GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Al dieper in die dikkedensie: ’n vergelyking

Hennie Aucamp


Oscar Wilde. 1999. The Picture of Dorian Gray. Nuwe uitgawe, ingelei deur Edmund White. Oxford: Oxford University Press.

EN

Will Self. 2002. Dorian. Londen: Penguin-Groep.

“Too decadent? Who gives a shit about being too decadent, when to be contemporary is to be absolutely so?”
- Henry Wotton in Dorian van Will Self

1

Agter Dorian van Will Self rys lewensgroot The Picture of Dorian Gray, en om dié feit te beklemtoon, laat Will Self ’n ondertitel volg: “An Imitation”. Ook die motto, ’n aanhaling uit Schopenhauer, is ’n belangrike leidraad, maar eweneens ’n waarskuwing vir die leser:
There is an unconscious appositeness in the use of the word person to designate the human individual, as is done in all European languages: for persona really means an actor’s mask, and it is true that no one reveals himself as he is; we all wear a mask and play a role.

Is Will Self ’n skrywersnaam, of die werklike naam van die skrywer? Miskien begin die spel met maskers dalk al hier, want is ’n self ooit werklik homself? Omstandighede bepaal hoe die self na homself kyk, en sy oordeel is selde konsekwent: jy wil jouself na die geleentheid.

Reeds vóór Will Self was daar pogings om The Picture of Dorian Gray na die twintigste eeu oor te hewel. Die kontroversiële Russiese regisseur Vsevelod Meyerhold het The Picture of Dorian Gray in 1915 verfilm, met die aktrise Varvara Yanova as Dorian Gray; en in 1970 het die regisseur Massimo Dallamano eweneens die androgiene karakter van Dorian Gray aan die seksueel ambivalente akteur Helmut Berger geïllustreer in ’n Duitse verfilming getiteld Das Bildnis des Dorian Gray. Dallamo moet gevoel het dat Dorian Gray óórgekleed was in vroeëre verfilmings, soos die MGM-film van 1944, want die eers beroemde, later berugte portret van Dorian Gray toon Dorian nou met naakte bolyf. Sy duime is uitlokkend ingehaak by die skuins voorsakke van sy denimbroek, sy ander vingers só gesprei dat hulle sy belangrikste erotiese sone beklemtoon. Sy gordel is uitdagend macho, maar dié effek word enigsins gekanselleer deur ’n sydoek wat lossies om sy nek geknoop is. Siedaar, die Swinging Sixties soos geïnterpreteer deur dekadente Duitsers.

Will Self, hierteenoor, transponeer The Picture of Dorian Gray na ’n postgay-era. Geen doekies of lendeklede meer nie, maar alles naak en op die man af. Falliese bewapening is aan die orde van die dag in die volgende beskrywing: “Dorian’s penis was curved, red and gnarled with veins like the dagger of an alien warlord.”

Maar Will Self is ’n gedugte skrywer, en bedien hom geensins van goedkoop foefies nie. Iets van Dorian se diep gesetelde boosheid word reeds gesuggereer; en later sou hy die skilder Basil Hallward met ’n mes vermoor. Maar hiermee is Will Self se metafoor nog lank nie uitgeput nie. Dorian Gray, blywend jonk en immuun - al sou talle vriende om hom aan vigs beswyk - is nietemin ’n draer van die dodelike virus, en besmet sy seksgenote doelbewus: eers oorwegend mans, later ook vrouens.

2

Wanneer ’n teks soos dié van Will Self nadruklik inspeel op ’n bestaande teks, is dit gerade om die moederteks deeglik te lees of te herlees, en spoedig hierna sy “imitasie”, want só val baie ontdekkings te maak.

Vir die doel van hierdie resensie het hierdie leser ’n baie onlangse uitgawe van The Picture of Dorian Gray gekies, hoofsaaklik om die inleiding van Edmund White, wat hom besig hou met dié vraag: Hoe lees ’n eietydse leser, en geïmpliseer ’n gay leser, The Picture of Dorian Gray?

