GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.

Bloedspoor

Cobus van der Merwe

Was ik maar het bloed
Dat door jouw lichaam stroomt
Dan sliep ik in jouw hart
En ik woonde in jouw hoofd

— Uit: “Ik heb je lief” van sanger Stef Bos

Vanaand is een van daardie aande dat jy weet jy gaan niks gedoen kry nie. Daar gaan niks gebeur nie. Nie eens in fantasie nie. ’n Verlang-aand na gesigte, name, liggame wat jy nie eens vir jouself wil identifiseer nie. Soms kan ’n mens net die mooi onthou, maar soms sien jy albei kante van die skaal, en ek het nie nou die energie vir die aftreksom nie.

Het lusteloos deur INSIG geblaai, en staar nou na ’n advertensie van kykNet op die agterblad: ’n mikroskoop-visie van ’n bloedsel (in rooi), teen ’n blou agtergrond met die onderskrif: “Bloubloed Afrikaans”. En gedagtes begin loop in my leë kop, stadig-stadig soos ’n snuffelende hond, op die spoor van bloed in my verlede.

* * * 

Ek het nog al die jare gegril vir bloed. My ma is dood toe ek tien was, en ek het bittermin herinneringe aan haar. Maar ek onthou hoe ontsteld sy was toe ’n ambulans eendag verbygejaag het met sy polsende spatsel bloed op die dak. Omdat sy geweet het dit bedek ’n kas vol lyding.

En so is my broer, en jare later ook ek, bebloed in ’n ambulans hospitaal toe gejaag.

* * * 

Reeds op tien was ek al paranoïes, en het sonder my pa se medewete ons gesinsdokter op my eie gaan spreek oor my vrees dat ’n verswakte aar op my kop kan bars soos by Ma. Die dokter was lank op die telefoon besig, en geleidelik het my vrees in bewondering oorgegaan terwyl ek sy arms dophou soos hy beduie. Die sterk are aan die sagte binnekant het my gefassineer, en toe hy klaar was, het ek vir hom gevra hoe ek sulke opgehewe are kan kry soos hy, want dit lyk vir my mooi. Hy het gelag sonder om konkrete raad te gee. Gesê dit kom van nature.

Tóé al het ek besef die lewe rus altyd op ’n mespunt: jou are kan uitpeul en sexy lyk, soos Dokter s’n, of dit kan bars en jy gaan dood, soos Ma.

* * * 

In matriek is ek en my meisie van die tyd na Mannekrag om uit te vind wat ek met my lewe behoort te doen. Die toetse het gesê dokter, rekenmeester of advokaat. Omdat ek gegril het vir bloed, was eersgenoemde dadelik uitgesluit. Tweede moontlikheid het te vervelig geklink. Toe doen ek maar LLB.

Ek was ’n “late bloomer” — het eers op twintig my maagdelikheid verloor. Maar om ’n kondoom te gebruik sou wees soos skottelgoedwas ná ’n genoeglike ete — dit bederf nie net die atmosfeer en die pret nie, dit laat dit voel soos iets wat afgehandel móét word. Die Katolieke se ritme-oplossing was volgende: ons het gewag vir die veiligste tyd van die maand.

Tussen maandstonde- en maagdevliesbloed kon ek net raai watter die meeste bygedra het. Toe ek my bebloede ereksie van bo af bekyk, het ek naar geword, en soos ’n verkragter gevoel.

Ek het nou nog die kussingsloop. Het dit nooit rondgewys soos ’n Joodse bruidegom by sy troue nie. Wel gou daarna gesien wat Hennie Aucamp afgemete met ’n dramatiese slotsin van ’n kortverhaal (“In memoriam: Guy de Maupassant”) beskryf: “‘Jy moet besef,’ sê hy, ‘dat bloed later bruin word.’”

* * * 

Ná hierdie verhouding was ek eers op my eie. Ek het eendag stad toe gery, en daar was ambulans- en polisieligte aan die regterkant van Voortrekkerweg. Met burgerlike nuuskierigheid het ek gaan stilhou. Betyds om te sien hoe die reddingswerkers ’n stewel met ’n voet in, mensvelle oor die rand, in ’n swart munisipale sak gooi. Ek het geloop na die motorfietsslagoffer wat die draai te skrams gevat het. En hy sê vir my: “Dankie tog my voet is nie af nie … ek kan dit nog voel pyn.” Ek het hom nie reggehelp nie.

