GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

HE Bates en die derde stroom

Hennie Aucamp

Kan 'n heteroskrywer oor gays skryf? Hennie Aucamp bespreek die werk van HE Bates (1905-1974)

Hierdie kritikus moet tot sy verleentheid erken dat hy nie presies kan sê waar hy die sinsnede “third stream of consciousness” raakgeloop het nie. Dit was lank gelede, veertig jaar of verder terug, vermoedelik in die tydskrif English Studies; maar waarop dit slaan, onthou hy nog goed, naamlik ’n buitengewone sensibiliteit vir fenomene wat buite die “normale” patrone lê, soos byvoorbeeld homoseksualiteit. Dit wil natuurlik glad nie sê dat ’n “third stream of consciousness” tot gays beperk is nie. Dit kom by alle skrywers voor wat oor ’n ingeoefende intuïsie beskik.

Die heteroskrywer HE Bates is hier ’n voorbeeld-geval. In die talle gaybloemlesings wat ek onlangs vir ’n oorsigartikel gelees het, kom daar geen verhaal van, of selfs verwysing na, HE Bates voor nie. Ek het ’n kollega by die Departement Engels aan Unisa geraadpleeg, en hy het hom ’n verhaal van Bates herinner wat as “gay” kan kwalifiseer. Twee jong mans – dis nou in die Bates-verhaal – loop twee jong meisies raak, en hulle speel die dag soos kinders om. Die mans steek blomme in die hoede, of is dit nou hare, van die meisies, “and a good time was had by all”. Maar as die meisies dink dat hulle ’n vangs gemaak het, het hulle dit mis. Teen die einde van die verhaal loop die twee mans hand aan hand weg.

Ek wou dié verhaal aan sy werklikheid kontroleer, dit wil sê in boekvorm, maar het gou besef dat dit ’n onbegonne taak is om twintig bundels kortverhale van HE Bates deur te werk as jy nie die titel ken van die verhaal waarna jy soek nie.

HE Bates (1905–1974) was ’n prolifieke skrywer, wat te verstane is, want reeds van sy sestiende jaar af het hy al geskryf, en op twintig publiseer hy sy eerste roman, The Two Sisters. Romans, novelles, twee bundels outobiografie en talle essays stroom uit sy pen. HE Bates is ’n skrywer “versed in country things”, soos die titels van party van sy essaybundels onomwonde verklaar: Down the River, Through the Woods, My Country Heart. Ook het Bates ’n invloedryke boek oor die kortverhaal gepubliseer, The Modern Short Story (1941), wat in 1972 opnuut uitgegee is in ’n hersiene uitgawe met ’n nuwe inleiding. Wat nog? ’n Kinderboek of twee, ’n drama The Day of Glory, en in die oorlogsjare, regulasie-gedwonge, onder die skuilnaam Flying Officer X, die boeke The Greatest People in the World en How sleep the Brave.

Die oorlog het ’n waterskeiding geskep in die oeuvre van HE Bates, in dié sin dat dit sy tematiese register aansienlik verruim het. Soms kom die landelike en die oorlogswerklikheid saam, soos in The Triple Echo wat, soos talle van Bates se romans en novelles, vir film- en TV-produksies aangepas is.

Hoe kon ek, en al die bloemlesers van gayverhale, van Kleinberg tot Leavitt & Mitchell, van The Triple Echo vergeet het? Miskien omdat die verfilming van hierdie novelle gay-onvriendelik was, met Oliver Reed as ’n weersinwekkende, sadistiese sersant.

Wat verlore gaan met vertaling, en dit gebeur ook met die “vertaling” van ’n teks vanuit een medium na ’n ander medium, sê van ’n kortverhaal na ’n draaiboek, is “literatuur”. (Nie altyd nie: Ruth Prawer Jhabvala kry dit meesal reg om die literêre kwaliteite van ’n werk in haar draaiboeke te absorbeer, selfs as die skrywers so subtiel soos Henry James en EM Forster is.)

Die novelle The Triple Echo was vir hierdie leser ’n openbaring. Daardie essensiële Engelse kwaliteite, subtiliteit en onderbeklemtoning, is in die hoogste graad teenwoordig in The Triple Echo. Waar die herhaling van (beeld)motiewe soms ’n bietjie opsetlik kan raak by HE Bates, is dit hier hoegenaamd nie die geval nie.

