gesig het verhelder, en sy het verwonderd na Eva gekyk. "Dis 'n kind, Eva ... jy gaan baar!" Eva en Lilith was dankbaar en het voor God gedans. Lilith het Eva se buik met blaarolies gesmeer en saam het hulle vir die ongebore kind gesing. Daardie aand, toe Adam tuis kom, het Eva hom vertel van die kind in haar buik. Adam het 'n offerande aan God gebring en 'n seun afgesmeek. Hy het nie weer aan Eva geraak nie. Hy het vir haar gesê dat sy nou 'n onrein vrou is, en dat sy op 'n ander plek moet gaan bad tot ná die kind se geboorte.

Daagliks het Eva en Lilith toenemend begin uitsien na die koms van die jongeling. Hulle het vir hom kraalklippies vir speelgoed geryg, en kalbassies vol lekkerruik blare gemaak. Eva se liggaam het geblom, haar borste was vol en rond, haar wange rooi en blosend. Eenmaal het Lilith haar hande sag oor Eva se borste laat gly, haar voorkop gesoen en sag gefluister: "Mens se vrou, jy gaan die kind van my hart baar."

Eva se liggaam het swaarder geword; sy het vir Adam gevra of Lilith by hulle kan kom woon om haar by te staan met die geboorte van hul eersteling. Adam het ingestem, op voorwaarde dat Lilith nie hul seun se gedagtes sal besoedel met haar gees nie.

Die eerste aand nadat Lilith by Adam en Eva vertoef het, het Lilith haarself gaan was in die fontein agter die skuiling. Adam het oor 'n afstand gekyk hoe sy met haar hande oor haar liggaam streel en haar lang hare in die kuil afspoel. Hy het gestaar na haar ferm borste en die kurwes om haar heupe. Adam het die dier in hom voel roer. Hy het nader aan Lilith gegaan en haar liggaam probeer neem. Sy het gestoei en gebaklei teen die brute krag van die dier, totdat hy vol van haar maagdelike bloed was. Lilith het die veld in gevlug.

Eva het 'n seun in die wêreld gebring, alleen. Die seun het Kain geheet. Sy het die skielike vertrek van haar geliefde Lilith nie begryp nie.

'n Maand ná Kain se geboorte het Lilith deur die bosse na Eva en Kain aangehardloop gekom. Eva kon voel hoe haar hart vir die eerste maal weer lewe onder haar linkerbors waaraan Kain gedrink het. Eva het vir Kain op die kleigrond neergelê en met vreugde na Lilith gehardloop. Met haar arms om Lilith se lyf, en Lilith se asem in haar nek, het Eva weer vervul gevoel. God het Lilith na haar teruggestuur.

"Adam mag nie weet ek is in die omtrek nie!" Lilith se waarskuwing was ernstig. "Sê vir hom ek woon nou ver. Ek sal wag vir jou, Eva, totdat jy reg is om saam met my na die see te trek."

Eva het geweet dat sy reeds 'n tweede kind van Adam verwag het en hom nie kon verlaat tensy sy God se bevele verontagsaam nie.

Eva het nog 'n kind in die wêreld gebring. Adam het hom Abel genoem na sy vader. Adam was vir Abel meer lief as vir Kain.

Een wintersnag het Abel en Kain gestry. Kain het vir Abel doodgeslaan. Toe Kain besef wat hy gedoen het, was hy verskrik en het diep berou gehad. Hy het na sy moeder gehardloop. Sy het hom gewaarsku dat sy vader hom sou doodmaak en dat hy moes vlug na daar waar Lilith woon.

Toe Adam wakker word en vir Abel doodgeslaan op die klipvlakte sien lê, het hy na Eva geroep: "Vroumens, waar is Kain?" Eva het geswyg oor waarheen haar oudste seun gevlug het. Adam het sy koue hande om Eva se keel gedruk en gedreig om haar dood te maak indien sy nie vir hom sê nie. Steeds het Eva haar oudste seun se lewe beskerm. Adam het haar geslaan. Lilith het Eva se krete op die oggendwind gehoor en haar na die skuiling gehaas, oortuig dat 'n roofdier vir Eva bedreig. Sy was reg. Eva se gesig was vol bloed toe Lilith daar aankom. Lilith het vir Adam gesmeek om vir Eva te los. Hy het sy prys gemaak. Hy sou Eva se lewe spaar vir omgang met Lilith. Lilith het geen keuse gehad nie; sy het haar lyf geoffer om Eva te red. Sy het op haar rug gaan lê voor Adam, en hy het haar met woede en haat geneem.

Adam was skaam oor wat hy gedoen het voor God; hy het in die bosse gaan skuil. Lilith het Eva se wonde verpleeg en vir haar soet vrugte gevoer. Adam het nie daardie nag teruggekeer skuiling toe nie. Drie dae en drie nagte later het hy by die skuiling aangekom. Hy het aan Eva gesê dat God hom vergewe het vir sy owerspel. Haar gesig was nog geswel.

Sy het gesug.

Lilith het vir Kain in die grot ontmoet en hom saamgeneem na haar woning. Lilith se buik het geswel en sy het besef dat sy die kind van die Adam-Dier in haar dra. Sy het drie maande lank getreur oor die reinheid van haar liggaam. Bedags het sy die vuilheid van haar probeer afwas en snags het sy saam met Kain gerus in die woning wat sy gebou het.

Toe die dag kom vir Lilith om geboorte te skenk, het Kain vir Eva 'n teken by die skuiling gelaat. Sy het haar na Kain en Lilith se woning gehaas. Daar het sy Lilith in die pyn van geboorte gesien lê.

"Dit is my straf wat jy dra, my lief," het sy vir Lilith gefluister terwyl haar handpalm langs Lilith se gesig af gestreel het.

Dit het begin reën, en in die reën het Lilith geboorte geskenk aan 'n dogtertjie. Eva en Lilith se vreugde was groot. Eva het langs Lilith gaan lê en haar saggies gesoen. Lilith se moederhande het hartstogtelik in Eva se haarlokke gebaljaar; die baba het tussen hulle aan die slaap geraak, warm en veilig tussen vier moederborste.

Met sonsopkoms het Eva opgestaan en teruggekeer skuiling toe. Adam het steeds geslaap. Sy het nader aan hom gegaan. "Adam, Adam ..." het sy hom probeer wek. Hy het wakker geword en haar beveel om by hom te kom lê. Adam het Lilith aan Eva geruik en was woedend. Hy het verwys na Lilith as die hoer wat hom verlei het en hoe sy en al haar nasate verwoes moes word. Adam het sy pyl en boog geneem om vir Lilith te gaan soek. Eva moes hulle waarsku. Sy het rooi pyle die lug in geskiet sodat Lilith en Kain met die baba kon vlug.

Adam het Lilith en haar kind nooit gevind nie. Eva het tot op 'n hoë ouderdom vir Adam kinders gebaar.

Leandi Erasmus: "Ek is 25 jaar oud, het grootgeword op 'n plattelandse dorpie, maar het geweldig vinnig tuis geword in Potchefstroom en woon al agt jaar hier. Ek is besig met my magistergraad in die menswetenskappe aan die PUK. My passies in die lewe is die natuur, skryf en troeteldiere, en ek is 'n totale sucker vir mense. Raak onbeheerbaar vinnig lief vir mense, en sien my gat elke nou en dan … vandaar 'n reeks inspirasies. O ja, en ek wonder oor monogamie; damn mense is dan so mooi!"




LitNet: 14 April 2005

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.