* * * 

Ek het nie meer bloedfamilie nie — grootouers, ouers, almal dood. Net halfbroer, ma dood, stiefma, stiefsuster, pa dood. Miskien nog verlangse familie, maar in elk geval nie waarvoor ek omgee nie. Die kontak voel te geforseerd. Die heel naaste aan my is my broer, maar hy is halwebloed met ’n gedeelde ma. Juis miskien daarom is ons so na aan mekaar, as ek na eie-familie-verhale luister. Veertien jaar verskil en twee pa’s verhoed ons om te verval in familietwiste en jaloesie. Soos tussen my ontmande hond en sy jonger viriele boetie is daar ’n ongeskrewe ooreenkoms hoe ons by mekaar pas.

Maar ek is gulsig: wil altyd tekortkominge aanvul, selfs God se aanvanklike beplanning. Daarom wou ek bloed deel, soos Indiane. ’n Selfgekose bloedbroer hê.

Ek sou dit nie self kon doen nie, want ek gril vir bloed. Maar op ’n dronk nag sny my boesemvriend Marius toe sy pols en myne met ’n NT-cutter, en druk dit hand-pols-en-arm teen mekaar. Terwyl ons ewigdurende bloedbroerskap met ’n lang soen verseël.

Ons het aanvanklik subtiel ’n verhouding probeer, maar op die oomblik vermy hy my só dat ek nie eens ’n verjaarsdaggroet met behulp van sy pa, stiefma en broer na hom kan deurkry nie.

Ek moes tóé reeds besef het: ’n ander kan nie die ongedurigheid en leegheid in jou stilmaak nie, selfs nie God nie. Dit lê vierkantig op jou eie skouers — wat tegelyk vryheid én verlatenheid is.

* * * 

Ek het gehoor dat mense wat bloed skenk, ’n soort euforie ervaar. Ek wens iemand kan bepaal of dit die gevolg is van die nuwe bloed wat in jou lyf geproduseer word, of dat die idee dat jy ander help, vir jouself nuwe krag gee — ek noem dit die verpleegstersindroom.

* * * 

My houding teenoor bloed het een Oukersaand verander. Die mens vir wie ek in die geheim nog steeds die liefste is (toe al agt jaar lank; het al in ’n onbeantwoorde liefdesbrief vir hom gesê: “Jy is my imaginary friend wat gestalte aangeneem het”), het in die middel van die nag hier saam met ’n gemeenskaplike vriend kom kuier nadat hulle heelnag by die kroeg was. Die ander een het in die sitkamer op die bank aan die slaap geraak. Charl was baie dronk, maar uitspattig-vrolik. My foon afgevat toe ’n vriendin bel en amper ’n halfuur gepraat. Skielik omgeslaan en met sy kop teen ’n kas geval, en baie gebloei. Ons is badkamer toe, waar hy toegelaat het dat ek hom vashou en versigtig die bloed afwas en hom verpleeg.

Ek het hom bed toe begelei, en hy het dadelik geslaap. Vir my was dit egter ’n lang nag. Ek het ’n kers opgesteek sodat die kamerlig hom nie pla nie, en baie sigarette lank na hom gekyk. Sy volmaakte mond, sy sagte wimpers. My vinger het die dun strepie hare van sy naeltjie tot by sy broekrek gevolg. Ek het gedink aan Jacques Prévert se liedjie “Paris at night”: “Three matches lit one by one in the night: the first one to see your whole face, the second to see your eyes; the last to see your lips … And darkness all around, to remind me of all that, holding me in your arms …”

Ek het die kers doodgeblaas, my arm om sy lyf gesit. Hy het liggies gekreun en sy wang teen myne gedruk. Ek het die res van die nag na sy asemhaling geluister, my hart bonsend teen my borskas, te bang hy word wakker.

Natuurlik het hy die volgende oggend vervaard opgespring en uitgestorm toe hy agterkom dat hy nie in sy eie bed was nie. Ek kon net betyds sien dat die rooi Mercurochrome sy hare langsaan die oop wond gevlek het. Ek was dus ook dronk.

Later die oggend sit ek op die toilet, wasbak voor my neus. En daar is bruin, droë bloed oor die rand wat ek nie die vorige nag afgewas het nie.

Ek staar daarna, en dink dat ek in ander omstandighede naar sou geword het. Maar, besef ek, daar is niks op die aarde wat vir my van hierdie vriend kan, of mag, afsit nie.

En ek begin die bloed van die wasbak aflek, asof van my eie hand. En ek voel hom in my mond, in my keel, in my hele lyf.

Dit is tóé dat ek die erotiek van bloed ervaar het. Daardie oomblik lank het ek hom binne-in my voel bruis. Ek kon hom proe, hom ruik, voel hoe hy my vul. Die volmaakte een-word.