Die verhaal verloop kortliks soos volg:

Dit is die Tweede Wêreldoorlog. Mrs Charlesworth behartig vrou-alleen ’n afgeleë plasie in Engeland. Haar man is gevange geneem in die Ooste en as sy ná maande nog nie van hom gehoor het nie, begin dit lyk of hy dood is. ’n Jong soldaat loop op haar plaas rond, en sy rig ’n geweer op hom. Dié besonderheid verklap vroeg reeds dat Mrs Charlesworth ’n bietjie te gretig is om haar geweer op mens en dier te rig. Sy kom gou agter dat die soldaat jonk en weerloos is, en uiteindelik maak sy vir hulle tee en roosterbrood.

Die soldaat besoek haar daarna by elke geleentheid dat hy die kamp kan verlaat. Hy kom self van ’n plaas af en kan haar met allerlei op die werf behulpsaam wees. Spoedig word hulle minnaars.

Wanneer hy besluit om te dros uit die leër, stribbel sy eers teen, maar hy steur hom nie aan haar besware nie. Om hom te beveilig, laat sy hom vroueklere dra, met ’n bra wat sy versigtig gevul en toegewerk het. Dit is beduidend dat Barton, die vlugteling-soldaat, sy vrouerol so geredelik aanvaar.

’n Sersant en ’n korporaal besoek die plaas, kennelik seksbelustig. Die sersant neem Mrs Charlesworth se geweer saam vir noodsaaklike herstelwerk. Mrs Charlesworth en haar “suster” word na ’n dans genooi, wat ferm van die hand gewys word deur Mrs Charlesworth. Die “suster” wil wel gaan.

Wat op die dans gebeur het, word nooit beskryf nie. Die jagse sersant ontdek waarskynlik dat die “suster” ’n man is, maar die rou, sadistiese toneel in die rolprent waar Oliver Reed Barton aanrand en beseer, is ’n figment van die verbeelding van die draaiboekskrywer. Die smoordronk Barton word daardie nag op die plaas afgelaai, en die volgende oggend begin normaal, sonder enige suggestie dat Barton aangerand is. Maar later daag die militêre owerhede wel op, waarskynlik omdat die sersant besef het dat hy Barton móét uitlewer. Barton vlug na ’n skuiling in die bos, en die sersant bring hom terug, nou geboei. Mrs Charlesworth skiet die sersant dood.

The Triple Echo is ’n subtiele studie van latente homoseksualiteit wat onder omstandigheidsdruk geaktiveer raak.

Kodes word van vroeg reeds geplant, maar dis eers terugskouend dat die leser besef dat hy voorberei is vir die skok-einde.

Wat Mrs Charlesworth onmiddellik opgeval het omtrent Barton, is sy hare:

His fair light hair shone almost white.
’n Bladsy later lees jy:
Once or twice he ran his fingers through his hair. As it moved it seemed whiter than ever, almost luminous against the darkening background of tree and shadow.
Iets “vrouliks” word reeds oorgesein: die lyftaal van Barton, ’n sekere ydelheid oor sy hare. Maar let ook op die frase darkening background: Bates waarsku ons vroeg reeds dat dit ’n donker verhaal gaan word.

HE Bates is ’n selferkende dissipel van Tsjechof. In sy inleiding tot Six Stories sê hy:

It is Chekov’s method to imply, not state, to hint with the subtlest gestures of light and shade, not to use verbal sledge-hammers.
En dis presies hoe ook Bates te werk gaan. Hy sê byvoorbeeld nooit reguit dat Barton en Mrs Charlesworth seks het nie, maar hy meld dat sy onrustig is daaroor dat sy swanger mag raak.

In The Triple Echo word Tsjechof se bekende raad aan skrywers verletterlik. As daar ’n geweer teen die muur hang, het Tsjechof gesê, moet dit voor die slotbedryf afgevuur word. Mrs Charlesworth se geweer, wat net vir nabygeleë prooi geskik is, soos rotte, word deur die leër herstel, en sy kan nou verder-geleë teikens aandurf, soos hase en jakkalse, en helaas ook mense.