Maar eers moet gekyk word hoe Wilde se boek inpas by die Dekadente negentigerjare van die neëntiende eeu in Engeland, en by name Londen. Eintlik is “inpas” ’n onpresiese woord, want Oscar Wilde het in ’n hoë mate die tenuur van sy era bepaal, saam met die tekeninge van Aubrey Beardsley, die gedurfde tydskrif The Yellow Book, die kultuurfilosofie van Walter Pater, die skilderkuns van Whistler, en dié van sy eertydse dissipel Walter Sickert.

Al die gemelde persoonlikhede het van mekaar geweet, en Sickert het selfs twee buitengewone portrette van Aubrey Beardsley gemaak. Die een, in tempera, het die onmiddellikheid van fotojoernalistiek: Beardsley, ’n slungel, formeel geklee, strompel tussen graftes en hopies grond deur. Hy het so pas die onthulling van ’n borsbeeld van Keats in die Hampstead Church bygewoon (datum: 16 Julie 1894). Die ander portret, uit dieselfde periode, is met ink geteken. En Beardsley het op sy beurt die beroemde illustrasies vir die drama Salomé van Wilde gemaak.

The Picture of Dorian Gray het oorspronklik in 1890 in Lippincott’s Monthly Magazine verskyn, ’n Amerikaanse publikasie wat in dieselfde maand ook in Londen verskyn het. Soos Wilde voorspel het, was dit ’n sensasie. Die kritikus Arthur Symons het dit eufories begroet as “the Breviary of the Decadence”; ander lesers weer het dit as “filthy” bestempel, en dit moes van die rakke verwyder word. Die jaar daarop het The Picture of Dorian Gray in aansienlik gewysigde en uitgebreide vorm as boek verskyn. Richard Ellmann, sê, via Edmund White, in sy monumentale biografie oor Wilde: “No novel had commanded so much attention for years, or awakened sentiments so contradictory in its readers.” Wilde se vrou, Constance, het nav hierdie “gevaarlike” boek gekla: “Since Oscar wrote Dorian Gray, no one will speak to us.” Een koerant het gesê Dorian Gray is ’n saak vir die polisie, en nie vir die kritikus nie.

Wat het van The Picture of Dorian Gray so ’n gevaarlike boek gemaak, in ’n sin net so gevaarlik as die boek wat die hedonis Henry Wotton aan sy dissipel Dorian Gray gegee het en wat ’n verwoestende uitwerking op Dorian se filosofie en lewenstyl gehad het? Dié boek word nooit by die naam genoem in The Picture of Dorian Gray nie, maar navorsers en kritici het aan die lig gebring dat Dorian se gevaarlike boek A Rebours (Against Nature) van die skrywer Joris-Karl Huysmans is, ’n werk wat in 1884 verskyn het.

En met die noem van A Rebours is die “gevaar” van Dorian Gray benoem: dis teennatuurlik. Dis hedonisties, dis Dekadent, en dit suggereer homoseksualiteit, wat indertyd op die Kontinent “die Engelse Siekte” genoem is. (Die enigste regstreekse verwysing na homoseksualiteit in Dorian Gray is op aandrang van Walter Pater verwyder.)

In sy kundige inleiding tot die nuwe uitgawe van The Picture of Dorian Gray sê Edmund White dat ’n een-en-twintigste-eeuse leser Dorian Gray sonder meer as ’n gayroman lees. Vir sý kultuurperiode was Oscar Wilde op sinspelings en eufemismes aangewys, maar die verwysings na die Griekse Oudheid, reeds opgevang in Dorian se naam, en ’n inventaris van beroemde gays of vermeende gays in die geskiedenis, soos Michelangelo, Montaigne, Winckelmann en selfs Shakespeare, sou deur ’n ingeligte koterie met die nodige blosse en gegniffel ontvang gewees het. Wilde, terloops, het die “teorie” dat Shakespeare gay sou wees, aan die hoë klok gehang met sy boek The Portrait of Mr. W.H. Shakespeare sou dan verlief gewees het op ’n seunsakteur, Willie Hughes, en sy liefdesonnette aan dié gerig het. The Portrait of Mr. W.H. bevat talle temas wat weer opgeneem sou word in Dorian Gray.

Will Self het The Picture of Dorian Gray kennelik gelees vir wat dit op een vlak is: ’n sensasionele gayroman. Hy “vertaal” as ‘t ware The Picture of Dorian Gray in terme van ’n nuwe eeu wat net één slagspreuk het: Alles mág.


