GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vreugdes en hartseer van troues in Israel

Egon se nuusbrief uit Israel 20

'n Paar dae gelede is daar 'n insetsel op die oggendnuusprogram op televisie oor 'n gay egpaar wat Kanada toe is om te trou. Hier is dit nie wettig moontlik nie. Hulle wys die twee mans, so opgewonde en gelukkig daar ver in die wÍreld, en die mama van een sit hier tuis, want dit was nie vir haar moontlik om soontoe te reis nie. Sy is bly vir haar seun, maar hartseer dat hulle hierdie belangrike gebeurtenis nie hier saam met familie en vriende kon vier nie.

Gisteraand het ons die huweliksviering van 'n oudstudent, Faiz, 'n Christen-Arabier, in een van die dorpies naby ons bygewoon. Die twee trou eers Saterdag, maar gisteraand het die bruid se familie van haar afskeid geneem en haar skoonfamilie as deel van hulle welkom geheet. Vir die eerste maal het ek sekere dinge in die Bybel verstaan toe ek die eeue-oue tradisies van die Midde-Ooste beleef het.

Met die aankoms van die gaste staan die bruid en haar familie in 'n ry en heet elkeen welkom. As verwelkomingsgeskenk ontvang ons die mooiste toegedraaide sjokolades. Ons plekke word aangewys, en op die tafel staan reeds 'n bottel arak en 'n bottel brandewyn. Ons klomp Jode sit saam, en later ontdek ons dat die tafels langs ons s'n vir die eregaste - die bruidegom se familie - gereserveer word. Sodra ons sit, begin kelners mezze - klein bakkies voorgeregte - aandra. So iets het ek in my lewensdag nog nie gesien nie. Sodra een bakkie amper leeg is, word dit verwyder en deur 'n vol een vervang. Daar is pietersielie en fyngekapte tamatieslaai; gebraaide eiervrugskywe met vurige rooirissiesous; Turkse slaai, bestaande uit fyngekapte ui, tamatie, komkommer en soetrissies; suikermielies en agurkies gemeng, "tzatziki" ryk aan knoffel, "tabouleh" pikant met suurlemoensap en kruisement; Arabiese bitter olywe; humus; sampioene gepekel saam met soetrissies; "koubeh", soos 'n frikkadel met 'n deegjassie aan en dennepitte in die middel; "sigare" - diepgebraaide deegrolletjies met vleis- of aartappelvulsel; Midde-Oosterse samosas ... Die lys gaan aan en aan en ons koppe begin draai.
Tafels kreun van die kos.

En net toe ons dink nou kan ons nie meer nie, toe kom die hoofgeregte van vis, hoender, sosaties, steak en schnitzel met groente en aartappelskyfies en ... en ... en ...

Maar saam met hierdie fees van kos gebeur daar ook ander dinge wat ons aandag vra. Eers speel net die "oud" - 'n Arabiese snaarinstrument soortgelyk aan die Griekse boesoeki - en ek is so dankbaar vir die rustigheid van die musiek.

"Seker jou eerste Arabiese troue," sÍ die vrou langs my met 'n glimlaggie. "Wag maar!!"

"Wel, dit kan nie veel erger wees as die Joodse troue waar ons 'n paar maande gelede was nie!"

'n "Oud"-speler.

Sy lag net en vra uit oor my trek na Israel. Die saal word vol. Daar is seker 500 gaste en almal lag en gesels en eet en drink met ewe veel energie. Seker die helfte van die dorp se mense is daar. Die kelners hardloop heen en weer asof gedryf deur 'n vrees dat 'n gas dalk nie alles wat sy hart begeer, sal kry nie. Ek sien meer musikante sluit aan by die "oud"-speler en loer vir die vrou langs my - haar oŽ kry 'n angstige blik, maar sy glimlag effe.

Die tromme roffel en dan begin die hoofsanger met 'n lang noot wat van diep binne sy skraal liggaam opstyg. Dit rol oor ons, dit styg en daal en huil soos ek die wind in Sinai deur die klowe al hoor huil het. Elke lied is lank en vertel dikwels 'n storie. Die bruid dans af deur die saal, omring deur die vroue en die dogtertjies, elkeen 'n klein prinsessie, van haar familie. Haar gebare en gesig sÍ duidelik: "Wees bly saam met my! Vier die wonder van hierdie dag saam met my!" Almal juig haar toe.
Pa en dogter dans.                'n Klein prinses.