HE Bates glo in herhaling, maar dan herhaling-met-ontwikkeling. Neem weer as voorbeeld Barton se hare, later lank uitgegroei en laag in sy nek gedra om sy vrouskap oortuigender te kry. Die volgende toneel bring belangrike sielkundige verskuiwings in Barton na vore:

In the kitchen Barton had been washing his hair. Now it hung in a fine bright mass almost to his shoulders, wonderfully fair, and he was brushing it. At the same time he was looking into a hand mirror propped up against a tea-pot, occasionally turning from side to side.
Nie net Barton se blonde hare nie, maar ook sy oë word telkens genoem. Mrs Charlesworth was haar by hulle eerste kennismaking reeds bewus van “the light blue boyish eyes”. Maar in ’n emosionele moment, sowat dertig bladsye later, besef Mrs Charlesworth: “… his blue, dumb and now curiously feminine eyes were near to weeping.”

Die vervrouliking van Barton kan ook uit sy gemoedsommeswaaie en vitterigheid afgelees word. Hy wil, selfs met die kosskaarste in ’n tyd van rantsoenering, nie van haasvleis hoor nie, want sy ma het bygelowig volgehou dat hase ongeluk meebring. Selfs wanneer Mrs Charlesworth ’n blikkie pelservissies wil oopmaak, het hy besware.

Mrs Charlesworth se geduld raak op, en op bladsy 59 bars sy in ’n tirade uit:

“You don’t want this, you don’t want that. You don’t like this, you don’t like that. You don’t like parading like a woman. God, you not only look like a woman. You’re starting to be like one. Think like one. Act like one. You’ve started to get fussy and spoilt and choosy and …”
’n Skrywer is gedurig besig om die spore van sy arbeid uit te vee. HE Bates haal ’n blikkie pelservissies by om Barton se afkeer van hase uit te balanseer, want anders sou dit te opvallend gewees het dat hy hase geplant het as kode. Die haas is sedert die Middeleeue ’n simbool van die homoseksueel, en leef tot vandag toe voort in ’n sleng-woord vir gays, naamlik bunny.

Uys Krige sou HE Bates se “orkestrasie” van motiewe geloof het. Een van die potentste tonele in The Triple Echo bring ’n hele paar operatiewe woorde saam in één, kort paragraaf, naamlik Barton se hare, die geweer, ’n fisanthaan en -hen, wat op beide Barton en Mrs Charlesworth, en Barton en die sersant, kan slaan.

Hier volg die betrokke paragraaf:

Going to the kitchen, she (Mrs Charlesworth) was met by a sight that stunned her. Barton was sitting on one side of the table, in a dressing gown, blonde hair loose; the sergeant a mere foot or so away from him. On the table stood tea-pot and tea-cups. Against the chair stood the gun. Over the back of the chair was slung a brace of pheasants, a cock and a hen, brilliant dead necks in loose embrace.
Dié toneel is met groot sorg beskryf. Dit suggereer huislikheid, intimiteit en seksuele ouvertures, met Barton as gewillige “prooi” – sy hare hang los, hy is in ’n japon geklee. Die sersant het die fisante as Kersgeskenk vir Mrs Charlesworth en haar “suster” gebring.

Dié genre-toneeltjie, soos tussen twee vertroudes, indien nie getroudes nie, eggo vroeër tonele tussen Mrs Charlesworth en Barton, maar wys ook dreigend na die toekoms. Dreiging begin reeds as Mrs Charlesworth die fisante agter die sersant aangooi, maar die deur is reeds toe wanneer die fisante die hout tref en met ’n dowwe smak op die vloer val.

Diermetaforiek speel ’n belangrike rol in The Triple Echo. Op die dag dat Mrs Charlesworth en Barton mekaar ontmoet het, staan Barton in vervoering na nagtegale in die bome en luister, en Mrs Charlesworth, geïnspireer deur Barton, luister intens saam. Die nagtegaal-toneel is die begin van die romanse tussen hulle, maar die dooie fisante kondig die einde van dieselfde romanse aan met dié wrede sinsnede: “… a cock and a hen, brilliant dead necks in loose embrace”.