Vir ’n sinvolle vergelyking tussen The Picture of Dorian Gray en Dorian is ’n bondige opsomming van Wilde se roman gewens:

Die skilder Basil Hallward is hopeloos verlief op die beeldskone jongeling Dorian Gray. Hy stel Dorian teensinnig voor aan sy wêreldwyse en siniese vriend Henry Wotton. Hallward het so pas ’n vollengte-portret van Dorian voltooi, een wat hy as sy meesterstuk beskou. Dorian kry dié skildery present van Hallward.

Dorian Gray raak bevriend met Henry Wotton, en Wotton word spoedig sy mentor, in so ’n mate dat die leser later probleme het om die aforismes van die een van dié van die ander te onderskei.

Dorian Gray dwaal een aand by ’n tweederangse teater in waar hy betower word deur die spel van ’n jong aktrise, Sibyl Vane. Hy sien haar in een Shakespeare-opvoering na die ander. Sy raak verlief op Dorian, wat nooit sy naam aan haar sê nie, maar sy gee nie om nie: vir haar is hy Prince Charming. En Dorian is op sy beurt betower deur haar spel, en raak verloof aan Sibyl Vane. Een aand neem hy sy vriende na ’n opvoering om hulle aan sy groot ontdekking voor te stel, maar daardie aand speel Sibyl swak en meganies. Die illusionêre van die verhoog boei haar nie meer nie, want sy het nou die werklike lewe en die ware liefde ontdek. Dorian is woedend oor die verleentheid wat sy hom voor sy vriende aangedoen het, en hy onttrek hom aan haar. Sy pleeg kort hierna selfmoord.

Dis in dié stadium dat Dorian merk dat sy portret subtiele veranderings begin ondergaan. Dit registreer gemeenheid en harteloosheid. Gray besef dat sy wens dat hý, die model, altyd jonk mag bly, maar sy portret met die jare sy aftakeling gaan toon, geleidelik bewaarheid word. Wat hy vir dié verskriklike wens betaal het, naamlik sy siel, daarvan het hy vergeet.

Dorian Gray word in baie opsigte ’n monster. Hy vermoor Basil Hallward nadat dié getuie was van die verloedering wat sy portret van Dorian ondergaan het. Dorian gaan soek vergetelheid in ’n opiumhole, waar Sibyl Vane se broer hom herken, maar die broer onthou hom aan moord wanneer hy ontdek dat Dorian in agtien jaar nie ’n dag verouder het nie.

Sibyl se broer hoor later van Dorian se vreeslike geheim, naamlik dat hy oor ewige jeug beskik, en James Vane haas hom na die landgoed waar Dorian Gray aan ’n jagtog gaan deelneem. Dorian Gray beswyk haas van angs wanneer hy James se gesig teen ’n vensterruit aangedruk sien, maar die noodlot gryp in: James word in ’n fratsongeluk tydens die jagparty doodgeskiet.

Dorian Gray se verlede haal hom in. Hy word deur sy gewete gepla, en besluit om sy portret te vernietig. Wanneer hy ’n mes in die portret steek, sterf hyself. Hy word deur sy werkers ontdek, en dan volg die virtuose, maar verskriklike slotsinne van The Picture of Dorian Gray:

When they entered, they found hanging upon the wall a splendid portrait of their master as they had last seen him, in all the wonder of his exquisite youth and beauty. Lying on the floor was a dead man, in evening dress, with a knife in his heart. He was withered, wrinkled and loathsome of visage. It was not till they had examined the rings that they recognized who he was.

3

Veranderende tye, veranderende sedes?

Nie noodwendig nie.

The Picture of Dorian Gray (Wilde) en Dorian (Self) handel oor die laaste twee dekades van tydvakke, die neëntiende eeu in die geval van Wilde, die twintigste eeu in die geval van Self.

Uiterlik het baie dinge verander - nuwe vervoermiddels, nuwe haar- en kledingstyle en onvoorstelbare tegnologiese ontwikkelings het die laat-Victoriaanse wêreld van Oscar Wilde verdring na die oppervlakke van poskaarte en films.