Die musiek raak breinversmorend luid en dra 'n mens weg. Om te gesels raak haas onmoontlik, maar ek geniet dit om die mense se reaksies dop te hou. Ou mans staan op en terwyl hulle loop, stap-dans hulle op maat van die musiek. Hulle hande en arms beweeg met 'n ritme en grasie wat glad nie pas by die sigarette wat uit mondhoeke hang nie. Die jong prinsessies oefen reeds die passies wat hulle eendag sal doen.

Skielik hou die musiek op.

"Die bruidegom kom!" roep die hoofsanger uit en almal staan op. Die musiek is sagter, meer liries, en die bruid en haar gevolg dans tussen die tafels deur tot voor die verhoog waarop die orkeslede sit. Hulle stop by die tafels en nooi ander vroue om by hulle aan te sluit. Almal wag.

"Waar is die bruidegom?!"

"Die bruidegom moet kom!" roep hulle uit. Dit herinner so aan die woorde van Openbaring:

Die Gees en die bruid sÍ: "Kom!"
En elkeen wat dit hoor, moet sÍ: "Kom!"
Daar is 'n geruis deur die saal:
Luister, daar kom die man wat ek liefhet!

Skielik verskyn hy saam met sy uitgebreide familie in die deur. Die bruilofsgaste klap hande en juig. Baie dans voor hom uit totdat hy by sy bruid kom. Dis aangrypend. Die vreugde en trots in die ontmoeting kan mens nie mis nie. Ons wat Faiz ken, is verstom - hy is normaalweg 'n stil, teruggetrokke man wat altyd beskeie glimlag.

Vanaand straal die geluk en trots en opgewondenheid uit hom uit. Daar's goeie rede voor: Rebekka is 'n aantreklike, geleerde vrou uit 'n vooraanstaande familie, ongeveer vyf en dertig; Faiz is oor die vyftig; hy is oud om vir die eerste keer te trou. Die twee is duidelik baie verlief!

Faiz en Rebekka.

Soos die aand verder verloop, besoek Faiz en sy bruid elke tafel, groet elke gas en gesels 'n paar oomblikke. Saam met hulle beweeg 'n hele gevolg van familielede. Elke gas word betrek by die vreugde en wanneer hulle aan die ander kant van die saal is, dan kom lede van haar gesin as ons gashere en gasvrouens verby om ons te nooi om nog te eet en te drink en saam te dans.

'n Tromspeler.

Ook die sanger en een van die tromspelers beweeg tussen die tafels deur om ons te nooi om saam fees te vier. Konstant word daar na ons behoeftes omgesien.

Skielik raak dit stil en ons merk dat Rebekka aan die ver kant van die saal vergader saam met haar susters en ander vroue terwyl Faiz voor by die orkes plek inneem. 'n Vrou kom nader, neem die mikrofoon en begin dan met 'n luide kreet 'n seŽn op die bruidspaar uit te jubel in Arabies - dis 'n klank so hard en vreemd op die oor dat ek en Judy amper ons ore toedruk. Toe sy met 'n lang oeloelering afsluit, klap almal hande en begin die musiek weer terwyl Rebekka met 'n groot kers, versier met blomme, na Faiz toe dans. Sy kyk stip vir hom en hy vir haar: dis 'n intens intieme oomblik in 'n baie openbare plek Ö

Hoe mooi en hoe lieflik is u, o liefde
onder al die genietinge!

En ons voel geŽerd om daar te wees. Daarna word foto's geneem: van die bruid, die kerse en enige een wat afgeneem wil wees.

Dis die einde van die aand. Moeg en diep bevredig groet ons Faiz en Rebekka.

Saterdag is die huweliksdiens in die kerk. Dit sal stil stemmig en diep geestelik wees, soos dit die erns van die saak betaam.

Terwyl ons huis toe ry, sÍ ek vir Judy: "Vanaand verstaan ek meer as tevore die hartseer van daai ma wie se seun in Kanada moes gaan trou!"

"Ja," stem Judy saam, "dis hoe mense dit hier doen. Dis nie net 'n gesinsaak nie, maar die hele gemeenskap wil by die vieringe betrokke wees. Almal wil in die vreugde deel!"



LitNet: 19 Mei 2005

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.