Barton se sletterige voorkoms herhaal Mrs Charlesworth se verleiding van Barton, reg aan die begin van The Triple Echo. Mrs Charlesworth vervroulik haarself om aanneemliker te wees vir Barton. Sy borsel haar hare, trek ’n groen bloese met ’n lae hals aan en ’n baksteenrooi halfrok. Sy bind eers ’n serp om haar nek, om die lae hals te verdoesel, maar haal die serp weer af.

Al hierdie herhalings-met-ontwikkeling, al hierdie Baudelaireiaanse “correspondences” en parallelismes, sorg vir beweging, iets waarop byvoorbeeld Tsjechof baie gesteld was. Op 23 Februarie 1891 skryf hy aan AS Souvorin:

There is no movement in my novel, and that frightens me.
HE Bates eindig The Triple Echo met ’n “oop” slot, waarskynlik die mees verwoestende afsluitingstrategie in die vertelkuns. Waarom skiet Mrs Charlesworth die sersant? Is dit omdat sy snellergek is, of omdat sy dalk swanger is en nou sonder ’n man is? Of is dit uit jaloesie omdat die sersant haar verdring het as seksmaat vir Barton?

Jy het ’n drama – só lui ’n óú teateraksioom – solank die gehoor vrae vra. En dis presies wat in The Triple Echo gebeur – lank ná die finale gordyn vra die leser nog vrae.

In my soektog na kortverhaalbundels van HE Bates het ek in ’n tweedehandse boekwinkel in Observatory op Now Sleeps the Crimson Petal and other stories afgekom.

Die meeste verhale was kort en van die tipies Engelse “akwarelskool”: gevoelig, deursigtig, mooi – en vergeetbaar. Die uitsondering was ’n uitstekende lang verhaal, “The Snow Line”.

Dis ironies dat HE Bates, pleitbesorger vir die kortverhaal, sowel as bedrywige eksponent daarvan, op sy beste is in langer verhale en novelles.

Wat die novelles betref, dink ’n mens aan sy gevierde novelle, The Cruise of The Breadwinner, opgeneem in sy bloemlesing Six Stories, met lang verhale en novelles van Tsjechof, Guy de Maupassant, Hemingway en ander. Maar ’n mens dink ook aan die “donker” novelle The Feast of July, waarin Bates hom as ’n waardige nasaat van Thomas Hardy openbaar.

Bates begin sy inleiding tot Six Stories met ’n aanhaling van ’n ongeïdentifiseerde kritikus wat gesê het:

The novella is a form of notorius difficulty. It must combine the shock of finality of the short story with the psychological complication and density of medium available to the novel.
Die lang verhaal “The Snow Line” in Bates se bundel Now Sleeps the Crimson Petal and other stories kan vir alle praktiese doeleindes as ’n novelle beskou word, soos byvoorbeeld The Triple Echo.

Daar is ook ander ooreenkomste tussen “The Snow Line” en The Triple Echo: beide is gayverhale, en beide is dig van tekstuur met sielkundige komplikasies wat ’n psigoanalis se hart sal verbly.

Maar die toon van “The Snow Line” is ligter as dié van The Triple Echo. Wanneer die protagonis sy ware seksoriëntasie ontdek, verwerk hy dit op ’n eiesoortige en vir homself hoogs bevredigende manier, wat nie wil sê dat sy lewe sonder komplikasies verloop nie.

Nog ’n belangrike verskil tussen The Triple Echo en “The Snow Line” is dat eersgenoemde ’n vrou se verhaal is (Mrs Charlesworth), en laasgenoemde ’n man se verhaal (Arthur Browning). Die gayproblematiek word dus vanuit twee verskillende perspektiewe belig, wat vir ’n veelkantiger verkenning van die gaytema sorg as wat gewoonweg die geval is.

Die ideale intrede tot “The Snow Line” is reëls van die kortverhaalskryfster Elizabeth Bowen, soos aangehaal deur Bates in sy studie The Modern Short Story. Bates spekuleer oor die toekoms van die kortverhaal. Eers sal daar die behoefte aan vermaak en ontvlugting wees, wat te verwagte is ná ’n Wêreldoorlog, maar dan sal daar weer skrywers wees wat die moed sal hê om hoogtes te bestyg, verby “peaks of common experience” – nou is ons uiteindelik by Bowen – en aanbeweeg “past an altitude line into poetry”.