Dorian is nog altyd besonder mooi, maar sonder om hom aan die voorskrifte van die neëntiende eeu te steur. In Dorian Gray (Wilde) maan Lord Henry Wotton die jong Dorian: “You really must not allow yourself to become sunburnt. It would be unbecoming.” ’n Rose-en-room-kompleksie was toe de rigeur; maar in Dorian (Self) is die ideaal van die stralejakkers die heuningbruin velkleur wat soos ’n trofee teruggebring word van verre strande, natuurlik met toegewyde voorsorg, soos sonolies, voedende rome, bevogtigers en wat die boetiek- en ontwerpermarkte ook voorskryf. En óór ’n gesig word gedra die masker van ’n Ray-Ban.

Dorian Gray se woonplek beantwoord aan minimalistiese standaarde, maar Henry Wotton se huisinterieure is ’n pragtige voorbeeld van die fiasko wat ontstaan as “nuwe” geld en swak smaak verenig.

Op die ou end is dit net die oppervlakke wat Dorian (Wilde) en Dorian (Self) van mekaar onderskei. (Op die agtergrond hoor jy Wilde prewel: “All art is at once surface and symbol” - en wat daarop volg. Sien “The Preface” van The Picture of Dorian Gray.)

Will Self hou hom ook na plot, rolbesetting en struktuur aan Wilde - of in hoofsaak. Self laat byvoorbeeld geen selfverwennings à la Wilde toe om die storiegang van sy roman te stuit nie. Hoofstuk XI in Wilde, met sy ornate inventarisse van onder meer sensuele inhoude, dié sal jy nie in Dorian van Self aantref nie, en allermins ’n telkense opdamming van epigramme.

Vir my is Will Self se hantering van spitsvondighede een van die groot prestasies van Dorian. Hy versprei aforismes oor die hele boek, en meer nog: dié aforismes kenskets die beskawingsvlak, hoog en minder hoog, van sy karakters. Dorian is ’n bietjie dom in sy leerjongensjare, maar soos sy lewenservaring toeneem, raak sy wyshede meer geslyp en meer geslepe, en kom hulle al hoe nader aan dié van lord Henry.

Af en toe, as ’n kopknik na die kant van Wilde-kenners, sny Will Self via karakters in op ’n bekende reël van Wilde. Op bl 186 sê Henry van oorlede Basil: “For Baz to have died once would have been unfortunate; for him to die twice looks like carelessness.” (Sien lady Bracknell in The Importance of Being Ernest.) Op bl 142 haal Dorian sy leermeester aan: “It’s simply expression - as Henry says - that gives reality to things.” (By Wilde klink dit só: “We live by utterance only. Sheer expression is the only mode of life.”)

Maar Will Self skep aforismes wat hulle heeltemal sal kan handhaaf tussen dié van Wilde, en dis lof van ’n hoë orde. Hier volg enkeles:
— “Fixing coke is the perfect modern pleasure, because even as you do it you want to do it again. It’s like powdered greed dissolved in desire.”

— “Death is first and foremost a career move.”

— “... the late-twentieth century requires of us that all political statements be fashionable, just as all fashion statements must be political.”

— “To live life with true artistry is to perform a successful brain-pass operation - on yourself.”

Hierdie voorbeelde illustreer wat op bl 178 gesê word deur Wotton: “... everyone is so much more the product of their own era than they realise at the time.”

Ook weet Wotton, soos alle ware epigrammiste, dat spitsvondighede ’n ingeboude beperking het: “After all, a witticism is merely the half-life of an emotion.”

Nog raakpunte tussen The Picture of Dorian Gray en Dorian:

Dwelms kom wel voor by Wilde, en opium by name, maar Dorian is die enigste gebruiker hiervan; in Will Self se boek Dorian het dwelmgebruik ’n lewensvorm geword, so deel van die daaglikse spyskaart as drank en sigarette, en die “smart set” waarin Dorian en sy vriende beweeg, onder meer lord Henry en Baz, het hul eie voorsiener en draers van dwelms, net wat hul hart op ’n gegewe oomblik begeer, of dit nou kokaïen, crack of heroïen is. Wanneer Dorian vir Herman, ’n swart “rent piece”, na sy huis uitnooi om naak te paradeer en sy vriende seksueel te bedien, word Herman ruimskoots met beigekleurige heroïen vergoed. Maar die uitnodiging het ook ’n artistieke oogmerk gehad, naamlik om ’n Black Narcissus as teenstelling te hê vir Dorian wat deur sy kunstenaarvriend Baz op video vasgelê is in ’n installasie genaamd Cathode Narcissus.