* * * 

Maande later, terwyl ek deur nog ’n depressiefase gaan, kom ’n ander beminde-in-my-drome hier aan. So selfvernietigend soos jy jou kan verbeel. Hy was saam met my in die drukkersbedryf, en het sy NT-cutter wat ons daagliks gebruik, in sy motor byderhand gehad. Waaroor ons gesprek gegaan het, kan ek nie onthou nie. Maar hy het die messie in die kar gaan haal en sy mooi arm kruis en dwars begin sny terwyl hy deurdringend na my gestaar het.

Ek en my hond het saam-saam die bloed afgelek.

Die volgende oggend het hy ’n glas laat val en per ongeluk (of dalk met opset?) in die skerwe getrap. Hierdie keer het ek alleen, viervoet soos ’n hond, die bloed van die linoleum afgelek. En nie omgegee of ’n glasskerf my tong sou sny nie.

Sy ouers het hom merke en al weggestuur van die dorp af, en daarna gesorg dat ek nie weer kontak kan maak nie.

* * * 

My broer kom gister hier aan met ’n geskeurde hemp. Met ou bloedkolle op. Hy vra vir my of ek weet wie se bloed dit is. Ná ’n bottel whisky het ek die hemp vir vyftig sent gekoop.

Dit was so twee jaar gelede. Ek het vir die enigste keer in my lewe ’n verhouding met ’n man gehad, en nie een van ons kon dit hanteer nie. Tussen al die nuutgevonde passie deur was daar ook ’n verterende aggressie van beide kante.

Ons het een aand in die gang af baklei, en in ’n stadium het ek hom aan sy blonde hare beetgehad, vas van plan om sy kop op die rand van die deurkosyn stukkend te slaan. Skielik, selfs in die hitte van die oomblik, besef ek dat ek vir altyd spyt sal wees, want dit is ek wat in die toekoms in die littekens sal moet vaskyk. En die res van my lewe weet dat ek vir die skending verantwoordelik was.

In my oomblik van twyfel gebruik hy die kans en rol ons om, haal ver uit en slaan my so hard op die mond dat my lip bars. Hy druk my arms vas, pen my lyf teen die plankvloer met syne, en terwyl hy my stip en uitdagend in die oë kyk, begin hy stadig en stelselmatig die bloed van my lippe aflek.

Ek kon nie woede of vernedering voel nie. Want dit was erotiek soos ek dit nog nie ondervind het nie. Tóé nog nie oor die bloed nie, maar oor die drama daarvan, en die sensualiteit.

Terug na die hemp toe. Enige man wil egter vir sy eie selfbeeld weet hy kan ook ’n geveg wen. Ek kon, of wou, daardie voorval nie onthou nie, maar klaarblyklik het ek ook bloed getrek in ’n soortgelyke vuisgeveg, en my broer het my gewonde geliefde getroos. Vandaar die bruin vlekke op die bors. En nou is die hemp die nuutste toevoeging tot my argief van verlore liefde.

* * * 

Terug na my kussingsloopmeisie. Sy het agterna vir my geskryf: “Bloed-van-my-bloed, my Weskus-kind: dit is rou en dit is seer waar jy eens aan my vas was.”

Ek verstaan nou nog nie waarom Siamese tweelinge teen mekaar skop nie. Want ek sou daardie nabyheid aan iemand wou hê, en ek dink sy ook. Seker maar omdat ’n mens nie werklik kan kies nie. Nie die Siamese, nie ek nie, nie sy nie.

* * * 

Volgens ’n algemene SMS van my selfoonnetwerk is daar net drie diersoorte op die aarde wat ook, soos die mens, permanente lewensmaats (probeer) kies. Die een is die dolfyn, die ander ’n insek waarvan ek nie die Spaanse naam kan onthou, spel of uitspreek nie. En die derde is ’n duif.

Ek was eendag op pad werk toe, en het per ongeluk die een helfte van ’n duifpaartjie doodgery. Dae daarna het die duif se maat nog daar rondgesit, rondgedraai, rondgeloop. Omdat daar bloed was, het ek vermoed dat hy ook rondgeruik het, ás voëls kan ruik.

* * * 

Maar, ondanks al die interludes, snuif ek nog steeds aan die wasbak vir die reuk van my eintlike lewensmaat. Dié een wat ek só lank gelede reeds uitverkies het.

As hy maar net dieselfde wil besluit: ons hóórt by mekaar.

Terwyl Cobus van der Merwe (38) besig was met sy LLM aan die Universiteit van Kaapstad, besluit hy hy wil nie Engels praat, pakke dra en gholf speel om kliënte te werf nie. Daarom koop hy op 25 ’n streekskoerant op Malmesbury. Ná 13 jaar verkoop hy dit in Mei 2002 aan Naspers. Tans lê hy hom toe op fotografie, skryf en verdere studie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.