“The Snow Line” neem die kortverhaal letterlik bo die sneeulyn in die Alpe uit, want dis ’n bergklimverhaal; maar dit bevat ook passasies wat suiwer poëties is.

Weer eens is ’n bondige opsomming van die verhaal nodig.

Arthur Browning het die eerste dertig jaar van sy lewe “onavontuurlik” geleef in ’n Engelse dorpie met skoenfabrieke. Hy en sy ma het ’n koerant- en lekkergoedwinkeltjie digby ’n stasie bestuur. Nóg ’n woord word in verband met Arthur gebruik – “onambisieus”. Maar dan sterf sy geliefde ma – Arthur is kennelik wat sielkundiges sou noem “a mother’s boy” – en hy erf £6 000 plus die hoekwinkeltjie. Dan neem Arthur Browning die eerste avontuurlustige besluit in sy lewe. Hy wil Switserland toe gaan om berge te sien.

Hy vertrou dié nuus toe aan ’n onderwyseres, ene Miss Shortland, en nooi haar spontaan uit om saam met hom Kontinent toe te gaan, waarskynlik omdat hy geen ander persoon ken om saam te vra nie.

Miss Shortland het trouplanne in haar kop en kan nie verstaan hoekom Arthur berge bo haar verkies nie. As Arthur terugkom van sy eerste klimtog, het Miss Shortland opgepak en die pension verlaat vir groter stede waar sy lekker kan eet en inkoop.

Arthur Browning se passie vir berge neem toe; ook raak hy verlief op ’n jong Engelsman, ene Parkman. Parkman is hom onbewus van Browning se “ferocious friendliness” en hongerige oë, en raak teen sy sin ingesleep by ’n bergklimtog onder leiding van ’n professionele gids. Wanneer die gids, Browning en Parkman laatmiddag by die berghut aankom, skaaf Parkman se skoen hom só dat hy hink, en Arthur kloek om hom soos ’n besorgde hen.

Tot Arthur se misnoeë moet hulle die hut deel met ’n mooi meisie en haar kêrel, maar die mooi meisie vergeet onmiddellik van haar kêrel, en rig al haar attensies en vroulike strategieë op Parkman. Dis sy wat sy beseerde voet reinig en verbind, en tot laat in die nag met hom gesels.

Arthur besef dat hy uitgeskakel is wat Parkman betref, en hy is weer eens op sy eie. Twee dae later hoor hy op die trein dat Parkman, die mooi meisie en haar vroeëre kêrel al drie in die berg verongeluk het. Hy is deel van die reddingsgeselskap wat die lyke gaan haal. Hy kyk nie na die mooi meisie nie, wel na Parkman, wat hy “hauntingly and unbearably young” vind.

Parkman was die enigste man in Arthur Browning se lewe. Kameraderie tussen mans, spesifiek tussen bergklimgidse, is voortaan sy kompensasie vir die verlies van Parkman. Hy vind sy geestelike vryheid in bergklim en word ’n ware alpinis; maar hy reis alleen.

Die manier waarop HE Bates die sin “… he travelled alone” in ’n passasie inwerk, laat bewustelike intertekstualiteit vermoed, want “I travelled alone” is die lyflied van Noël Coward, en het met die jare die lyflied van talle gays geword. Bates steun op ’n parentese om hierdie reël beter te isoleer:

And until that year he travelled – in and out of Switzerland, over to Austria, across to Germany, once or twice to the Pyrenees and the Dolomites – quite alone.
Dis die kwalifikasie quite voor alone wat die gay leser laat vermoed dat essensiële inligting aan hom oorgedra word.

Browning se geluk word versteur wanneer Miss Shortland, nou Mrs Sanderson, hom agterhaal ná sy van ’n reddingsdaad gelees het waarby Browning betrokke was. Haar attensies, dikwels onder invloed van drank, is vir hom ’n verleentheid. Hy neem haar op haar versoek teen ’n berg uit, maar as sy hom nagenoeg ’n huweliksaanbod maak, klim hy van verbouereerdheid onder haar uit. As hy haar hoor skree, kyk hy om en sien hy een oomblik lank haar beangste gesig voor sy haar greep verloor en by ’n krans afstort na haar dood.