Dié ekshibisionistiese aand het rampspoedige gevolge vir almal. Herman gebruik sy betaling op een slag, en sterf. Sy minnaar, ’n ongure karakter genaamd Ginger, sweer wraak. Beide lord Henry en Baz word deur Herman met vigs besmet, en Ginger sou lewenslank ’n bedreiging vir Dorian wees.

Elke era het sy eie musiekvoorkeure. In Wilde se tyd was opera ’n soort godsdiens, met sterre soos Adelina Patti en Nellie Melba, en Chopin was dié salon-komponis. Opera bly ’n gunsteling in die laat twintigste eeu, soos Will Self uitwys. Die aria “Nessun dorma” uit Turandot van Puccini word spesifiek genoem - ’n aria wat bykans ’n nasionale lied in gaykringe geword het. Maar eintlik is pop dié geluid van die laat twintigste eeu, want dit het ’n verbond met “raves” en dwelmgebruik gesluit. ’n Gunsteling-poplied onder gays is, onvermydelik en voorspelbaar, “Hallelujah, it’s raining men”.

Wanneer lord Henry in sy Jaguar klim, moet hy onmiddellik na popmusiek luister. Hy is, soos talle ander van sy era, tot modeslaaf gekondisioneer.

Maar die belangrikste, allerbelangrikste ooreenkoms tussen The Picture of Dorian Gray en Dorian is dat beide hoogs morele boeke is.

4

Die volgende vraag kan dalk ontstaan: maar as Dorian van Will Self so ’n getroue nabootsing van The Picture of Dorian Gray is, was ’n nuwe weergawe van ’n ou geskiedenis dan werklik nodig?

Die antwoord is ondubbelsinnig “ja”.

Die twee gemelde romans is gedurig in gesprek met mekaar: verryk mekaar, verduidelik mekaar. Dorian van Self bring byvoorbeeld klem- en instellingsverskuiwings, én ’n vars sinisme. Dit gaan veel, veel verder met ontmaskering as wat Wilde, gegee die mores van sy tyd, durf gaan het.

Een interessante motief by beide Wilde en Self is boosheid.

The Picture of Dorian Gray van Wilde is nog ingebed in die kader Nieu-Gotiek. Die aangesig van die Bose is byna te verskriklik om grafies beskryf te word. Die verworde portret van Dorian Gray, sowel as die lyk van die verworde Gray, word haas abstrak gegee. Aan ’n latere illustreerder soos Michael Ayrton en filmspanne is dit gegee om dié boosheid visueel te gee.

In die wêreld van Dorian van Will Self het boosheid doodgewoon geword, en daarom kan die kultuurfilosoof Hannah Arendt van “the banal face of evil” praat. Ook in Dorian word byna tegnies van boosheid gepraat - vgl “a face too evil for a close-up”.

As “lelikheid” beskryf moet word, deins Will Self nie hiervoor terug nie. Vroeg in Dorian is daar ’n getroue, maar terselfdertyd kliniese beskrywing van pasiënte in die vigs-vleuel van ’n Londense hospitaal, en verskillende mense, talle van hulle jong mans, word in verskillende stadia van aftakeling beskryf. Hierdie toneel herinner aan die opiumhole-toneel teen die einde van The Picture of Dorian Gray, en is miskien ’n bewustelike eggo daarvan, maar in die eerste plek plaas dit die vigs-epidemie sentraal - sentraal in die boek, maar ook sentraal in die sosiale weefsel van die laat twintigste eeu.

Die wêreld van Dorian kring wyer uit as Londen. Ook New York word betrek, waar Baz byna sy siel sou wou gee om binne die dampkring van kuns-ikone soos Robert Mapplethorpe en Andy Warhol te kom. In Brittanje weer is dié kuns-ikon David Hockney. Ja, ja, naamsmousery net soos in Wilde se tyd, en weer is die resultaat vereendersing, want wanneer almal mekaar begin naboots na styl en tema, bly daar min speling oor vir individualiteit.

Ten besluite kan die hantering van die maskerspel - die spel met personas - by Wilde en Will Self beskou word.

Wilde maak besonder baie daarvan dat die aktrise Sibyl Vane elke aand ’n ander Shakespeare-masker opsit. Een aand is sy Rosalind, die ander Juliet, dan weer Imogen. Haar fatale fout is om haar maskers af te lê en haarself te wees. Vir Prince Charming het sy ná dié aflegging ’n niemand geword, ’n identiteitlose wese, en hy verwerp haar.

Eers was dit vir hierdie leser ’n teleurstelling dat Will Self hierdie openbarende toneel weggelaat het. In werklikheid het hy nie; hy het met ’n uiters subtiele variasie hierop vorendag gekom.

In The Picture of Dorian Gray word lord Henry se vrou vaag en onsimpatiek gegee. Victoria - want dis haar naam - word só beskryf: “She was a curious woman, whose dresses always looked as if they had been designed in a rage and put on in a tempest.” Watter karakter het ’n kans op oorlewing ná só ’n bekendstelling? Sy en lord Henry skei dan ook voor die einde van die boek.

Will Self se bekendstelling van Victoria, bygenaamd Batface, is kwalik meer belowend: “... (she) was still attired in a girlishly tiered ra-ra skirt of navy crushed velours. Her hair was a mess, and so was she.”

Maar “Batface” is ’n baie verstandige vrou. Sy dra haar bynaam Batface soos ’n masker, maar agter dié masker is ’n intelligente vrou wat die sewentiende eeu so goed ken dat sy later ’n lektrise aan ’n universiteit word en ’n standaardwerk oor madame De Sevigné publiseer. Sy en lord Henry bly end-uit bymekaar.

Sy is op die ou end een van die simpatiekste karakters in ’n boek wat wemel van poseurs. ’n Mens dink aan wat Tolstoi van Tsjechof se verhaal “The Darling” gesê het: Tsjechof wou die gek skeer met “the darling”, maar voor die einde van die verhaal het hy lief geword vir haar.

5

Dis nooit verstandig om skrywers op hul woord af te aanvaar nie, te meer as ’n skrywer ’n postmodernis is.

Will Self het ’n epiloog vir Dorian geskryf. Hieruit blyk dat wat die leser tot dusver gelees het, ’n tikskrif is wat lord Henry Wotton nagelaat het en waarin hy sy eertydse dissipel genadeloos ontmasker, straks uit beroepsnyd. Dorian, hoor ons nou, besit ’n mode-emporium en is uiters hardwerkend. Hy hou homself in stand met alles wat die kosmetiek- en mediese wêreld te bied het vir die verbruikersgemeenskap. Hy doen ontsaglik baie vir liefdadigheid, en veral vir die vigs-saak.

Maar, maar, maar.

Dorian Gray word besoek en geteister deur die stem van sy leermeester, oorlede lord Henry. Dorian verloor beheer oor sy lewe, daag nie meer by sy werk op nie, en spoke uit sy verlede begin weer loop. Dit blyk dat hy tog verantwoordelik is vir dode, onder meer dié van Baz.

En as dié stem uit sy verlede, dié van lord Henry, een aand tot ’n mens materialiseer, en hom na ’n toilet in ’n verlate park voer, val die laaste maskers in Dorian. Lord Henry word skielik die gevreesde Ginger wat ’n springmes uitruk en eers die toiletdeur oopforseer en daarna vir Dorian keelaf sny.

Dorian Gray het uiteindelik geword wat hy is: Prince-fucking-Charming - nou nie meer ’n Doriese suil nie, maar ’n doerian, ’n onverduurbare stinkvrug.

Verwysings

Baron, Wendy en Richard Shone (red). 1992. Sickert Paintings. Katalogus uitgegee in assosiasie met Yale University Press, New Haven en Londen.
Hyde, H Montgomery (red). 1983. The Annotated Oscar Wilde. Londen: Orbis Publishing.
Sim, Stuart ea, met ’n voorwoord deur Will Self. 2003. The end of everything: Postmodernism and the vanishing of the Human. Cambridge: Icon Books UK.
Steyn, Louis. 1964. Die Afrikaanse Operagids. Kaapstad: Human en Rousseau. Eerste uitgawe.
Steyn, Louis. 1989. Die Afrikaanse Operagids. Kaapstad: Human en Rousseau. Derde, hersiene uitgawe.

20 November 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.