Browning ervaar ’n akute sin van bevryding. Wanneer hy huil, is dit nie om Mrs Sanderson nie, o, nee, maar om die enigste twee mense wat hy ooit werklik liefgehad het: sy moeder en “the young blue-eyed Parkman, dying needlessly on a snowless crag”.

’n Opsomming is ’n verkleinde en dowwe weergawe van ’n verhaal, en daarom is ’n kort bespreking van HE Bates se kunssinnige metodes en tegnieke in “The Snow Line” gebiedend.

Daar moet onthou word dat die Seksrewolusie van die Sestigerjare nog nie in volle gang was toe “The Snow Line” gepubliseer is nie (1961), en allermins die emansipasie van die gay. HE Bates moes sy kodes versigtig kies en plaas, maar hulle is daar, en miskien selfs kragtiger as wanneer hulle van die tinne verkondig sou gewees het.

Arthur Browning se beeld van die vrou is vir altyd deur sy sorgsame moeder bepaal. Wanneer hy ’n ander vrou naderby leer ken, is dit die onlieflike Miss Shortland. Wat hom veral afskrik, is haar hare wat sy in ’n bolla dra en wat van ’n growwe perdehaar-kwaliteit is. Hierdie beeld word tot drie maal toe herhaal, en later kom by Miss Shortland se breë heupe, wat eweneens Browning se biologiese weersin in die vrou vestig. ’n Slim greep van Bates was om ook ’n mooi meisie ten tonele te voer. Wanneer dié haar hare in die berghut kam en oor haar kop gooi sodat Arthur haar nek sien, is hy óók met weersin vervul.

Soms raak Miss Shortland se pogings om Arthur te verlei doodgewoon komies, soos waar sy hom vra om haar skoene te help uittrek, waarna sy haar kouse aftrek en met haar plomp, bleek bene in die son lê. Haar hele strategie gaan aan hom verby.

Arthur Browning se droom is om die vergesigte van ’n bergtop met ’n geliefde te deel. Sy ma is dood, maar in ’n sin deel hy tog sy eerste vergesig met haar, want vir die eerste keer sedert haar dood huil hy oor haar.

Dis of Bates se prosa begin “sing” bó die sneeulyn van sy verhaal. Hiervan ’n voorbeeld:

… He (Arthur) was exalted into speechless ecstasy by the view. Below him the lake glittered like snakeskin in the breeze and heat of afternoon and all beyond it, repeated and repeated into great distances, like the crested back of a white dinosaur, stretched the pure icy world of summer snow.
Dis sielkundig gepas dat Arthur Browning van die “fiery violet blue” van Parkman se oë praat, wat stellig na ’n alpeblom (alpeviooltjie?) verwys. Van hul eerste kennismaking af verbind Browning jong Parkman dus met suiwerheid.

Die geestelike-ontwikkelingsgang van Arthur Browning hang ten nouste met die Alpe saam. Dis belangrik dat HE Bates hom nie vermooi nie. Daar word in die begin tot drie keer na sy effens uitbollende oë en sy “wollerigheid” verwys, en sy “kleurlose” van, Browning, skyn hom nog verder te neutraliseer. Maar tien jaar as alpinis “beitel” hom, en die glansende sneeu vergeestelik hom.

Dis juis om die behoud van sy suiwerheid dat Browning teen Mrs Sanderson, vroeër Miss Shortland, optree, maar hy oortree bergklim-etiek wanneer hy ’n amateur-klimmer aan haar eie genade oorlaat, en dit terwyl hy ’n tou by hom het. Ná verskillende dode in die berge, vier dié van bekendes, moet Browning hom nou pynlik bewus wees van sy eie verganklikheid.

Dis sinvol om hier op ’n óú bergklimmer-“bygeloof” te wys: die geloof aan “die derde klimmer” op die kranslys, naamlik die dood. (Bergklimmers klim meesal in spanne; dikwels ’n span van twee.)

Wanneer Browning, ná die val van Mrs Sanderson, sy tog berg af begin, is dié tog die omgekeerde van ’n ekstatiese tog berg uit; en hiervan oortuig die sterk metaforiese slotreëls van “The Snow Line”:

… and climbing down he dipped rapidly into shadow. The afternoon was later than he thought. The sun had gone from the dark rock; and the air blew bitterly on his face from beyond the snow-line.
As The Triple Echo van HE Bates as ’n knieval na The Fox van DH Lawrence gesien kan word, is “The Snow Line” ’n vooruitwysing na “Dr Henry Selwyn” in The Emigrants van WG Sebald, waarin eweneens ’n gay-episode in die Switserse Alpe voorkom. Dr Selwyn raak verlief op ’n Switserse Alpegids, Johannes Naegeli; maar Naegeli val in ’n gletserskeur af en sterf. Dr Selwyn pleeg uiteindelik selfmoord, uit verlange na die kind wat hy was of uit wanhoop oor die man wat hy geword het. Naegeli se liggaam word in bevrore vorm ontdek, twee-en-sewentig jaar ná hy verongeluk het.

Maar ja, Parkman van Bates se verhaal is in die somer in ’n bergklimongeluk dood, onderkant die sneeulyn, met geen kans dat hý eendag, ewig jonk in ys geborge, “herbore” sal word nie.

Ek lees nou al ’n leeftyd lank obsessief kortverhale en kortverhaalbundels, in so ’n mate dat ek soms voel of ek ’n bepaalde verhaal reeds gelees het, maar in werklikheid herken ek bloot sy “storie-grammatika”.

En dis juis omdat ek kortverhaalbundels lees, en nie spesifiek gayverhale soek nie, dat ek gayverhale aantref waar gay-bloemlesers hulle meesal nie sal soek nie: by De Maupassant, Tsjechof en Toergenjef; by Primo Levi, Julian Barnes en Sean O’Faolain; by Katherine Mansfield, Elizabeth Bowen en Ruth Prawer Jhabvala. En natuurlik by HE Bates.

Hierdie vondste sterk my oortuiging dat ’n “third stream of consciousness” standaard-skrywerstoerusting is.

Is hierdie “derde stroom” dalk verwant aan ’n vermoë wat die Bybel so mooi omskryf as “siende die onsienlike”? Waarskynlik wel.

Maar hierdie sintuig vir die Ander, die Onbekende, mag géén mens, die skrywer ingeslote, ooit laat glo dat hy alwys is nie. Tsjechof se opmerking teenoor IL Shcheglof in ’n brief van 9 Junie 1888 is nog net so geldig soos die dag toe dit geskryf is:

… We shall not play the charlatan, and we will declare frankly that nothing is clear in this world. Only fools and charlatans know and understand everything.
Enkele bronne

Bates, HE 1959. “Introduction”, The Beach of Falesá, by Robert Louis Stevenson. Londen: The Folio Society.

Bates, HE 1961. Now Sleeps the Crimson Petal and other stories. Londen: Michael Joseph.

Bates, HE 1965. Six Stories. Selected with an Introduction by HE Bates. Londen: Oxford University Press.

Bates, HE 1970. The Triple Echo. Londen: Michael Joseph.

Bates, HE 1972. The Modern Short Story (nuwe uitgawe). Londen: Michael Joseph.

Boswell, John. 1980. Christianity, Social Tolerance and Homosexuality. Chicago: University of Chicago Press. (Die werk bevat verwysings na die haas as simbool van homoseksualiteit; ook figureer die haas prominent op die omslag.)

Friedland, LS (red). 1965. Chekov: Letters on the short story, the drama and other literary topics. Londen: Vision Press Limited.

Ozick, Cynthia. 2000. “The Posthumous Sublime” (nav The Emigrants van WG Sebald), Quarrel & Quandary: Essays. New York: Alfred A Knopf.

Diskografie

The Noël Coward Songbook, met die tenoor Ian Bostridge. Bostridge se program bestaan uit twee helftes: liedere uit die twintigerjare en liedere uit die dertigerjare van die twintigste eeu. “I travel alone” is die “prelude” tot sy program. EMI-CD 7243 4 76784 24.


LitNet: 31 Januarie 2006

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.